Ontplooiing van die SANW te midde van COVID-19

  • 0

Die onplooiing van die Suid-Afrikaanse weermag binne Suid-Afrika om orde tydens die COVID-19-pandemie te handhaaf het al talle debatte ontlok. Dit is nie die eerste keer dat die weermag in Suid-Afrika ontplooi word om orde te handhaaf nie. Nie lank gelede nie was dit ook die geval met bendegeweld op die Kaapse Vlakte.

Theo Neethling, hoof van die Departement Politieke Studie en Regeerkunde aan die Universiteit van die Vrystaat en kenner op die gebied van krygskunde en militêre studie, lewer kommentaar oor die ontplooing van die weermag, deels met verwysing na sy 2017-LitNet Akademies-artikel “’n Oorsig van die problematiek rakende die modernisering van die SANW vir deelname aan multinasionale vredesteunoperasies in Afrika”, waarin hy krities na die weermag kyk.

Theo, in jou artikel stipuleer jy die primêre funksie van die SANW “as die verdediging en beskerming van die Republiek van Suid-Afrika en dus die handhawing van die gebiedsoewereiniteit van die Suid-Afrikaanse staat en die bevolking daarvan”.

’n Weermag se primêre doel is hoofsaaklik om ’n land teen ander lande te beskerm en nie op hul eie mense ontplooi te word nie. Laasgenoemde soort ontplooiing is egter tans die geval in Suid-Afrika met die COVID-19-pandemie. Dink jy daar is meriete daarin om die weermag in sy eie land te ontplooi? Is daar positiewe en negatiewe aspekte mbt die pandemie?

Die klassieke of tradisionele funksie van weermagte is inderdaad die verdediging van ’n staat se gebiedsoewereiniteit. Weermagte het egter ook velerlei vredestydse funksies of rolle. Meer nog: Moderne weermagte se verantwoordelikhede word opgedeel in die tradisionele rol (verdediging) en nietradisionele rolle (aanwending in internasionale vredesteunoperasies, binnelandse ontplooiing ter ondersteuning van die polisie, en ondersteuning tydens ramptoestande en so meer).

Laasgenoemde is presies dit wat die SANW nou doen, en terselfdertyd is die SANW as ’n buitelandse beleidsinstrument in die Demokratiese Republiek van die Kongo betrokke as deel van die Verenigde Nasies (VN) se multinasionale vredesteunoperasie in daardie land. Selfs pogings om renosterstropery in die Krugerwildtuin te bekamp is in die afgelope jare tot die lys van die SANW se take toegevoeg.

Wat COVID-19 betref, is dit absoluut noodsaaklik dat die SANW nou binnelands uithelp. Tot dusver was die SANW se rol een van ondersteuning in wetstoepassing, maar dit is nou besig om te verander in algemene hulpverlening soos wat die inperkingsvlakke afskaal.

Die weermag is ook al vantevore binne Suid-Afrika ontplooi om die bendegeweld in sekere gebiede van die Kaap onder beheer te bring – wat is jou opinie daaroor?

Daar was baie debatte of die SANW op die Kaapse Vlakte ontplooi moes word om die bendegeweld in die betrokke areas onder beheer te kry al dan nie. Die belangrikste argumente daarteen was dat die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) se befondsing amper vier keer meer as dié van die SANW is en dat laasgenoemde se begroting reeds tot die punt besnoei is waar kernaspekte skade ly.

Ander argumente was dat die SAPD sy intelligensie-afdeling beter moet inrig om die bendebedrywighede oop te vlek en vas te vat. Nog ’n sterk argument was dat die ontplooiing van die SANW eintlik maar net daarop sou neerkom dat ’n pleister op die seerplek geplak word sonder om die oorsake daarvan te dokter. Daar is ook aangevoer dat die ontplooiing van weermaglede op die Vlakte nie ’n volhoubare benadering kan wees nie.

Uiteindelik het die politici in die veiligheidskluster besluit om wel die SANW op die Vlakte te ontplooi, maar die knelpunt is steeds dat dit nie volhoubaar is nie en dat die weermaglede uiteindelik onttrek sal moet word. Die vraag is wanneer dit sal gebeur en of die SAPD dan gereed sal wees om die vakuum te vul en menselewens daar teen gewelddadige bendelede te kan beskerm.

Na aanleiding van jou navorsing, wat dink jy behoort die rol en funksie van Suid-Afrika se weermag te wees?

Die SANW se take word basies voorgeskryf en omskryf in die Verdedigingsoorsig (Defence Review) van 2015. Dit kom daarop neer dat die SANW (wat die leër, lugmag en vloot insluit) steeds voorbereid moet wees op die basiese verdedigingsfunksie rakende die beskerming van Suid-Afrika se gebiedsoewereiniteit, maar telselfdertyd aandag moet gee aan die take wat aan hom opgedra word wat verband hou met die nietradisionele rolle, soos ek reeds verduidelik het.

Dit behels ’n verskeidenheid buitelandse en binnelandse rolle en verantwoordelikhede en dit verg goeie politieke bestuur van die verdedigingsportefeulje, goeie leierskap in die SANW, deeglike strategiese beplanning, befondsing, goeie benutting van toerusting, opleiding, en so meer.

Beskou jy Suid-Afrika se weermag as doeltreffend en opgewasse vir die uitdagings wat hul in die gesig staar, plaaslik en internasionaal?

Die SANW doen goed onder baie moeilike omstandighede – die openbare kritiek op die SANW ten spyt. Die begroting van die SANW het in die afgelope drie dekades jaar na jaar bly afplat tot waar dit nou amper ’n kwart van die SAPD se begroting is.

Dit is algemeen bekend dat die regering baie hoë eise aan die SANW stel, byvoorbeeld om as ’n buitelandsebeleidsinstrument in die Demokratiese Republiek van die Kongo aan die VN se vredesoperasies deel te neem en terselfdertyd binnelands te help om bendegeweld op die Kaapse Vlaktes te bekamp, tot die belangrike funksie van die patrollering van ons baie lang landsgrense. Laasgenoemde is ’n enorme taak en dikwels in die nuus sover dit gaan oor sake soos onwettige oorgrensbewegings uit Zimbabwe, veediefstal in die Oos-Vrystaat vanuit Lesotho, en selfs renosterstropery na aan die Mosambiekse grens. Die vloot moes ook byvoorbeeld in die afgelope jare help met die bekamping van seerowery uit Somalië wat tot so laag as die Mosambiekse kanaal afgekom het en ’n bedreiging vir handelsroetes inhou.

Dit verg alles baie hoë uitgawes aan die instandhouding van duur toerusting. Met die finansies wat die SANW tot sy beskikking het, word die spreekwoordelike bloed uit ’n klip getap, ofskoon daar ook regverdige kritiek op die SANW is oor hoe hy soms sy gebrekkige fondse bestuur.

Met dit alles gesê, wag daar ook nog die moontlike betrokkenheid van die SANW in die noordelike dele van Mosambiek waar Islamitiese terroriste in die Cabo Delgado-provinsie nou ’n al groter veiligheidsbedreiging vir die streek inhou en menselewens verwoes, asook ’n bedreiginging inhou vir die olie-installasies in Mosambiek waar Suid-Afrika belange het.

Dit alles stel hoë eise, en die feit dat die SANW met ’n klein begroting moet klaarkom, het in ’n groot mate met gebrekkige politieke bestuur te make, terwyl sommige politici in die gesamentlike staande komitee oor verdediging nie juis veel van die kompleksiteit van die verdedigingsporteuelje verstaan nie. Met al dié uitdagings verwag Suid-Afrikaners dat die SANW te alle tye ons binnelandse en buitelandse uitdagings die hoof moet kan bied.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top