Op die vingerpunte van die heelal: ’n onderhoud met René Bohnen

  • 1

Op die vingerpunte van die heelal
René Bohnen
Uitgewer: Naledi
ISBN:  9780928316957

René Bohnen beantwoord Naomi Meyer se vrae oor René se bundel Op die vingerpunte van die heelal.

René, baie geluk met die verskyning van jou derde digbundel, Op die vingerpunte van die heelal. Vertel my asseblief iets van die titel.

’n Geskenk uit die onbewuste of die nag, is die titel vir my kosbaar en iets waarvoor ek dankbaar is. Dit is die eerste keer dat ek nie hard moes werk om aan ’n bundeltitel te dink nie. Dit gee vir my ’n spesifieke gevoel van onsekerheid weer – ek skryf in ’n gedig “gereed om te vlieg, reg om te val” – maar dit bring ook die mistieke element in waarvan ek hou. Dat daar altyd iets bly wat onverklaarbaar is, ten spyte van algoritmes en wiskundige formules, is vir my lieflik en ’n onuitputlike bron van verwondering. Kleuters tel op hulle vingers of vingerpunte en ’n mens ken iets op die punte van jou vingers. Blindes lees met hulle vingerpunte en die mens het tien vingers. Ek is dankbaar dat die titel my spel met syfers, biomimese en die goue ratio kon versoen met ’n spirituele aanvoeling in ’n verwarrende wêreld.

In hierdie heelal lees mens in die eerste gedig van die mikrokosmos van Johannesburg. Is dit ook wat "Inkommers" vir jou beteken? Is dit van hierdie stad se helder prente wat jy geskryf het?

Skoenlappers in die stad is nie vreemd nie, maar die getalle, die rivier van wit vlinders wanneer hulle migreer, is merkwaardig en wél vreemd tussen sement en staal. In die bundel kom die ek-spreker se ambivalente verhouding met die stad meermale ter sprake. Ek stel belang in die vreemdelingskap van die migrant; ek ondersoek al vir jare die posisie van die buitestander – aan die hand van skrywers soos Camus, kunstenaars soos Helen Martins en ander randfigure. Maar ek stel ook besonder belang in die posisie van die persoon wat reik na ’n sense of belonging en ’n sense of community, dit dikwels vind en beleef en tóg nog na verwys word as ’n inkommer. Die hele kwessie van herkoms en behoort boei my, asook die verskillende maniere waarop iemand of iets inkommers kan wees. As stadsbewoner wat nie in Johannesburg gebore is nie, was daar ’n oomblik toe ek, die wit skoenlappers, die Malawiese, Somaliese en Zimbabwiese mense almal één vreemdeling was, en ek wou die gevoel weergee saam met die stadsbeeld en maatskaplike omstandighede en die skeppingsmite, toe selfs lig en donker inkommers was.

’n Gedig soos "Mallemeule" – het dit werklik gebeur? Asof ’n mens so iets oor ’n gedig kan vra! Dalk wil jy iets van hierdie gedig ook sê.

Ja, dit het gebeur. Ek was al dikwels in ’n situasie waar ons by ’n motorongeluk stilhou om mediese hulp te verleen. Die eerste keer was in 1983 en daardie jongman het in die ambulans gesterf terwyl ek sy hand vashou. Ek begin nou eers oor hierdie dinge skryf; ek was nog altyd oorbewus van die etiese vertroulikheid, al is ek nie die medies opgeleide persoon nie. Die aand in die Kaap en die motorfietsryer het lank gelede gebeur en in die gedig “Mallemeule” het hy en sy dood die regte plek gekry waar ek kan begin praat. Dat ons werklik op pad was na ’n kabaret en dat die alt daardie Brel-lied so wonderlik ontstellend vertolk het, is op my gemoed en in my herinneringe onuitwisbaar afgeëts. Ek hoop dat die toepassing en emosie in die gedig ook vir die leser iets wakker maak.

Kán ’n mens agterna oor die skryfproses van ’n gedig gesels? Is die skeppingsproses vir jou ’n tydsame proses, of volg die een woord vir jou logieserwys op die volgende, ’n rits dominoblokke wat netjies by mekaar inpas, op gereedheidsgrondslag?

Die skryfproses wissel. Sommige gedigte kom in een lang string woordgedagtes uit, ander gedigte ontstaan in sarsies reëls, met weke en selfs maande wat tussenin verloop. Enkele gedigte verskyn in die finale vorm en bly so staan. Die skryfproses is vir my nooit moeisaam nie, ongeag hoe dit verloop. Die redigeerproses is ’n ander storie – dit neem langer, vra noukeurige, analitiese aandag en ek spandeer baie lang ure om ’n oënskynlik netjiese rits dominoblokkies te bewerkstellig. ’n Mens kan sekerlik agterna oor die hele geboorteproses praat, maar ’n mens wil nie noodwendig nie!

Jou gedigte skets helder woordbeelde. Hoe ontstaan ’n gedig gewoonlik vir jou? Of dalk kan jy van die ontstaansgeskiedenis van een van die gedigte vertel, as jy wil.

Ek het die helfte van hierdie vraag dalk nou reeds hier bo beantwoord. Ek kan byvoeg dat ek dikwels drome gebruik vir ’n gedig-idee. Soms skryf ek die droom net so neer. Partykeer maak ’n fliek of skildery of ’n oomblik ’n nuwe prentjie in my kop, en ek moet net die woorde vind wat daardie “breinfoto” kan weergee. In daardie stadium kan ek glad nie oor die gedig praat nie – dis nie ’n rasionele fase nie; ek weet net wanneer die gevoel van die woorde op die gevoel van die prentjie begin pas, dan is idee mooi op pad.

Van wanneer af dig jy al?

Ek kan nie ’n tyd onthou voor gedigte nie. My vroegste herinneringe is kinderrympies, in veral Engels en Zoeloe. Soms het dit vir my as kleuter gevoel of die woorde my eie is. Vanselfsprekend moes ek eers leer lees en skryf voor ek gedigte op papier kon plaas. In graad 2 het ek ’n tydskriffie se gedigkompetisie gewen en die versie oor ’n wurm is gepubliseer. Al wat hierdie dinge vir my sê, is dat gedigte skryf vir my ’n outomatiese manier van dink is en dit my plig is om onverpoosd aan die vakmanskap te werk.

My debuutbundel, Spoorsny, het ’n tipe soeke weergegee, aan die hand van die labirint-argetipe. Terugskouend kan ek die saadjies sien van wat ek vandag doen, asook die vraagstukke waarmee ek steeds werk. Die natuurbeelding en belangstelling in die mistieke, asook die mens se psige is ook reeds daar verteenwoordig. Ek dink die spirale waarmee ek in die eerste bundel omgegaan het, het in my nuwe bundel effens anders gestalte gekry, maar die labirintmite sal altyd vir my beduidend wees as simbool van ’n psigologiese reis.

My tweede bundel, in die niks al om, was ’n tipe daarstelling van klein oomblikke of plekke van vrede en stilte wat ’n mens help deur die oerwoud van wanorde en geweld wat jou omring. Die gedigte daarin is korter, gekonsentreerd en ’n poging om uiteenlopende filosofieë te versoen in ’n persoonlike perspektief.

Ek oorvereenvoudig natuurlik, maar oorsigtelik gee dit iets van die bundels weer. Albei bundels het uitverkoop, en ek kan lesers ongelukkig nie sê waar hulle eksemplare kan kry om die drie bundels as ’n eenheid te probeer lees nie. Dalk tweedehandse winkels!

... En waarom?

Hierdie is sekerlik die vraag wat die uitdagendste is – die antwoord is vir my ewig ontwykend. Dit kan wees om te probeer sin maak; miskien is dit om te reageer op die omgewing en die lewe; dalk is dit om deel te neem aan ’n oneindige, universele skeppingsdaad. Ek weet nie. Dit is vir my suiwer vreugde. Die spel met taal en klank is natuurlik ook ’n heerlike intellektuele proses.

Van gedigte kan mens nie alleen lewe nie, nie in hierdie land nie. Hoe verdien jy jou daaglikse brood?

Ek vryskut die afgelope tien, twaalf jaar, met vertaalwerk en allerlei skryfaktiwiteite. Ek was voorheen vir baie lank betrokke by die bestuur van mediese praktyke en het die terminologie-ondervinding opgedoen, sodat ek in die gelukkige posisie is om bevoeg te wees in die vertaling van mediese dokumente en farmakologiese literatuur, soos die voubiljette in pillepakkies. As fotograaf verdien ek ook geld. Tans is ek betrokke by ’n gemeenskapsprojek in die Tankwa, waar ons ook ’n fotografiese argief opbou saam met narratiewe wat ons teëkom. My aandeel is in ’n baie vroeë stadium; ek put ook uit my kollegas se ervaring. Ek sien gewoonlik kans vir nuwe uitdagings en ek hou daarvan om te leer.

Wat lees jy?

Outobiografieë, biografieë, poësie en niefiksie is my stapelvoedsel. Ek het vroeër jare baie meer fiksie gelees en was lief vir epiese stories soos wat Michener skryf, en ook die werk van Tolstoi of Zola . In die laaste dekade lees ek minder romans, maar geniet nog steeds die werk van byvoorbeeld Edward Rutherfurd. Hemingway bly ’n gunsteling. En ek lees ook vriende se boeke wat op my pad kom. Ek gaan nou begin met Het suikervogeltje van Pauline Vijverberg.

Waaraan skryf jy op die oomblik?

Ek skryf nuwe gedigte, ’n paar bevrug deur my besoeke aan die Tankwa. Maar ek is ook besig om bietjie vertaaltegnieke op te skerp, omdat ek in Oktober Nederland toe gaan, waar ek en ’n paar ander digters sal saamwerk aan oor-en-weer-vertalings. Ek kan seker nog nie te veel hieroor uitlap nie, maar ek is opgewonde oor byvoorbeeld ’n bekroonde Nederlandse digter met wie ek ’n tafel gaan deel. Ek het reeds verskeie vertalings van Afrikaans na Engels gedoen en het onlangs begin oefen om van Engels na Afrikaans te vertaal. Ek worstel tans met ’n wonderlike gedig van Czeslaw Milosz, waaraan ek graag my heel beste aandag wil gee.

 

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top