PEN Afrikaans Nuusbrief: Mei 2018

  • 0

Beste lid van PEN Afrikaans
 
Persvryheiddag is op 3 Mei wêreldwyd gevier

Hou ’n mens PEN International se kommunikasie dop, is dit gou duidelik dat persvryheid en vryheid van uitdrukking in verskeie wêrelddele onder geweldige druk gebuk gaan. Daar is byna elke dag nuus oor skrywers, digters, filmmakers, joernaliste wat bedreig en vervolg word as gevolg van die werk wat hul doen. Die dood van Daphne Caruana Galizia, ’n prominente ondersoekende joernalis wat veral staatskorrupsie oopgevlek het, bly ’n herinnering aan presies hoe gevaarlik dit kan raak om verslag te doen oor sake waaroor ander wil hê jy moet swyg  – in Malta, maar ook in ander wêrelddele.

Op Wêreldpersvryheiddag salueer ons joernaliste, dink na oor die beweegrede vir die viering en beskerming van persvryheid, en belig ook struikelblokke wat daar mag wees. Dit is ongetwyfeld in die openbare belang dat joernaliste sonder onredelike beperkings hul werk kan doen.  

PEN International het in samewerking met PEN-sentrums van oor Afrika ’n veldtog geloods teen laster as strafregtelike oortreding. Dit is iets wat nog in verskeie Afrikalande deel van die reg is, ook in Suid-Afrika, en dit word as ’n ernstige struikelblok vir persvryheid en vryheid van uitdrukking beskou. ’n Kort video oor die veldtog is hier beskikbaar.
 

Kort voor die viering van Wêreldpersvryheiddag het ons kennis geneem van kommerwekkende beriggewing deur die Independent Media-groep. In ’n berig wat in verskeie van dié mediagroep se koerante verskyn het, is joernaliste uitgekryt as “Stratcom agents” omdat hulle verslag gedoen het oor die finansiële status van Sagarmatha Technologies, ’n maatskappy waarby Independent Media ingelyf sou word. Lees gerus PEN Afrikaans se reaksie hierop.

Uitnodiging: deelname aan internasionale kuns- en vredesprojek

 

PEN Turkye het onlangs PEN-sentrums wêreldwyd genooi om deel te neem aan ’n kunsprojek ter bevordering van wêreldvrede. Kinders (7 - 14 jaar) word genooi om iets te teken of verf in reaksie op "Kız Çocuğu", ’n ikoniese gedig deur die gevierde Turkse digter, Nazım Hikmet (1902-1963).  Dit is beskikbaar in Engels en in Afrikaanse vertaling, met groot dank aan bekroonde digter en PEN Afrikaans-bestuurslid, Charl-Pierre Naudé.

Ons vra lede van PEN Afrikaans om dié uitnodiging onder ’n kind / kinders wat mag belangstel se aandag te bring. Daar sal ’n kalender uit die projek voortvloei, asook ’n uitstalling van geselekteerde kunswerke by die Nazım Hikmet Centre of Culture and Arts in Istanbul.

Die kunswerke kan in swart-en-wit of volkleur wees. Die afmetings van die karton waarop dit geskep moet word, is 50 cm x 70 cm. Potlode, kryte, pastel, water- of olieverf kan gebruik word.

Digitale foto’s of skanderings van kunswerke moet asseblief teen 1 Junie gestuur word na penafrikaans@gmail.com sodat ons dit kan indien. Ons sal in verbinding wees indien PEN Turkye die oorspronklike kunswerk versoek.

Artikelreeks: Wat elke skrywer moet weet

Daar is twee nuwe artikels beskikbaar vir belangstellende lesers.

In die eerste gee Lee-Ann Tong van die Universiteit Kaapstad se Departement Handelsreg ’n oorsig van wat skrywers moet weet voordat hulle ’n kontrak met ’n uitgewer aangaan. Sy verwys daarin na APACT, ’n handige gids oor kontraksterme wat hier beskikbaar is. Lees haar artikel hier.

In die jongste artikel gee Bernard Wessels van die Universiteit Stellenbosch se Departement Privaatreg ’n uiteensetting van laster vir skrywers en uitgewers. Dit is hier beskikbaar.

Taalgenoot se Somer 2018-uitgawe
 
Artikels en resensies uit Taalgenoot se Somer 2018-uitgawe is gratis in PDF-formaat op ons webportaal beskikbaar. Dankie aan die Taalgenoot-redaksie.

Sien onder andere die rubriek waarin Rudie van Rensburg vertel watter Afrikaanse boeke hom as skrywer beïnvloed het.
 
 
Aansoeke ingewag: PEN Afrikaans Vertaalfonds
 
Die sluitingsdatum vir aansoeke by die PEN Afrikaans Vertaalfonds is 15 Mei. Buitelandse uitgewers wat Afrikaanse boeke in vertaling wil uitgee, kan tot dan ’n befondsingaansoek indien. Die volgende sperdatum is 15 September. Sien gerus die artikel wat Publishing Perspectives oor die fonds geplaas het.

’n Oorsig van Afrikaanse resensies en boekbesprekings in April

 

Klik hier vir ons oorsig van Afrikaanse resensies wat in April 2018 verskyn het en digitaal beskikbaar is. Dié oorsig sluit boekbesprekings, boekgesprekke en voorlesings in wat op die radio of TV uitgesaai is.

Indien jy weet van ander gerekende publikasies wat ook Afrikaanse resensies en boekgesprekke plaas en dit digitaal beskikbaar maak, laat weet asseblief na penafrikaans@gmail.com. Ons wil graag elke maandelikse oorsig so volledig moontlik maak.
 
Nuwe Afrikaanse boeke in Mei

Hier is, ten slotte, ’n lys van Afrikaanse boeke wat in Mei verskyn. Baie geluk aan al ons lede wat hierdie maand nuwe boeke op die rakke het.

Vriendelike groete
Catrina Wessels
Bestuurder: PEN Afrikaans

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top