Ôs praat met Rafiek Mammon, want dis amper Boogie-tyd!

  • 0

Tasneem Daniels gesels met Rafiek Mammon oor It’s boogie time.

Excited vi Gary Naidoo se Boogie performance byrie Artscape, 19–23 November 2025.

Baie slamat virrie Boogie show wat nou vi 16 jare oppie ve’hoog is! Sê vi ôs lesers mee oorie Boogie show se history en hoekô’rie variety show genre nog altyd ’n hit is oppie Cape Flats. Onthou, ek is baie jonger as djy en djy is mee ge’tamat (ervare) waar’t hierrie history betref!

Ons het maar opgegroei met dié musiek in ons huise, jong … Ons ma’s en pa’s en ouer siblings het die music van crooners en van disco divas gekoop op daai ou 7-singles en LP’s en dit met ons gedeel van kleins af. Ek praat nou van Engelbert Humperdinck en Tom Jones en, en, en. Dan move hulle die furniture in die lounge en daar word gedans, ensovoorts, en nog nie 100 jaar later nie, word dit maar deel van jou DNA soos jy grootword. En ek is dankbaar daarvoor, want as ek nie daai exposure gehad het as jongmens nie, sou ek seker nie nou nog die passie en die liefde daarvoor gehad het nie. Om shows op te sit wat die mense so terdeë geniet! Die feit dat dit ’n show is wat ’n “variety show” feel het, maak dit accessible vir baie mense – jonk en oud.

Ek het baie vannie Boogie numbers by karaokes en variety shows as ’n kind ge’lee, soes This is my life, wat Candice Thornton sing, die Shirley Bassey vannie Boogie show. Hierrie tiepe shows is ’n dream space vi coloured performers en usually ’n stepping stone vi groterer opportunities oorie jare, byvoorbeeld: As iemand ge’oenag (genooi) wôd deur jou show om oo’see te sing. Ve’tel ôs lesers mee daa’oo. 

So, daar is baie, baie voordele om ’n show soos Boogie te doen. Ja, dit is maar net ’n tribute show, maar dis een van die beste en sekerlik een van die grootste tribute shows in die Kaap. Een wat jaar na jaar uitverkoop is! My filosofie is simple: As dit werk, werk dit! En as jy dit wil doen, go big or go home. Ons compromise nooit op kwaliteit nie. Die singers, dansers en ons wonderlike band is top-class performers wat hulle jobs ken, en ek is ook ’n harde taskmaster! Daar is ALTYD geleenthede wat uit elke jaar se Boogie show kom vir performers. Elke jaar, without fail, kry hulle offers om corporates te doen of om ander groter geleenthede aan te pak. Die Boogie band, byvoorbeeld, speel nou sommer drie shows by die Suidoosterfees, met groot name in die industrie. JJ Petersen, ons keyboard player, toer nou met Anna Davel en Elsabe Zietsman. Dit is ’n paar voorbeelde. Dit warm the cockles of my heart, soos die Engelse sou sê.

Die Boogie show het baie goeie local, vocal talent, ve’al female vocals. Sê vi ôs mee oorie female vocals, maa oekie performers oorie algemien ennie Boogie show se twie MC’s, Boeta Rajee en Haji Fatgieyah (anner mense sal vat, maa sy sal gie, ja!). Hoekô maak hulle sukke mashallah MC’s virrie Boogie show?

Kom ek begin by die laaste gedeelte van jou vraag. Die idee met die Boogie shows was om mense teater toe te bring wat nie miskien teater in sy “tradisionele” sin sou geniet nie. Wat ek daarby bedoel is, “ons” mense – die coloured folk – sal nie net, of liewer, het nie net disposable income om enige teaterstuk te gaan kyk nie. So, as hulle ’n geldjie op teater gaan spandeer, wil hulle ge-entertain wees van kop tot toon. En, onthou, ons skole en tradisies het nie noodwendig teater en drama ingesluit as mainstream nie. Teater het nie voorsiening gemaak vir ons nie. Dit was ’n “wit” ding. So, ons het baie storievertellers en baie snaakse mense en selfs goeie sangers, maar hulle doen hulle ding om die kampvuur en by ’n dinner tafel of in iemand se lounge. Nie noodwendig op die verhoog nie. Imagine – dan kom Boeta Rajee (Gary Naidoo) en Hadji Fatgiyah (Liandé Valentyn) op die verhoog as ’n Muslim couple van die Bo-Kaap en hulle MC so ’n groot show. It is not the done thing in theatre. Ek hou van doing what is not “the done thing”! En ek hou van dik-hou (aanhou) daarmee totdat hulle household names word en hulle lyne herhaal word in mense se huise. Net soos dit was in die apartheidera voor ons naby ’n professionele verhoog kon wees! Ons moet dit ook ons tuiste maak en gemaklik voel om ons stories en komedie te deel. Ek is unapologetic wanneer dit kom by die feit dat ons audiences 80–90% coloured is. Ek voel vere. Dit wys jou net hoe wit mense soms nie sal compromise wanneer dit kom by verskillende smake het en om jou smaak uit te brei nie, maar ons gaan happily na hulle werke en embrace dit asof dit die gospel en die gold standard is. So, I guess there is a lot of work still to be done ...

Gary Naidoo (links) en Rafiek Mammon (regs) van Ganarama Productions bring vi ôs al 16 jaar lank Boogie awesomeness!

Oor die vocalists – ek choose hulle noukeurig. Ek glo al die sangers is as gifted as the other. Jy het nou die vrouens uitgesonder, maar ek is soos ’n proud pa wie nie van sy kinders die een vis en ander vleis kan maak nie. Hulle is almal besonders! Die vrouens bring die powerhouse voices en die mans bring baie van die “performance” songs. I mean, Gary en Jon-E is ’n formidable pair, en Riyaan, as hy Freddie Mercury doen, glo ek Freddie smile in sy graf!

Boeta Rajee by een vannie shows: “Gie vi my’rie good old days.” Sê vi ôs mee, Rafiek, oo jou favourite Boogie numbers vannie good old days ennie memories associated met daai numbers.

Waar begin mens om oor favourites te praat? Jy kan sien in antwoord nommer een bo, daar is goeie redes hoekom ek die playlist so kies, maar ek en favourites is nie maatjies nie. Never have been. My rede daarvoor is: Ek het te veel! En favourites is relatief – dit hang af van moods. Spesiaal wanner dit kom by musiek. Ek het nou lus vir Diana Ross en dan vir Tina en dan vir Elvis en dan vir Stevie. Dan vir klassieke musiek, en dan vir Michael Jackson, en dan die Stylistics. Daar is net te veel! En let’s face it, daai mense kon musiek maak. I mean, really. Hulle het geweet wat hulle doen. Sekere musiek hou sekere memories in vir ’n mens – dinge wat jy assosieer met sekere events in jou lewe. Die Boogie show is ’n unabashed trip down memory lane waar mense letterlik die hele show deur saamsing en saamdans. Ek is nou al vir etlike jare in die bedryf, teater gemaak, geskryf, gementor en baie, baie shows bygewoon. Boogie is die show waar ek letterlik nog nooit mense ’n show so gesien geniet het nie ... #sêmaarnet! I’m not patting myself on the back here; ek sê maar net wat die ervaring is. Klaar wat dit so is!  

Met Boogie wat elke jaa Artscape Opera House toe kô, hoe bly julle inspired van jaa tot jaa ommie audience op hulle tone te hou?

Soos ek gesê het, dis my passion en dit is ook ’n challenge wat ek en Gary elke jaar wil aanpak. Gary is mos maar die face van die show en ons vra ook elke jaar die vraag: Hoe top ons wat ons die vorige jaar gedoen het? Gary is ook nou al ouer en miskien nie meer so fiks soos hy destyds was toe hy Ghoema gedoen het nie, maar hy gaan gym elke dag om sy stage-fitness op te hou en hy is altyd gereed om nuwe dinge aan te pak. Ons altwee is gretig om te dink aan nuwe maniere om die show vars en nuut te hou: nuwe songs, nuwe costumes, ekstra sangers, ensovoorts. Maak die opening spectacular, vind gimmicks, ensovoorts. Die show is ons baby. Ons love om dit bymekaar te sit jaar in en jaar uit. Soos ek skryf – dis nou einde Augustus – is die show al 90% klaar: Elke liedjie is al gekies, medleys is gesny en amper al die costumes hang al op die rail. En, nie om te brag nie, maar die show is al 80+% uitverkoop ook! Miskien brag ek so bietjie. Jammer as dit so oorkom.

Dis amper Boogie-tyd! Sê vi ôs waa en wanneer sallie volgende show plaasvind, waarie mense moet tickets koep en wat ôs byrie 2025 show kan ve’wag.   

Wel, sonder om die proverbial kat uit die mou te laat, is daar baie nuwe, opwindende liedjies vanuit die 70’s en 80’s en ook ’n paar moderne songs, want ons wil ook die jonger gehore trek. Die komedie is heeltemal nuutgeskrewe. So, dis altyd iets om na uit te sien. Ons het nege sangers hierdie jaar, vier dansers en ’n ses-stuk band. Dis ’n regte jol van begin tot einde. Vir twee en ’n half uur kan jy relax en jouself terdeë geniet, terwyl die performers jou betower met stemme van goud. Vir daai tyd voel mens nogal asof daar nie ’n care in die wêreld is nie, en vir die loop van die show voel jy die good vibes in daai operahuis. Dit is lekker pure, unadulterated escapism vir die hele gesin!

Ons is in die Opera House by Artscape van Woensdag 19 November tot Sondag 23 November 2025. Kaartjies is beskikbaar by Webtickets of jy kan my ook bel of WhatsApp: 082 200 7111.

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top