Pavarotti: ’n filmresensie

  • 0

Pavarotti
Draaiboek: Mark Monroe

Regie: Ron Howard
Met Plácido Domingo, José Carreras, Joan Sutherland, Bono, prinses Diana, Nicoletta Mantovani en ander

Dis een van die wonders van die wêreld: dat één operasanger bo ’n hele orkes gehoor kan word – sonder ’n mikrofoon. Hierdie uitstaande dokumentêr oor die geliefde Italiaanse tenoor Luciano Pavarotti (1935–2007) bevestig waarom die menslike stem as die grootste musikale instrument geag word.

Pavarotti is gebore in Modena, die seun van ’n bakker wat self ’n begaafde tenoor was, maar nie dieselfde geleenthede kon kry nie. Pa en seun het saam in ’n mannekoor gesing wat in 1955 ’n internasionale koorkompetisie in Wallis gewen het, en vir Luciano was dit die begin van ’n lewe gewy aan musiek. Hy debuteer in 1961 en maak geleidelik opgang in die operawêreld, maar dis eers in 1972 dat hy werklik beroemd raak danksy La fille du régiment en die nege hoë C’s wat hy foutloos uitvoer in die New Yorkse Met.

Net so moeiteloos neem veteraanregisseur Ron Howard die kyker na die binnekamers van die groot (letterlik én figuurlik!) sanger. As oë die vensters van die siel is, is Pavarotti s’n opvallend: sjokoladebruin en warm soos sy uitsonderlike stem.

Met die gevierde Three Tenors–konsert as finale, hoef jy nie ’n operaliefhebber te wees om hierdie film te geniet nie. En as jy hoop en inspirasie kort, is twee ure saam met Pavarotti presies wat die dokter sou voorskryf.

Sterre: 4

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top