PEN Afrikaans Nuusbrief: Maart 2017

  • 0

Beste lid van PEN Afrikaans

Ons Maart-nuusbrief skop af met 'n stukkie goeie nuus.

Sensuur by die SAUK – Thulani Msimang terug op sy pos

PEN Afrikaans het ’n rukkie gelede berig oor ’n verslaggewer van die SABC, Thulani Msimang, wat skorsing in die gesig gestaar het ná regeringskritiese aanmerkings wat hy op sy persoonlike Facebookblad geplaas het. (Klik hier en hier vir verdere besonderhede.) PEN Afrikaans het hierdie saak gemonitor en het ook met die SAUK se tugkomitee gekommunikeer oor ons kommer rakende dié aangeleentheid.

Die verhoor is in Februarie afgehandel en ons is verheug om aan te kondig dat dié joernalis weer op sy pos mag en sal wees. PEN Afrikaans is dankbaar vir die SABC se nugter optrede. Ons is ook bly dat ons kon bystand verleen. Msimang se woorde in 'n e-pos aan Izak de Vries was: "My family and I are eternally greatful to you and PEN Afrikaans.”

Die bestuur van PEN Afrikaans bedank ook hiermee vir Izak, wat sy oog van die begin af op hierdie bal gehou het.

Ons versoek nogmaals al ons lede om ons asseblief in kennis te stel wanneer hulle van dergelike vergrype en voorvalle by die SAUK bewus is. Stuur e-pos na penafrikaans@gmail.com of kontak ons via Facebook of Twitter.

Trippel-7 keer terug na die Noord-Kaap


Die groep wat op die naweek van 17 Februarie PEN Afrikaans se Trippel-7-skryfskool in Upington bygewoon het.


Van links: Katriena Brekfis, Anzil Kulsen, Diana Ferrus en Moryn Hanzen. (Laer af in die nuusbrief is daar skakels na gesprekke met Katriena en Moryn wat op RSG uitgesaai is.) 


Haidee Muller praat met Oom Bokkie Saai.

Op die naweek van die 17de Februarie het die tweede fase van PEN Afrikaans se Trippel-7-loodsprojek plaasgevind. (Klik hier vir besonderhede oor verlede jaar se 777-skryfskooltoer.)

Anzil Kulsen, die projekleier, berig:

Te midde van groot uitdagings het die tweede fase van die Trippel-7-projek met groot sukses die naweek van 17 Februarie in Upington afgeskop. Tussen die potensiële deelnemers was daar drie wat geliefdes aan die dood afgestaan het, een tannie wat regtig baie siek is en die werkswinkels met haar suurstoftenk kom bywoon het, en ook Esther Engelbrecht wat binnekort aan haar baba geboorte moes skenk, maar al die pad van Nababeep af kom ry het vir dié geleentheid.

Sewentien deelnemers het die lesings bygewoon, wat ook intensiewe praktiese oefeninge ingesluit het. Anzil Kulsen, ’n gewilde jeugboekskrywer, en die bekroonde digter Diana Ferrus het deelnemers in een-tot-een-sesssies met die skryfwerk (prosa en poësie) wat hulle ingestuur het, gehelp. Elke deelnemer het dus eerstehands terugvoer gekry oor maniere om sy/haar pennevrugte te verbeter.

Haidee Muller van RSG het klankopnames van 'n paar deelnemers se grootwordjare en hul liefde vir die skryfkuns gemaak, wat waardevolle konteks verskaf aan die skrywers se gedigte en verhale.

Drie van hierdie Trippel-7-deelnemers word nou genooi om op PEN Afrikaans se onkoste die ATKV Skryfskool by die Noordwes-Universiteit in Potchefstroom te gaan bywoon. Die winterskool vind vanjaar vanaf 5 tot 9 Junie 2017 plaas.

Hoe moeilik was dit nie om hierdie drie kandidate te kies nie. Op die ou end het ons besluit om verby mense se uitdagings te kyk en te fokus op hul talent en vermoë om kreatief te skryf.

Die keuse het geval op:

  1. Esther Engelbrecht
  2. Walter Moses
  3. Katriena (Tina) Brekfis

Bernard Odendaal, wat ook 'n bestuurslid van PEN Afrikaans is, het intussen bevestig dat die Skryfskool 'n vierde persoon kan borg. Ons is baie opgewonde hieroor. Die vierde persoon wat ons nou kan saamstuur, is Shirene Julies.

***
Die bestuur van PEN Afrikaans bedank vir Anzil, Diana en Haidee hartlik vir hul passie, harde werk en toewyding.

Vir nog mooi foto's van die naweek, klik hier.

Haidee Muller se interessante gesprek met Moryn Hanzen, een van die slypskooldeelnemers, is intussen op RSG uitgesaai. Luister hier hoe Moryn vir Haidee vertel van perskeboerdery en Karos, die Noord-Kaapse nedersetting 40 km buite Upington, waar sy vandaan kom en die plek waar sy al 24 jaar baie lekker woon in haar "gemmerkoekhuis". Haidee gesels ook met Moryn oor haar "woordvriendskap" met Francois Bloemhof en haar liefdesroman wat eersdaags gepubliseer word.

Luister ook hier na Haidee se hartverwarmende gesprek met Katriena Brekfis, 'n verpleegster van Kakamas. Sy vertel vir Haidee haar lewensverhaal. En ja, haar van is regtig Brekfis, soms tot groot vermaak van ander. Katriena het op 60 besef dat sy nogal 'n slag met skryfwerk het.

Verdere gesprekke van Haidee met Trippel-7-deelnemers word binnekort op RSG uitgesaai.

Gevaarligte flikker vir uitdrukkings- en persvryheid die beplande haatspraakwetgewing
 
Die sperdatum vir die publiek om bydraes te lewer oor die Wetsontwerp op die Voorkoming en Bestryding van Haatmisdade en Haatspraak was op 31 Januarie 2017. Kenners is dit eens dat die voorgestelde wetgewing vryheid van spraak, veral in die media, ernstig aan bande kan lê. 

Die Instituut vir Rasseverhoudinge (IRR) het in sy voorlegging die departement van justisie se standpunt – dat dié wet geskoei is op soortgelyke modelle in Kenia, Australië en Kanada – verwerp.

Volgens die instituut is dit eerder in Kuba waar soortgelyke wetgewing dit ook onder meer ’n strafregtelike oortreding maak om die president te beledig. Mense in Kuba kan tot drie jaar tronkstraf opgelê word vir kritiek wat beledigend is teenoor die president en sy regering.

“ ’n Wet wat vryheid van spraak so inperk, het geen plek in Suid-Afrika se demokrasie nie,” sê die IRR.

Die haatspraak-wetsontwerp gelas hier ook drie jaar tronkstraf vir die eerste oortreding en tot tien jaar vir die tweede.

Die komediant Pieter-Dirk Uys het in reaksie op die beplande wetgewing gesê haatspraak is onaanvaarbaar, maar dit kan nie gekriminaliseer word ten koste van vryheid van spraak nie.  

PEN Afrikaans stem saam met Uys. Ons ondersteun ook ten volle die standpunte en kommentaar van PEN South Africa wat voor die 31 Januarie-sperdatum ingedien is. Ons raai ons lede ten sterkste aan om PEN South Africa se kommentaar hier te lees en ingelig te bly oor 'n wetsontwerp wat ernstige gevare vir skrywers, joernaliste en alle satirici inhou.

'n Wet wat uitdrukkingsvryheid op onverantwoordelike en ondemokratiese wyse in Suid-Afrika kan smoor, moet ferm, hard en duidelik deur die burgerlike samelewing teengestaan word.

'n Oorsig van Afrikaanse resensies en boekbesprekings in Februarie

PEN Afrikaans het vanjaar begin met 'n nuwe inisiatief – om maandeliks 'n oorsig van al die digitaal beskikbare resensies en boekbesprekings van die voorafgaande maand te verskaf. Ons eerste oorsig vir Januarie is entoesiasties ontvang en ons sê dankie vir die ondersteuning en aanmoediging wat ons van lesers en ons lede gekry het.

Klik hier vir die Afrikaanse resensies en boekbesprekings wat in Februarie verskyn het of op radio of TV uitgesaai is. 

Indien jy weet van ander publikasies wat ook Afrikaanse resensies en boekgesprekke plaas en dit digitaal beskikbaar maak, laat weet asseblief na penafrikaans@gmail.com. Ons wil graag elke maandelikse oorsig so volledig moontlik maak

Nuwe Afrikaanse boeke in Maart

Ten slotte is dit altyd 'n plesier om die lys van nuwe Afrikaanse publikasies te deel. Baie geluk aan al ons lede wat nuwe boeke op die rak het. Die publikasielyste vir Maart kan hier afgelaai word. 

Met vriendelike groete
Danie Marais
Bestuurder: PEN Afrikaans

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top