Onderhoud: Shirmoney Rhode oor Nomme 20 Delphi Straat

  • 1

Shirmoney Rhode

Nomme 20 Delphi Straat
Shirmoney Rhode
Modjaji Books
ISBN: 9781928215196

Digters oor hul bundels: Shirmoney Rhode gesels oor Nomme 20 Delphi Straat

Shirmoney, eendag was jy nog ‘n meisie van Elsiesrivier en hier loop jy met jou boek in die hand. Hoe voel dit?

Ek doen al van 13 jaar oud af poetry – die eerste keer wat ek ‘n poem voor mense gedoen het, was toe ek gevra was om ‘n speech te maak by my laerskool se prysuitdeling. Daarna het ek elke liewe stage wat vir my geoffer was gevat. En oor die jare het ek die skaam uit my uit gedig. Die boek is ‘n groot wen vir my. En dit voel goed om finally my goed op blaaie te sien. Maar niks sal die gevoel van spoken word vir my top nie. Daai moment wat jy voor ‘n audience staan en jou hart met hulle deel, in jou eie stem. Daai is iets wat die bladsye van my boek dalk nie vir mense gaan gee nie, want hulle gaan dit lees in hulle eie stemme.

Wie was Shirmoney van Elsiesrivier? Of moet mens jou boek lees om uit te vind?

Ek is nog altyd Shirmoney van Elsiesrivier, al bly ek nie meer daar nie. Elsies loop in my bloed. Die lewenslesse wat ek baie keer deur ervaringe in Elsies geleer het, het my die mens gemaak wie ek vandag is. Die boek gaan nie regtig oor my nie. Dis nie outobiografies nie. Although, die heel eerste gedig is kinda ‘n outobiografiese list. Hier en daar is ‘n gedig of twee waarin ek oor persoonlike ervaringe praat, maar dit gaan nie soseer oor my nie. As jy die boek lees gaan jy dus nie vir my beter leer ken nie. Daarvoor gaan ek ‘n roman moet skryf. Die boek gaan oor dinge wat in ons gemeenskappe gebeur en ook oor mense in my familie en die gemeenskap.

Waar kom die gedigte van Nomme 20 Delphi Straat vandaan? Ek bedoel: wat het jou geïnspireer, en ek bedoel ook: wanneer het jy dit als geskryf?

Die gedigte in die boek is gedigte wat ek in die afgelope 5–6 jaar geskryf het. Ek doen performance poetry en baie van dit het eers op stage gelewe. Alles om my inspire my. Ek het nou die dag droëwors by ‘n man gekoop in Haltroad. Hy het sy dogtertjie van so 9, 10 jaar oud by hom gehad. Hy’t ook ‘n sak met nuwe klere wat hy vir haar by Pep gekoop het gehad. Hy sê hy koop en verkoop droëwors op naweke vir haar klere en vir ‘n skoolkamp. Nou daais mos poetry. En dis goed soos daai wat my poetry inspire. Dis often die tipe goed wat niemand wil raak sien in ons gemeenskappe nie wat ek raaksien en oor skryf. Maar baie keer skryf ek ook oor die injustices en sosio-economic issues wat om my gebeur. Ek probeer altyd om die “doubles side story” van ons gemeenskappe vas te vang in my werk.

Van jou boetie het jy al in ‘n rubriek geskryf. Vertel my asseblief van jou ouma.

My ouma is loshanne die sterkste mens wat ek ken. Die boek is aan haar opgedra. Syt dit al gelees, maar ek weet nie regtig hoe sy daaroor voel nie. Dis seker maar my eie skuld, maar ek het nog nooit regtig my familie involved gemaak as dit kom by my poetry nie. As ‘n kind op die Vlakte was ek nooit regtig serious gevat nie want niemand worry oor poetry nie. However, my ouma het al ‘n paar van my performances gesien. My ouma is my ruggraat. Sy’t my grootgemaak. Sy is daai tipe ouma wat vir jou ‘n lekker koppie tee gaan maak en die lekkerste stories gaan vertel. As ek Elsies toe gaan na ‘n lang tyd, is sy die een by wie ek my nuus kry oor what’s hot and happening. Ek dink ek het my liefde vir skryf en storie vertel by haar geërf. My ouma kan vir jou die sappigste storie vertel. Met sound effects en alles. En sy’t destyds die kerk se plays geskryf en direct. Sy was ook ‘n aktrise van formaat in haar dae. My ouma is ook baie lief vir die Here. Sy bid oor alles. Even die klein goed wat iemand anders dalk sal dink is simpel om oor te bid. Ek’s ‘n produk van haar 3 am prayers. En harde werk of course. Ek is baie lief vir my ouma en ek is baie aan haar verskuldig. Daar is te veel stories oor haar wat ek kan vertel wat haar karakter en uithouvermoë duidelik sal maak.

Beskryf vir my Nomme 20 Delphi Straat. Hoe lyk dit?

Nomme 20 Delphistraat is my ouma se fisiese adres waar ek grootgeword het. Dis ‘n muisenet-huis en dis waar ek gebly het vir 21 jaar. Dis nie ‘n groot huis nie en ons was op ‘n stadium seker so 10 mense wat in die huis gewoon het. Dit was beknop, maar ek het baie goeie memories van my kinderjare. Ons het ook nog altyd familie wat agter in die jaart woon. Die huis het ‘n voorkamer, ‘n kombuis, ‘n badkamer en twee kamers. So daar is altyd mense wat op ‘n vloer of bank slaap. Die boek se titel het niks met die eintlike huis te doen nie, dit het meer te doen met die waardes wat ek opgedoen het by die huis. Ook staan die “Nomme 20” voor in plaas van agter, en hier is dit baie opsetlik gedoen, juis om die tema van bendegeld in die titel reeds uit te lig.

Adam Small is jou held. Hy’t met sy kitaar en sy kruis gekom. En jy?

Jong, êrens op ‘n kol het ek eenkeer ‘n gedig geskryf waarin ek sy kitaar vergelyk met my jemba drum. Maar ek het nog nie mooi aan ‘n simbool gedink waarmee ek my digkuns wil vergelyk nie. Ek dink ook nie dis nodig nie. Ek’s mal oor Small se oeuvre maar ek wil nie probeer om soos hy te wees nie.

Hoekom skryf jy?

Daar is baie redes hoekom ek skryf. Maar die belangrikste rede is sodat ek my storie, wat baie keer te doen het met mense om my en mense in my gemeenskap, op kan teken. As ek dit nie doen nie gaan niemand dit vir my doen nie. En as iemand anders dit sou doen, sal dit nie met dieselfde insig gedoen word nie. Die storie is oral rondom ons. En baie keer gaan dit verby ons omdat mense voel hulle is nie goed genoeg nie. Ek skryf omdat ek weier om te wag vir iemand om dit namens my te doen.

Wie is Shirmoney Rhode vandag?

Ek het haar nog nie heeltemal uitgefigure nie, maar sy’s baie gemaklik in haar vel. Sy’s unapologetic oor haar herkoms en wie sy is. Sy’s loud maar het ‘n baie klein hartjie. Sy hou vas aan haar waardes wat sy geleer was. Sy is lief vir God en probeer soveel as moontlik in vrede leef met haar medemens. Sy is verskriklik eerlik, met haarself en ander. Sy is ‘n Afrikaanse juffrou wat deeltyds skryfwerk doen (want sy soek nog die engel wat haar sal betaal om voltyds te skryf). Sy’s van die rak af en deel die lewe met ‘n baie mooi man. Sy hou van poetry, drama, hike, lees en slaap (as daar tyd is).

  • Lees sommige van Shirmoney Rhode se rubrieke op LitNet hier.
  • 1

Kommentaar

  • Hendrina Gelderblom

    Shirmoney, ek kry net al meer respek vir jou en ek is so bly dat ek die geleentheid gekry het om jou beter te leer ken en saam met jou skool te hou. Ek hoop 'n engel daag op, maar moenie ophou skryf nie.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top