Op die spoor van die Stasiemoordenaar deur Julian Jansen: ’n lesersindruk

  • 0

Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer daarvan aan LitNet gestuur. 

Titel: Op die spoor van die Stasiemoordenaar
Skrywer: Julian Jansen

Uitgewer: Tafelberg
ISBN: 9780624095200

Vervolging op ’n aanklag van moord verjaar nie. En dis ’n tweesnydende swaard. Enersyds hou dit hoop lewend by diegene wat met onbeantwoorde vrae agtergelaat is; hoop op antwoorde, afsluiting en geregtigheid. Maar andersyds het dit deurlopende stilswye tot gevolg; nie net by die skuldiges nie, maar ook by diegene wat weet, maar vrees om te praat – want daar is nie veiligheid in tydsverloop nie.

Daarom verloor onopgeloste moorde nooit relevansie nie.

Die reeksmoordenaar wat bekend sou word as die Stasiemoordenaar, het gedurende 1986–1994 ’n skrikbewind gevoer op die Kaapse Vlakte. Sy slagoffers word op 22 gereken, jong seuns en mans. Verkrag, verwurg en gesig in die sand gelaat. In 1995 is Norman Simons (na sy bekering tot Islam bekend as Avzal Safaraaz), ’n onderwyser, skuldig bevind aan die menseroof van en moord op Elroy van Rooyen. Hy was die enigste slagoffer op die klagstaat. In 2008 is ’n formele geregtelike doodsondersoek na die dood van ses van die oorblywende 21 slagoffers aangehoor. Daar was geen prima facie getuienis om Simons met enigeen van die moorde te verbind nie. Ook nie met die 15 ander nie.

Die benaming Stasiemoordenaar is ontleen aan die reeksmoordenaar se vermoedelike modus operandi. Hy sou, volgens beskikbare getuienis, jong seuns by ’n stasie nader met die versoek om hom te help dra. Teen vergoeding. Hy was egter nie die eerste om hierdie metode te volg nie. Andrei Chikatilo, later bekend as die Slagter van Rostov, het gedurende 1978–1990 meer as 50 (volgens sy eie erkenning was dit 56, maar slegs 52 kon bewys word) slagoffers vermoor. Sy modus operandi was soortgelyk; hy het die meerderheid van sy slagoffers by stasies en bushaltes geteiken. Verdere ooreenkomste met die Suid-Afrikaanse reeksmoordenaar sluit in dat die moorde ’n seksuele element bevat het, dat die meerderheid slagoffers kinders was en dat beide in 1994 tot verantwoording geroep is. Simons is in 1994 gearresteer, alhoewel sy verhoor eers in 1995 ’n aanvang geneem het, terwyl Chikatilo in 1994 tereggestel is.

Die wesenlikste verskil is egter dat Chikatilo ’n selferkende reeksmoordenaar was, terwyl Simons slegs van ’n enkele moord aangekla is en deurentyd sy onskuld bepleit het. Die Slagter se storie het ’n slot; die Stasiemoordenaar s’n nie.

Julian Jansen is ’n bekende en gerespekteerde skrywer en joernalis. Vorige soortgelyke publikasies uit sy pen sluit in die opspraakwekkende De Zalze-moorde (2017), Moord op Stellenbosch (2022) en die tragiese Die moord op Deveney Nel (2025). Die neem van die Stasiemoordenaar se spoor stel indringende vrae: Is Simons die reeksmoordenaar? Is al die moorde deur ’n enkele persoon gepleeg?

Die publikasie open in 1986. Dit sou later blyk dat die 10-jarige Wayne Petersen en ’n vriend op ’n laatwintersmiddag in Augustus ’n ontmoeting met die persoon gehad het wat mettertyd as die Stasiemoordenaar sou bekendstaan. Institusionele vooroordele was die wiele van geregtigheid se remskoene; vermiste kinders op die Kaapse Vlakte het louwarm ondersoeke tot gevolg gehad. In 1993 het twee gebeurtenisse die lomp staatsmasjinerie tot beweging gedwing: Die lyke van 11 jong seuns is binne ’n tydperk van slegs ses weke ontdek, ses daarvan op ’n enkele dag, 27 Januarie 1994. En die wedloop om stemme in die eerste demokratiese verkiesing wat in April 1994 sou plaasvind, was in alle erns aan die gang. Taakspanne en deskundiges het soos genies uit gepoleerde lampe verskyn.

Daar is weinig aandag geskenk aan die gevolge van die vrese waarmee die gemeenskap tot op daardie stadium moes saamleef; die wantroue, die angs, die onsekerheid en die kollektiewe trauma is grootliks geïgnoreer. In 2024, met die verskyning van die grafiese roman, Die man wattie kinnes vang, het Nathan Trantraal hierdie aspek uitgelig. ’n Generasie kinders het met ongedefinieerde vrese grootgeword; hulle was bewus van die volwassenes se angs, maar gesprekke oor kinders, veral seuns, wat verkrag word, was ondenkbaar. Vreemdelinge is as verdagtes beskou en ernstig aangerand. Die pyn en onbeantwoorde vrae is deur gesagstrukture ontken en moes in onderbewussyne begrawe bly, terwyl ’n skyn van normaliteit gehandhaaf moes word. Jansen spreek die effek op die gemeenskap empaties aan. Aanhalings soos: “Verhale van onskuldiges wat deur die gemeenskap vervolg is om vir die moorde te boet, is volop”; en: “Saans het die eens besige strate leeg geloop [...]” (28) skets ’n hartverskeurende toneel van desperaatheid en onsekerheid.

Jansen se uitbeelding van die regsproses verdien ’n pluimpie. Dis volledig, regstegnies korrek en ewe toeganklik vir leke as vir regsgeleerdes. Die korrekte vrae word gevra en waar nodig word bondige uiteensettings aangaande tegniese begrippe verskaf. Die leser sal derhalwe, gewapen met die teks as gids, begryp waarom en hoe binneverhore deel van die verhoor uitgemaak het; waarom die bekentenis(se) en uitwysings betwis is; hoe die uitkenningsparades saamgestel en gehou is; wat die effek van ’n swygreg is; en ook kan onderskei tussen getuieniswaarde en toelaatbaarheid.

Die evaluering van bovermelde laat, tereg, die volgende vrae ontstaan:

  1. As Simons na ’n jaar se ondersoek (die benaderde tydperk tussen sy arrestasie en verhoor) slegs met een moord verbind kon word, wie het die ander gepleeg? Dis veral belangrik met inagneming van die feit dat DNS-getuienis en handskrifmonsters Simons effektief as verdagte by sommige moorde uitgesluit het.
  2. Simons het nie self in sy verdediging getuig nie en na sy vrylating op parool in 2023 is hy verbied om onderhoude toe te staan en om boeke oor die aangeleentheid te laat publiseer. Wat is sy weergawe?

Addisionele trivia sluit ook in die vergelyking van die pre- en post-1994-posisies ten opsigte van die (voormalige) misdaad sodomie en die oplegging van die doodstraf. Die kriminele aangeleentheid het, weens die beweerde ontoepaslike gedrag van die ondersoekbeamptes, ook regsgeskiedenis gemaak: “Dit is die eerste keer dat ’n aangeklaagde persoon se grondwetlike regte op dié manier deur ’n hof afgedwing is” (85).

Die menslike faktor word nooit in die teks buite rekening gelaat nie. Simons se regsverteenwoordigers, Reuben Liddell (opdraggewende prokureur) en Koos Louw (advokaat, sedertdien oorlede), het in so ’n mate in sy onskuld geglo dat hy (Simons) “toegelaat is om met die Louw-kinders in die tuin te speel en saam met Liddell se kind op die gesin se klavier te tokkel” (87).

Die woorde van hulle wat met onbeantwoorde vrae moes agterbly, resoneer eweneens empaties. Ursula Keet, die moeder van Baden wat in Januarie 1994 verdwyn het, se versugting: “Ek wil nie sterf soos my oorlede man nie, wat nie geweet het wat met ons kind gebeur het nie, waar hy is en of hy nog leef nie” (7), en die gelate verklaring deur ’n ander slagoffer se ma aan Johann Maarman, destyds van Rapport Ekstra, dui oortuigend aan waarom relevansie behoue bly: “Ek eet trane vir ontbyt en aandete” (30).

Die debat oor Simons se skuldigbevinding woed steeds. Die korrektheid daarvan is op appèl bevestig (alhoewel sy vonnis terselfdertyd verswaar is) en kundiges soos die profileerder, Micki Pistorius, en ander betrokke amptenare glo onwrikbaar in sy skuld. Uit Trantraal se teks blyk daar duidelike twyfel en ’n regsgeleerde, Ruth Jakuja, het in 2021 dit op regsvlak bevraagteken met die publikasie van The Station Strangler: in the case of S v Azval S Simons.

Die titel van Jansen se publikasie verklap dat Simons nie per se die sentrale karakter is nie, en dat die soektog na die identiteit van die Stasiemoordenaar die werklike crux daarvan is. Daarom is die insluiting van die geregtelike doodsondersoek na die dood van ses van die slagoffers, gehou in 2008, ook ingesluit. En dis belangrik, want juis hieruit blyk die ontwykendheid van die moordenaar se identiteit. ’n Gesamentlike geregtelike ondersoek na die dood van slegs ses van die oorblywende 21 slagoffers is gehou. Artikel 6A van die betrokke wet (58 van 1959) maak voorsiening vir die hou van ’n gesamentlike ondersoek na meer as een onnatuurlike sterfte, indien die kombinasie doeltreffende regspleging tot gevolg sal hê. In praktyk is dit analoog aan artikel 156 van die Strafproseswet (51/1977) en word gewoonlik toegepas waar daar ’n verband tussen die sterftes is. Dit sal dus geregverdig wees om af te lei dat slegs ses (uit die 21) slagoffers se sterftes voldoende punte van ooreenstemming getoon het om artikel 6A (supra) van toepassing te maak. Benewens die uitsluiting van die 15, is die landdros se bevinding (dat daar nie prima facie getuienis teen Simons bestaan nie) ook relevant tot die raaisel aangaande die identiteit van die moordenaar – as dit inderdaad ’n enkele persoon is.

Dis nou 2026, vier dekades na die openingstoneel in 1986. En daar is steeds geen antwoorde nie. Daarom bly dit relevant. Nie net ter wille van hulle wat agtergebly het nie, ook ter wille van die groter gemeenskap en die regspleging. Want die foute van die verlede wat begrawe word, kom duisendvoudig in die toekoms op.

Die gemeenskap verdien beter. Totdat dit gebeur, durf niemand vergeet nie.

Lees ook:

Op die spoor van die Stasiemoordenaar: ’n onderhoud met Julian Jansen

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top