Ouerlike aanspreeklikheid vir hul kinders se droogmakery

  • 0
Bron: howtoparentateen.wordpress.com

In hierdie rubriek skryf advokaat Gustaf Pienaar oor hofsake wat hierdie betrokke week in die nuus was. Die jaartal maak nie saak nie. Hierdie almanak is ’n tydmasjien wat heen en weer deur die regsgeskiedenis wip.

Vandeesweek se hofsaak handel oor die aanspreeklikheid van 'n ouer vir die onregmatige daad van sy kind. As ek die feite gee, sal jy gou verstaan wat hiermee bedoel word. 'n Sekere mnr G van Simonstad was 'n getroude man met 'n blink oog vir 'n mooi meisie – ja, “meisie” en nie noodwendig 'n volwasse vrou nie, want die bure se agtienjarige dogter het haar flikkers vir hom gegooi en hy het voor die versoeking geswig. Die meisie se ouers, mnr en mev C, het hierdie verhouding oogluikend toegelaat. Trouens, die hof het later bevind dat hulle eintlik geen beheer oor hulle agtienjarige dogter gehad het nie, dermate dat die regter in 'n latere hofsaak opgemerk het dat mnr en mev C se opvoeding van hulle dogter hom laat dink het aan Cole Porter se bekende liedjie "Anything goes". Niks was vir die jong meisie verbode nie. En toe die buurman besluit om by mnr en mev C en hulle dogter in te trek, is ook dít oogluikend toegelaat.

Mev G was om vanselfsprekende redes erg ontsteld oor die toedrag van sake, veral nadat sy haar man en die jong meisie by meer as een geleentheid in die buurhuis saam in die slaapkamer – en onder die lakens – betrap het. Mev G het alles probeer om haar huwelik te red. Sy het die meisie se ouers verskeie kere skriftelik gewaarsku dat hulle hul dogter in toom moet hou, anders sou sy 'n aksie om skadevergoeding teen hulle instel. Daarna het sy oorgestap na die bure se huis toe en die egpaar C en hul dogter van aangesig tot aangesig gespreek. Só desperaat was sy dat sy aangebied het om die dogter op 'n oorsese vakansie te stuur, sodat sy, mev G, 'n kans kon kry om 'n normale huweliksverhouding met haar man te hervat. Tydens die ontmoeting met die bure het sy ook gekla oor die feit dat mnr G tydig en ontydig in die buurhuis toegelaat is. Die meisie se ouers het skynbaar geen fout daarmee gevind nie en het selfs opgemerk dat hulle tog nie van plan was om die hele nag wakker te bly net om te kyk wie by wie se slaapkamer in- of uitsluip nie.

Gelukkig vir mev G was die verhouding tussen haar man en die jong meisie van korte duur – slegs ses maande – maar vir enige huwelik is ses sulke maande maar nag en word blywende skade aangerig.

Mev G het daarna in die landdroshof van Simonstad 'n aksie om skadevergoeding teen die meisie en haar ouers ingestel. Sy het in haar dagvaarding aangevoer dat die meisie se ouers haar owerspel met mev G se man willens en wetens toegelaat het. Sy het 'n bedrag van R20 000 geëis vir die aantasting van haar eergevoel en die vernedering wat die verhouding vir haar meegebring het, asook vir die tydelike verlies van haar man se liefde en toegeneentheid. Die landdros het uiteindelik 'n bedrag van R6 000 as troosgeld vir mev G se vernedering aan haar toegeken, asook R2 000 vir die verlies van haar man se aandag, as ek dit so kan stel. Hierteen het mnr en mev C geappelleer en die saak het uiteindelik voor die hooggeregshof in Kaapstad beland.

Die vraag waaroor die hof moes beslis, was of ouers in ons reg aanspreeklik is vir die onregmatige dade van hulle kinders. Die hof het beslis1 dat die Romeins-Hollandse, Anglo-Amerikaanse en Suid-Afrikaanse regsgeleerdes dit eens is dat waar ouers bewus is dat hulle kind met 'n onregmatige daad besig is en daardie ouers boonop by magte is om hulle kind te keer om daarmee voort te gaan en dit dan nie doen nie, die ouers dan persoonlik vir daardie daad aanspreeklik gehou kan word.

Die regter het daarna die getuienis oor die omstandighede in mnr en mev C se huis deeglik ondersoek en tot die gevolgtrekking gekom dat hulle eintlik geen beheer oor hulle agtienjarige dogter gehad het nie. Sy kon doen net soos sy lus gevoel het. Gevolglik was daar geen regsbasis waarop mev G haar bure aanspreeklik kon hou vir skadevergoeding nie. Sy het wel 'n eis teen die dogter self gehad en die regter moes vervolgens beslis of die bedrae wat die landdros toegeken het, geregverdig was.

Die eerste vraag was of mev G kon slaag met haar eis vir die tydelike verlies van haar man se liefde en toegeneentheid in die lig daarvan dat hulle huweliksverhouding later herstel is. In beginsel was die regter ten gunste van sodanige eis, maar die bedrag wat hy toegeken het, is drasties verminder. Waar die landdros R2 000 toegeken het, wou die regter nie meer as R200 bewillig nie.

Wat die tweede eis betref, vir mev G se aantasting van haar eergevoel en die vernedering wat sy moes verduur, het die regter maar slegs R1 000 toegeken, waar die landdros R6 000 toegeken het.

Die eindresultaat was dus dat mev G se eis teen mnr en mev C op appèl van die hand gewys is en dat haar eis teen die dogter self drasties verminder is. Buitendien was die meisie nog maar agtien jaar oud, en hoe kan 'n mens nou só 'n eis teen 'n agtienjarige kind wat werkloos is, afdwing? Bowendien moet 'n mens onthou dat hierdie saak uiteindelik in die hooggeregshof gedraai het en dat die regskoste wat mev G uiteindelik moes opdok – onthou, sy moes ook haar bure, mnr en mev C, se koste betaal – aansienlik was. Sy moes eintlik nooit hof toe gegaan het nie en maar te dankbaar gewees het dat haar huwelik uiteindelik weer koers gekry het. Maar 'n mens kan nie anders as om vir haar bitter jammer te wees nie.

Hoewel dié beslissing in hoofsaak gewentel het om ouerlike aanspreeklikheid vir hul kinders se droogmakery, is dit nodig dat ek daarop wys dat die hoogste hof van appèl2 so onlangs as 25 September vanjaar (2014) beslis het dat die “onskuldige” party in ’n huwelik nie meer teen ’n derde ’n eis vir skadevergoeding het weens sy/haar owerspel met die “skuldige” party in ’n huwelik nie. Die hof het tot hierdie gevolgtrekking gekom op grond van die veranderde oortuigings van die Suid-Afrikaanse gemeenskap – die sogenaamde boni mores – oor die eeue oue verskynsel van owerspel.

1 Godfrey and Others v Cantbell 1997(1) SA 570 (CPD)

2 Appèlregter Brand se uitspraak in RH v DE (onder appèlhofsaaknommer 594/2013) is by die skryf hiervan nog nie in die Suid-Afrikaanse Hofverslae opgeneem nie. Wees egter verseker: dit sál wel een of ander tyd daarin verskyn.

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet’s free weekly newsletter.

                                                    

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top