Ons eie Kleuterbybel deur Juliana Nothnagel en Johann Strauss: ’n teologies-estetiese perspektief

  • 1

Ons eie Kleuterbybel deur Juliana Nothnagel en Johann Strauss (Lux Verbi, 2024)

Titel: Ons eie Kleuterbybel
Skrywers: Juliana Nothnagel en Johann Strauss
Uitgewer: Lux Verbi
ISBN: 9780796318541

Op die voorbladskets van die nuwe Ons eie Kleuterbybel (Lux Verbi, 2024) is Jesus omring met vrolike, nuuskierige kinders, terwyl volwassenes ook nader staan. Behalwe dat dit ’n treffende en gepaste keuse is vir die buiteblad, is dit inderdaad wat gebeur het toe ek die boek by ’n klompie kinders wou toets: Die grootmense kon dit ook nie weerstaan nie. 

Die rede is ongetwyfeld die illustrasies: Prettige en karaktervolle kuns deur een van Suid-Afrika se voorste illustreerders, Johann Strauss. Ander Bybels vir kleuters en kinders se sketse is dalk waardig, maar hierdie is eietyds en vars. Die aardse kleurskemas pas by die antieke verhale, maar elke karakter is uniek en selfs die diere het herkenbare gesigsuitdrukkings! Die lettertipe en uitleg speel saam om ’n heerlike leeservaring vir oud en jonk te verseker. 

........
Behalwe vir volpunte vir die visuele ervaring, verdien die boek ook onderskeiding vir taalgebruik en teologie.
........

Behalwe vir volpunte vir die visuele ervaring, verdien die boek ook onderskeiding vir taalgebruik en teologie. 

Die verhaalgrepe is die ideale lengte vir voorlees vir kleuters en selflees vir groter kinders, met goeie gebruik van dialoog. Die uitgewer se doel is om die verhale so eenvoudig moontlik oor te dra met inagneming van die kleuter se woordeskat, en hierin slaag Nothnagel met vlieënde vaandels. Sy laat eenvoud maklik lyk, wat dit beslis nie is nie. Sinne is kort en maklik verstaanbaar; daar is nie een oomblik wanneer die leser wonder wat bedoel word nie. 

Die doel van die Kleuterbybel is om aan kleuters – en selfs volwassenes – die blye boodskap van die evangelie te vertel. Daarom is dit nie lukraak saamgestel uit losstaande Bybelverhale nie, maar weef dit die draad van die heilsgeskiedenis deur, van Genesis tot Openbaring. 67 verhale wat die sentrale boodskap van die Bybel help oordra, is gekies. Die teoloë en opvoeders wat die samestelling vermag het, het dus ’n bepaalde perspektief gekies vir hierdie Kleuterbybel, wat bydra tot ’n besonder hoopvolle boodskap. God se liefde vir en verhouding met mense staan voorop, met die volvoering van die heilsplan as uiteinde. Die laaste twee verhale met hul sketse uit onderskeidelik Handelinge en Openbaring bring die vertelling tot in die huise van vandag se lesers. 

Hoewel die teologiese perspektief deursigtig en toeganklik is, was dit tog vir my heerlik dat my toetsgroep se kinders my deurentyd wou peper met vrae! Dit bevestig dat die Bybel nie kitsoplossings of bewapende versies bied nie, maar ons juis innooi tot gesprek met God en met mekaar. Hoe ironies dat juis ’n verhalende Bybel wat geskryf is vir kleuters, ’n volwassene kan herinner aan die kompleksiteit en verreikende invloed van eenvoudige vertellings. 

In ’n tyd waarin die uitleef van geloofsgewoontes vir ons almal ’n uitdaging bied, kan die gesamentlike lees van ’n verhaal uit ’n eenvoudige Kleuterbybel ’n hele gesin betrek tot ’n intergenerasionele leermoment (’n probleem waarmee die teologie juis tans worstel). 

Hoogtepunte is moeilik om uit te lig, maar die volgende verdien vermelding: die vyf verhale oor Josef (Genesis 37 tot 46) en veral die verhelderende vertellings en sketse by die vyf verhale oor Moses (Eksodus 2 tot 20) uit die Ou Testament; uit die Nuwe Testament is dit vanselfsprekend die vertellings oor Jesus self. Kyk gerus hoe spring die lam man wat weer kan loop uit Johannes 5, dis te pragtig! Die dialoog en gesigsuitdrukkings by “Jaïrus se dogtertjie” (bladsy 111) en “Jesus het die kindertjies lief” (bladsy 122) is onverbeterlik.

Daar is wel een teologies-estetiese opmerking waarvan ek my nie kan weerhou nie. As leraar verras ek dikwels mense wanneer ek opmerk dat die Bybel nêrens vermeld dat engele vlerke het nie. Ongetwyfeld het die meeste van ons daardie idee in ons Kinderbybels opgetel, en hierdie een gaan dit dus voortsit. (Die engele is pragtig geteken, moenie my verkeerd verstaan nie; hulle is karaktervol en gevarieer.) Maar in die Bybel word gerubs en serafs beskryf as gevleuel, nie engele nie. As boodskappers van God, lyk hulle soos mense, soms glansend of met wit klere aan. Gedurende die vroeë tyd in die kerk is daar in die beeldende kuns geleen van die Grieks-Romeinse mitologie se Hermes of Mercurius, wat die boodskappers van die gode van Olympus was, met hul vlerkies aan die voete. En so het die Bybel se engele toe ook vlerke gekry. 

Bogenoemde is egter skrale kritiek op ’n uitstekende produk wat elke sent sal werd wees, glo ek. My hoop is dat vele gesinne die skat van God se pad met die mensdom met hierdie boek sal herontdek. 

Lees ook:

Die gawe van groen: ’n onderhoud met Elmarié Dercksen

Goue lint, my storie begint-rubriek: die waarde van illustrasies in kinderboeke

Leesbegrip? ’n Kinderboek kan jou kind se wêreld oopbreek

Volwassenes moet lees sodat kinders stories kan vind

  • 1

Kommentaar

  • Barend van der Merwe

    Hoe meer die tyd aanstap, hoe verder verwyderd van ons word die Bybel. Die wêreld van die Bybel is grotendeels nie vandag meer relevant nie. Dis 'n heteronormatiewe en patriargale boek. Vroue in die Bybel word uitgebeeld as kommoditeite wat verhandel word. Liefdevolle monogame selfdegeslagverhoudinge is afwesig in die Bybel. Die Bybel krioel van voorwetenskaplike mites en bygelowe. Slawerny word as normaal aanvaar in die Bybel. Daar is baie beter boeke vir kinders om te lees. Die Bybel kon goeie leesstof gewees het vir kinders. Daar is interessante en boeiende verhale in die Bybel. Van dit, meesterstukke uit die antieke wereld. Ikonies en nodig van om kennis te neem, omdat dit in so baie kulturele kontekste opduik. Maar omdat die Bybel as 'die woord van God' gesmous word, doen dit ongelooflike skade. Gereeld stig nuwe groepe af, met nuwe, meer bisarre interpretasies van 'God se Woord'. Jesus en sy tempelgaande volgelinge, wat deel is van 'n antieke offerkultus, en nooit teologiese leerstellinge soos triniteit en soenofferteologie geken en verkondig het nie, klop glad nie met moderne Christene en hulle megakerke nie.

    Die anderdagmore toe woon ek 'n preek by. Die dominee preek uit Psalm 23. Die Here is my Herder. Niks sal my ontbreek nie. Niks sal my ontbreek nie... eggo dit in my kop. Maar die kerk bly by uitstek die plek waar mense in gebreke bly. Hulle bid en bid, en smeek vir voorspoed, geld, besittings, sukses. Hulle skeur, doleer, stry en baklei oor wat oor die geskrifte. Hulle versplinter in duisende denominasies met teenstrydige interpretasies.

    Die Bybel los niks op nie. Dis goeie vermaak en bied interessante stories. Die Bybel skep net meer en meer probleme. Weens al die bagasie wat die Bybel saamdra. Elke kind wat die Bybel lees, behoort saam daarmee 'n boek te lees soos Sakkie Spangenberg se Bybelstories in Perspektief.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top