Oor Moment – 'n onderhoud met Anna Davel

  • 2

Anna Davel is ’n aktrise en betrokke op die verhoog, by die radio en op die televisie. In 'n Sarie-onderhoud verklap sy twee jaar gelede dat sy ook ’n neurolinguistiese terapeut is. Moment, haar eerste solomusiekalbum in 'n paar jaar, is pas vrygestel. Sy vertel vir Naomi Meyer hiervan.

Anna, dis sewe jaar sedert jy ’n CD vrygestel het. Wat het jy die afgelope tyd gedoen?

Ek het ’n paar teaterproduksies gedoen, ’n Engelse jazzalbum opgeneem, asook ’n kinderalbum, en ’n Afrikaanse jazzalbum saam met Ollie Viljoen opgeneem. Baie kunstenaars voel hulle moet elke jaar of twee jaar ’n nuwe album op die rakke hê. Ek kan nie ’n album opneem as ek nie iets het om te sê nie. En soms het mens eers nodig om dinge te “marineer” voor jy daaroor skryf. Ek het ook heelwat ontwrigting gehad in my persoonlike lewe: twee maal verhuis, ’n break-up of drie oorleef, ens. So ek is eers die afgelope ruk weer op ’n plek waar ek kan terugkyk en besin. Woorde ontbreek soms wanneer mens in ’n situasie is, en dan is dit makliker om na die tyd daaroor te skryf en ’n nuwe perspektief te kry.

Skryf jy musiek as die inspirasie jou beetpak, of skryf jy musiek gedissiplineerd, ten spyte van jou besige program?

Nee, ek is uiters ongedissiplineerd! Ongelukkig. Wens ek kan elke oggend opstaan en vir agt ure aanmekaar skryf, maar ek vermoed my albums sou dan anders geklink het. Bietjie meer dwangrym of iets. Ek skryf wanneer ek ’n bevlieging kry en iets het om te sê, en dan moet ek dadelik by ’n klavier of ’n stuk papier uitkom, anders verloor ek die song en die muse vat die pad.

Ek skryf elke nou en dan en het heelwat klaar liedjies in my laai, maar al die songs pas nie altyd op ’n spesifieke album nie. Ek het bv 18 liedjies opgeneem, teruggeluister en besluit om verskeie te laat oorstaan vir ’n volgende keer omdat dit nie reg ingepas het by hierdie spesifieke album nie. Ek het ook ’n paar ou liedjies afgestof wat ek nog nooit gesing het nie. Een van die songs is amper 20 jaar gelede geskryf, en kry nou eers ’n plekkie – die tyd is nou eers reg daarvoor.

Toe ek die vorige slag met jou gesels het (oor In die land van Kammalielie), het ek jou uitgevra oor hoe dit is om Jaco Jacobs se kinderrympies te toonset en ook vir kinders te sing. As jy sélf die woorde en die musiek skryf, wat kom vir jou eerste?

My eerste gewaarwording dat ’n liedjie op pad is, is gewoonlik ’n emosie, gevoel, of een sinnetjie wat dinge saamvat. ’n Konsep, of selfs somtyds een woord, kan die begin wees van ’n liedjie. Ek werk dan van daar af verder. As ek by ’n klavier is, gaan sit ek dadelik en begin die musiek en die woorde saam uittimmer, en as ek nie by ’n klavier is nie, skryf ek die lirieke en sorg dat daar darem ’n tipe van ritmiese struktuur onderliggend aan die lirieke is. Ek sal dan later die musiek skryf. Wat ek nooit doen nie, is musiek eerste. Dit maak nie vir my sin om woorde te soek om by ’n vasgestelde melodie te pas of in te dwing nie. Ek wil nie gebind wees wat lirieke aanbetref nie.

Jy skryf in Afrikaans en Engels. Is enigeen van die twee tale op ’n gegewe oomblik vir jou meer emosioneel as die ander?

Ja, ek voel ewe gemaklik in beide. Ek was in ’n dubbelmedium skool (Summerwood Primary + Pearson High in PE tot 16-jarige ouderdom), en het ook my musiekdiploma in Engels voltooi, so dit kom maar uit soos wat die gees my lei. Ek dink nie daaroor nie, doen dit net. Hierdie album is 50/50.

Watter instrumente bespeel jy self? En wie bespeel die instrumente op Moment?

Ek speel (meer soos tokkel) die klavier. Ek het ’n redelik goeie begrip van akkoorde, harmonie en melodie, maar sal nie sommer op die verhoog speel nie. Daar is uiters bekwame pianiste, soos Matthys Maree, Devereaux van der Hoven, Andrew Ford en Ramon Alexander wat ek eerder kry om te speel. Hier onder al die wonderlike musikante en al die ander mense wat saamgewerk het aan die album:

  • Sean Manley (vir Manley Records)
  • Paulo Azevedo
  • Juan “Floors” Oosthuizen
  • Murray Lubbe
  • Devereaux van der Hoven
  • Herman van den Berg
  • Matthys Maree
  • Nathan Smith
  • David Klassen
  • Denny Lalouette
  • Evert van Niekerk
  • Jacques Fourie
  • Judith Klins
  • Susan Mouton
  • Justin Holcroft
  • Adam Howard
  • Bez Roberts
  • Rudi Silbermann

Die oorwegende klank van hierdie CD is melancholies en sielvol. Watter liedjies is jou persoonlike gunstelinge?

My persoonlike gunstelinge is maar die klavierballades wat so gestroop opgeneem is: “Soek na jou” en “Sê dit soos dit is”. Daar is geen truuks nie, net so opgeneem soos wat ek dit live sou doen.

Luister op Soundcloud na "Soek na jou".

Is daar ’n storie agter enigeen van die liedjies wat jy graag sal wil deel?

Ek het ’n show oor kos gedoen so ’n paar jaar terug, Bon Appetit!. Die regisseur het my huis toe gestuur en gevra dat ek ’n liedjie skryf oor al my gunstelingkosse. En vandaar “Liefde maak gesond”. Dit is ’n ligter liedjie en veral kinders vind aanklank daarby. Ons het die liedjie ook baie vry opgeneem, almal saam. Ek wou die energie van die opname organies en bietjie asimmetries hou.

Is dit lonend om te sing?

Ek dink as ek ander tipes liedjies gesing het (bokkie, sokkie, klokkie, doef-doef), sou ek seker goed gedoen het. Maar ek kan dit eenvoudig nie doen nie. Geld is nie vir my so belangrik op hierdie stadium nie. Ek gaan jok as ek sê dat hierdie musiek wat ek op Moment en van my vorige oorspronklike albums opgeneem het, vir my werklik lonend is. Ek kan cappuccino’s drink en nou en dan soesji eet, en daarom voel ek skatryk. Maar ’n geharde besigheidsman sal seker lag as hy my besigheid ontleed. Ek doen hierdie musiek vir ’n klein groepie mense in Suid-Afrika wat aanklank vind daarby en my oor die afgelope 15 jaar ondersteun. Ook omdat dit vir my betekenis aan my lewe gee en voel soos iets wat ek absoluut moet doen om asem te haal. Dit is egter nie eintlik ’n volhoubare besigheid nie, en ek befonds dit deur korporatiewe konserte te doen en lenings aan te gaan. Ek is gelukkig ook baie lief vir smooth jazz, en tree op saam met ’n paar uitstekende jazzmusikante tydens jaareindfunksies ens. Ons speel vir multikulturele gehore en ek is dankbaar dat dit dit vir my moontlik maak om nog steeds ’n inkomste te kan genereer met musiek. As ek egter net moet staat maak op my oorspronklike albumverkope, sou ek lankal moes handdoek ingegooi en ’n day job moes gekry het. Dit is maar ’n kwessie van geloof en genade!

Waar kan mense jou CD koop en wat kos dit?

Die album is beskikbaar aanlyn by iTunes, of die fisiese album kan bestel word by www.raru.co.za teen R83, en Music Moods-winkels in Gauteng hou dit ook aan.

  • 2

Kommentaar

    • Ollie Joubert - Windhoek

      Anna Davel sing tussen die lyne, alle kunstenaars kan nie. Bedoelende mense wat daarna luister, waardeer, verstaan en daarvan hou, het nie matriek 'gekrip' nie!

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top