Vir sy navorsing vir die weeklikse Regsalmanak-rubrieke maak Gustaf Pienaar grotendeels van Juta Law se aanlyn biblioteek gebruik. Hierdie regsbiblioteek is ‘n omvangryke naslaanbron van hofsake, wetgewing en ons land se dinamiese grondwetlike ontwikkeling. Juta Law stel hierdie bronne goedgunstiglik tot Gustaf se beskking vir die skryf van hierdie rubrieke. Vir nadere besonderhede besoek www.jutalaw.co.za
Op 'n middag in 1960 het 'n kêrel met die naam Dobson in die rigting van Bulawayo in die destydse Suid-Rhodesië (nou Zimbabwe) gery. Die pad waarop hy gery het, was die hoofpad tussen Salisbury (nou Harare) en Bulawayo. 'n Motor het hom van agter verbygesteek en só kort voor hom ingesny dat hy heeltemal links van die pad moes afry ten einde 'n botsing te voorkom. Die bestuurder van die motor het daarna oorgegaan na die regterkant van die pad en 'n aankomende voertuig moes ook heeltemal van die pad afswaai, wéér ten einde 'n botsing te voorkom. Dobson het besluit om die onverskillige bestuurder te agtervolg en hy het waargeneem dat die bestuurder verskeie male heen en weer oor die pad geswaai het. By 'n skerp draai in die pad het die bestuurder heeltemal oor die wit streep in die middel van die pad gegaan en die draai só erg gesny dat nog 'n aankomende motor wild moes wegswaai.
Die onverskillige bestuurder is uiteindelik aangekeer en daar is toe vasgestel dat sy 'n jong meisie met die naam Msongelwa was. Haar verweer was dat sy nog nie goed kon bestuur nie, hoewel sy haar allerbeste probeer het. Sy was in besit van 'n leerlingrybewys ingevolge die destydse padverkeerwetgewing van Suid-Rhodesië. Soos wat die betrokke wetgewing vereis het, was daar 'n gelisensieerde bestuurder saam met haar in die motor. En, o ja, die destydse Suid-Rhodesiese wetgewing het ook vereis dat so 'n motor wat deur 'n leerlingbestuurder bestuur word, 'n groot "L" in rooi op 'n wit agtergrond moes hê. Mej Msongelwa se motor het ook aan hierdie vereiste voldoen. Sy is nietemin deur die landdros van Bulawayo skuldig bevind aan nalatige bestuur en tot 'n boete van twintig pond gevonnis – in vandag se geldwaarde goed verby 'n duisend rand. Omdat sy nog jonk was, kon sy hierdie boete nie betaal nie en het sy ingevolge 'n bepaling van die Rhodesiese landdroshof vertoë gerig dat die vonnis verlig moet word. Op dié manier het die saak voor ene regter Young beland.[1]
Die regter het 'n baie interessante kwessie geopper. Dit is duidelik, het hy gesê, dat mej Msongelwa nie die nodige vaardigheid gehad het om die motor op 'n openbare pad te beheer nie. Maar die padverkeerwetgewing het haar toegelaat om, onder sekere omstandighede, 'n motor op 'n openbare pad te bestuur juis om te kan leer om te bestuur. Daardie voorwaardes was, onder meer, dat 'n gelisensieerde persoon saam met haar in die motor moes wees (wat gedoen is) en dat sy die groot "L" op haar motor moes vertoon om vir almal te wys dat sy nog 'n leerlingbestuurder is. Ook dié vereiste is nagekom. Regter Young wou weet hoe dit dan gesê kan word dat sy nalatig bestuur het wanneer die wet haar toegelaat het om 'n motor te bestuur, ondanks haar totale gebrek aan ervaring. Die regter was dus tevrede dat dit nie beteken dat wanneer 'n leerlingbestuurder nie die nodige vaardigheid het wat 'n gesoute bestuurder het nie, dit noodwendig op nalatigheid neerkom nie. Mej Msongelwa se skuldigbevinding en vonnis is dus tersyde gestel.
Die regter het egter 'n waarskuwende woord gerig: indien die Staat sou kon bewys dat 'n leerlingbestuurder vaardig genoeg was om 'n voertuig te bestuur en daardie vaardigheid nie aan die dag gelê het nie, sou so 'n persoon wel aan nalatige bestuur skuldig bevind kon word. Dan is die klagte nie dat hy 'n gebrek aan vaardigheid gehad het nie, maar dat hy die vaardigheid waaroor hy beskik het, nie gebruik het toe hy die voertuig bestuur het nie. Dit is 'n subtiele verskil, maar in mej Msongelwa se saak het dit tot haar voordeel gestrek.
Dit was 1960 en intussen het die opleiding van leerlingbestuurders darem baie verbeter.[2] Maar steeds het 'n mens daardie interessante verskynsel dat iemand met 'n leerlinglisensie en geen praktiese kennis van hoe 'n motorvoertuig bestuur word nie, tog onder sekere voorwaardes gemagtig word om so 'n motor op 'n openbare pad te bestuur.
[1] Rex v Msongelwa 1960(4) 699 (SR)
[2] In hedendaagse Suid-Afrika word die uitreik van rybewyse – insluitend leerlinglisensies – uitvoerig deur die Road Traffic Act, Wet 93 van 1996 gereël.




Kommentaar
`n Verdere interessante vraag is natuurlik of die gelisensieerde bestuurder wat saam met die leerling in die voertuig is nie dalk nalatig is deur so `n onagsame bestuurder toe te laat om voort te gaan om op `n openbare pad te bestuur, ten spyte van die duidelike tekort aan vaardigheid nie?
Dankie vir jou interessante navraag, Louis. Ek gaan (eerstens) van die veronderstelling uit dat ’n kind meestal deur ’n ouer “geleer” word om ’n motorvoertuig op ’n openbare pad te bestuur. Ek het al voorheen ’n Regsalmanak gewy aan ouerlike aanspreeklikheid vir die onregmatige dade van hul minderjarige kinders:
https://www.litnet.co.za/ouerlike-aanspreeklikheid-vir-hul-kinders-se-droogmakery/
Bogemelde Regsalmanak het gehandel oor waarnemende regter Pincus se uitspraak in Godfrey, 1997(1) SA 570, waarin die gemeenregtelike posisie in ons reg mbt ouerlike aanspreeklikheid soos volg saamgevat is:
PINCUS AJ
“Where a parent is aware of a delict being committed and fails to prevent it, although he has the power to do so, he will render himself personally liable. The aggrieved party would have to allege and prove that the parent knew of the offence and failed to prevent it, even though he was able to do so.”
Tweedens: ’n soektog in Juta se regsbiblioteek het minstens een geval opgelewer van die strafregtelike aanspreeklikheid van ’n persoon (let wel: nie ’n ouer nie) wat as toesighouer van ’n (ongelisensieerde) minderjarige motorbestuurder vervolg is en aan strafbare manslag skuldig bevind is. Dit is ’n uitspraak van die Zimbabwese appèlhof wat - vanweë ons gedeelde gemenereg - minstens deur ons howe oorweeg sal word. Geriefshalwe haal ek uit die kopstuk van die uitspraak aan:
S v CLAASEN 1979 (4) SA 460 (ZRA)
LEWIS JP
Headnote : Kopnota
If the holder of a power to prohibit or permit unlawful action grants permission and the unlawful act takes place, he aids and abets in the commission of the offence, and is guilty as a socius criminis.
Appellant had been convicted by a provincial magistrate of culpable homicide. From the evidence it appeared that appellant had permitted , an unlicensed driver , to drive his motor car. Appellant had sat next to F and, as he had become satisfied that F was handling the car satisfactorily, he thought he could relax and talk to F and her stepfather, who was also a passenger in the car, and that it was not necessary to supervise her driving. In overtaking a cyclist, immediately after a car travelling in the opposite direction had passed the cyclist, F collided with and killed the cyclist in circumstances which established that F had failed to keep a proper look-out and had failed to allow sufficient clearance between the car she was driving and the cyclist. In an appeal against the conviction and sentence,
Held, that there was a continuing obligation on appellant to supervise F's manner of driving and that appellant had no right to relax his attention and chat to the stepfather at the back of the car as he did.
Held, further, that, had appellant maintained proper attention to what was going on and still continued his vigilance and supervision as he should have done, he, as a reasonable man, would have realised that the inexperienced and unlicensed driver , F, unfamiliar with his car and its width, might collide with the cyclist unless he warned her to slow down and not to overtake unless it was safe to do so.
Held, further, that appellant's failure in this regard constituted negligence which, equally with that of F, caused the death of the cyclist; and, since this result was reasonably foreseeable, and there was no novus actus interveniens, the necessary causation existed in law”.
Dus: iemand wat in ’n toesighoudende hoedanigheid ’n leerlingbestuurder in ’n motorvoertuig vergesel, kan in gepaste gevalle sowel deliktueel as strafregtelik aanspreeklik gehou word vir die wandade van sodanige bestuurder as die toesighouer in ’n posisie was om ’n groter beheer oor die leerling uit te kon oefen het, en hy versuim het om dit te doen.
Persoonlik is ek ten gunste daarvan dat ons howe strenger moet wees met ouers wat versuim om hul minderjarige kinders se doen en late te beheer. Gedenk maar net die tragiese verhaal van die sogenaamde “Waterkloof vier”. Groter ouerlike beheer oor dáárdie vier rakkers se laatnag-aktiwiteite en – veral – strenger beheer oor motorsleutels, ens sou straks daardie enorme tragedie (vir sowel die slagoffer as die vier minderjarige seuns) voorkom het. Ek sou dink dat veral versekeraars van motorvoertuie die skroewe strenger behoort aan te draai waar dit redelikerwys voorkombaar was dat ’n minderjarige ’n motorvoertuig kon “gaps” – eintlik “steel” – en dan daarmee gaan droogmaak met gevolglike skade.