Titel: Nagjagter
Outeurs: Jan Vermeulen
Uitgewer: LAPA
ISBN: 9780639600338
Die Holy Hunchback Vampire Slayer glo hy is ’n heilige wat die stad se vampiere moet uitwis. Sy eerste slagoffer vermoor hy met ’n houtpen deur die hart. Dit gebeur op die verhoog tydens die opvoering van die riller-drama Die Boggelrugvampierjagter.
Doktor Olaf Demeyer en sy vriendin adjudant Beth Jordaan is ooggetuies saam met 104 toeskouers. Olaf se dogter Franci vertolk ’n rol in dié drama en is dus bitter ontsteld oor die gebeure.
Beth stem in om die aanvanklike ondersoek te lei. Heel gou veroorsaak die besluit spanning tussen haar en Olaf, aangesien sy vir Franci as ’n medepligtige verdink.
Olaf roep die hulp van ’n privaatondersoeker in en ontdek so dat Franci betrokke is by die Port Elizabeth Gothic Vampire Society, ’n groep jongmense wat hul vampierfantasieë uitleef.
Dan is daar ook die ware vampiere – hulle drink mensbloed.
Dit lyk vir Olaf of die boggelrug die meeste van sy slagoffers uit die twee groepe vampiere kies, maar wanneer hy die moordenaar se ware motief ontdek, besef hy honderde onskuldiges in die stad se lewe word bedreig.
Nagjagter is nie bloot ’n vampierstorie nie, dit ondersoek eerder die psigologiese toestand genaamd Vampirisme en gewone mense se aangetrokkenheid tot die mites rondom vampiere. Die boek speel in op mense se vrese vir en aangetrokkenheid tot die donker onbekende, dit ondersoek die donker kant van ’n religieuse soeke en die uitspeel van fantasieë.
Dit is ’n spannende roman wat fokus op die sielkundige en religieuse motiverings van die moordenaar, ’n moderne, eietydse vampierverhaal.

