Paasfees-herinneringe: die kuns van Pase

  • 0
  • André Pretorius was twee jaar gelede gedurende die Paastyd op reis. Hy deel sy herinneringe met LitNet se lesers.

Colmar-Basel-Zürich, Paasfees 2024

Hierdie is nie ’n gepaste tafel vir die Donderdag van Heilige Week nie. Op die aand waaop die Christelike wêreld, veral sy Katolieke vertakking, die Laaste Avondmaal en die instelling van die Nagmaal gedenk, sit ons aan by L’Atelier du Peintre in Colmar. Die kos is voortreflik – daardie Michelin-ster is welverdiend – en die legendariese witwyne van Elsas – riesling, pinot gris, gewürztraminer – verruklik.

Van die wyding, selfonthouding en oordenking van die Lydenstyd is hier min sprake. Maar ons tog hierheen, ’n "pelgrimstog" selfs, het álles te make met hierdie gewyde naweek. In my NGK-jeug het Paasfees sekondêr gevoel tot Kersfees – die fees van die Opstanding minder beduidend as dié van die Inkarnasie; Getsémané en Golgota minder beduidend as Bethlehem.

Maar oor die jare sedertdien was ons dikwels by die drie dienste van die Katolieke Triduum – die herdenking van die Laaste Avondmaal Donderdagaand, die Passie en Kruisiging Vrydagmiddag, en die Nagwaak van die Opstanding laatnag Saterdag.

Ons aansit by die Ateljee van die Skilder vanaand is die voorspel tot ’n aangepaste "Triduum" in kuns, ’n tog na drie kunswerke – twee in verf en een in note – waarin die gegewe van hierdie naweek verbluffend neerslag vind.

Vrydagoggend, Colmar

Die strate van Colmar se ou dorp tintel vanoggend met aktiwiteit, die effe trietsige weer ten spyt. Hierdie oostelike geweste van Frankryk is ’n seldsame mengsel van Franse en Duitse kultuur. Die omliggende landstreek – Elsas-Lotharinge – tussen die Vosges-gebergte en die wesoewer van die Ryn – het deur die eeue telkemale van Duitse en Franse hande verwissel. Dus het die name – plek- en persoonsname – ’n Duitse klank wat in die kultuur eggo, al is die taal oorwegend Frans.

Of dit die Franse of Duitse invloed is, weet ek nie, maar die straatjies, kanale en winkelvensters is getooi in ’n menigte Paashase en -eiers. En nie sintetiese hase ingevoer uit China nie, maar, wel, haaskleurige strooihase. Ons staptog deur hierdie aantreklike dorpstoneel bring ons mettertyd by die somber mure van die ou Dominikaanse nonneklooster wat deesdae se Musée Unterlinden huisves.

Rondom die 16de eeuwending was ’n siekte genaamd ergotisme, veroorsaak deur ’n swam in graan, ’n bron van akute lyding en ’n vyand van lewensverwagting. Dit sou nog amper vier eeue wees voor Robert Koch die verband tussen siekte en mikro-organismes kon aantoon, en in daardie premoderne era was die behandeling vir ergotisme, soos vir soveel kwale indertyd, gebed. Die tussentrede van die Heilige Antonius is beskou as besonder effektief – ergotisme was immers bekend as die Vuur van St Antonius – en die nabygeleë klooster van Issenheim ’n sentrum van sy kultus.

Rondom 1515 is die kunstenaar Matthias Grünewald gevra om ’n altaarstuk vir Issenheim te skilder. Op panele en vleuels wat kan oop- en toevou na gelang van die liturgiese seisoen, en waarvóór lyers aan ergotisme kon bid, het Grünewald ’n aantal tonele uit die lewensverhale van Christus en Antonius geskilder.

Daardie altaarstuk rus deesdae in die Musée Unterlinden en dit is ter wille daarvan dat ons gister die trein uit Cambridge via Parys (en ’n vertraging) na Colmar gehaal het.

Van Grünewald se tonele straal met ’n haas verbysterende moderniteit: Die gedrogte in die Versoeking van St Antonius kon ontsnap het uit Star wars se Mos Eisley Cantina; die skelkleure en soetsappige gewydheid van die Hemelvaart sou nie uit plek wees in die geskenkwinkel van ’n bedenklike moderne Katolieke pelgrimsoord nie.

Maar dit is nie vir dié tonele dat ons gereis het nie; dit is die sentrale toneel, sigbaar wanneer die twee grootste panele saamgevou word: die Kruisiging.

Die kruisiging deur Matthias Grünewald (foto: André Pretorius). Die kunswerk is ook hier in die openbare domein beskikbaar.

Die gegewe van die Kruisiging is vasgestel, selfs al het ’n bloemlesing van Middeleeuse kerklikes, koninklikes en kunstenaars hulleself dikwels by die toneel van eeue tevore laat invoeg. In Grünewald se hande vorm daardie gegewe ’n toneel van gestroopte eenvoud wat vir my harder tref as enige van die seker honderde wat ek al gesien het.

Die figuur aan die kruis hang daar gebroke. Vermink. Alleen. Godverlate. ’n Makabere liggaam afgeëts teen ’n donker, brak agtergrond, die vlees blougrys met die letsels van lyding. Twee arms – gespierd, byna grotesk – eindig in reikende hande. Die vingers gryp ten hemele – reddelose, verwronge vingers, asof reikend na die pante van ontvlugtende lewe, smagtend na ’n onsienbare vertroosting buite die raam.

Die aarde van die agtergrond is woes, leeg en teenstrydig: smagtend na die lig wat dit probeer uitdoof. Woes en leeg, by hierdie herskepping, net soos by die eerste Skepping. Maar die ligtende baken is daar – vermink, geskend deur geselmerke, met pers, versmoorde lippe, maar nietemin ondoofbaar daar. Die doringkroon is nie die oorwinningskransie van sommige sentimentele Middeleeuse kuns nie; dit is verstrengel, onskeibaar vervleg met die hare – die een ís die ander, want in hierdie oomblik is Christus gelyk aan sy lyding.

Grünewald se beeld is bewegingloos en stil, maar nietemin tierend met drama: In die woorde van Paul Johnson is Grünewald se verontrustende magnum opus "een van die mees enigmatiese meesterwerke in die Westerse kunsgeskiedenis".

Wanneer ons ons rug keer op hierdie toneel, is dit soos om uit die Goeie Vrydag-diens te stap: Ek voel enigsins oorweldig, tot swye gedwing deur hierdie gegewe.

Saterdagoggend, Basel

’n Onberispelik stipte Switserse trein het ons gistermiddag van Colmar na Basel gebring. Ons aandete van kaasfondue by Rhyschänzli was meer beskeie as die vorige aand en nader aan vegetaries, maar steeds nie werklik in die somber gees van Goeie Vrydag nie.

Maar vanoggend se bestemming moet een van die somberste kunswerke in die ganse Westerse kanon wees. Ons haal een van die eenvoudige "veerbote" oor die snelvloeiende Rynrivier: ’n Kabel verbind die bootjie met sy twintig of wat passasiers aan ’n soort sweefspoorkabel oor die rivier en ’n mengsel van hidroulika en die vloed van die rivier gelei die vaartuigie heen en weer oor die rivier.

Trappe lei ons van die oewer na die rooiklip-Münster waar ’n Protestantse gemeente nou aanbid tussen mure wat in die 13de eeu Katoliek gebou is, en waar die "oorspronklike" humanistiese filosoof, Desiderius Erasmus van Rotterdam, onder ’n pilaar begrawe lê. Ons halt by sy graf, maar ons doelwit is ’n ander graftoneel.

By die Kunstmuseum ’n entjie teen die bult af van die Altstadt soek ons die galery op waar die skilderwerke van Hans Holbein die Jongere hang. Holbein se roem berus op sy lewensgetroue portretstudies van Erasmus, sir Thomas More en die hof van koning Hendrik VIII van Engeland in die 1520’s en 1530’s, insluitend Hendrik self.

Só lewensgetrou was sy werk dat hy in 1539 gestuur is na die hertogdom van Kleef om ’n portret te skilder van Anna van Kleef sodat die koning kon besluit of sy ’n geskikte vierde eggenoot sou wees. Hendrik het begin bruilof reël op grond van die portret en die subtiele kodes in Holbein se portret misgekyk – sy was ’n vaal meisietjie wat die viriele koning tot impotensie en ’n vyfde huwelik sou verveel.

Dit is egter nie vir Holbein se lewensgetroue portretstudies dat ons op hierdie Stil Saterdag hier is nie; dit is eerder om sy "doodsgetrouheid". In 1521, ’n onstuimige uur van Kerkhervorming in Basel, en Europa, het Holbein vir sy vriend en beskermheer, Bonifacius Amerbach, ’n verstommende Gestorwe Christus in die Graf geskilder. Êrens tydens die beeldestormry van die vroeë Protestantse Hervorming het Amerbach sy kunswerk gered uit die klooster waar dit geïnstalleer was.

Dit is ’n verbysterende werk van ’n oomblik uit die Paasgegewe wat selde aandag kry in kuns. Ja, daar is Grafleggings by dosyne (insluitend op die predella van Grünewald se Issenheim-altaarstuk), en daar is Opstandings en Verskynings aan Maria Magdalena en die Dissipels. Maar Holbein begewe hom in die graf self in die ure tussen Josef van Arimatea se klandestiene teraardebestelling en die opstandingsvreugde van Paassondagoggend. Hier is geen begrafnisgangers of verbysterde getuies van die Opstanding nie, net ’n lyk in ’n graf – alleen, doodsalleen.

Holbein se portret van die Gestorwe Christus in die graf (beskikbaar in die openbare domein, met erkenning aan Gsimonov en 'n ander – lisensie CCO 1.0)

’n Lewensgrootte-Christus lê in ’n kloustrofobiese klipnis waarvan een sypaneel afwesig is om die toeskouer ’n blik op die liggaam se regtersy te veroorloof. Die bebaarde figuur se kop is effe na regs gedraai en is naak afgesien van ’n vuilwit lendekleed wat sy teenhanger in die Issenheim-Kruisiging eggo. Sy regteroog is starend oop, maar onsiende, sy mond halfoop maar stil. Sy sywond, regterhand en regtervoet – waar spykers en lans die vlees deurpriem het – is ’n ontbindende gangreengrys.

Dit is ’n grusame toneel wat toeskouers reeds vir vyf eeue in hul spore stuit. In haar wonderlike Holbein-biografie, The King’s Painter, beskryf Franny Moyle – soos elke ander skrywer oor die skildery – die reaksie van die Russiese skrywer Fjodor Dostojewski, voor die skildery in 1867: Só begoël was hy deur die werk dat sy vrou hom moes wegsleep uit vrees dat hy ’n epileptiese episode sou beleef. En in Dostojewski se roman Die idioot merk een karakter op: "Party mense kan hulle geloof verloor deur na daardie skildery te kyk."

Dit is steeds ’n uitdagende werk. In ons era het ons die belewenis van dood grotendeels tot agter gordyne verskuif, maar hier dwing Holbein ons om daardie frase uit die Apostoliese Geloofsbelydenis – "en ter helle neergedaal het" – te konfronteer. Die konfrontasie bring ’n wankeling in die gemoed, indien nie in geloof nie.

Soos ’n vriend – toevallig ’n dominee – reageer toe ek vir hom ’n foto stuur: "Sjoe, ek is dankbaar dat daar ’n opstanding was."

Saterdagaand, Zürich

Dit is steeds Stil Saterdag en daardie graftoneel spook steeds by my hier aan die gekunstelde oewer van Zürich se meer, ’n uur of wat se treinrit suidoos van Basel. Miskien is daar ’n teenstrydigheid tussen die grafstilte van Stil Saterdag en een van die grootste musikale werke deur die Westerse gemoed voortgebring.

Foto: André Pretorius

Maar enige teenstrydigheid is net oënskynlik: JS Bach se Matteus-passie is ’n toonsetting van die Paasgegewe in Matteus 26 en 27, tussengelaag met musikale oordenkings. Ná drie ure van die mees sublieme musiek eindig dit in daardie slotkoor van volslae berusting – Ruhe sanfte, sanfte ruh! (Rus sag!) – en die droefenis van die stil graf.

Dit is berusting met die belofte van môreoggend se herrese Christus, maar wanneer die dirigent se hande sak, is daar net stilte (en dikwels ’n versoek vooraf om geen onmiddellike applous nie).

Ek was bevoorreg om hierdie epiese werk meermale te kon beleef, as’t ware ’n Lydensweg te kon loop met Matteus, Bach en die kunstenaars in plekke soos die kapel van King’s College in Cambridge. Vanaand se uitvoering by die Tonhalle in Zürich het egter ’n ekstra tikkie stergehalte: Een van die soliste saam met die Freiburg Barok-orkes is die Franse kontratenoor Philippe Jaroussky. Daardie stemtipe met sy elemente van manlik en vroulik, êrens tussen sopraan en alt en tenoor, sing met ’n universele menslikheid – die klank, as’t ware, van ’n vrou uit die bors van ’n man.

Geen enkele kunstenaar kan ’n uitvoering van hierdie epiese werk op sy eie "maak" nie, maar die altsolis – vanaand Jaroussky – speel ’n sleutelrol in Bach se diep ontroerende oordenking van die Passie.

Die werk neem die vorm aan van ’n resitatiewe toonsetting van die Bybelteks – gesing deur die tenoor-Evangelis en bas-Christus met koorlede vir die dialoog van karakters soos Petrus, Judas en Pilatus – tussengelaag met musikale bepeinsings deur die vier soliste. So sing die alt ná die verloëning deur Petrus die hartverskeurend menslike aria “Erbarme dich” ("Wees genadig, my God, ter wille van my trane").

Vir my lê die ontroerendste arias in die mond van die alt, en nooit was my verwondering oor die aria “Sehet Jesus hat die Hand” skerper as vanaand nie. Die oordenking – "Kyk, Jesus strek sy hande uit om ons te omarm" – vind Jesus in die Passie-gegewe aan die kruis, net voor Hy sterf. Dit lei ’n episode in wat twee Kruiswoorde en die dood van Christus omvat, en eindig in die soetvloeiende bas-aria “Mache dich, mein Herze rein” ("Suiwer jouself, my hart, ek wil Jesus self begrawe").

Wanneer die laaste woorde van die slotkoor terugkwyn tot die stilte waaruit dit gebore is, is ons pelgrimstog volbring. Dit is die nag waaruit die daeraad van die Opstanding gebore sal word. Die Christendom staan in hierdie oomblik kollektief nog voor daardie onthutsende graftoneel van Holbein, maar dit voel reeds of die dood se angel getrek is deur Bach se salwing van die gestorwe Christus met musikale trooswoorde. In die wete van die daeraad is opgesluit die belofte van wedergeboorte.

Dan verdryf voortydige applous van hierdie fatsoenlike Switserse gehoor die stilte. Saam met oorwegend bejaarde konsertgangers sypel ons terug in die lentekoel strate en terug na ons hotel langsaan waar die 12-jarige Daniel op ons wag. Drie ure van Bach, hoe subliem ook al, sou vir hom ’n ander soort lydensweg gewees het.

Sondagoggend, Zürich

Paasfees was vanjaar vroeg in die kalender en Europa se horlosies het gisternag ’n uur vorentoe geskuif, dus is dit nog koelerig toe ons meerlangs drentel, verby die meerbad waar ons besluit het om liewer nie hierdie sub-Alpynse meer se water vanoggend te beproef nie.

Standbeeld van Ulrich Zwingli deur Heinrich Natter in Base, hier aangetref in die openbare domein, onder hierdie lisensie (foto: André Pretorius)

Ons wandeling neem ons met die oewer van die Limmatrivier langs onder die blik van die stroewe standbeeld van Zürich se kragdadige Hervormer, Ulrich Zwingli, deur na die Grossmünster. Vanuit hierdie kerk het Zwingli in dieselfde dekade van Grünewald en Holbein se meesterwerke gestalte gegee aan ’n Switserse Hervorming wat gewyde kuns soos daardie sou vernietig.

Die atmosfeer in die skemer kerk is gedrae. Afgesien van helder loodglasvensters en ’n leë kruis langs die kansel is hier geen versiering nie. Miskien is dit misplaas om aan ’n kerkgebou ’n gevoel toe te dig sonder sy gemeente – die Gereformeerde Opstandingsdiens was reeds vroeër vanoggend – maar die gestrooptheid daarvan laat my hunker na die skoonheid en intensiteit van die vorige 48 uur.

Dit is die erfenis van hierdie Gereformeerde gestrooptheid waarin ek op ’n Afrika-vlakte ver van hier grootgeword het. Maar daardie komvandaan het vrugbare grond gelaat vir die smagting na hierdie andersheid, hierdie uitdrukking van menslikheid en geloof uit verre eeue.

*

André Pretorius se jongste reisbundel, Spanje – reise in ’n palimpses, en sy reisverhale oor die Kerkhervormings, Geloof alleen – reise deur die Kerkhervormings, is beskikbaar by naledi.co.za.

(c) André Pretorius, Maart 2026, Cambridge

Lees ook:

Spanje. Reise in ’n palimpses deur André Pretorius: ’n resensie

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top