
Prente (links): Canva; logo van die SAAWK: https://www.akademie.co.za/
Die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns (SAAWK) verwelkom verdere gesprekke oor twee klousules wat handel oor taal en toelating soos vervat in die Wysigingswet op Basiese Onderwyswette (Bela). Indien die wetgewing in sy huidige formaat toegepas word, hou dit ’n bedreiging in vir moedertaalonderrig op basieseonderwysvlak. Dít geld nie net vir Afrikaanse skole nie, maar vir enige gemeenskap wat, waar dit redelikerwys doenlik is, sy Grondwetlike reg tot onderrig in die amptelike taal van sy keuse wil uitoefen.
Daar is voldoende navorsing wat aandui dat moedertaalonderrig ’n beduidende bydrae lewer tot uitsette van hoë gehalte. Wanneer leerders op basieseonderrigvlak goed presteer word die grondslag vir suksesvolle hoëronderwysopleiding gelê wat leerders in staat stel om ’n positiewe bydrae tot die Suid-Afrikaanse landskap te maak.
Voorts bevorder die SAAWK onder meer wetenskapsbeoefening in Afrikaans. Dít begin reeds op basieseonderwysvlak. Indien ’n taal as onderrigtaal verskraal word, het dit ’n negatiewe effek op die wetenskapsbeoefening in daardie taal wat weer ’n uitwerking het op die ontwikkeling van ’n taal se vakterminologie en navorsingsuitsette in daardie taal.
In hierdie lig beskou, doen die SAAWK ’n beroep op die regering om beginsels van samewerkende regering toe te pas deur die vennootskap tussen staat en skool te versterk en gemeenskappe se demokratiese reg op inspraak in hulle skole te beskerm.
Lees ook: