Oor ons kollektiewe vrees vir ’n nuwe wêreldoorlog

  • 0

...
Hulle het nie rekening gehou met die waansin van ’n Hitler en die egogerigte delusies van ’n Donald Trump nie.
...

Dit spook al jare by my.

Die visioene van ’n wêreld verrinneweer deur Die Bom.

Die vraag is nie óf dit gaan gebeur nie. Die vraag is wánneer dit gaan gebeur.

Miskien eers oor tien jaar.

Miskien volgende week.

Miskien vannag ...

Hoe sal dit voel om een oggend wakker te word en die wêreld het onherroeplik in chaos verval?

Gerugte van winkelrakke wat leeg geplunder is, of die kos oneetbaar is weens bestraling.

Karre wat kilometers lange opeenhopings veroorsaak op highways soos mense probeer wegvlug het uit gevaarsones uit.

Ons het dit al in movies gesien, hierdie tonele, tot vervelens toe.

Dit sal anders wees die dag as ons dit eerstehands beleef.

Baie anders.

Wat my meer pla, is nie die moontlikheid van die oorlog self nie. Die eskalasie van konflik, die mislukte diplomatieke gesprekke, die onuitstaanbare geraas van missiele en sirenes wat die nag versteur.

Ek dink selde daaraan.

Dit is die stilte wat hierop gaan volg wat by my spook.

As die bomme klaar geval het; as die vliegtuie nie meer vlieg nie; as die sirenes ophou raas.

Wat dan?

Wat gaan oorbly?

Gaan daar énigiets oorbly?

Daar is boeke geskryf oor so ’n scenario.

My gunsteling – as ’n mens die woord “gunsteling” durf gebruik! – is The road, deur Cormac McCarthy (2006).

Die boek vertel die verhaal van twee mense – ’n pa en sy seun – op reis te voet deur die bedorwe landskap van ’n postapokaliptiese Amerika; ’n wêreld verlate en verwoes, onherbergsaam en kil.

Is ons – die mensdom – werklik in staat tot sulke barbarisme?

Wat moet gebeur om te veroorsaak dat ons bereid sou wees om alles plat te vee wat ons oor soveel eeue opgebou het?

Duisende jare se kultuur. Boeke en literatuur. Katedrale in Europa. Die Mona Lisa.

Waarom al hierdie dinge relegeer na die ashoop van die geskiedenis?

Is daar enigiets wat belangrik genoeg is om alles voor op te offer?

Is ons onderliggende verskille werklik onoplosbaar sonder geweld en grootskaalse vernietiging?

Wat is dit in die hart van die moderne mens wat hom laat hunker na kollektiewe selfmoord? Hetsy deur die impak van ’n oorlog of deur die geleidelike dood van die natuur weens klimaatsverandering?

Ek weet, ek weet. Die meeste mense sê moenie worry nie, dit sal nooit gebeur nie. Dit sal nooit so erg raak nie.

Hulle het dit gesê voor die Eerste en Tweede Wêreldoorloë ook.

Hulle het nie rekening gehou met die waansin van ’n Hitler en die egogerigte delusies van ’n Donald Trump nie.

Hulle het nie rekening gehou met die donker afgrond in die kollektiewe psige van ons spesie nie.

Daar is, aan die een kant, soveel stemme op ons planeet wat roep: Skep kuns, lewe in vrede, bou demokrasieë, hou sportwedstryde, handhaaf ’n gesonde samelewing.

Maar daar is ander stemme ook.

Hulle is dalk die minderheid.

Maar hulle is in magsposisies.

Dis die stemme wat skreeu om vergelding. Dis die stemme wat bulder vir mag.

Toe my kinders klein was, het ek vir hulle liedjies geskryf, want ek was nie seker of ek die regte ding doen deur nuwe mense in die lewe te bring en te stuur op ’n aardbol wat so donker en vol aaklige dinge is nie.

Ek onthou net een strofe uit al die liedjies van daardie tyd, geskryf vir my dogter Marleen toe sy nog in haar doeke was:

Soveel lewens lê vertrap
Soveel kinders wat daar ween
Die wêreld woes en leeg
Onder Satan se hakskeen
Daar’s gemaskerde soldate
En pappie los ons nou alleen
Want die ou mans wat die oorlog maak
Dink nooit aan jou, nooit aan jou, Marleen.

Ja, inderdaad, dit spook al jare by my – die moontlikheid van ’n Derde Wêreldoorlog.

Mag die geskiedenis my om hemelsnaam verkeerd bewys…

Lees ook:

Wat sê Bettina? Trump, Iran, Los Angeles en Adriana Smith

Seen elsewhere: Domestic aggression turning international

Die dwaasheid van Israel se aanval op Iran se kernaanlegte

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top