Tydens ’n glansgeleentheid by die Hugo Lambrechts Musieksentrum op Saterdagaand 24 September is die jong sopraan, Palesa Malieloa (24) aangewys as die algehele wenner van die nasionale klassiekesangkompetisie, ATKV-Muziqanto.
ATKV-Muziq is die afgelope 15 jaar die ATKV se jaarlikse bydrae tot klassieke musiek in Suid-Afrika. Die ATKV het egter besluit om naas Muziq wat ’n instrumentale klassiekemusiekkompetisie is, sedert 2011 ’n splinternuwe bydrae te lewer tot die stimulering van sang in Suid-Afrika. Dit staan bekend as Muziqanto en is ’n nasionale klassiekesangkompetisie.
Die eerste ronde het gedurende Mei vanjaar plaasgevind. Deelnemers moes tussen 18 en 35 jaar oud wees. Die tweede en finale ronde van ATKV-Muziqanto het die afgelope naweek in die Kaap plaasgevind. Slegs tien kandidate word landswyd gekies om aan hierdie ronde deel te neem.

Die finaliste: Chuma Sijeqa (bariton), Cecilia Rangwanasha (sopraan), Palesa Malieloa (sopraan), Cecilia Rangwanasha (sopraan) en Fikile Mthetwa (mezzo-sopraan).
Vyf finaliste is aan die einde van die tweede ronde gekies om tydens die finale ronde saam met die Kaapse Filharmoniese Orkes onder leiding van maestro Brandon Phillips op te tree.
'n Totale prysgeld van R91 000 is uitgeloof.
As algehele wenner het Palesa prysgeld ter waarde van R45 000 ontvang. Sy is tans ’n vryskut kunstenaar en neem sang by Hanna van Schalkwyk.
Cecilia Rangwanasha (sopraan) het 'n algehele tweede plek ter waarde van R25 000 verower.
'n Prys van R6 000 is ook aan Cecilia toegeken vir die beste vertolking van 'n Suid-Afrikaanse werk tydens die tweede ronde van hierdie kompetisie. Sy het hierdie prys ontvang vir haar vertolking van Isithwanda Sam gekomponeer deur BP Tyamzashe.
S’Bongile Mntambo (sopraan) is as die derde plek-pryswenner aangewys en ontvang R15 000.
Die beoordelaarspaneel vir hierdie twee rondes was nie-stemmende sameroeper Lize Thomas (Coetzer) wat al baie jare groot spore op verskeie sangvlakke in SA trap; die bekende bas, Rouel Beukes; en die hoof van Universiteit KwaZulu-Natal se Operaskool, Lionel Mkwanazi. Jaunelle Celaire, sangdosent aan die Universiteit van Alaska se Fairbanks-kampus in die VSA is die ander lid van die paneel.
Die nasionale Afrikaanse radiostasie, RSG is weer vanjaar die mediavennoot van hierdie kompetisie.
Noluvuyiso Mpofu, beter bekend as Vuvu, die 2015-wenner van ATKV-Muziqanto, het ook die geleentheid bygewoon en het dadelik vir Palesa Malieloa kom gelukwens. (Lees LitNet se onderhoud met Vuvu hier.)
Kommentaar
Ek was in die Hugo Lambrechts Saterdag en is so trots en dankbaar vir die kompetisie Muzicanto , die sang was puik en geluk aan al die wenners en almal wat betrokke is om dit so 'n groot sukses te maak!