Jean Oosthuizen gee ’n oorsig van die Jakes Gerwel-gesprek, “Artificial intelligence – will it take over?”, wat as deel van die jaarlikse Suidoosterfees plaasgevind het. Hierdie gesprek, met Arthur Goldstuck, Fred Roed, Kerushan Govender en Kieno Kammies, is in samewerking met Pan Macmillan SA en Jonathan Ball op 29 April aangebied.
Gaan kunsmatige intelligensie oorneem?
Kunsmatige intelligensie (KI) gaan die wêreld binne die volgende drie tot vyf jaar byna onherkenbaar verander. Dit sal ’n onontbeerlike instrument in elke mens se lewe word om sekere take te verrig maar sal nooit menslike kreatiwiteit kan vervang of oorneem nie.
Dit was die algemene gevoel van ’n paneel kenners van die KI-fenomeen tydens ’n bespreking van die Jakes Gerwel-gesprek by die Suidoosterfees in Kaapstad. Daar is onder meer besin hoe KI tot die mens se voordeel ingespan kan word.
Vir baie mense is KI ’n vreesaanjaende konsep. Die vrees dat rekenaars die mensdom gaan oorneem en almal se loopbane in gevaar gaan stel is egter oordrewe, meen die paneel.
Fred Roed, skrywer, stigter en hoof uitvoerende beampte van Heavy Chef, ’n platform vir entrepreneurs, het met drie ander kundiges oor die onderwerp gesels. Hulle is Arthur Goldstuck, ’n kenner van hoe tegnologie besigheid en verbruikers in Suid-Afrika beïnvloed en skrywer van The hitchhiker’s guide to artificial intelligence, Kerushan Govender, skrywer van Age of agency en uitvoerende hoof van Blacfox, ’n hoëgroeistrategiefirma, en Kieno Kammies, medestigter van Innovation City en voormalige geselsprogram- en musiekradio-aanbieder.
Govender sê daar moet onthou word dat ’n rekenaar ’n menslike stelsel is. Dit kan menslike take tot op ’n sekere punt verrig en baie take wat in die verlede deur mense verrig is, makliker maak of selfs oorneem. Uiteindelik word daar egter steeds mense benodig om aan die mens se behoeftes te voldoen. Tegnologie speel tweede viool wanneer mense en masjiene met mekaar vergelyk word en die Turing-toets bewys dit.
Die Turing-toets is ’n toets wat in 1950 ontwerp is deur die Britse wiskundige en rekenaargeleerde, Alan Turing. Dit poog om die intelligensie van ’n masjien te toets deur te bepaal of die masjien se gedrag soortgelyk is aan die gedrag van ’n mens.
Die toets behels ’n onderhoud met ’n menslike ondervraer en ’n entiteit (gewoonlik ’n masjien) wat aan die ander kant van ’n skerm is. Die ondervraer moet dan probeer bepaal of die entiteit ’n mens of ’n masjien is, gebaseer op die antwoorde wat dit gee.
Die vraag of ’n masjien of KI die intelligensie van mense kan oorskry, is ’n komplekse en omstrede onderwerp in die veld van KI en filosofie. Daar is ’n wye verskeidenheid menings hieroor en dit bly ’n onderwerp van debat en navorsing.
Sommige navorsers en voorstanders van KI glo dat dit moontlik is vir ’n masjien of KI-stelsel om mense se intelligensie te oorskry of selfs te oortref. Hulle wys op die vordering in masjienleer, neurale netwerke en algoritmes as bewyse dat masjiene die potensiaal het om te leer, redeneer en probleme op te los op ’n manier wat vergelykbaar is met of selfs beter is as mense.
Aan die ander kant is daar ook navorsers en filosowe wat meen dat dit onwaarskynlik is dat ’n masjien of KI-stelsel ware menslike intelligensie kan bereik. Hulle beklemtoon die unieke eienskappe van die menslike bewussyn en die kompleksiteit van menslike denke, emosie en kreatiwiteit wat nie maklik deur masjiene nageboots kan word nie.
Die debat oor hierdie kwessie is nog lank nie afgehandel nie, en dit bly ’n fassinerende gebied van studie vir navorsers regoor die wêreld.
As ’n masjien in ’n gesprek met ’n mens kan betrokke raak sonder om as ’n masjien bespeur te word, het dit volgens die Turing-toets “menslike intelligensie” demonstreer.
Govender sê die gemiddelde persoon wat slegs basiese interaksie met die rekenaar het, kan dalk redelik maklik geflous word en dink hy kommunikeer met ’n mens. Hoe langer en hoe meer daar egter met ’n masjien gekommunikeer word, hoe makliker is dit om agter te kom dit is ’n masjien. Daarom behoort oplettende mense nog oor die algemeen die Turing-toets te slaag en die onderskeid tussen mens en masjien te kan uitwys.
Kammies sê KI kan van ’n swak skrywer ’n gemiddelde skrywer maak. ’n Gemiddelde skrywer sal ’n gemiddelde skrywer bly en ’n goeie skrywer wat net KI gebruik, sal ’n gemiddelde skrywer word. Gegenereerde intelligensie maak alles gemiddeld en kan nie uitstyg bokant die gemiddeld nie, sê Kammies.
Vir Govender is die belangrike kwessie hoe ’n persoon KI gebruik. As iemand dit gebruik net omdat hy lui is en wil hê KI moet die werk vir hom doen, sal dit ’n baie gemiddelde resultaat oplewer. Iemand wat egter meer kreatief is en KI gebruik om sy eie idees en gedagtes beter te slyp, soos wat ’n redakteur ook sou doen, sal baat vind daarby en ’n beter resultaat oplewer as daarsonder.
Kammies stem saam dit hang tot ’n groot mate af wie die ontvanger van die boodskap is om te bepaal of iemand die Turing-toets slaag of nie. Hy sê daar lê nog ’n baie lang pad voor voordat die mens as ’n reël nie die verskil tussen masjiengedrewe intelligensie en menslike intelligensie sal agterkom nie.
Govender het ook na die toekoms verwys en verduidelik wat is die verskil tussen KI en kunsmatige algemene intelligensie (KAI). Laasgenoemde is ’n vorm van KI wat oor die vermoë beskik om kennis oor ’n wye reeks take en domeine te verstaan, te leer en toe te pas wat moeilik van menslike intelligensie onderskei kan word.
Govender sê dit is egter nie so maklik om menslike intelligensie te ewenaar nie. Daar bestaan ’n fundamentele verskil tussen KI en die werking van ’n mens se brein. KI is uitsluitlik afhanklik van die data wat dit gevoer word. Daarteenoor kan menslike intelligensie sorg dat ’n mens bokant sy omstandighede en “ingevoerde data” kan uitstyg. Hy het die voorbeeld genoem van iemand wat in ’n armoedige omgewing gebore is en grootword, maar in staat is om uit te styg bokant sy of haar omstandighede omdat die mens oor wilskrag, ambisie en begeertes beskik waaroor masjiene nie beskik nie.
Enige menslike individu op straat is ook in staat om te onderskei tussen subtiele nuanses, wat masjiene nog nie naastenby in staat is om te doen nie. Daar is dus ’n fundamentele verskil hoe KI werk en hoe ’n mens se brein werk.
Goldstuck glo die huidige debat oor die gevare van KI sal gou afplat omdat daar binne die volgende twee tot drie jaar wêreldwyd ’n goed gevestigde stel reëls en regulasies in plek sal wees om KI te reguleer. Die Europese Unie (EU) het reeds ver daarmee gevorder en die res van die wêreld sal gou daarby inval, sê Goldstuck.
Hy glo elke mens sal in die afsienbare toekoms al hoe meer van KI gebruik maak om hulle met ’n verskeidenheid take te help. Die nodige gereedskap daarvoor sal oral op selfone en selfs oorfone beskikbaar wees.
Dit beteken nie dat werksgeleenthede noodwendig op groot skaal sal verlore gaan nie, maar wel dat mense hulle vaardighede sal moet aanpas en opskerp.
Volgens Goldstuck is die mees effektiewe ding wat mens vandag kan doen nie om te rebelleer teen die tegnologie of om dit te wil rem nie, maar eerder om hulself te bemagtig sodat hulle KI beter kan verstaan en tot hulle eie voordeel gebruik.
Goldstuck sê die definisie van KI verander voortdurend. Een van die beste maniere om KI te definieer is wanneer masjiene klaarblyklik begin dink. Die verskil tussen hoe masjiene en mense dink is dat dit in die geval van mense ’n rukkie neem om die resultaat te kry, terwyl ’n masjien die antwoord onmiddellik verskaf.
’n Paar maande gelede is daar gesê KI kan nie kreatief wees nie. KI raak egter al hoe meer kreatief in terme van video’s en musiek wat al hoe beter word. Dit behoort reeds in die nabye toekoms moontlik te wees om ’n volledige rolprent te maak deur uitsluitlik van KI gebruik te maak.
Die verskil is egter dat dit waarskynlik nooit menslike kreatiwiteit sal vervang nie. Mense volg nie net ’n kunstenaar, akteur, sanger of skrywer oor hulle werk alleen nie, maar ook omdat hulle unieke persoonlikhede het waarvan hulle hou.
Daarom glo hy nie goeie skrywers hoef te vrees nie, want hulle sal altyd volgelinge hê wat hulle talent waardeer en hulle spesifieke skryfwerk volg. Dit geld ook vir ander kunstenaars, soos sangers en ander.
KI verstaan nie die nuanses van menslike inhoud nie. Geen masjien kan byvoorbeeld die Kaapse konteks verstaan en verwoord of ’n skare mense opsweep met ’n toespraak nie, sê Kammies. “KI kan nie eers ’n behoorlike grap vertel nie, vra maar vir Siri of Google se assistent en jy sal gou agterkom dis nie regtig snaaks nie.”
Kammies sê masjiene kan wel baie take wat mense verrig, met groot sukses oorneem. Dit beteken nie daar sal nie meer werk vir mense wees nie. “Dit is slegs die rol wat mense in verskillende dissiplines verrig wat sal verander. Vir KI om suksesvol te wees sal daar altyd mense nodig wees om die inligting te analiseer.” Hy sê tegnologie en KI sal altyd ondergeskik wees aan die mens se vermoë om probleme op te los en hy kan nie sien hoe dit ooit sal verander nie.
Lees ook:
Oorsig ‒ Jakes Gerwel-gesprek (Suidoosterfees 2024): Wie gaan Suid-Afrika ná 29 Mei regeer?
LitNet-AfriKI-miniseminaar: Kunsmatige intelligensie as skrywer