Skryfkompetisie: "Ongetiteld"

  • 1

Ek ken ’n vrou
wat met lippe dún
en koppie skeef jou in jou vaart kan stuit
plaashek of skuurdeur sonder moeite oop kan beur
koeie melk en kepsies brei
om só haar kind op skool te hou
koedoe slag en biltong maak
dan nog ook die deeg te knie
met vuiste wit van meel
die suurdeegreuk wat netnou nog ’n brood gaan word.
Die inlê van koejawels en geel kwepers
die tiekies in die poeding 
waar kinders vraatsig smul om tog net nog een te kry.
Ek ken ’n vrou 
wat hou van dans en jolig wees
wat gemmerbier en tertjies maak
om só die vriende te bederf.
Wat feetjies verf
en blomme kleur sodat selfs die soete geur 
die kamer vol kan hang.
Ek ken ’n vrou
wat boeke lees van verre lande
en saamgesels oor dinge van die dag
en lag 
selfs al is dit effens stout.
Ek ken ’n vrou 
met moeë hande
wat bleek en koud gevou lê op haar bors
die are blou en dik
waar bloed nog traag gestoot word na die hart
om vir oulaas te laat los
van kind
en kraai.

Skryf hier in:

Vrouedag-skryfkompetisie: ’n Vrou wat ek onthou

  • 1

Kommentaar

  • Loretta Szikra

    Ai, hoe laat jy my nou na my ouma en keintyd op die plaas verlang. Ek sien die prentjie so helder.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top