Ons wag op die kaptein1 – Ramaphosa en verspeelde kanse
Ná ’n buitengewone lang gewag en 90 minute laat, met ’n president wat “in der dagen zat” op televisie voorkom, word die kabinet uiteindelik geskommel!
Wat vreemd is van die kabinetsveranderinge en -aanstellings in Maart 2023, is dat president Ramaphosa reeds sedert sy verkiesing in Desember 2022 weet dat hy sy kabinet sal moet verander en aanpas. Dit was duidelik dat sy adjunkpresident DD Mabuza nie meer sy adjunk sal kan bly nie en naas bestaande vakatures moes Fikile Mbalula ook sy kabinetspos ontruim omdat die pos van ANC sekretaris-generaal ’n voltydse aanstelling in die ANC se politieke strukture is. Maar waarom die lang gewag? Moet ons aanvaar dat Ramaphosa net nie in staat is om vinnige besluite te neem nie? Moet ons nou aanvaar dat Ramaphosa met ’n stewige oorwinning tydens die Nasrec II-nasionale konferensie steeds sy tyd sal neem om besluite te neem of moet ons uiteindelik aanvaar dat hy nie so stewig in die beheer van die ANC is as wat algemeen aanvaar word nie? As hy nie as onbetwiste leier van die ANC besluite kan neem nie, wie neem dan die besluite?
...........
"Wie was die wenners en wie was die verloorders in die kabinetskommeling?"
...........
Kom ons bekyk sy nuutste aanstellings en verskuiwings en probeer vasstel wat hier aangaan. Ná ’n verskoning oor die tydsduur wat na niks geklink het, vertel Ramaphosa dat die nuutste aanstellings net voorlopige aanstellings is en alhoewel hy twee nuwe poste in die kabinet skep, dit sy langtermyn plan is om die kabinet aansienlik kleiner te maak. Daar is beslis baie ruimte om die kabinet van ministers en adjunkte aansienlik kleiner te maak, maar dit gaan hy oorhou na die sewende administrasie toe, wat waarskynlik op 1 Junie 2024 gaan begin. Suid-Afrika is tans in die sesde administrasie van regering sedert 1994 en Ramaphosa wys daarop dat daar ongeveer ’n jaar van die administrasie oor is, en dat hy nie nou grootskaalse strukturele veranderinge wil aanbring nie – iets wat hy plegtig onderneem het toe hy by die korrupte Zuma-administrasie oorgeneem het. In 2019 is die kabinet verklein van 36 na 28 ministers, maar die adjunkte het op 36 gebly. Met die nuutste wysiging is die kabinet weer op 30 lede en die adjunkte steeds op 36, wat ’n totaal van 66 ministers en adjunkte opmaak. Dit is buiten die president en die adjunkpresident.
Die adjunkpresident
Daar is wyd bespiegel dat ’n deel van die vertraging om die kabinet te wysig te doen gehad het met die posisie van die adjunkpresident. Die ANC-tradisie en -gebruik is dat die adjunkleier van die party ook adjunkpresident van die land word. Die posisie is nie ’n verkose posisie soos dié van die president nie, maar die persoon word deur die president aangewys. Daar kan selfs na die adjunkpresident verwys word as ’n senior minister en kan deur die president afgedank word, soos wat met Jacob Zuma onder Thabo Mbeki gebeur het. Dit verklaar ook deels Ramaphosa se stilswye onder Zuma toe die staatskaping hoogty gevier het. Daar was mense wat beweer dat Zuma by ’n paar geleenthede oorweeg het om Ramaphosa af te dank. Paul Mashatile was nie Ramaphosa se keuse as adjunkleier van die ANC nie, maar tog het Mashatile die meeste stemme op hom verenig en so het hy in die top-sewe beland as die adjunkleier van die ANC. Voor Nasrec II was daar selfs bespiegel dat Mashatile die presidentskandidaat kan wees as die Phala Phala-krisis Ramaphosa se kop eis. Dit het nie gebeur nie, maar Phala Phala bly op die horison soos ’n dreigende politieke storm vir Ramaphosa en die ANC-leierskap. Met Paul Mashatile as adjunkpresident is daar ook ’n eie politieke dinamika aan die ontwikkel oor die volgende paar jaar en dit is van die jonger leiers in die ANC wat hom reeds in Ramaphosa se posisie sien in 2026 of 2027 (mits hulle natuurlik by 2024 verby kom!) en amper Ramaphosa as ’n oorgangsfiguur begin beskou. Adjunkpresident Mabuza, Mashatile se voorganger, het nooit daardie soort bedreiging vir Ramaphosa ingehou nie.
Nuwe aanstellings
Voordat Ramaphosa die lys van aanstellings bekend gemaak het, het hy die fokus van die Ramaphosa-administrasie weer aan die orde gestel en die volgende faktore as fokuspunte genoem, naamlik die kwessie van beurtkrag, werkloosheid, armoede-verligting, lewenskoste-stygings, misdaad en korrupsie. Vir die res van sy toespraak het hy grootliks oor die nuwe ministerie van elektrisiteit gepraat en wat die rol van die nuwe minister in die presidensie dr Kgosientso (Sputla) Ramokgopa gaan wees. Op ’n manier was Gwede Mantashe toe reg toe hy na die nuwe pos as ’n “projekbestuurder” verwys het. Ministers gee gewoonlik leiding aan die hand van hulle politieke beheer en beleid, maar vir Sputla Ramokgopa gaan dit egter ’n taak wees wat eintlik vir André de Ruyter beskore moes wees, maar hy het geen politieke rugsteun gehad nie. Die ander nuwe ministerie is ook in die presidensie en toevallig ook aan Ramokgopa toevertrou. Dit is die ministerie van beplanning, monitering en evaluasie onder die leiding van Maropene Ramokgopa, ’n betreklik-jong dame wat in Desember verkies is as een van die adjunksekretaris-generale van die ANC.
Die presidensie het nou ná die nuutste aanstellings benewens die president en die adjunkpresident, vier ministers en vier adjunkte wat dit duidelik ’n swaartepunt in die staatsadministrasie maak. Minister Khumbudzo Ntshavheni sal verantwoordelik wees vir die staatsveiligheidsagentskap, nadat die ministerie 18 maande gelede opgeskort is. Minister Maropene Ramokgopa word op 42 die minister verantwoordelik vir beplanning, monitering en evaluasie en dr Nkosazana Dlamini-Zuma word minister vir vroue, jeug en mense met gestremdhede. Die pos is ’n afgradering van die ministerie wat Dlamini-Zuma voorheen bestuur het by plaaslike regering en tradisionele sake. Die vierde minister is natuurlik Sputla Ramokgopa wat die minister van elektrisiteit gaan wees. Die vier adjunkministers in die presidensie sal wees Nomasonto Motaung, Sisisi Tolashe, Kenny Morolong en Pinky Kekana. Laasgenoemde twee beide uit die Noordwes-provinsie afkomstig.
Wie was die wenners en wie was die verloorders in die kabinetskommeling?
Daar was minstens vyf verloorders in hierdie kabinetsverandering, naamlik Lindiwe Sisulu wat haar pos kwyt is, so ook Nathi Mthethwa (die man van die reusevlagpaal) en Maite Nkoana-Mashabane en adjunkminister Phumulo Masualle uit die Oos-Kaap wat tydens Nasrec II so hard teen Ramaphosa gewerk het. Die vyfde verloorder is natuurlik Dlamini-Zuma, wat nou die mindere ministerie in die presidensie oorneem wat voorheen deur Nkoana-Mashabane hanteer is. Dit is vreemd dat Dlamini-Zuma die aanstelling aanvaar het, tensy daar in die agterkamers van die onderhandelinge die afgelope twee maande ’n ooreenkoms met KwaZulu-Natal aangegaan is. Nog iemand wat voorheen ’n minister was en steeds ’n adjunkminister van water en sanitasie bly, naamlik David Mahlobo uit Mpumalanga, kan as deel van die verloorspan gesien word.
Die eerste groep wenners is natuurlik die ou garde wat soveel kritiek die laaste paar maande moes deurmaak en wat in hulle poste gebly het soos minister van polisie, Bheki Cele, minister van mynwese en energie, Gwede Mantashe, minister van staatsondernemings Pravin Gordhan en die minister van hoëronderwys dr Blade Nzimande. Daar was egter nuwe aanstellings wat ook duidelike wenners was. Eerste onder hulle is die voormalige premier van KwaZulu-Natal wat in 2022 sy pos verloor het en nou die nuwe minister van openbare werke en infrastruktuur word, Sihle Zikalala. Dit erken sy rol in KwaZulu-Natal en hy kry nou beheer oor een van die departemente met die grootste begroting. Mondli Gungubele beweeg uit die presidensie en word nou minister van kommunikasie en digitale tegnologie; Zizi Kodwa word bevorder van adjunkminister na minister van sport, kuns en kultuur, ten spyte van die voorbehoude wat die Zondo-kommissie oor hom gehad het. Nog ’n wenner is Patricia de Lille wat in die kabinet bly as lid van die GOOD-party en die toerisme-portefeulje kry. As iemand wat van die openbare oog hou, sal sy sekerlik die sokkerborgskap van die Tottenham Hotspur kanselleer op die eerste dag op kantoor, wat onder Lindiwe Sisulu aangegaan is.

Cyril Ramaphosa in 2018 (Foto: ITU Pictures [CC BY 2.0], via Wikimedia Commons)
Waarheen nou?
Die pad vorentoe vir Ramaphosa en die ANC is die hantering van die kragkrisis in die land ter voorbereiding van die 2024-nasionale verkiesing, waar elke episode van beurtkrag die ANC ’n paar stemme kos. Die aanstelling van die kragminister is deel van ’n oorspanne verwagting wat die ANC by monde van Ramaphosa skep dat beurtkrag teen Mei 2024 opgelos sal wees. Die meeste kenners meen die tydsraamwerk is eerder twee tot vyf jaar en nie 12 maande nie. Uit die kabinetskommeling kan ’n paar ander afleidings ook gemaak word, naamlik dat Cyril Ramaphosa, ten spyte van sy goeie oorwinning by Nasrec II in Desember 2022, nie soveel beheer oor die ANC het nie. Besluite oor die rigting wat ingeslaan word, word vir hom geneem, en nie deur hom nie. Die Ramaphosa-faksie in die ANC het grootliks die samestelling van die kabinet bepaal, saam met die ou garde wat Ramaphosa deur die donker dae van Phala Phala in Desember 2022 gehelp het. Dieselfde groep het ook die beheer van die ANC-werkkomitee oorgeneem en Ramaphosa as opponent uitgewerk. Die wesentlike vraag wat finaal gevra moet word, is of Ramaphosa nou ’n span het wat hom kan lei na ’n oorwinning in die 2024-verkiesing met hierdie kabinetskommeling en dit lyk tans nie of die wind in die regte rigting vir Ramaphosa waai nie.
Theo Venter
Professor in praktyk, UJ Skool vir Besigheid en Ekonomie
Eindnota:
1 Met erkenning aan Elsa Joubert, Ons wag op die kaptein (1963).


Kommentaar
... maar, per slot van rekening en na al die baie gepraat en gedurige analises – het die dom regses nie PRESIES hierdie toestand voorspel nie?