Oor Afrikaans in Soweto en onthou as ‘n industrie

  • 1

Clinton V du Plessis (foto: Etienne van Heerden)

Clinton V du Plessis deel sy ervaringe van The Star Soweto Literary Festival 2016.

Kyk ook na Darryl David se feesfoto's en lees Karina Brink se indrukke.


Donderdag 18 Augustus 2016

Parkstasie.

Kontrakteurs is besig om reusevensters by die aankomssaal te vervang. Die busse kom en gaan, polisiemanne soek met geoefende oë na die reisigers sonder enige handbagasie en deursoek hulle, die perronne word om die beurt afgesper en meter vir meter skoongemaak.

Ek is vir die eerste keer terug in Gauteng sedert ek in 2006 weg is. En ek dink aan daardie gevoelens, so korrek verwoord in The Buckfever Underground se “The Highveld (Is a shit place to be in winter)” wat hier na die einde van my verblyf gereeld in my gemoed begin opborrel het: “If I stay here for too long I’ll become an active abuser a topflight loser a successful gimmick or a professional skunk with labels and a mean piss.”

Maar hierdie keer is ek ‘n toeris – ‘n literêre toeris vir vier dae. Darryl David het aan die diepkant ingespring. Sonder borge met diep sakke, uitputtende komiteevergaderings of ellelang sessies met “stakeholders, interested and affected parties” het hy ‘n eerste nierassige literêre fees vir Soweto organiseer.

Ek het vinnig en opgewonde op sy e-pos-uitnodiging geantwoord. “Ek sal graag deel van die fees wil wees, maar sal ek Afrikaans kan voorlees of wil jy my laat vertaal?”

Pimville.

As die fees in Soweto is, dan is dit net reg dat ek ook in Soweto bly vir die duur daarvan. Danksy Google kom ek af op Florence Mondi se gastehuis in Dubestraat, Pimville.

Die tariewe is billik, maar ek vra weer net om seker te maak haar prys vir die vervoer vanaf die stasie na Pimville is korrek. “Ja,” kom die antwoord. R100 vir oplaai en weer aflaai op die Sondagmiddag is spotgoedkoop, besluit ek.

Sy karwei my ook ‘n keer of twee gratis vanaf Pimville na die Soweto-teater, langs die Jabulani-winkelkompleks. Ek stribbel teë, maar sy noem “this thing of us and ubuntu” en “anyway, it is not that far”. Soggens protesteer ek ook oor die rojale ontbyt wat sy opdis. “How do you make a profit?” wil die rekenmeester in my weet.

Laatmiddag sit ek op die balkon van die gastehuis, kinders speel in die straat, mense kom in toue vanaf die werk aangestap, motors vertrek met mense in gym-uitrustings – Virgin Active. Ek stap die trappe af, kruis die straat na ‘n spazawinkel, koop koeldrank by ‘n vriendelike omie wat belangstellend gesels en later kyk ek weer van die balkon hoe die son oor Soweto ondergaan.

Vrydag 19 Augustus 2016

Die eerste dag van die fees.

‘n Televisiespan voer ‘n onderhoud met Darryl. Ek verbeel my ek hoor die frase “decolonising literature”.

Die redakteur van The Star, Kevin Ritchie, open verrigtinge – kort en bondig.

Daarna gesels Mongane Wally Serote, gevolg deur Anna Trapido wat praat oor haar 2008-publikasie Hunger for Freedom, The story of food in the life of Nelson Mandela). Craig Higginson, skrywer van The Dream House, met ook ‘n teateragtergrond, vertel hoe verhoogkunstenaars in Engeland ‘n lewe kan maak uit die teater.

Peter Magubane deel gemoedelike en pynlike ervarings uit sy lewe as fotograaf – hoe die polisie hom sou dwing om sy “negatives” te “expose to light”; hoe sy neus deur ‘n knuppel gebreek is; sy aandrang by studente dat die 1976-opstande gedokumenteer moet word; hoe die polisie sy huis sou kom deursoek en niks kry nie, omdat hy sy negatiewe of foto’s by vriende in die “suburbs” sou wegsteek; hoe hy hom soms as “coloured” sou voordoen en selfs die nodige papiere gehad het om die paswette te omseil. En hier in die skemer van sy lewe hou die statige gentleman met die grys kop hom besig met die afneem van “sunsets”.

Die uwe kom aan die beurt. My tema is geborduur rondom die gedagte van Stephen King oor skrywerskap: “A little talent is a good thing to have if you want to be a writer. But the only real requirement is the ability to remember every scar.”

Ek gaan krap die rowe af, stel die littekens van die land ten toon – verduidelik my gedigte kortliks in Engels en lees dan die Afrikaanse tekste voor. Probeer aan die gehoor ‘n beeld gee van die B-side van Afrikaans – die bruin kant, die stem des aanstoots.

‘n Vertaling van ‘n gedig van Sipho Sepamla, iets oor Marikana, Nat Nakasa, ‘n gedig vir my pa en Madiba, en ‘n remix van “Die Stem” en ons bloedige verlede (gepas in dié tyd met die debat rondom die behoud al dan nie van die gedeelte in ons saamgeflanste volkslied?):

songs and shadows from the past

uit die blou van onse hemel
solwandle ngudle, suicide by hanging
uit die diepte van ons see
bellington mampe, cause of death not disclosed
oor ons ver verlate vlaktes
james tyita, suicide by hanging
waar die kranse antwoord gee
suliman salojee: jumped from 7th floor window
ruis die stem van ons geliefde
ngeni gaga, natural causes
van ons land, suid-afrika
pongoloshe hoye, natural causes
ons sal antwoord op jou roepstem
james hamakwayo, suicide by hanging
ons sal offer wat jy vra
hangula shonyeka, suicide
ons sal lewe
leong pin, suicide by hanging
ons sal sterwe
ah yan, suicide by hanging
ons vir jou
alphaeus madiba, suicide by hanging
ons sal lewe
ons sal sterwe
alfred makaleng, cause of death not disclosed
ons sal lewe
ons sal sterwe
repeat chorus to fade …

Rehana Rossouw lees daardie befokte openingsin uit haar boek What will people say?: “The South-Easter lifted the smell of pig manure spread across farms in Philippi, crossed Lansdowne Road and dumped it like a wet poep over Hanover Park." Sy wei uit oor die troosteloosheid en onmenslikheid van behuisingstrukture in townships, die ambivalensie van terme soos “bornfrees” (hoe kan jy werklik vry wees as jy gebore is in ‘n omgewing waar jy uit die staanspoor uitgelewer is aan die ongelykhede van die verlede?).

Ek dink aan daardie reël uit Wopko Jemsma se gedig: “I found myself in a situation.”

Later die middag praat Lerato Tshabalala, joernalis en skrywer van die blitsverkoper The way I see it, onbevange, ongekunsteld en doodeerlik reguit oor aktuele onderwerpe, ekonomiese transformasie vs assimilasie en die – steeds – benarde stand van onderwys in townships.

Een van die hoogtepunte vir my is die bydrae van die energieke en flambojante Fikile Hlatshwayo, wat met haar Blacks do caravan ‘n wenner beet het.

Kenny Rogers sing in sy liedjie “The last ten years”: “The best golfer's black, the best rapper's white an' it's about damn time.”

Wel, dit is hoe ek voel oor die toergids, Estelle Bester. Sy vertel so baie oor Soweto wat nie noodwendig in die brosjures aangeteken is nie. Sy loop oor van entoesiasme, ken die swart tale, word byna oral herken – by die taxi-staanplek, deur karwagte, by die eetplekke. Sy neem vir my en Darryl vir ‘n baie vinnige besoek aan Vilakazistraat, met die Mandelawoning.

Die toeriste staan tou; ‘n akteur van Isidingo probeer vergeefs skitter in die grootse skadu van Madiba. Hier het onthou ‘n industrie geword. “Memory is the weapon”, aldus Don Materra.

Saterdag 20 Augustus 2016

Ek mis die oggendsessies met oa Karina Brink, Mandla Langa en andere.

Na ete is Verne Harris van die Nelson Mandela-stigting aan die beurt. Hy deel anekdotes; Mandela wou nie meer standbeelde van hom hê nie (nogtans het die staat voortgegaan); Nadine Gordimer het aangedring dat haar naam saam met dié van Mandela op die omslag van sy Long walk to freedom moes verskyn; Es’kia Mpahlele het sowat ses hoofstukke begin skrywe, maar Mandela het nie daarvan gehou nie; die stewels in die glaskas in die Mandelahuis is nie werklik dié wat hy tydens sy militêre opleiding gedra het nie ...

En ja, daar kom 400 bronsbeelde van stugglehelde teen meer as ‘n miljard rand.

Grizelda Grootboom se Exit handel oor die skemerwêreld van sekswerkers en mensehandel. Dit ruk aan die strot, lem deur die maag.

Dingaan Thobela en Deon Potgieter praat oor The Rose of Soweto.

Later die aand eet ‘n handvol van die skrywers saam by die bekende Sakumzi Restaurant (waar daar luid en jubelend gekuier word deur toeriste, bleskop boepens blessers en hulle aanhangsels, nuwe en ou geld). Parkering is ‘n nagmerrie. Ons eet afval, lamtjops, vla en koek.

Estelle Bekker besorg my, sonder vergoeding, veilig by die gastehuis,

Sondag, 21 Augustus 2016

Darryl David vertel aan die hand van die fotoboek A Platteland Pilgrimage van sy droom om betrokke te raak by kerktoerisme. Hein Willemse bring, met behulp van foto’s en klankopnames, roerend hulde aan Adam Small.

Irene Fischer, Ek is nog hier, inspireer almal om elke oomblik, elke sekonde van die lewe voluit te lewe.

André Odendaal, gebore op Queenstown en skrywer van Cricket & Conquest, gesels onderhoudend oor die vervlegte geskiedenis van krieket en politiek.

Julian Brown, verbonde aan die Universiteit van die Witwatersrand, besin in The Road to Soweto oor die gebeure van 1976, die opbou daartoe, wat daaruit voortgevloei het, asook lesse vir die toekoms.

Siphiwe Mbatha onthou die slagting van 34 mynwerkers in sy Spirit of Marikana. Daar is ‘n sinisme onder werkers teenoor van die gevestigde unies. Wie se belange dien hulle werklik?

En dan, nog ‘n hoogtepunt. Thomas Mollett en sy broer Calvin herbekyk in hul publikasie Oscar vs the Truth sleutelgetuienis wat “badly handled” was deur die ondersoekende beamptes in die saak. Uiteindelik beantwoord Thomas (oortuigend) die vraag: Het Oscar geweet Reeva is agter die badkamerdeur?

Ek mis weer die res van die laaste sessies, ook die vertoning deur PJ Powers, want ek moet na die stasie haas.

Darryl David deel ook op ‘n stadium met die gehoor sy wens vir ‘n Unesco City of Literature in Suid-Afrika – hy wag al drie jaar op ‘n antwoord op sy skrywe. Ek wens hom alle voorspoed daarmee toe.

Dit was goed om hier te kon wees, om Afrikaans in Soweto te kon lees, onbevange. Om tuis te voel. Soweto, die B-kant van Sandton, saam met ‘n wit toergids, ‘n boekbedonnerde Indiër en swart medemense vol ubuntu.

  • 1

Kommentaar

  • Estelle Bester

    Mandla Langa het gepraat oor sy boek 'Texture of Shadows' wat in 'n TV-reeks omskep word. Die struggle en sy mense het donker oomblikke beleef en hy wou daaroor skryf. Hy haal 'n Angolese skrywer aan wat oor etniese spanninge geskryf het: 'There is never the right time to write and not to write.' Daarom as Afrika-skrywer wat Suid-Afrika omhels met 'n ingebore patriotisme en wil om vorentoe te beweeg, skryf hy wat Mandla is. (Hierdie is 'n bietjie oor dit wat Clinton nie kon bywoon nie.)

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top