Op die spel 3: ’n onderhoud met Elsa-Marié van der Watt

  • 2

 

Na afloop van kykNET se Op die Spel 3: Chanté Klaase (naaswenner), Rian van Heerden (aanbieder) en Elsa-Marié van der Watt (wenner)

Elsa-Marié van der Watt was die wenner van Op die spel 3. Hierdie seisoen van die kykNET-televisiespelprogram was spesifiek toegespits op skoolkinders. Elsa-Marié vertel vir Naomi Meyer van haar ervaring.

Elsa-Marié, baie geluk! Jy het ’n rukkie gelede Op die spel vir skole gewen! Kan jy onthou wat jou eerste leesboek was, of van watter boek jy gehou het toe jy nog heel klein was?

Ek kan nie my eerste leesboek onthou nie, maar ek onthou wel dat ek mal was oor Richard Scarry se boeke! My pa het dit altyd vir ons voorgelees terwyl ek na die prentjies gekyk het.

Ek maak ’n aanname dat lees saamhang met spelling. Dink jy dis waar? Of ken jy mense wat goed kan spel en nie juis baie lees nie?

Lees en goed spel gaan definitief hand aan hand! Ek kan nie nou aan iemand dink wat  goed spel en nie lees nie. Om te lees help regtig om jou woordeskat op te bou, en so sien jy ook hoe ’n wye verskeidenheid woorde gespel word.

Kom ek vra eers gou oor jou agtergrond: hoe oud is jy en in watter skool?

Ek is 15 en veronderstel om ’n leerder aan die Hoër Meisieskool Bloemhof te wees, maar ons bly hierdie jaar in Leuven, België, waar ek skoolgaan by die Paridaensinstituut. Volgende jaar as ons terug is, sal ek weer Bloemhof toe gaan.

Leer jy spelreëls, of lyk ’n woord net vir jou reg, of hoe weet jy hoe om iets te spel?

Ek leer beslis nie spelreëls nie! Om die waarheid te sê, die aakligste deel van leer vir ’n Afrikaans-toets, is die spelreëls. Ek weet maar net hoe ’n woord gespel word, en gaan met die manier wat reg lyk vir my.

Elsa-Marié van der Watt (foto verskaf)

Is daar spesifieke woorde waarmee jy soms sukkel? Noem ’n paar, asseblief.

Ek kan nie op die oomblik aan eniges dink nie. Dit beteken nie dat ek nooit enige woorde verkeerd spel nie, hoor!

Wat is jou gunstelingvakke op skool? Voorsien jy al ’n rigting waarin jy sal wil studeer?

Op die oomblik het ek nie ’n gunstelingvak nie. Om regte te gaan studeer is definitief vir my ’n opsie, alhoewel ek nog nie 100% seker is nie.

Hoekom het jy aan ’n program soos Op die spel deelgeneem?

My ma het omtrent drie jaar gelede aan die eerste seisoen deelgeneem, en ek het altyd gedink dit sou baie cool wees as ek ook kan deelneem. Toe ek laasjaar die geleentheid kry, het ek geweet ek moes dit aangryp.

Was daar enige woorde waaroor jy getwyfel het terwyl die televisiekamera aan die rol was?

Ja! Ek moes “kannibaal” spel, en het skielik nie meer geweet of dit nou met een of twee n’e gespel word nie. Geluk was toe nie aan my kant nie, want ek het dit op die ou end met net een n gespel (tot groot ergernis van my pa!).

Hoe op aarde het jy en jou gesin die geheim gehou?

Ek het dit heel maklik gehou, want ek het nie juis vir veel mense vertel dat ek daaraan deelgeneem het nie. Verder het my vriende ook nie juis veel omgegee dat ek daaraan deelneem nie, so hulle het nie juis baie uitgevra nie. My ouers, aan die ander kant, het dit byna onmoontlik gevind om niks te verklap nie!

Jy het al vertel waar julle op die oomblik is. Hoe ervaar jy dinge daar? Hoe ervaar jy die taal waar jy nou is?

Ek mis Suid-Afrika vreeslik en kan nie wag om terug te kom nie. Die taal was ’n groot aanpassing, en mens moet beslis nie dink dat dit maklik is om aan te leer net omdat dit so naby aan Afrikaans is nie. 

 

Kyk na ’n onderhoud met Elsa-Marié op kykNET.

 

  • 2

Kommentaar

  • Avatar
    Colette Pretorius

    Goeie werk, Elsa-Marie. Jy het baie goed gedoen. Ek het teen my eie verwagting in self 'n episode van seisoen 2 gewen, en ek weet hou senutergend dit voor die kameras is. Jy het baie oulik en professioneel oorgekom.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top