Noluvuyiso Mpofu is op vier-en-twintig reeds besig om gehore se voete onder hulle uit te swiep; nie net plaaslik nie, ook internasionaal.
Sy is ’n grasieuse vrou en haar Engels is perfek, sy klink nogal soos ’n kind uit ’n goeie privaatskool. Tog is dit allermins waar. Noluvuyiso het arm groot geword en moes baie hard werk om raakgesien te word. Vandag is dit moeilik om haar te mis.
Op 19 September 2015 word sy as die algehele wenner van die ATKV-Muziqanto se klassiekesangkompetisie aangewys. Ek ontmoet haar vier dae later in die Baxterteater en op pad na die restaurant word ons ’n paar keer voorgekeer deur musici en toneelspelers wat stop om haar geluk te wens. By sommige kry sy drukkies, ander wil net vinnig gesels.
Daar is ’n natuurlik grasie waarmee sy al die lof aanvaar.
Hierdie grasie kom van diep binne haar en nié van ’n posh finishing school nie.
Haar pa is reeds oorlede toe sy nog jonk was en die hoërskool waar haar ma haar kon plaas, was beslis nie een van die duur skole in Port Elizabeth nie. Tog, daardie skool hét ’n koor gehad wat aan eisteddfods deelgeneem het en dít het ’n verskil gemaak aan Noluvuyiso se jong lewe.
In graad 11 het sy tydens een van die eisteddfods gehoor hoe iemand opera sing. Sy was onmiddellik bekoor en wou meer weet.
Van ’n vriendin het sy die DVD van Mozart se Die Towerfluit geleen - sy spreek dit perfek in Duits uit, Die Zauberflöte - en in haar graad 12 jaar het sy as solis deelgeneem aan die eisteddfod, deurgedring na die nasionale eindrondte, en tweede gekom.
“Wie het jou geleer om die Duits uit te spreek?” vra ek.
“Niemand,” sê sy. “Ek het oor en oor geluister na die DVD tot ek dit kon reg uitspreek.”
“En sang? Wie was jou sangafrigter? Wie het jou stem ontwikkel?”
“Niemand,” sê sy. “Ek het geluister na die DVD.”
Haar ma was geweldig trots op haar dogter se prestasie, maar in daardie selfde jaar is sy ook oorlede. Noluvuyiso het nou twee baie jong boeties na wie sy, haar ouma en ’n tannie skielik moes omsien.
Gelukkig het die sukses by die eisteddfod gemaak dat die Universiteit van Kaapstad vir Noluvuyiso raakgesien het. Sy is gewerf, is finansiële hulp aangebied en ’n geleentheid om haar musiektalent te ontwikkel.
Dié jong ster sing sedert 2009 in die koor van die Universiteit van Kaapstad se Operaskool en die groot rolle is boonop besig om na haar kant toe te kom.
Sy was al: Despina in Mozart se Cosí fan tutte, Rosina in Rossini se Il barbiere di Siviglia, Madame Cortese in Rossini se Il Viaggio a Reims, Lady with a Hand Mirror in Dominick Argento se Postcard from Morocco en Violetta in Verdi se La traviata.
In Opera Kaleidoscope sing sy Leila in ʼn uittreksel van Bizet se Pêrelvissers en tydens die Viva Verdi Galakonsert sing sy uittreksels uit I Lombardi as Giselda en uit Falstaff as Nannetta.
Haar oratorio-optredes, as solis, sluit Beethoven se Simfonie no. 9 met die UK se Simfonieorkes in 2012 in, sowel as Haydn se Nelsonmis en Medelssohn se Lofgesang in 2013. In die laaste twee is sy deur die Kaapse Filharmoniese Orkes begelei.
Een van haar groot oomblikke was toe sy in 2014 saam met die bekende bas-bariton, Bryn Terfel, ʼn duet uit Donizetti se L'elisir d’amore saam met die Kaapse Filharmoniese Orkes gesing het. Die kritici was gaande oor dié twee optrede.
Noluvuyiso studeer tans onder Patrick Tikolo en Kamal Khan – saam help hulle haar om rolle en sangkompetisies te kies wat haar loopbaan tot voordeel sal strek.
Nasionaal doen sy goed, maar internasionaal het sy ook onlangs deurgedring na die derde rondte van die Belvedere Sangkompetisie in Amsterdam en in Plácido Domingo se Operalia, in Londen, het sy ʼn derde plek verower. Domingo was self op die podium. Sy vertel wat ’n voorreg dit was toe hy voor die tyd na haar kleedkamer gekom het om te kom seker maak sy is gemaklik.
Daar is nóg ’n stertjie aan hierdie storie: Die geld wat sy van Domingo se kompetisie ontvang het, is gebruik om ’n badkamer te bou by die huis in Port Elizabeth waar haar twee boeties, haar ouma en haar tannie nou nog bly.
Haar roem maak haar dus nie minder huisvas nie. Sodra daar ’n gaping in haar skedule is, gaan sy Port Elizabeth toe om tyd met die gesin deur te bring. Sy voel verantwoordelik vir haar boeties – sy praat van hulle as “my babies” – en voel ’n mate van weemoed om volgende jaar te moet weggaan uit Suid-Afrika.
Tog moet sy. Internasionale roem wag op hierdie jong ster uit die Oos-Kaap. Noluvuyiso doen tans die tweede jaar van haar Nagraadse Diploma in Opera by die Suid-Afrikaanse Kollege vir Musiek aan die Universiteit van Kaapstad is vanjaar toegelaat tot die Kaapstadse Opera Voice of the Nation Studio.
Volgende jaar? Houston, in die VSA, het reeds vir haar ’n opening aangebied. Sy huiwer egter, dit is verder van haar boeties af as wat Europa is … Heimlik hoop Noluvuyiso tans om ’n pos los te sing in Amsterdam of in Italië.
“Hoekom Italië?” vra ek.
Sy is mal oor die argitektuur daar, en dan, met ’n lag, sê sy: “En die kos! Ek is mal oor Italiaanse kos.” Skielik slaan haar ernstige kant weer deur: “Een van die ander redes waarom ek graag in Europa sou wou gaan werk, en nie in die VSA nie, is dat ek dan gedwing gaan woord om nog ’n taal aan te leer.”
Daar het jy dit. Noluvuyiso Mpofu is steeds honger om te leer.
Onthou die naam Noluvuyiso Mpofu.
Onthou haar as die meisie wat, sonder enige hulp, vir haarself geleer opera sing het.
Binnekort, wanneer haar naam op die groot verhoë in die groot rolle verskyn, onthou haar ook as die vrou wat steeds, ten spyte van haar eie skedule, alles doen om haar twee boeties in die Oos-Kaap ’n beter lewe te probeer gee.
Noluvuyiso Mpofu.
Skryf dit neer. Jy gaan nog baie van haar hoor.



