Op 22 Mei 2025 het ’n belangrike ontmoeting plaasgevind in KwaNojoli, die klein Karoo-dorpie wat voorheen Somerset-Oos genoem is.
Voorheen.
In Maart 2023 is Somerset-Oos se naam verander na KwaNojoli. Die voorvoegsel kwa- beteken “die plek van” in die Ngunitale. KwaNojoli beteken dus “Die plek van Nojoli”. Die naam van die hoofstraat deur die sakekern, wat eers Charlesstraat geheet het, is ook verander, na Nojolistraat.
Hoekom?
En wie was Nojoli?
Ongelukkigheid onder die inwoners
Die naamsverandering het nie baie mense se goedkeuring weggedra nie.
Deels was die skeptici bekommerd dat dit net nog ’n manier is vir ’n aantal politici om geld te maak uit die storie, maar belangriker nog het bitter min inwoners, hetsy swart of wit, geweet wie Nojoli was.
Jakes Gerwel, ’n seun van Somerset-Oos
Om Nojoli se storie te hoor moet ons dalk eers teruggaan na ’n ander inwoner van die toenmalige Somerset-Oos-distrik: Jakes Gerwel.
Jakes Gerwel is op 18 Januarie 1946 op die plaas Malvern, ongeveer 64 km van die dorp af, gebore.
Gerwel kon skoolgaan en het ná matriek gaan studeer aan die Universiteit van Wes-Kaapland, waar hy ’n honneursgraad verwerf het. Verdere studie het gewink en hy sou uiteindelik aan die Vrije Universiteit in Brussel, België promoveer.
Gerwel het teruggekeer na Suid-Afrika as ’n onderwyser en is uiteindelik aan die Universiteit van Wes-Kaapland aangestel as ’n dosent. Daar sou hy vorder tot visekanselier.
Gerwel was nie bloot ’n goeie akademikus nie; hy het ook seker gemaak dat die opposisie teen apartheid ’n integrale deel van die kampusdinamiek sou vorm. Diegene verbonde aan die universiteit sou hom onthou as ’n leier wat voor die polisie se Casspirs gaan staan het om sy studente beskerm.
Gerwel sou ook tydens die eerste demokratiese regering in Suid-Afrika dien as direkteur-generaal in die kantoor van Nelson Mandela.

Paulet Huis
In 2007 het Gerwel begin om Paulet Huis, ’n statige gebou wat toe reeds byna 200 jaar oud was, te restoureer. Paulet Huis is geleë in Pauletstraat in die toenmalige Somerset-Oos.

Kort ná sy dood in 2012 het Phoebé Gerwel, sy weduwee, die huis aan die Jakes Gerwel Stigting geskenk. Die idee was om dit in ’n skrywershuis te omskep.
In 2019 het die eerste skrywers ingetrek. Sedertdien het ’n groot aantal plaaslike en internasionale skrywers die voorreg gehad om ’n tyd lank ongestoord in die Karoo te kon gaan skryf.
Die Jakes Gerwel Stigting loods ’n navorsingsprojek

Theo Kemp, die uitvoerende direkteur van die Jakes Gerwel Stigting
Die ongelukkigheid en die verwarring rondom die naamsverandering het die Jakes Gerwel Stigting genoop om saam met die plaaslike museum ’n navorsingsprojek oor Nojoli van stapel te stuur.

Mphuthumi Ntabeni
Mphuthumi Ntabeni, die bekroonde skrywer van romans soos The broken river tent en The wanderers, is genader om te help. Ntabeni was voorheen een van die skrywers wat in Paulet Huis kon gaan skryf. Sy boeke toon ’n diepgaande studie van die Xhosa-geskiedenis, en daarmee saam dié van die Oos-Kaap.
Die projek is ruim ondersteun deur die Nasionale Erfenisstigting.
Van skeptisisme tot ’n breër verstaan van ’n lang geskiedenis
Ntabeni het begin deur onderhoude te voer met mense uit verskeie dele van die dorp.
Hy het ook sy eie navorsing gedoen in die plaaslike museum.
Ntabeni het aanvanklik gedink dat hy met mense sou gesels en ’n essay op die Jakes Gerwel Stigting se webruimte sou plaas.
The project brief was simple: Find out who Nojoli was, because the changing of the name Somerset East to KwaNojoli (the place of Nojoli) caused some fracas in this small historical town. How then can we use this history to mend the past and inform the future for social cohesion in the town?1
Hoe meer hy geluister het en met mense gesels het, hoe groter en omvangryker het die projek geword. Die geskiedenis van die Oos-Kaap is een van ontheemding. Lae van trauma het na vore gekom: Toe die wit mense kom, is verskeie oorloë gevoer wat die Xhosas stelselmatig van hulle grond ontneem het. “While making the documentary we encountered the accompanying pain of suppressed generational traumas from land distribution and forced removals.”2
Ntabeni, ’n Xhosa, sê dit is belangrik om te onthou dat die Xhosas ook oorlog gemaak het met die oorspronklike inwoners voor die wit mense opgedaag en met die Xhosas oorlog gemaak het.
But even in writing about Nojoli, we must take care not to compound the issue of hidden/surpressed or unhealthy silences. The focus on her could be seen to privilege the Xhosa inhabitants of the area over the KhoeKhoe.3
Ntabeni se navorsing het hom ook ’n positiewe ontdekking laat maak. In KwaNojoli is ’n oorlogsgedenkteken vir die slagoffers van die SS Mendi. Volgens Ntabeni is dit die enigste gedenkteken in Suid-Afrika waarvan hy weet wat aan swart oorlogsveterane gewy is. Hierdie gedenkteken het aanleiding gegee tot die titel van ‘n monografie wat gedruk is. Dominee Dyobha Isaac Wauchope het op die sinkende SS Mendi gesê: “Raise your war cries my brothers, for though they made us leave our assegais back in the kraals, our voices are left with our bodies.”4
Maar wie was Nojoli?
Nojoli was die dogter van Nkosi Ndungwana, ’n belangrike leier in die Thembu-gemeenskap. Sy is getroud met een van die Xhosa-konings, Nkosi Rharhabe. Haar status het beteken dat sy as koningin in die hoofkraal van Rharhabe gebly het, wat geleë was aan die voet van Boschberg, naby die hedendaagse KwaNojoli.
Die egpaar se dogter Ntsusa sou bekend word as ’n generaal uit eie reg. Sy was vir dekades lank ’n doring in die Britse setlaars se vlees. Sy het ouer as 100 jaar geword. Een van die egpaar se ander kinders was Mlawu, wat redelik vroeg gesterf het. Sy weduwee, Yese, sou uiteindelik ’n verhouding hê met Coenraad Buys.
Die skep van ’n monografie, die maak van ’n film en die bymekaarkom van mense
Die onderhoude het ’n film geword, en ’n monografie is geskep om die projek vas te vang in ’n verteerbare vorm.
Op 22 Mei 2025 het die Jakes Gerwel Stigting, in samewerking met die Nasionale Erfenisstigting, ’n ete gereël in KwaNojoli waarheen ’n groot aantal mense uit die omgewing genooi is.

Die monografie, Our voices are left with our bodies, the early history of KwaNojoli, is daar uitgedeel en is ook gratis beskikbaar gestel op die Jakes Gerwel Stigting se webruimte. Dit kan ook gratis afgelaai word.

Die film, KwaNojoli: The origins, is ook vertoon, en is nou op YouTube beskikbaar.
Ntabeni het daarna die projek verduidelik en ’n pleidooi gelewer dat meer gedoen moet word om te verseker dat die orale geskiedenis, en die ander kleingeskiedenisse van die gebied, ernstig opgeneem word.
Daar is talle inwoners van die dorp, wit en swart, wat wys op ’n gebrek aan dienslewering. Hulle sou dienste verkies bo ’n naamsverandering. Ntabeni erken dat daar erge probleme is in die dorp, maar hy wys daarop dat die name van Somerset, en talle ander wat op die dorp se straatname verskyn, ’n konstante bewys is van die onderdrukker wat verheerlik word. Om Nojoli te gedenk, verminder nie die diensleweringsprobleme nie, maar dit verleen menswaardigheid aan diegene wat reeds soveel verloor het.
Notas:
1 Die aanhalings kom uit die monografie Our voices are left with our bodies, the early history of KwaNojoli, dié een van bladsy 6.
2 Ibid, bladsy 9.
3 Ibid, bladsy 6.
4 Ibid, bladsy 35.
Lees ook:
Conversations beyond the comfort zone | Etienne van Heerden Veldsoirée 2023

