Oorsig en foto's: Man Booker International Prize 2015

  • 0

Fotobron: http://stepfeed.com/

Wat is die Man Booker International Prize?

Die Man Booker International Prize gee erkenning aan 'n skrywer se bydrae tot die fiksie. Die prys is £60 000 werd en word elke twee jaar toegeken. Alle skrywers wat in Engels skryf of wie se vertaalde werk in die algemeen in Engels beskikbaar is, kom in aanmerking vir die prys. Uitgewers stuur nie voorstelle nie, en die lys van skrywers wat in aanmerking kom, word suiwer deur die beoordelaars bepaal.

Watter Man Booker-pryse kry mens almal?

Buiten die Man Booker International Prize word daar ook 'n jaarlikse Man Booker Prize toegeken. Hierdie prys bestaan al sedert 1968 (dit was voorheen bekend as die Booker McConnell Prize). Die Man Booker Prize kan toegeken word aan 'n fiksieboek wat in Engels beskikbaar is en in Brittanje gepubliseer word. Sedert 2002 is die Man-groep ('n beleggingsmaatskappy) die hoofborg van die Booker.

Wie het al vantevore die Man Booker International Prize gewen?

Onlangse wenners van dié prys was:

Lydia Davis (2013)
Philip Roth (2011)
Alice Munro (2009)
Chinua Achebe (2007)
Ismaïl Kadaré (2005).

Wat is uniek vir Suid-Afrikaners aan die bekendmaking van die kortlys van vanjaar se Man Booker International Prize?

Marlene van Niekerk, Suid-Afrikaanse skrywer wat eerste in Afrikaans publiseer, haal die kortlys.

Die skrywer met die meeste Suid-Afrikaanse bande wat die kortlys van hierdie prys die afgelope paar jaar gehaal het, was Doris Lessing (in 2005). Lessing, 'n Brit, was met 'n Suid-Afrikaner getroud en het ook 'n tyd lank hier gewoon.

Vanjaar is die aankondiging van die kortlys vir die eerste keer in Afrika bekend gemaak. Die Centre of the Book in Kaapstad, waar die aankondiging gemaak is, vorm deel van die kampus van die Universiteit van Kaapstad. Juis in hierdie tyd heers daar op hierdie kampus opstande oor erfenis, simbole en transformasie. Die kwessies is ontsluit deur die standbeeld van Cecil John Rhodes wat deur die studenteraad uitgesonder word as 'n simbool van kolonialistiese en wit onderdrukking. Gesprekke oor gelykheid, onderliggende en geïnstitusionaliseerde rassisme, en aanpassings in die kurrikula woed op hierdie oomblik.

Wie het die kortlys van die Man Booker International Prize 2015 gehaal?

  • César Aira (Argentinië)
  • Hoda Barakat (Lebanon)
  • Maryse Condé (Guadeloupe)
  • Mia Couto (Mosambiek)
  • Amitav Ghosh (Indië)
  • Fanny Howe (VSA)
  • Ibrahim al-Koni (Libië)
  • László Krasznahorkai (Hongarye)
  • Alain Mabanckou (Republiek van die Kongo)
  • Marlene van Niekerk (Suid-Afrika).

Wat is op 24 Maart 2015 by die vieringsgeleentheid van die kortlys gesê?

Rocky Ralebipi-Simela

Rocky Ralebipi-Simela, die nasionale bibliotekaris van Suid-Afrika, het die vieringsgeleentheid by die Centre of the Book geopen. Sy het verwys na die geskiedkundigheid daarvan dat die bekendmaking van die kortlys in Afrika en in Kaapstad geskied. Sy het genoem dat al die ander skrywers wat die kortlys gehaal het, nou op haar persoonlike leeslys is. By die noem van Marlene van Niekerk se naam het die skare spontaan en vir 'n tyd lank hande geklap. Ralebipi-Simela het genoem dat die belang van biblioteke in die land in die besonder is dat boeke gratis aan die publiek beskikbaar is. Hierdie vrylike daar-wees van die boek is die grootste verbintenis tussen dié boekprys en die biblioteek as instansie.

Jonathan Taylor CBE (trustee van die Man-groep)

Jonathan Taylor (die CBE by ‘n naam staan vir 'n Britse toekenning, die sogenaamde Commander of the Most Excellent Order of the British Empire)  was volgende aan die woord en het heel eerste om verskoning gevra dat hy 'n geleentheid onderbreek wat hy as "clearly a great party" beskryf het. Hy het die universiteit en die stad Kaapstad gelukgewens en bedank vir al die gasvryheid. Hy het met 'n glimlag en duidelike woordspel tog uitgewys dat "without M/man there would be no prize". Hy het genoem dat hierdie kortlys sy leeslys op 'n baie vrolike manier uitbrei.

Marina Warner CBE

Die derde spreker was die voorsitter van die finaliste, Marina Warner. Sy het genoem dat dit 'n buitensporig opwekkende ("exhilarating") taak was om hierdie skrywers se boeke te lees. Daar is nuwe energie in die wêreld van fiksie. Daar is baie en diverse stemme. Hierdie prys belê in die toekoms van die mens, deurdat hy of sy in 'n spieël van vandag kan kyk en sien wat die skrywers sien.

Izak de Vries het foto's by die vieringsgeleentheid geneem.

Kyk na die eerste foto's van die vieringsgeleentheid.

Lees die persverklaring.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top