Karin Mitcham het onlangs by LitNet aangeklop sodat sy haar klas kon help om 'n gedig van Ingrid Jonker te interpreteer. Lees haar navraag hier.
Helize van Vuuren, akademikus, buitengewone professor en navorser by die Nelson Mandela Metropolitaanse Universiteit, deel goedgunstiglik 'n ongepubliseerde artikel deur haar en twee van haar studente met dié leser.
Klik op die skakels hieronder om dié hulpmiddel en ook 'n artikel wat in Perspektief en profiel verskyn het, af te laai.
- Ongepubliseerde artikel: Lied en liriek: ’n ontleding van die teks en toonsetting van vier Ingrid Jonker gedigte
- Uit Perspektief en profiel: Ingrid Jonker (1933–1965)


Kommentaar
Dankie vir hierdie addisionele inligting. Met respek, ek stem egter nie saam nie.
Die vraagstuk hier is vir my die volgende:
Hoe sien mens in die gedig dat dit op die verbrokkeling van 'n liefdesverhouding handel?
Hoe kan haar latere selfmoord hierby ingetrek word, met inagneming van biografiese gebeure?
Hoekom word die verwysing na 'lyk' letterlik opgeneem, maar die res van die gedig word figuurlik bespreek?
Daar is niks in die gedig wat daarop dui dat dit wel 'n liefdesverhouding was nie. Die goue reël in gedigte is dat daar 'n verduideliking volg op 'n dubbelpunt. Sy stel duidelik dat sy uit HIERDIE Valkenburg ontvlug HET (verduideliking volg)
en
dan stel sy weer dat die god (merk die kleinletter vir "god" wat kan dui op haar ontevredenheid / geen respek vir die sg "god" nie) wat die persoon (wat hier genoem word) geskep het, het dit gedoen net sodat sy smart kan ervaar (moedswillige aksie?) en dan volg 'n verduideliking. Die 'uitgespoelde lyk' beeldspraak dui hier eerder op die dooie herinneringe waarvoor sy dan nou totsiens gesê het.
As mens haar lewenservaringe by die gedig in ag neem, blyk dit dat niemand in ag geneem het dat sy in 1956 getrou het nie, sekerlik was sy nie ongelukkig in hierdie tyd nie? Die oorhoofse gedagte steek vas by haar latere selfmoord, maw die meeste ontleders neem aan dat sy haar spesifieke manier van selfmoord reeds voor die geboorte van haar dogter beplan het ... Dit kan mos nie logies sin maak nie.
Ek het ook bietjie gaan kyk na vorige ontledings van hierdie gedig. Dit blyk dat almal hierdie selfde trant volg, amper woord-vir-woord. Die afleiding wat ek hieruit maak is dat daar iemand was wat oorspronklik hierdie ontleding op hierdie manier gedoen het en dat almal maar dit as die gebooie van hierdie gedig beskou het.
Blyk dit nie eerder dan dat die gedig handel oor die ontsnapping (uit 'n kranksinnige / deurmekaar situasie / gedagteveld) wat reeds plaasgevind het en daardeur die aanvaarding / vrede wat daarmee saamgaan nie?
U terugvoer sal baie waardeer word.
Vriendelike groete.
Die antwoord lê in die woord "traumatisering" en die psigiese aard van Jonker se gedrewenheid weens besonder moeilike omstandighede (getraumatiseerde moeder, verskeie vorige amper-verdrinkings en die sentrale pole van "Valkenburg" - as plek van opname en ontsnapping uit die onhoudbare lewe, versus "Gordonsbaai" - plek van gelukkige kinderdae langs see met geborgenheid by ouma, maar oor deurbreek deur moeder se psigiese geknaktheid. 'n Komplekse psigiese samestelling met allerlei neuroses, soos die angs vir verdrinking van vroeg af, aangehelp deur herhaalde episodes al van vroeg van amper-verdrinking. Die gedig word dus gelees as 'n profetiese visie op en insig in haar eie lewe, wisselend tussen ontvlugting uit die lewe in "Valkenburg" en relatief gelukkig lewe, soos in "Gordonsbaai" vir steeds korter tye. 'n Soort manies-depressiewe toestand as mens so ver wil gaan. Alles word egter besonder konkreet voorgestel omdat dit 'n gedig is wat werk met implisiete taalgebruik en beelde. Niks is presies vaspenbaar nie, niks is eenduidig in 'n gedig nie. Vanselfsprekend lees 'n mens vandag die gedig teen haar uiteindelik selfdoding deur in die see by Drieankerbaai te loop, een nag in 1965, na sy te veel gedrink het, en weens die uitsigloosheid van haar lewe op daardie stadium.
Die oorvleueling van "vorige ontledings van hierdie gedig" met die ontleding aan u gebied as hulpmiddel in bostaande ongepubliseerde artikel, is omdat die insigte, deur hoogs-opgeleide lesers en toonaangewende kritici, almal ooreenstem oor die mees oortuigende interpretasie van die vers. Dis in alle gevalle gebaseer op stiplees VAN WAT IN DIE GEDIG en IN DIE RES VAN HAAR OEUVRE te lese is, teen die agtergrond van die outobiografie van Ingrid Jonker, plus 'n boek deur haar destydse sielkundige, wie se naam my nou ontgaan. Die kern van die saak is 1) die titel, "Ontvlugting", wat 'n eufemisme is vir a) opname in Valkenburg en b) selfdoding, 2) die plekname, Valkenburg en Gordonsbaai, 3) haar liefde vir die see en band met see as 'n soort vertrooster/geliefde/minnaar. Intiem geskakel met sowel die titel as met die pleknaam "Gordonsbaai", is die see. Al drie elemente sentraal in die vers is dus nou met mekaar verbonde. Dit is wat die uitbeelding van die gesuggereerde gemoedstoestand in hierdie vers so voortreflik uitbeeld. Als word konkreet gemaak. Dis 'n skrynende vers. Dis ook 'n buitengewoon voortreflike vers wat 'n hele lewe se spanninge en tragiek van 'n jong lewe saamvat in sy kort omtrekke en sentrale beelde.
Waaroor val nou nog te redenere?
Sela!