Onderhoud oor kykNET se Namibië: ‘n plek om dop te hou

  • 0
kyknet_namibie1

Chris Chameleon en Daniella Deysel

Chris Chameleon en Daniella Deysel, aanbieders van kykNET se Namibië: ‘n plek om dop te hou, vertel vir Naomi Meyer oor dié program.

kyknet_namibie3

Chris Chameleon

Chris Chameleon

  1. Hallo Chris! Wat het jy, voordat jy onderhoude vir hierdie program gevoer het, van Namibië geweet en wat het die program self jou oor dié land geleer?

Ek was reeds voor die program ‘n stuk of tien keer Namibië toe vir beide sake en as toeris. Ek het die land dus al goed verken op verskeie gebiede. Uit die program het ek wel ‘n paar dinge bygeleer. Ons het meer ondersoekend gekyk na dinge soos infrastruktuur, die ekonomie en kultuur. Ek het geleer dat daar, in teenstelling met wat die algemene gevoel tans in Suid-Afrika is, optimisme heers. Mens kry die indruk dat die land wat hul leierskap betref, in goeie hande is en dat die burgers, vanuit alle groeperinge, meestal hierdie indruk het. Ek het ook geleer dat Afrikaans daar gedy, met ‘n veel ligter las van die stigma van die verlede as hier. Mense is gemakliker oor die taal, koester ‘n veel geringer wrok vir die taal. Laasgenoemde is vir my ‘n merkwaardige gevolgtrekking in die lig van die feit dat Afrikaans daar geen amptelike status geniet nie.

  1. Watter stories uit Namibië maak jou opgewonde, en watter stories maak jou moedeloos?

My antwoord op bostaande vraag vervat dan ook dit wat my opgewonde oor die land maak. Moedeloos? Daar is veel minder om oor moedeloos te voel as in Suid-Afrika, maar ek kan wel die volgende uitsonder: daar is geweldige erosie en grondverarming, veral in die vrugbare, meer reëngeseënde noorde; die bolaag van die grond is weggewas en die bome word erg uitgeroei. Die bewyse van die onsin van gemeenskaplike grondbesit en veebou lê eina sigbaar in rooigrondlittekens. Die land se sekondêre bedrywighede moet nog uitgebou word en by hulle val die klem, soos by ons, nog te erg op die uitvoer van grondstowwe en te min op die nywerheidsektor. Dit bring mee dat die ekonomie uitermate oorgelewer is aan gebeure soos onlangs in Sjina en die gevolg daarvan op internasionale markte.

kyknet_namibie2

Chris Chameleon en Daniella Deysel

  1. Suid-Afrikaners ken nie altyd die Namibiërs se kunste so goed nie. Vertel asseblief vir ons lesers watter akteurs, skrywers en kunstenaars uit Namibië kom en vir wie Suid-Afrikaners kan dophou en ondersteun.

Ons ken darem ‘n paar van hulle hier – Juanita du Plessis, Riana en Nianell Nel, Andra, Hugo van Adam ... Hulle geniet hier ‘n groot profiel en is in baie gevalle veel meer suksesvol as die meeste van ons eie kunstenaars. Ek dink Daniella is ook ‘n kunstenaar om dop te hou - sy werk tans aan haar eerste solo-album en ek hoor soms wat daar aangaan en dis baie opwindend. Dan is daar nog Wambuseun en Pierre Pienaar.

kyknet_namibie4

Daniella Deysel

  1. Daniella, jy kom van Namibië af. Wat dink jy sien Namibiërs wat na Suid-Afrika kyk? Is hier ‘n soort ongemaklike verhouding, amper soos wat die VSA sal ondervind met hulle bure, Kanada of Mexiko, of is die verhoudings nie so stram nie?

Ek het net verlede week met 'n mede-Namibiër gesels oor die gevoelens wat hulle voor en na Namibië se onafhanklikheid oor Suid-Afrika gekoester het. Ons het toe besef dat alhoewel ons eens op 'n tyd 'n protektoraat van Suid-Afrika was, ons nooit onsself deel gevoel het van die groter-boetie-land nie. Suid-Afrika het altyd so ver gevoel. Volgens my ma het dit kom oogknip saans in die laat ’70's vroeg ’80's met die twee ure se televisie of oor radioprogramme vanuit Suid-Afrika uitgesaai. Hierdie afsondering het ook veroorsaak dat ons Suid-Afrika later net deur glansprogramme of Desembervakansies tydens die feesseisoen beleef het. Ons het opgekyk na Suid-Afrika. Ons het op Jan Smuts-lughawe geland en ons vasgestaar teen die ontwikkeling en die groot geboue in die stede, die universiteite, die paaie wat oor ander paaie kan ry. Maar eintlik, noudat ek terugkyk, en noudat ek minstens een maal 'n jaar Namibië besoek (mens sien nie die skynbare veranderinge op jou gesig as jy elke dag in die spieël kyk nie, maar wel as jy een keer 'n jaar sou kyk), besef ek ons het ons geringskatting teenoor julle te bowe gekom. Die feit dat 'n klomp Namibiërs wat altyd die ideaal gekoester het om eendag in Suid-Afrika te werk en te woon (ek inkluis), nou 'n sug van verligting slaak as ons die groen Namibiese paspoort in ons laai in die tweede huis in RSA sien lê, sê baie.

  1. As Suid-Afrikaners Namibië dophou, wat dink jy sal hulle sien? Letterlik, en figuurlik?

Geweldige groei, vernuwing en verdraagsaamheid.

kyknet_namibie5

  1. Is een van die oogmerke van hierdie program juis om aan te toon hoe Afrikaans kan floreer al het dit sy amptelike status verloor? Hoe Afrikaans ervaar jy Namibië as jy dit met Suid-Afrika sou vergelyk, veral noudat jy onderhoude vir hierdie program gevoer het?

Ek wat heeltemal in Engels geskool is, en vyf jaar gelede daar gewoon het, was verstom om te sien hoe die stigma wat aan Afrikaans geklou het toe ek daar was, nou stadig maar seker verlep het. Dis asof almal oornag begin Afrikaans praat het. Ek kan definitief sien dat Afrikaans wortel geskiet het in die harte van almal daar; as hulle dit nie kan praat nie, dan probeer hulle ten minste verstaan wat jy sê.

Tydens my besoek in Windhoek het ek agter twee mense uit die Owambostam geloop. Hulle was aan die gesels in Afrikaans en het toe weer oorgeskakel na Owambo en toe weer terug na Afrikaans en so het dit aangegaan tot ek moes regs draai by die bordjie wat sê "Maak reg die Foon" waar 'n Indiërman my tegemoet gekom het om my stukkende Samsung-foon se luidspreker te herstel.

Afrikaans word erken as een van die tale waarin mens kan bou en groei. Niemand frons as hulle dit hoor nie.

kyknet_namibie6

Daniella Deysel en Chris Chameleon

Namibië: ‘n plek om dop te hou se eerste episode is op 6 September om 16h30 op kykNET uitgesaai.

Foto's verskaf

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top