PEN Afrikaans Nuusbrief: Julie 2019

  • 0

Beste lede en vriende van PEN Afrikaans
 
Wysigingswetsontwerp op Outeursreg steeds ongeteken

Die maande stap aan en die kommerwekkende Wysigingswetsontwerp op Outeursreg lê vermoedelik steeds ongeteken op president Cyril Ramaphosa se lessenaar. Enersyds is dit natuurlik verblydend dat die wetsontwerp nog nie wet is nie, maar andersyds skep dié vertraging grootskaalse onsekerheid in die skeppende industrieë.
 
Die Koalisie vir Doeltreffende Outeursreg in Suid-Afrika, 'n groep plaaslike organisasies waarvan PEN Afrikaans deel vorm, het reeds in April 'n skrywe aan president Ramaphosa gerig waarin daar uiteengesit word waarom die wetsontwerp op grondwetlike gronde nie die mas opkom nie. Die skrywe maak ook melding dat menige van die wetsontwerp se bepalings nie met internasionale verdrae oor kopiereg strook nie.
 
Buitelandse reaksie teen die wetsontwerp het intussen gevolg. Die International Intellectual Property Alliance, ’n vereniging van organisasies wie se lede op gesonde intellektuele goedereregte staatmaak, het die regering van die Verenigde State versoek om Suid-Afrika se voorkeurhandelstatus op te skort indien dié kontroversiële wetsontwerp deurgevoer sou word.  Sien gerus die Business Day-artikel vir verdere besonderhede. 

Hierdie besware strook met deurlopende kommer oor die geweldige negatiewe impak wat die wetsontwerp op die plaaslike ekonomie sal hê indien dit onveranderd bekragtig word. Dit kan ’n verwoestende knou aan die plaaslike uitgewersbedryf toedien – iets waaronder nie net uitgewers nie, maar ook skrywers en lesers sal ly.

Petisie om vrylating van Tashi Wangchuk te eis

 “Our people’s culture is fading and being wiped out,” sê kleinsake-eienaar en taalaktivis Tashi Wangchuk in ’n New York Times-artikel wat in November 2015 verskyn het. Hy reageer hier op die gedwonge afskaling van die Tibetaanse taal in skole en ander openbare instellings in Yushu, ’n Tibetaanse distrik in China se Qinghai-provinsie.
 
Die erns van die afskaling wat sedert 2012 deur die Chinese owerhede toegepas word, is by Tashi tuisgebring toe hy vergeefs op soek was na ’n skool waar sy susterskinders Tibetaans kon leer. Die afskaffing van Tibetaans is volgens Tashi nie net ’n inbreukmaking op minderheidsgroepe se taalregte nie, maar is ook strydig met China se eie beleide en grondwet. In ’n poging om Tibetaanse onderrig te verseker, het Tashi regstappe teen die Chinese owerhede probeer instel.
 
In Januarie 2016, dus kort na die publikasie van bogenoemde artikel, is Tashi in aanhouding geneem vir sy vreedsame beywering vir die Tibetaanse taal. Hy dien steeds tronkstraf uit nadat hy in Mei 2018, na jare se aanhouding, uiteindelik verhoor is. Hy is skuldig bevind aan ’n misdryf wat met die bevordering van separatisme verband hou.
 
PEN-sentrums staan tans saam om mnr Tashi se vrylating te eis. ’n Petisie is hierbeskikbaar vir ondertekening deur diegene wat hul met taalkunde, letterkunde en verwante akademiese vakgebiede bemoei.
 
Meer inligting oor Tashi Wangchuk se agtergrond en wat tot sy skuldigbevinding gelei het, is hier beskikbaar.
 
Die MOS-inisiatief (Moedertaal in Onafhanklike Skole)

Die Trust vir Afrikaanse Onderwys het onlangs die MOS-inisiatief (Moedertaal in Onafhanklike Skole) bekendgemaak. Volgens ’n berig op Maroela Media beoog die MOS-inisiatief om ’n netwerk van volhoubare, enkelmedium, onafhanklike Afrikaanse skole te skep wat landswyd bedryf sal word.
 
Die skole sal oop wees vir almal wat onderrig in Afrikaans wil ontvang, gemeenskapsgerig wees en boonop bekostigbaar wees terwyl dit hoë standaarde en innoverende leer handhaaf.

Lees hier meer.

Inskrywings ingewag vir die RSG / Sanlam Radiodrama-skryfkompetisie 
 
RSG en Sanlam bied vanjaar weer hul gewilde radiodrama-skryfkompetisie aan. Daar is nog ’n paar weke oor om daardie radiodrama af te rond voor die sluitingsdatum van 31 Julie. ’n Handleiding vir voornemende deelnemers is hier beskikbaar. Dit bevat nuttige riglyne, die kompetisiereëls en die inskrywingsvorm.
 
Ingrid Jonker-prys aan Pieter Odendaal

Hartlik geluk aan Pieter Odendaal, wat onlangs as wenner van die Ingrid Jonker-debuutprys aangewys is vir sy bundel asof geen berge ooit hier gewoon het nie. ’n Rekordgetal van 17 bundels is voorgelê en die kompetisie was besonder straf. Die ander twee digters op die kortlys was (alfabeties) Corné Coetzee vir Nou, hier en Jolyn Phillips vir Radbraak.
 
Die grootste verdienste van Odendaal se bundel is volgens een van die drie beoordelaars “die oorspronklike, verbeeldingryke en vernuftige wyse waarop hy die huidige Suid-Afrikaanse samelewing in ’n toestand van ‘op-weg-wees’ uitbeeld”. Lesers word gekonfronteer met vrae rondom persoonlike betrokkenheid en aandadigheid, historiese verbande en erfenis, verantwoordelikheid, en ander verwante vraagstukke. Die sukses van die bundel berus nie slegs op die hantering van hoogs aktuele tematiek nie, maar “op ’n deurlopende toepassing van ontwikkelde verstegniek om dit lewend en skrynend te maak”.
 
Die Ingrid Jonker-prys word jaarliks beurtelings toegeken aan ’n Afrikaanse of ’n Engelse debuutdigbundel – die twee tale waarin Ingrid Jonker geskryf het. Die beoordelaars was die digters Zandra Bezuidenhout, Martjie Bosman en Ronelda Kamfer. Die komiteelede is almal vrywilligers: Ronel de Goede (Foster) is die sameroeper, en die ander lede is Finuala Dowling, Vincent Oliphant, Kobus Moolman en Marius Crous. Danie Marais, vorige sameroeper, tree as adviseur op. Die prys word op 14 September by die Tuin van Digters in Wellington oorhandig. Die prysgeld van R10 000 is ’n skenking deur die Dagbreektrust.
 
PEN Afrikaans hou algemene jaarvergadering by Tuin van Digters 2019

Teken asseblief die datum aan: PEN Afrikaans hou vanjaar weer algemene jaarvergadering tydens die Tuin van Digters-fees. Die vergadering sal om 12:30 op Saterdag 14 September in die Wellington-biblioteek reg oorkant die Breytenbach-sentrum afskop.
 
Ons sal weer vooraf volmagvorms beskikbaar maak vir diegene wat nie die vergadering kan bywoon nie. Ons vra ons opbetaalde lede om asseblief van die volmagvorm gebruik te maak om hul stemme te laat hoor en om ’n kworum by die vergadering te verseker.
 
Opbetaalde lede van PEN Afrikaans kry weer vanjaar gratis toegang tot die Tuin van Digters. Ons is werklik dankbaar vir hierdie voorreg en ons sien uit daarna om soveel moontlik van ons lede daardie naweek by die Breytenbach-sentrum te sien. Tuin van Digters is altyd ’n hoogtepunt en vanjaar beloof om geen uitsondering te wees nie.
 
Maandelikse resensie-oorsig

Klik hier vir ons oorsig van Afrikaanse resensies wat in Junie 2019 verskyn het en digitaal beskikbaar is. Hierdie oorsig sluit boekbesprekings, boekgesprekke en voorlesings in wat op die radio of TV uitgesaai is.
 
Indien jy weet van ander gerekende publikasies wat ook Afrikaanse resensies en boekgesprekke plaas en dit digitaal beskikbaar maak, laat weet asseblief napenafrikaans@gmail.com.
 
Ons wil graag elke maandelikse oorsig so volledig moontlik maak.
 
Nuwe Afrikaanse boeke in Julie 2019
 
Hartlik geluk aan al ons lede wat hierdie maand nuwe boeke op die rak het. Die publikasielyste vir Julie kan hier in Excel-formaat afgelaai word.
 
Ten slotte is dit lekker om te kan noem dat Jeremy Vearey, Kirby van der Merwe, Lynthia Julius, Nathan Trantraal, Ronelda S Kamfer en Ryan Pedro in Somerset-Oos aangeland het, waar hul vir ’n maand sal woon en skryf as deel van die Jakes Gerwel Stigting en PEN Afrikaans Skrywersresidensie. Ons wens hulle ’n vrugbare en voorspoedige verblyf toe.
 
Vriendelike groete
Catrina Wessels
Bestuurder: PEN Afrikaans

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top