Carien Smith het vir Anné Verhoef uitgevra oor sy en Willie van der Merwe se LitNet Akademies-artikel: Paul Ricoeur se begrip van transendensie met betrekking tot tyd en narratief
Hoe pas tyd en narratief in Paul Ricoeur se wyer hermeneutiese projek?
Ricoeur se hermeneutiese projek het sy oorsprong in die fenomenologie. Nadat Ricoeur Husserl se Idees in Frans vertaal het, het hy begin om sy eie groot fenomenologiese werk, Die filosofie van die wil, te skryf. Dit sou in drie volumes geskryf word. Die eerste volume, Freedom and Nature, is ’n fenomenologiese werk wat die vraag oor die vryheid van die menslike wil per se vra. Die tweede volume, Finitude and Guilt (oor die verhouding van die menslike wil tot die kwade), bestaan uit sy filosofiese antropologie, Fallible Man, wat steeds ’n fenomenologiese benadering volg, en Symbolism of Evil, waarin Ricoeur ’n definitiewe skuif vanaf die fenomenologie na die hermeneutiek maak. Die derde volume, Poetics of Transcendence (oor die verhouding tussen die menslike wil en transendensie), het nooit gevolg nie, weens Ricoeur se hermeneutiese projek (of ompaaie soos wat Ricoeur dit dikwels noem) wat eers gevolg het en die onderneming gekompliseer het. Die “hermeneutiese projek” word deur Ricoeur opgesom met die term poëtika (poetics) wat die wyse aandui (deur interpretasie, deur taal) waarop ons die wêreld orden. Dit gebeur deur mites, metafore, narratiewe, en so meer. Symbolism of Evil is die eerste stap in hierdie projek, en daarop volg The Rule of Metaphor en Time and Narrative. Laasgenoemde ondersoek by uitstek hoe ons ons wêreld interpreteer en orden deur die gebruik van narratiewe en ons verwoording van tyd.
In die artikel bespreek jy die “wederkerige transendensie van tyd en narratief” – is die transendensie van tyd en die transendensie van narratief twee prosesse wat gelyktydig plaasvind, of vind die een proses vóór die ander plaas?
Die transendensie van tyd kan beskryf word as die “onnaspeurbaarheid” of “ondeurgrondelikheid” van tyd – dit gaan ons begrip telkens te bowe; die geheimenis daarvan word nooit ten volle ontbloot nie. Tyd omsluit egter ons hele menslike bestaan en is daarom ’n transendentale voorwaarde vir ons “tydlikheid” – ook (en veral) in terme van die narratiewe struktuur van ons bestaan. Narratiwiteit is die voorwaarde vir die vaslegging van die transendensie van tyd in menslike tydlikheid. Die transendensie van narratiewe lê daarin dat dit (taal) altyd vernuwend en kreatief nuwe betekenismoontlikhede na vore kan bring. Dit is deur narratief (taal) – en die transendente aard daarvan – dat dit vir ons moontlik raak om die transendensie van tyd te beskryf in menslike ervarings. Dit is een proses wat dialekties plaasvind.
Wat is die rol van immanensie in hierdie proses van die transendensie van tyd en narratief?
Immanensie dui op die wêreldse realiteit, die fisiese en eindige. In terme van tyd en narratief funksioneer dit as ons menslike ervarings in hul beperktheid. Dit dui op die begrensing van ons bestaan – dit wat dan juis oorskry word deur ons woorde, denke en verbeelding in taal en in ons ervaring van tyd.
“Derde tyd” is ’n modus wat rekening hou met beide “sterflike tyd” en “kosmiese tyd” – maar meer spesifiek die “ek”. Kan ’n mens dus sê dat die mens tyd slegs kan verstaan deur ’n narratiewe modus?
Die narratiewe of derde tyd is vir Ricoeur dié manier waarop ons kan sin maak van tyd as geleefde tyd (sterflik) en objektiewe tyd (kosmies). Dit is die ontmoetingsplek van die twee soorte tye in “historiese” of vertelde tyd. Vir Ricoeur (1988:241) kan daar “geen gedagte oor tyd wees sonder vertelde tyd nie”. Dit is met ander woorde vanuit hierdie “vertelde tyd” dat ander tyd bedink kan word. Die transendensie van tyd wat ons ervaring deurentyd deurkruis, lei daartoe dat ons tydlike bestaan ’n narratiewe struktuur ontwikkel. Op hiérdie manier kom die betekenis van die narratiewe funksie eers tot vervulling wanneer dit ’n voorwaarde vir tydlike bestaan word. Met ander woorde: vertelde tyd is die tyd van ons tydlike wese.
Husserl se term/begrip lewenswêreld (life-world) word in die artikel gebruik. Hoe pas tyd en narratief in hierdie konsep van lewenswêreld van Husserl?
Ricoeur voer aan dat ons gebore word in ’n horison van betekenis wat reeds teenwoordig is – ons bevind ons altyd alreeds in ’n lewenswêreld, nie net in ’n wêreld nie. Eweneens word ons ook altyd alreeds letterlik die onderwerp van en deur diskoerse wat ons nie self geskep het nie. Begrip (ook die begrip van tyd) word altyd bemiddel deur tekens, simbole, teks en diskoers (soos narratief).
Is die skepping van ’n “derde tyd” deel van ’n meer aktiewe, doelgerigte proses van sinskepping, binne die raamwerk van die transendensie van tyd en narratief, of is dit eerder ’n meer passiewe proses?
Vertelde (derde) tyd is dié tyd van ons tydelike wese. Narratiewe tydlikheid is ’n noodwendige (en daarmee passiewe) dialektiek tussen narratiwiteit (as voorwaarde vir die vaslegging van die transendensie van tyd in menslike tydlikheid) en die transendensie van tyd (as voorwaarde vir die narratiewe struktuur van menslike tydlikheid). Dit kan egter ook as ’n aktiewe proses beskryf word, want vir narratiewe tyd om “geartikuleer” te word, en vir narratief om tot volle “betekenis” te kom in tyd, moet beraming (konfigurasie) en interpretasie plaasvind.
Jy noem die twee tydlike dimensies van beraming: die episodiese (chronologiese) en die konfigurasionele (niechronologiese). Hoe word hierdie twee dimensies saamgebring onder een geheel?
Met episodiese tydelike dimensie word verwys na mens se chronologiese voorstelling van gebeure linieêr in ’n narratief in tyd. Die konfigurasionele tydelike dimensie is die niechronologiese (tydelike) dimensie waarbinne die gebeure tot ’n geheel saamgebind word – dit is die aksie van die “beraming” self. Hierdie saambinding van die konfigurasionele dimensie (die beraming) bring met ander woorde die chronologiese of episodiese dimensie tot verhaal (tot gedagte, tot tema). Dit is beraming (as die beslissende eienskap van narratief) wat die oneindigheid van opeenvolging (episodiese, chronologiese) beklee (omraam) met ’n gevoel van eindigheid. Dit is hierdie unieke tydsdimensie van konfigurasie (wat niechronologies is) wat die episodiese gestalte gee. In hierdie proses word die natuurlike tydsorde – die pyl van tyd – omgekeer. Die beramingsdaad (konfigurasiedaad) word deur Ricoeur begrond in die transendentale werking van die menslike verbeelding. Die tydelikheid van hierdie daad berus so op ’n tydelike transendentale proses – die verbeelding as produktiewe vermoë van die bewussyn.
In die artikel noem jy dat “[a]lhoewel tyd nie sonder verbeelding omgesit kan word in narratief nie [die] verbeelding self” ook tydlik is. Wat is die rol van die verbeelding in die konteks van die hermeneutiese sirkel en narratief?
Dit is vanuit die produktiewe verbeelding – as deel van die transendentale vermoë van die bewussyn – dat die konfigurasiedaad plaasvind en dat tyd “omgesit” word in narratief. Die verbeelding is inderdaad ook tydlik en die kreatiewe proses daarvan is altyd ingebed in tradisie en taal. Hierdie tydlikheid en “ingebedheid” van die verbeelding plaas dit tegelykertyd aan die oorsprong en aan die voleinding van die hermeneutiese sirkel. Dit is net in tyd dat narratief gevorm kan word; net deur die verbeelding wat self in tyd is; net deur die verbeelding wat reeds in taal en tradisie ingebed is. Hierdie aspekte van die verbeelding gaan die hermeneutiese sirkel vooraf en vooruit. Soos in die artikel genoem, is narratiwiteit die voorwaarde vir die vasvang van die transendensie van tyd in menslike tyd (die konfigurasiedaad maak narratiwiteit moontlik), én tog bly tyd (die tydlikheid van beraming) die transendentale voorwaarde vir die narratiewe struktuur van menslike tydlikheid. Die dialektiek van hierdie pole (narratiwiteit en tyd) is afhanklik van die produktiewe verbeelding wat self in tyd is en tot uitdrukking kom in taal (en weer so lei tot die hermeneutiese sirkel).
Ten slotte: jy verwys na Time and Narrative se grondtese se “vernaamste aanspraak” in jou gevolgtrekking, naamlik dat “tyd menslik word vir solank dit geartikuleer word deur ’n narratiewe modus, en narratief tot vervulling kom wanneer dit ’n voorwaarde vir tydlike bestaan word” (Ricoeur 1984:52). Hoe sou narratief ’n voorwaarde vir tydlike bestaan wees?
Die vierde vraag hier bo het op die eerste deel van hierdie grondtese van Ricoeur gefokus deur te vra of die mens tyd slegs deur ’n narratiewe modus kan verstaan. Daarop is geantwoord dat die narratiewe of derde tyd vir Ricoeur dié manier is waarop ons kan sin maak van tyd as geleefde tyd (sterflik) en objektiewe tyd (kosmies). Vir Ricoeur (1988:241) kan daar “geen gedagte oor tyd wees sonder vertelde tyd nie”. Die tweede deel van die grondtese stel narratiwiteit as die voorwaarde vir mens se tydlike bestaan. Dit is ’n voorwaarde, want dit is deur narratief (taal of “poëtika” – sien die eerste vraag bo) waardeur dit vir ons moontlik raak om die transendensie van tyd te beskryf in menslike ervarings. Narratiwiteit is die voorwaarde vir die vaslegging van die transendensie van tyd in menslike tydlikheid. Sonder dit sou ons geen benul gehad het van ons tydlike bestaan nie – vertelde tyd is ons enigste manier om sin te maak van die transendente onnaspeurbaarheid van tyd waarin ons ons bestaan vind. Soos vroeër genoem, lei die transendensie van tyd wat ons ervaring deurentyd deurkruis, daartoe dat ons tydlike bestaan ’n narratiewe struktuur ontwikkel. Op hiérdie manier kom die betekenis van die narratiewe funksie eers tot vervulling wanneer dit ’n voorwaarde vir tydlike bestaan word. Met ander woorde: vertelde tyd is die tyd van ons tydlike wese.
Lees ook:
Paul Ricoeur se begrip van transendensie met betrekking tot tyd en narratief
Anné Hendrik Verhoef, Willie van der Merwe "Paul Ricoeur se verstaan van die narratiewe struktuur van menslike 'tydlikheid' bevat ’n dialektiese begrip van die transendensie van tyd, ’n begrip wat meer inhou as die gebruiklike tweedeligheid van transendensie en immanensie." |
Die einde van transendensie in Kontinentale godsdiensfilosofie?
Anné Hendrik Verhoef Hierdie artikel ontleed of die begrip transendensie steeds ’n toekoms kan hê, spesifiek in Kontinentale godsdiensfilosofie, aan die hand van drie moontlike toekomsscenario’s, naamlik die Messiaanse, bevryding- en plastisiteitscenario. |