Ontmoet die derde-prys-wenner van LitNet Akademies Kuberklas se wetenskapfiksiekompetisie

  • 0

LitNet Akademies Kuberklas het in 2012 die grootste wetenskapfiksie-kompetisie vir hoërskoolleerders in Afrikaans aangebied. Leerders van graad 10 tot 12 het stapels inskrywings gestuur. (Lees al die inskrywings hier.)

Die beoordelaars, Lauren Beukes, Koos Kombuis, Fanie Viljoen, Elzette Steenkamp en Dirk Laurie, is skrywers, navorsers en kundiges op die gebied van spekulatiewe of wetenskapfiksie. Stephan Bester het derde plek behaal:

Derde plek: Stephan Bester, Curro Heuwelkruin

"Ek is al van kleins af goed met woorde en stories vertel. Alhoewel ek daardie “talent” gebruik het om my soms – die meeste van die tyd – uit die moeilikheid te kry, was ek nog altyd seker ek sou dit ten minste eendag kon gebruik vir iets nuttigs. Ek is eintlik eers van Julie af ’n Curro Heuwelkruin-leerder , maar ek dink ek het die regte besluit geneem, anders sou ek nooit hierdie kans gekry het nie. Wel, ek het nooit gedink dat ek só ver kon kom met skryf nie. Ek het in my lewe menigte pogings aangewend om kortverhale en selfs ’n boek te skryf, maar, ja, dinge werk nie altyd uit soos wat ’n mens beplan nie. Alles gebeur egter om ’n rede."

Lees "Eksperiment AL1: ALONe" hier.

Naomi Meyer het vir Stephan Bester 'n paar vrae gevra:

Hallo Stephan, vertel ons nog van jouself: Wat doen jy as jy nie bobaas-wetenskapfiksieverhale skryf nie?

Wel ... Ek hou nogals van teken en skilder. Ek het eers in September my heel eerste waterverfskildery klaargemaak, haha. En toe nou onlangs olieverf gebruik (wat nogals 'n gesukkel is) en maar net gespeel. Ek het ook begin 2012 vir my belê in 'n compound bow. Eintlik in effek speel ek maar klavier. Lees. En verf. O, en kyk televisie.

Waar het jy te hore gekom van die kompetisie?

My Afrikaans-onderwyseres het vir ons die een dag 'n opdrag gegee om 'n 1 000-woord-opstel te skryf om ons jaarpunte te verbeter. Almal was ontsteld en kwaad daaroor, maar ek het ongelooflik bly geraak. En ek was by die dak amper uit van genot toe ek hoor die onderwerpe het te doen met wetenskapfiksie.

Wat was die inspirasie vir jou storie? Het die kompetisie jou ‘n idee gegee of broei die gedagte al lank in jou kop?

Wel, as jy die meeste skrywers of digters vra, gebeur dit soms dat jy eendag skielik 'n idee kry en weet dit gaan briljant uitwerk. Maar dan vergeet jy daarvan net voordat jy by 'n notaboekie uitkom. So eintlik weet ek nie. Maar die storie het eintlik maar homself geskryf. Ek het net geskryf wat my ADD-brein vir my gegee het.

Kyk jy wetenskapfiksieflieks of lees jy wetenskapfiksieboeke? Wie is jou gunsteling-skrywers of -akteurs?

Ek is mal oor enige rolprent. Ek is. Eintlik meer getrek na superhelde-flieks. Haha. Vreemd vir my, maar ja. Dit is my voorkeur. Ek is mal oor die fliek Aeon Flux! Ek is eintlik op soek na die volgende boeke in die reekse geskryf deur Rick Riordan. Hy is 'n meesterskrywer in die wetenskapfiksie-genre. Of altans mitologie. Hy het die Percy Jackson-, Heroes of Olympus- en The Kane Chronicles-reekse geskryf.

Dink jy dis belangrik om wetenskapfiksie juis in Afrikaans te skryf?

Dit is belangrik, want mense deesdae wil aksie en dinge hê wat nie regtig gebeur nie. So hulle lees eerder wetenskapfiksie. En daar is soms so min in Afrikaans dat hulle eerder Engels sal lees.

Sal jy in die toekoms voortgaan om te skryf?

Definitief. Ek gaan sekerlik 'n ander rigting swot, maar ek sal altyd skryf. Solank as wat dit moontlik is. Ek was genader deur my drama-juffrou om selfs te help om 'n toneelstuk te skryf.

Wat sê die beoordelaars?

Koos Kombuis:

"ALONe": Die storie begin briljant, maar verval baie vinnig in voorspelbaarheid en verveling. Die skrywer het dalk goeie idees, maar moet meer lees om uit te vind wat ‘n storie werklik ‘n storie maak.

Fanie Viljoen:

"ALONe": ’n Paar goed laat hierdie verhaal uitstaan. Eerstens het dit ’n slim titel, en dan, anders as ander verhale, het hierdie een ’n ek-verteller. Dit bring die gebeure nader aan die leser. Laastens hou ek van die tema van die bevryding wat volg uit die knoop in die storie se stert.

 

Kyk wat wen Stephan.

Klik hier vir nog inligting oor hierdie kompetisie.

Geborg deur:

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top