Passie vir boeke en skrywers voed Annie se towerkrag

  • 5

Waar Gauteng se boekwurms bymekaarkom, daar sal jy vir Annie Olivier, Jonathan Ball-Uitgewers se dinamiese niefiksie-uitgewer, raakloop. Altyd op haar pos om skrywers te ondersteun – maak nie saak in watter uithoek of in watter vreemde uur nie.

Annie Olivier (Foto: Antoine de Ras)

Aan niefiksiefront het Annie in 2020 gehelp om ’n uitstekende oesjaar vir Jonathan Ball te lewer. Deon Lamprecht se aangrypende vertelling oor jong seuns wat noodgedwonge mans moes word op die Grensoorlog se slagvelde buite Cuito Cuanavale, Die brug: Na die hel en terug in Angola, het onder haar hand die lig gesien. En die digter-kunstenaar Louis Jansen van Vuuren se Amper Frans: ’n Lewe van fanfare en faux pas, is ook pas van die drukpers af. En dan staan lesers regoor die land se oë reeds soos pierings oor Johann van Loggerenberg se onthullings in Cop under cover.

Boeke wat in 2020 onder Annie se hand gepubliseer is: Amper Frans, Cop under cover en Die brug. (Omslae: Jonathan Ball)

Vir Annie is dit moeilik om hoogtepunte in haar uitgewersloopbaan uit te wys – “Hoe kies ’n mens tussen jou kinders?” sug sy. “As feitlik elke boek wat ek al uitgegee het my nie opgewonde gehad het nie, dan sou ek nie my werk as uitgewer ordentlik gedoen het nie.”

Toe sy in 2016 Johann van Loggerenberg en Adrian Lackay se Rogue gepubliseer het, was Jacob Zuma nog stewig in die saal. “Ons het regtig gevrees dat daar pogings sal wees om die publikasie daarvan te keer,” vertel Annie. “Dit was die eerste boek oor staatskaping en is onder groot geheimhouding aan die handel voorgelê, en ook in rekordtyd geskryf en uitgegee.”

Die ses boeke van Albert Blake wat Annie al uitgegee het, maak hom haar vrugbaarste skrywer en hy is ook die een met wie sy die lekkerste vashaak wanneer hulle aan sy manuskripte werk. Tobie Wiese se Wreed en mooi is die dood (2019) was opwindend omdat dit so anders was. Om die konsep van die boek aan die handel voor te lê, was ’n uitdaging, maar die publikasievrug was soet. “Dink jou dit in – hier moet ek vir die verkopespan sê hulle moet ’n boek oor die sombere tema van die dood gaan verkoop. En toe verras dit almal met uitstekende verkope.”

Niq Mhlongo se Black tax het ’n groot indruk op Annie gelaat omdat dit die ervaringswêreld en daaglikse werklikhede van soveel Suid-Afrikaners opnuut onder die loep bring. En dan sal sy die saamwerk met Deon Maas aan sy boeke Witboy in Afrika en Witboy in Berlyn nie sommer vergeet nie, “want alle reise saam met Deon Maas is uniek – hy verras my taks om taks.”

Rogue, Black tax en Die Anglo-Boereoorlog in 100 objekte (Omslae: Jonathan Ball)

In aanloop tot die publikasie van Die Anglo-Boereoorlog in 100 objekte het Annie tyd saam met ’n toegewyde span kundiges van die Oorlogsmuseum deurgebring, en dié ervaring was onvergeetlik. “Ek het toegang gehad tot van die museums se store waar ek artefakte gesien en vasgehou het wat andersins weggebêre is. Vir ’n nerd soos ek was dit hemel op aarde.”

En soos dit met uitgewers gaan, is Annie reeds hard aan die werk aan 2021 se publikasielys. Een daarvan is die memoir van ’n pulmonoloog wat as 16-jarige uit Soedan na Suid-Afrika gevlug het, en onlangs ’n belangrike ontdekking gemaak het ten opsigte van die behandeling van ernstig siek COVID-19-pasiënte. “Dis ’n ongelooflik inspirerende verhaal en ek kon my joernalistieke vaardighede afstof omdat ek ’n paar onderhoude met hom moes voer om die manuskrip te help ontwikkel.”

Skrywer en uitgewer: Deon Maas en Annie Olivier by die Toyota US Woordfees (Foto: Nardus Engelbrecht)

Annie se loopbaan het hoeka in die joernalistiek begin. Ná ses jaar as Matie-student het sy by Rapport ingeval en daarna vir Beeld gewerk. “Terugskouend weet ek dat dit alles deel was van my informele opleiding as niefiksie-uitgewer, want ek het mense ontmoet en plekke gesien wat ek andersins nooit sou nie.” Die koerantwêreld het Annie se kop op ander maniere laat oopgaan. “In die wêreld van nuushonde was ek maar ’n skrikkerige Weimaraner, maar ek het onder meer geleer hoe om ’n goeie inleiding te skryf én om nooit op te hou vra ‘hoekom?’ nie.” Dié ervaring het Annie ook deeglik onderlê in die soort onderwerpe waarin Jan Publiek, oftewel “die mark”, belangstel – ’n kardinale vereiste vir sukses in die publikasie van niefiksieboeke.

Sy het die joernalistieke wêreld vaarwel geroep nadat sy by ’n tydskrif beland het. “Toe ’n onbeholpe bestuurder my lewe baie moeilik gemaak het, het ek uit desperaatheid aansoek gedoen vir ’n pos as opdraggewende niefiksieredakteur by Tafelberg, en nooit gedink ek sou dit kry nie.” Tafelberg het Annie se lewe op ’n nuwe trajek geplaas en haar laat besef sy wil niks anders as ’n uitgewer wees nie. “Dit het my ook ’n belangrike les geleer: ’n Mens moet jou nooit laat verlam deur teenswoordige teëspoed nie – die beste dinge kom dalk nog daaruit.”

Na sewe “wonderlike jare” by NB-Uitgewers het Annie Kaapstad vir Johannesburg verruil. In April 2016 het sy by Jonathan Ball aangesluit. “Ek het toe reeds sowat anderhalfjaar in die Goudstad gewoon nadat ek op die rype ouderdom van 40 met ’n Johannesburger getroud is.”

By Jonathan Ball moes Annie vinnig haar concord regruk, en vandag voel sy volkome tuis. “Daar is ’n sterk liberale uitgeetradisie by die uitgewer en die maatskappykultuur is oorwegend Engels, so ek moes gou my is’s en are’s uitsorteer!” Sy het groot waardering en respek vir die wyse waarop die uitvoerende hoof, Eugene Ashton, die trotse tradisie van die maatskappy voortsit ná die legendariese Jonathan Ball se aftrede ’n klompie jare gelede. “Hy en ons uitgewershoof, Jeremy Boraine, is onverskrokke, beginselvaste uitgewers by wie ek elke dag nog leer.”

En die lesse wat sy voorheen by NB-Uitgewers geleer het, is ’n basis waarop sy vandag nog voortbou. “Feitlik alles wat ek vandag as uitgewer weet, het ek by my oudkollegas by NB geleer. Mense soos Erika Oosthuysen (‘’n goeie boek sal altyd verkoop’), Linette Viljoen (‘gaan jou feite na en ken jou taalreëls’) en Ansie Kamffer (‘jy is net so sterk soos jou span medewerkers’).

By enige uitgewer is almal se oë stip gefokus op die niefiksiespan om topverkopers te lewer en die maatskappy se begrotingsdoelwitte te haal. Met die boekemark wat die afgelope jare gekrimp het, en die pandemonium wat die pandemie vanjaar veroorsaak het, word die uitdagings net groter. “Toe ek in 2009 in die uitgewerswese begin het, was ’n topverkoper ’n boek waarvan 10 000 eksemplare verkoop is,” sê Annie, “maar in hierdie tye sal ek reken ’n boek wat 6 000 tot 7 000 verkoop is ’n topverkoper.”

Uitgewers is veronderstel om jaarliks ’n bepaalde aantal boeke uit te gee, wat beteken dat daar altyd ’n wye verskeidenheid temas gedek word. Op dié manier het Annie byvoorbeeld al “van ’n Anglo-Boereoorlog-kookboek en ’n off-road motorfietsreisgids tot ’n memoir van ’n forensiese patoloog” uitgegee. “Soms gee jy ook boeke uit net om ’n publikasielys vol te maak, en dan is die kwaliteit van die manuskrip en die verkoopbaarheid van die tema die hoofoorwegings.”

Die idee dat uitgewers sit en wag vir ’n topverkoper wat in die “slush pile” opdaag, is natuurlik ’n mite. Dit gebeur waarskynlik net een keer in ’n uitgewer se ganse loopbaan. “Die meeste van die boeke wat ek uitgee is opdragwerke,” beaam Annie, “dus nie manuskripte wat aan ons voorgelê is nie.” Maar sover dit manuskripte aangaan wat by Jonathan Ball beland, kyk Annie heel eerste uit vir uitstekende skryfwerk, “want dié is skaarser as wat baie mense dalk sal dink.

“Dis onvermydelik dat uitgewers volgens hul persoonlike belangstellingsvelde uitgee, wat in my geval die Suid-Afrikaanse geskiedenis, militêre geskiedenis, memoirs en aktuele sake is. Daar is net soveel te leer uit die geskiedenis en uit mense se lewensverhale, ook in die konteks van die politiek. Gelukkig val my persoonlike belangstellingsvelde min of meer saam met die mark s’n, anders het ek seker nie meer ’n werk gehad nie!”

Annie was al vier keer by die Boekebeurs in Frankfurt – ’n paradys vir enigiemand in die boekebesigheid. “Daar is geen geldwaarde te plaas op die internasionale perspektief wat dit ’n mens gee nie – om net ’n idee te kry van die skaal van die wêreldwye bedryf. Die interessante mense wat jy daar ontmoet en die lekker gesprekke met ander uitgewers oor die plesiere en die pyne van ons werk maak die ure se voorbereiding en die bloedsweet om regte te probeer verkoop alles die moeite werd,” sê sy. “’n Mens besef ook sommer gou daar is meer ooreenkomste as verskille tussen ons en internasionale uitgewers.

Annie in 2019 by die Duitse uitgewer Ullstein in Berlyn, as lid van die Frankfurt Fellowship (Foto: verskaf)

“Dan sien ek ook altyd uit na die asemrowend mooi boeke. Om byvoorbeeld in die Skandinawiese saal tussen die kinderboeke rond te loop, is soos om in ’n feetjiebos te verdwyn. Om van die Duitse saal nie te praat nie – dis nou ’n nasie wat die boekdrukkuns vervolmaak het.”

In September vanjaar het Annie aan ’n virtuele gesprek deelgeneem wat deur die Gothenburg-boekefees aangebied is. En in 2019 was sy lid van die Frankfurt Fellowship. “Wat ek daardeur geleer het, is dat uitgewers van regoor die wêreld eintlik met dieselfde soort uitdagings gekonfronteer word en ook dat skrywers hulle maar oral dieselfde gedra.” Europese lande se markte is ook relatief klein, soos hier te lande, en hulle sukkel ook met die probleem dat al hoe meer boekwinkels se deure sluit, vertel Annie. “Ons almal is ook gewikkel in dieselfde stryd om mense se aandag teen die sosiale media, stromingsdienste en televisie. Dit is ook nie net in Suid-Afrika waar e-boeke nie so ’n groot impak maak nie.”

Annie se ander groot passie is reis en in 2018 het sy twee weke in Rusland deurgebring. “Ek en my man, Jacques, is ewe groot boek- en geskiedenisliefhebbers en ons is bekoor deur die Russiese geskiedenis. Nodeloos om te sê het ek voor ons besoek heelwat leeswerk gedoen (onder meer Tolstoi, Solzjenitsin en Poesjkin).” Die interaksie met Russe was oneindig waardevol. “Danksy Wannie Carstens het ek kontak gemaak met Monika Urb wat Afrikaans aan die Moskouse staatsuniversiteit doseer, en ons het verskeie kere met haar en haar Afrikaanse studente ontmoet. Verbeel jou, om in die hartjie van Moskou – die department is letterlik oorkant die Kremlin – Afrikaans te gesels asof dit die normaalste ding onder die son is.”

Volgens Annie het boekverkope in Suid-Afrika vanjaar met 20 tot 30 persent afgeneem weens die impak van COVID-19. “En dít nadat die bedryf die afgelope jaar of twee reeds houe gevat het weens die verswakte ekonomie.” Haar boodskap aan boekliefhebbers is ondubbelsinnig: As jy soek na idees vir Kersgeskenke, koop asseblief ’n boek!

Die belangrikste tendens wat Annie opval, is dat meer mense nou hul boeke aanlyn koop. “Vir lank het aanlyn verkope ’n baie klein deel van totale verkope verteenwoordig, maar dit het dramaties gegroei. Daar was ook ’n groei in e-boekverkope, maar by ons nie soveel soos aanlyn verkope van fisieke boeke nie. Dit was ook interessant om te sien dat ’n boek soos Victor Frankl se Man’s search for meaning ewe skielik weer op die topverkoperlyste verskyn. Dit wil tog lyk asof inspirerende boeke in die pandemietyd taamlik gewild is.”

Die toename in die onwettige verspreiding van e-boeke bly egter ’n doring in die vlees. Maar terselfdertyd het die wyse waarop uitdagings rondom die pandemie hanteer is, vir Annie gewys hoe veerkragtig Jonathan Ball en hoe toegewyd haar kollegas is. “Ons het onmiddellik begin dink aan alternatiewe maniere om ons boeke te bemark, met ’n groter fokus op die sosiale media en die aanbied van virtuele bekendstellings. Ons moes ook heelwat strategiese besluite oor ons publikasielys neem.”

Annie saam met die historikus Elizabeth van Heyningen en Bill Nasson by die bekendstelling van Die oorlog kom huis toe, saamgestel deur Nasson en Albert Grundlingh. (Foto: verskaf)

As gesoute uitgewer het Annie ook haar kwota nagmerries agter die rug. “Laat ek jou dít sê: Die drukkersduiwel bestaan en hy vind jaarliks nuwe maniere om ’n mens se siel te versondig.” Sonder om boektitels te noem, probeer Annie die volgende insidente wat vir slapelose nagte gesorg het, so gou moontlik vergeet:

  • ’n Foto-afdeling in een boek – wat in ’n spesifieke chronologiese orde uitgelê is – is net eenvoudig randomly gebind (“drukker se skuld”).
  • Voetnotas het eenkeer net eenvoudig verdwyn en is ’n ander keer uit volgorde gegooi (“setter se skuld”).
  • Die laaste paragraaf van ’n inleiding het op ’n keer heeltemal weggeval. “Dit was nog daar op die finale proewe, maar nie in die boek nie. Tot vandag toe weet nie ek, die setter of die drukker wat gebeur het nie.”
  • ’n Spelfout is op die eerste bladsy van ’n boek gemaak toe ’n skrywer op die nippertjie iets wou byvoeg (“mý skuld, ek skaam my nou nog dood”).

Om met die land se voorste skrywers te werk, sorg natuurlik vir heerlike, sonderlinge stories: “Ek praat nie eens van die soort stories wat uitgewers laataand oor baie glase wyn uitruil nie – van die ‘elke woord is ’n pêrel’-onderonsies met skrywers, die kere wat jy sielkundige moet speel of moet keer (en gewoonlik ook betaal) wanneer skrywers te diep in die bottel kyk.”

En dis ’n verkorte lysie, vertel Annie. “Kom ons sê maar net my werk hou my nederig, báie nederig.”

Maar dit is juis die kreatiwiteit en toewyding van skrywers waaruit Annie haar energie put. Sy het ’n onwrikbare geloof in die “towerkrag van passie en van die intellek”, en dit is die hoofrede waarom sy mal is oor haar skrywers en hulle werk. “Daar is min dinge wat my motiveer soos ’n skrywer wat hard werk en met niks minder as die beste tevrede is nie,” sê sy.

Vir dié vrou wat op Wolseley grootgeword het, is optimisme en ’n oopgesteldheid vir die goedheid en die potensiaal van mense, en veral skrywers, sleutels tot geluk. “Met die boeke wat ek uitgee, probeer ek op my beskeie manier bydra tot ’n wêreld waar daar groter begrip en verdraagsaamheid tussen mense sal wees.”

 

  • 5

Kommentaar

  • Dit is 'n inspirerende onderhoud waaraan ek veel plesier het. Die gedeelde insigte in die uitgewers- en boekbedryf is verhelderend en interessant.
    Baie dankie Annie en Melt.

  • Avatar
    Estelle Neethling

    Annie se insig en haar klem op eerlikheid en nederigheid is opbouend. Só 'n interessante blik op die uitgewerswêreld.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top