Chris Chameleon is ‘n bekroonde akteur en sanger. Sy loopbaan het begin as akteur met optredes in meer as 30 televisiereekse (oa
Egoli, Konings, Sonkring, Glaskasteel), films en videos tussen 1990 en 2000. Daarna het die musiekgogga gebyt en word hy die plofbare voorsanger en baskitaarspeler vir die bekende monki punk trio Boo!
In die 7 jaar van Boo! se bestaan het hulle wêreldwye aanhangers gewerf en meer as 800 vertonings in 17 lande gelewer. Nadat hierdie groep in 2004 uitmekaar is, het Chris Chameleon teruggekeer na Suid-Afrika om sy herkoms te vier met die bekendstelling van sy eerste Afrikaanse album:
Ek herhaal jou, `n album met Chris se eie toonsettings van verskeie Ingrid Jonker-gedigte.
In 2006 het Chris die eerste Suid-Afrikaanse kunstenaar geword wat op dieselfde dag twee totaal verskillende albums uitgereik het: Die Afrikaanse
7de Hemel en sy eerste Engelse solo album
Shine.
7de Hemel bestaan uit liedjies wat hy geskryf en gekomponeer het vir die karakter Liam, wat hy vanaf Mei tot Julie 2007 op SABC 2 se gewilde sepie
7de Laan vertolk het.
Chris het in 2007 sy derde Afrikaanse album
Ek vir jou en die DVD getiteld
Flight of an Extraordinary Alien uitgereik. In dieselfde jaar het hy `n kontrak met Excelsior Recordings in Nederland geteken vir die verspreiding en bemarking van
Ek vir jou in die Benelux-lande waar hy tans groot gewildheid verwerf.
Chris se produksie
Klassieke Chameleon is in Januarie 2008 by die Aula Teater in Pretoria opgeneem en is in April op DVD uitgereik.
Opgedateer/Updated: 2008-04-17
Bio-inligting verouderd? Stuur 'n e-pos aan bio@litnet.co.za
Bio-info dated? Send an e-mail to bio@litnet.co.za