
Wendy Anthonie het LitNet se onlangse reisskryfkompetisie gewen. Lees haar wenverhaal hier.
Naomi Meyer het by haar gaan hoor waarheen sy graag reis as dit nie na binne is nie, en wat toe van die geel bus?
Wat is die belangrikste ding wat lesers van jou moet weet?
Maar net dat ek ’n Karookind is groot wat groot droom en styf vasklou aan my pa se filosofie: “If you can see it, you can be it!” Ek het ook ná breinsjirurgie besef ek moet elke dag boordensvol stop met waag en leef, want dit kan weliswaar my laaste dag op aarde wees.
Het jy regtig met die rooi lorrie gereis of was dit fiksie?
Ek het die reis met die rooi lorrie inderdaad onderneem, en niks is fiktief nie. Ek was in standerd 6 (graad 8) – 1968.
Gaan jy graag op reis na interessante plekke en indien wel, waarheen?
As gevolg van finansies en my betrokkenheid by my amateurdramagroep kan ek nie so baie reis nie. Indien wel, is dit altyd na plekke naby die see. Kaapstad bly my gunstelingstad.
Hoekom het jy besluit om hierdie reis as keuse vir jou storie te gebruik?
Die storie herinner my nog altyd aan my prille jeug en hoe ons die swaarkry met lekkerkry klaargekry het. Om na ’n buurdorp te reis was vir my soos om Kaapstad toe te reis! Tydens hierdie reis het ek ook vir die eerste maal aan die dood gedink.
Het jy al tevore geskryf, en indien wel, was dit kortverhale?
Ek skryf elke dag van my lewe. Ek skryf onder die naam INKkoors in ons plaaslike koerant. Ek het al baie wenbriewe en artikels op my kerfstok – Rapport en bekende tydskrifte soos Rooi Rose en Sarie. Ek skryf dramas en gedigte op versoek. Het self al meer as tien teaterproduksies op die planke gebring.
Jy verwys na jou "onthou-verhale" – wat is dit en hoekom skryf jy hulle?
Hierdie onthouverhale het gestalte gekry toe ek gediagnoseer is met hierdie verpestelike breingewas en ek geglo het ek gaan sterf. Ek het staaltjies uit my kinder- en jeugtyd begin neerpen sodat my kinders en kleinkinders dit kon lees. Ek het die operasie oorleef, en die skrywery het voortgegaan. Kort voor lank het ek met bykans 50 stories gesit. Ek vertrou sterk daarop dat my bundel stories en KAKtus-woordeboek (oor die 2 000 tuistaaljuweeltjies) eendag sal realiseer.
Wat is jou ideale wêreldbestemming?
Hawaii het nog altyd my hart vinniger laat klop. My troue se tema was “An evening in Hawaii”.
Wanneer laas was jy in Stellenbosch en wat beoog jy om hier te doen?
Ek was laas in 2009 daar toe my dogter haar meestersgraad verwerf het. Omdat daar nooit tyd was nie, sal ek graag hand aan hand met my romeo deur die strate en langs die watergragte wil stap om ’n idee van ’n ouwêreldse Stellenbosch te kry. Ek wil graag ook ’n wynplaas aandoen vir ’n lekker proesessie.
En wat toe van die geel bus?
Ek het ’n hele paar keer met die geel bus gery. Anders as die lorrie, wat slegs twee piepklein vensters gehad het, het die bus hope gehad, maar die sitplekke was van metaal/plaat en yskoud onder jou alie. Wanneer die deur toegeswoesj het, was dit nie nagdonker soos in die lorrie nie, maar ek’t altyd gevoel soos ’n bevrore sardientjie in ’n blik!
Wendy Anthonie gaan binnekort haar pryswennertyd in Stellenbosch deurbring – met komplimente van Coopmanhuijs.


