Op die frontline: ’n Onnerhoud met Joshua Kinnear oor die bou van ’n gemeenskapradio

  • 0

Foto’s van Olivia M Coetzee en Joshua Kinnear: verskaf

Ek praat viddag met Joshua Kinnear oo die radiostasie wat hy begin het, wat die inspirasie is agte dit, en oo hoe hulle die radio run. Ek kô uit Eesterivier uit, en ek is trots om te sien hoe mense in my gemeenskap oek movements maak, maa dit gattie net ommat ek trots issie, maa oo hoe die groei van gemeenskappe baie belangrik is vi ôs in die land. Dit mag wies dat gemeenskappe nog geskei liewe, maa wat actually belangrik is vi ôs samelewing is die groei en sukses van alle gemeenskappe in ôs land. Die radiostasie represent ’n niewe wortel en ’n niewe steel wat biesag is om te groei. Local stemme in die musiek industry is ’n groot issue wat baie van ôs min van wiet – as djy nie ’n direct link het met ’n musikant nie, sal ’n mens nie vestaan hoe moeilik dit is om jou stem op die lug te hoo nie. En dis wat my hart laat pronk oo wat Joshua biesag is om te doen. Maa ek lat hy maa self praat. 

Wat is die inspirasie agte Radio Eersteriver en wanne was julle eeste broadcast?

Ek sal die hele storie aan u verduidelik – die stigting agter die radiostasie gaan soos volg: Ek het probeer om vi ôs plaaslike musiek, soos ôs dit noem, speeltyd te kry op ’n sekere radiostasie wat na ’n week gesê het dat hulle speel nie sulke musiek nie, is nie part van hulle genre nie, maar hulle speel dieselfde musiek, maar net van wat hulle verkies. Dit het my gebreek en ek het toe met myself gebrainstorm en beslyt om my eie radiostasie te begin op 22 April.

Ek het alles up and running gehad in ’n uur en het twee vriende van my gevra om dit te toets. Hulle terugvoering was dat dit ’n uitstekende idee is en wil graag part van dit wees. Ek het die radiostasie begin om na musiek te luister wat ek van hou en ook almal se musiek te speel sonder om te kritiseer.

Dis hoe Radio Eersteriver gebore is – in my rekenaarkamer.

Ôs is drie maande op die been en het amper 15 000 luisteraars ek kan met blyskap sê mense van United Kingdom tot en met China het na ôs geluister al.

Dis ’n groot storie om ’n radiostasie te begin en an die gang te hou. Hoe doen julle dit?

Op die oomblik kom al die funds yt ôs eie sakke yt. So basically is die radiostasie ’n self-funded radio station.

Kan djy my meeder vetel oo die rol wat Radio Eersteriver gan speel in ôs gemeenskap?

Die rol wat die radiostasie gaan speel in die gemeenskap is om ôs jongelinge, nie net in Eersterivier nie, te wys daar is beter as normale lewe wat hulle kan na kyk. Eerstens, ôs mense het baie talent wat nie raakgesien word nie, so die platform is daar om ôs jongeline die fair chance te gee on hulle self te hoor op die radio.

Ôs speel alles van hip hop, ragga, gospel, ens.

Ôs wys ook vir die jongelinge dat daar is iets beter as die norm. So ôs skiet video’s ook van tieners met talent en sit hulle op social platforms vir exposure. So ôs gaan meer events hou na die pademie en meer jongelinge betrek.

“Ôsse stasie, ôsse talent, ôsse mense.” Dit is julle slogan. Kan djy vi my ’n bietjie meeder vetel oo wat agte daai slogan lê?

Die is ’n maklike een. Die slogan se meaning is die radiostasie is vir almal in die gemeenskap, no matter of jy nie musiek maak nie, maar jou ore gaan gerus wees.

Ôsse stasie – gemeenskapradio.

Ôsse talent – almal sal gehoor en equal getreat word.

Ôsse mense – ôs almal is mens, so dis vir amal.

Om in te skakel moet ’n mens ’n internetkonneksie het. Gan dit ’n impak het op hoeveel mense na Radio Eersteriver sal kan luiste?

Jip, dis ’n online streaming radio, so internet connection is noodsaaklik, of data op u selfoon, maar ôs het ’n ligte data option ook op http://radioeersteriver.co.za/hotsite.

Foto: verskaf

Hoekô ’n online radiostasie en nie die normale radiostasie soes jou Goodhope FM of KFM nie?

Om ’n frequency te kry in Suid-Afrika is baie swaar en met ’n online radiostasie kan mense orals in die wêreld na ôs luister. So ôs mikpunt is om almal in die wêreld wat ôs musiek love of in Suid-Afrika gewoon het, kans te gee om na hulle home country se musiek te luister.

In die online spasie, hoeveel mense het julle as soevê gereach? Wat is julle planne vorentoe om julle reach groter te maak?

Soos ek gesê het, ôs het vir drie maande 15 000 mense gereach, wat skrikwekkend is.

Ôs werk nou met NPO’s om ôs mense te feed.

Ôs vat dit dag by dag en maak alles gemaklik vir mense om na ôs te luister, so improvements elke dag.

Ôs het low data option ook.

Wat is mense se reaksie oo die radiostasie?

Die gemeenskap het dit met oop hande ontvang en is baie impress met dit, want ôs het dit makeer.

Dissie ’n suprise vi my dat ôs POC-gemeenskappe vol talent issie. Hoekô, volgens jou, is daa soe min publisiteit vi en van ôs mense se talente?

Volgens my kennis is dit ’n ken-ken storie, so enige musikant sal dit nie maak as jy nie mense ken nie, dis hoeko ôs musiek nie gehoor word nie. 

Hoe kies julle die musiek wat julle speel? Is dit genre- of taalspesifiek?

Ôs kritiseer nie, almal kry ’n kans om hulle musiek te hoor op ôs platform.

Speel julle net musiek, of het julle talkshows oek?

Ôs het talkshows, een van die visual shows.

Ôs doen alles om die mense by ôs te hou en hulle gelukkig te hou.

Het julle ienige sponsors wat agte Radio Eersteriver staan?

Op die oomblik finansier ôs alles op ôs eie, geen sponsors nie.

Hoe lyk die toekoms vi en van Radio Eersteriver?

Die toekoms lyk goed vi die radiostasie. Ek het baie meetings met besighede wat op die panel van die radiostasie wil kom. Die gaan almal se gunsteling-radiostasie is.

Ôs is amal bewus dat vroumense en kinnes wôt op elke hoek en draai afgedruk, vekrag en vermoor. Hoe gat julle die spasie gebruik om te engage met die geweld op vroumense en kinnes in ôs communities?

Goor hoogtepunt op ôs agenda. Ôs sal awareness spread en help waar ôs kan om sulke issues op te los met die help van die regte instansies.

Dit is iets wat vi my as vrou van kleur uitstaan dat ek min vroumense sien agte die microphone as broadcasters. Wat is die riede vi dit? Of is gender representation nie nog iets van belang vi Radio Eersteriver nie?  

Ôs het kla hieraan gewerk en ôs het Marshey Redd as ’n broadcaster aangestel. My vrou, Tracy-Lee Kinnear, en Brandon se vrou, Amanda Fisher, gaan elke Sondag die Gospel Explosion doen.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top