Die verkleurmannetjie met die baie kleure. Van Boo! toe boerseun en van pienk tot kakie en weer terug. Jean Oosthuizen het met die veelkleurige kunstenaar Chris Chameleon gesels om uit te vind hoeveel kleure daar in sy reënboog is en hoekom hy die donner in raak as hy nie in Afrikaans bedien word soos beloof nie.
Jy is deesdae baie meer betrokke by Afrikaans as aan die begin van jou loopbaan. Onder meer ook by die FAK. Vertel my so ietsie meer van jou betrokkenheid by die FAK en hoe dit gebeur het dat jy so nou betrokke geraak het by Afrikaans spesifiek.
Ek is maar nog altyd betrokke by Afrikaans – dis my moedertaal, die taal waarin ek (meestal) gevorm is en die taal waarin ek (meestal) my wêreld vorm. Dis te begrype dat dit vir diegene wat my slegs deur die beperkte loep van my werk ken, 15 jaar gelede, minder opvallend sou gewees het, omdat ek my musiekwerk destyds hoofsaaklik in Engels uitgevoer het. Seker ook omdat daar 15 jaar gelede minder platforms vir die stawing van jou oortuigings bestaan het. As die hoofstroom toe nie gehap het aan jou gedagtes nie, kon slegs dié met wie jy direkte kontak gehad het, daaraan herkou. Sedert die oorgang van my werksuitdrukking na hoofsaaklik Afrikaans, sowat tien jaar gelede, het my verbintenis by die taal vir diegene wat my nie persoonlik geken het nie, maar slegs deur my werk, opvallend geword.
Maar dit is net ʼn deel van die antwoord. Vir die ander deel skoei ek die antwoord op ʼn veralgemeende siening van die mens, met erkenning van die bestaan van uitsonderings. Ek skaar myself in die veralgemeende groep omdat ek myself in dié opsig nie as buitensporig uitsonderlik beskou nie.
Wanneer ʼn mens baie jonk is, sien jy niks raak nie. Dan word jy effe ouer en begin dinge raaksien, maar aanvaar hulle as vanselfsprekend. Nog later kom jy onder die indruk van die gedagte dat hulle nie vanselfsprekend is nie. Ek dink ek is nou daar. Ek kan my nie met die gesag van persoonlike ervaring uitspreek oor wat hierna gebeur nie, maar glo die prentjie verander waarskynlik later verder.
En jou verbintenis met die FAK?
My eerste kennismaking met die FAK was in die laat ’70’s toe ek en die meisie wat in die woonstelblok verder af in die straat gewoon het, styf langs mekaar op my ma se rusbank gesit en saam probeer sing het uit die FAK-sangbundel. Ek het daar ʼn fisiese gewaarwording beleef wat ek eers later sou verstaan, maar dit was baie opwindend en sal my altyd met ʼn stoute deernis aan die FAK en sy sangbundel herinner.
Deesdae is ek betrokke by die FAK om bewusmaking van die organisasie se werk aan te help. ʼn Mens kan allerlei titels daarvoor uitdink, maar vir my gaan dit daarom dat mense weet van die FAK, weet waarvoor die FAK staan en as dit hulle goedkeuring wegdra, die doel ondersteun. Ek is van nature bewaringsgeoriënteerd – die bewaring van paddatjies, plante, kulture en tale is alles vir my belangrik. Ek is ook erg oor die bewaring van Tsonga, maar voel uiteraard ʼn meer digte gehegtheid aan Afrikaans omdat dit my eerste taal is.
Wat beteken jou Afrikaanswees vir jou en hoe sal jy jouself beskryf as iemand vir jou vra of jy ʼn Afrikaner is. Met ander woorde, watter inhoud gee jy aan ʼn taal?
Van die vier tale wat ek vlot praat, en die paar ander waarvan ek ʼn gebrekkige kennis het, kan ek getuig dat ek my anders voel in elke taal. Asof ʼn taal ʼn mentaliteit met hom dra, asof ʼn taal die bagasie van sy geskiedenis met hom dra, asof ʼn taal die gevoel, avontuur, lief, leed, uitnemendheid, sonde en pret wat in hom deur sy sprekers gepleeg is, mettertyd in sy geestelike bloudruk geassimileer het – ʼn bloudruk wat sy merk in jou uiting in sal vertoon.
Dink jy dus ons word almal in een of ander bloudruk van ʼn taal gegiet?
Hierdie bloudruk is soos ʼn genetiese bloudruk. Dis nie allesoorheersend nie en ding mee met ʼn rits ander faktore om die uiteindelike prentjie daar te stel. In tale, soos in mense, is mooi dinge, lelike dinge, goeie dinge, slegte dinge ensovoorts gepleeg. Uiteindelik gaan dit hieroor: Hou jy van hierdie persoon of taal? Afrikaans is ʼn taal, is ʼn mens. Jy praat hom en/of hou van hom of nie. Ek hou van hom. Eintlik is die taal vir my ʼn “haar”. Sy sit gemaklik in my mond, ek worstel graag om haar kinkels my denke uit, sweet graag om haar kurwes my doene uit.
Wat “Afrikanerskap” betref: dis vir my baie soos Christenskap – die enigste vereiste om een te wees, is om dit te bely. So is nie elke ou wat Afrikaans praat ʼn Afrikaner nie, nes nie elke ou wat op ʼn Sondag nie werk nie ʼn Christen is. Dit is nie iets wat enigiemand op jou kan afdwing of jou kan weier nie.
So van Christenskap gepraat. Jy het ook redelik sterk godsdienstige uitsprake gemaak die laaste tyd. Nog iets wat mens nie sommer van Boo! se Chris sou verwag nie. Het jy enige vorm van Damaskus-ervaring gehad of is dit maar nog altyd wie jy regtig was?
My ma het my in ʼn sterk Christelike omgewing grootgemaak. Dit het my van kindsbeen af goed toegerus om heelhuids deur al die rock ‘n roll en punk en dwelms en verleidinge en dit wat nog op my pad mag kom, te lei. Dit was nooit vir my nodig om wedergebore te word of my weg terug te vind nie – ek is nog altyd in die geestelike wieg en het ook nooit verlore geraak nie.
Van vroueklere in Boo! tot boerseun wat met Absa swaarde kruis? Is dit nie ʼn baie groot sprong nie?
... en weer terug. Ek is nog steeds daai aster in die minirokkie.
Die verkleurmannetjie se regte kleur is dus iewers tussen pienk en kakie?
Ja, dan word dit pakie, of liewer, kienk. Ek het vir so ver terug as wat ek kan onthou nog nooit weggeskram van die ekstreme nie. Trouens, ek het my in my lewe meestal as ʼn randfiguur ervaar. Dis nie ʼn nuwe ding nie en ook nie iets wat ek sal wil verander nie. Uiterstes boesem by my selde vrees in. Dit prikkel eerder opwinding, nuuskierigheid – ek sou dit nie anders wou hê nie.
Jy het onlangs behoorlik ʼn knuppel in die hoenderhok gegooi toe jy op Facebook gekla het oor Absa wat jou nie in Afrikaans wou bedien oor die telefoon nie. Tog skryf jy die meeste van jou inskrywings op Facebook ook in Engels. Trouens, ʼn groot deel van jou loopbaan was in Engels. Het jy nie dalk bietjie oorboord gegaan en soos ʼn taalbul opgetree nie?
Ek kan myself nie evalueer nie, ten spyte van jou versoek daartoe – dit sal te aanstellerig vir my smaak wees. Maar my uitgangspunt is die beginselbeswaar dat ʼn diens gebied word en dan nie gelewer word nie. As ek byvoorbeeld as klant ʼn motor by ʼn groot motorhandelaar gekoop het en daar skeel iets met my knormoer, wat in die diensplan gewaarborg word, en ek neem dit vir ʼn diens en hulle sê vir my nee, hulle kan nie my knormoer herstel nie en ek gooi ʼn Facebook vloermoer daaroor, sou jy my ‘n knormoerbul genoem het? Ek vermoed nie so nie.
Wat ʼn vraag soos bostaande dalk onthul, is ʼn intekening op die algemene en onvleiende stigmatisering van aandrang op Afrikaans. Ek twyfel of dieselfde oordeel gevel sou word by aandrang op enige van die ander tien amptelike tale, en vir diegene wat hierin van my verskil, sal ek graag voorbeelde verneem. Trouens, by die Universiteit van Kaapstad word in die aansoekvorm ʼn begrip van Engels as basiese toelatingsvereiste gelys – is die term “taalbul” hierdie instelling ooit toegeslinger? Met inbegrip van my bloudrukmetafoor van so flussies: Afrikaans word behandel soos iemand wat sy vonnis uitgedien het en gerehabiliteer is maar nog steeds sy kriminele rekord het en daarom sukkel om ʼn normale bestaan te voer.
Maar op Facebook skryf jy in Engels ook?
Wat my Facebook in Engels betref: ten spyte van al die hoogdrawendheid waarmee ek my kunsroeping kan skets, is ek, wat my werksbeskrywing betref, eenvoudig ʼn diensleweraar. Ek bedien (na die beste van my kennelik beperkte vermoë) mense se harte, siele, lywe en denke – indien hulle my dit toelaat. Ek het baie Engelse ondersteuners, ook in die buiteland. Ek wil hulle ook dien en wens ek kon nog meer doen, maar ek het helaas nie dieselfde hulpbronne tot my beskikking as Absa nie. Maar as ek dit kan doen, dan kan hulle tog sekerlik ook.
Jy was, in jou eie woorde, “die donner in”. Moes jy nie dalk bietjie meer diplomaties omgegaan het met jou klagte en dit eers direk met Absa probeer uitklaar het nie?
Vra jy nou vir ʼn boerseun in ʼn punkpienk minirok om diplomaties te wees? Goeie donner!
Jou geveg met Absa het groot reaksie uitgelok. Sommige van jou ondersteuners het hande geklap en ander het geboo! Hoe voel jy oor die verskillende reaksies wat jy ontvang het van die publiek?
Ek het hulle nie gelees nie. Facebook is grotendeels ʼn eenrigtingmedium vir my. Dit kom te maklik neer op ʼn geweldige verspilling van kosbare lewenstyd. Ek het die liefde van my geliefdes, die wonder van die natuur en ʼn onversadigbare honger vir kennis om my gelukkig te hou en die drie dinge hou my besiger as waarvoor ek tyd het.
Waar pas sosiale media dan in jou lewe in?
Twitter het my al klaar aan die korthare beet. Dit is ʼn verspilling van tyd, maar soos die invul van amptelike vorms, ʼn onvermydelike vereiste van my besigheid. Ek is wel bewus gemaak van die syfers van die reaksie en ek voel dit dui daarop dat dit ʼn werklike en ernstige saak is waaroor genoeg mense sterk voel om daadwerklike remediërende optrede te regverdig.
Ja, meer as 17 000 mense het van jou Facebook-inskrywing gehou maar iemand anders het geskryf: “Liewe here jesus, Chris, kry vir jou 'n real issue om oor te pis. For fuck sakes!” Hoe raak sulke opmerkings jou en tot watter mate steur jy jou aan kritiek?
Ek het nie daardie een gesien nie, maar as daar meer sulkes was, moes ek dalk tog gelees het, want dis ʼn heerlike stukkie vermaak! Daar is ʼn paar dinge waarin ek nie handel dryf nie, onder meer vrees, selftwyfel en haat. Sulke dinge word deur die reklame van kitsbevrediging aan die ego afgesmeer as ʼn winskoop, maar is ʼn kat in die sak. Ek oefen nog hard daaraan, maar wanneer iets dreig om my bang te maak, in myself te laat twyfel of iets te haat, herinner ek myself dat wat dit ook al is wat ek tans doen om so te voel, dit iets is wat ek dadelik nie moet doen nie. Dit werk meestal.
In ʼn onderhoud met een van die koerante het jy gesê jy het nie ’n wetenskaplike navorsingstudie nodig om te weet Afrikaans is die mees gehate taal van die land nie. ’n Mens voel dit aan in die strate, het jy gesê. Wat het jy daarmee bedoel? Daar is tog baie nie-Afrikaanssprekendes wat Afrikaans baie goedgesind is, en selfs in plekke soos Soweto gebruik mense Afrikaans.
Jou vraag het twee afsonderlike dele wat as ʼn geheel nie binne een konteks sin maak nie. Dis soos om te sê “Jy het gesê ʼn mens kan in water verdrink maar daar is tog baie mense wat water drink?”.
Ek reis meer as by verre die meeste mense die hele land vol, en praat met mense afwisselend Afrikaans, gebrekkige Zoeloe en Sotho, Engels, en met buitelanders dikwels in hulle tale. Ek sien wat werk waar en hoe. Uit hoofde hiervan beskou ek myself in die afwesigheid van ʼn wetenskaplike navorsingstudie as kundig genoeg om hierdie gevolgtrekking te maak en jy kan in die afwesigheid van die nodige feite of gelyke ervaring jouself die verleentheid van verdere twyfel spaar en my woord daarvoor neem.
Daar is inderdaad mense wat dieselfde frustrasie as jy ondervind om in Afrikaans geholpe te raak. Maar mens kan maklik aanstoot gee as dit verkeerd hanteer word. Hoe dink jy bevorder mens Afrikaans die beste sonder om soos ʼn taalbul te kere te gaan?
Maklik: deur jou sag en beskaafd met ʼn glimlag en met lankmoedigheid uit te druk.
Maar presies hoe doen mens dit in die praktyk?
Deur nie jouself die vryheid van jou eie Facebook-maniere op ʼn direk persoonlike vlak te gun nie. Daarom het niemand nog ooit by ʼn konsert vir my in my gesig gesê “Liewe here jesus, Chris, kry vir jou 'n real issue om oor te pis. For fuck sakes” nie. Ja, selfs daardie ou sal die verskil ken. En net so sal ek nie in die bank in ʼn kassier se gesig vir hom sê hy maak my “die donner in omdat hy my vir die gek hou deur ʼn diens te bied wat hy nie kan lewer nie”. Ek het op die dag van die insident ook in Engels en in Zoeloe probeer (met veel beter resultate!) en nie daardie persone te na gekom of beledig nie.
Dit is belangrik om met passie en vurigheid jouself wel op bepaalde plekke / in bepaalde forums te kan uitdruk, anders verval ons in ʼn wêreld van watte en katvoetjies en die opbou van gruwelike dog diepgeborge leuens. Daarvoor is sosiale media daar.
Ek geniet, waardeer en ondersteun die bandeloosheid van sosiale media – dis die laaste publieke gevegslinie in die stryd waarin vryheid van spraak ongedaan gemaak word deur sy nemesis, politieke korrektheid. As ek Absa sagkens persoonlik gebel het, sou ek dit (a) in Engels moes doen en (b) soveel aandag geniet het as een persoon.
Jy gee dus nie om om uit te lok of om uitgelok te word nie?
Maar dit weet jy seker self - dis jou joernalistieke plig om my uit te lok. In daardie geval, kom hier dat ek jou met my taalbulhoring kan gaffel, jou karnallie! Ek is nie ʼn politikus nie, Jean, ek is ʼn kunstenaar. Soms dra my woorde ʼn bietjie meer gewig as wat ek vir hulle bestem het (en dikwels veel minder) met die uiting daarvan, maar daarom gee ek my nie uit as ʼn leier of ʼn ambassadeur of enige soortgelyke gedrog nie.
Die beste manier om nie aanstoot te gee nie, is om nie aan te stoot nie. Maar daar is ʼn wonderlike klein geheimpie van aanstoot wat gerieflikheidshalwe dikwels deur die oorheersende verteltrant van enige aanstootverhaal verswyg word: aanstoot gegee is nie aanstoot gegee indien daar nie aanstoot geneem is nie.
Mense sal moor vir geld, mense sal steel vir geld, mense sal bedrieg vir geld, mense sal hoereer vir geld, ens. Maar hulle sal nie Afrikaans praat vir geld nie?
Is dit nie maar hoe dit is nie?
Bog! As jy my geld by my wil neem, is dit vir my logies dat ek die taal waarin jy dit neem, kan kies, en as jy nie saamstem nie, gaan soek ek iemand wat wel saamstem en gee my geld vir hom. Oor wie se aanstoot in hierdie verhaal moet ek my die meeste besorg? Moet ek nou op my tone loop om nie aanstoot te gee vir die ou wat my geld by my wil neem maar nie omgee dat hy my reeds aanstoot gegee het nie? Kan jy die waansin van hierdie situasie insien?
Dis vir my ook belangrik dat jy van my weet dat as ek snuf in die neus kry dat Venda of Pedi op soortgelyke wyse misken word, ek my daarteen sal inspan.
Absa het gesê hulle gebruik jou Facebook-tirade oor Afrikaans om hulle kliëntediens te verbeter. Dink jy dit het gewerk?
Ek weet nie of hulle dit gesê het wat jy nou daar sê nie, maar as hulle het, dui dit tog dan al klaar op ʼn bietjie van ʼn “dit het gewerk”. Maar ek sal jou my eerlike gevoel oor hierdie ding vertel: ek glo dit gaan nog meer werk. Ek glo Absa gaan hulle ʼn bietjie inspan in hierdie verband. Hierdie is ʼn wonderlike geleentheid vir Absa om ʼn onsmaaklike insident in ʼn baie goeie uitkoms te omskep, en ek dink hulle gaan die geleentheid aangryp.
Jy het al na jouself as ʼn emosiesmous verwys: “Ek dryf handel met mense se emosies,” het jy gesê. Iemand wat nie daarvan hou om dieselfde ding te doen of volgens formules te werk nie. Emosie dui op 'n sterk gevoel van vreugde, vrees, hartseer, en selfs woede. Is dit vir jou maklik om jou emosie met jou gehoor te deel en hulle emosies in jou werk te verwoord?
Ja.
Daar word gesê jy doen jou naam as verkleurmannetjie voortdurend gestand en verras mense elke keer as hulle jou in ’n boksie probeer plaas. Wie is die regte Chris Chameleon en hoeveel kleure het hy?
Jy kan my maklik in ʼn boksie plaas, mits die boksie ruim genoeg is.
Die verkleurmannetjie gee die kleure van sy omgewing weer. As ek my roeping goed uitvoer, is daar in my soveel kleure as wat daar kleure om my is.
ʼn Ou wat in vroueklere gesing het in Boo! is ʼn perd van ʼn ander kleur. Dis nou nie juis mens se idee van ʼn tradisionele Afrikaner nie, nè! Vind jy dit nie moeilik om deur te dring tot die meer konserwatiewe deel van Afrikaanse mense nie? Hoe hanteer die ooms wat jou vertoning bywoon dit?
Tradisioneel schmadisioneel. Hoekom sal “mens” die Afrikaner so maklik tot ʼn tradisionele hoedanigheid gysel? Dan moet Zoeloes mos met velletjies en Amerikaners met ʼn ry slawe deur die strate aanskuifel. Maar nietemin, die ooms ... hulle laaikit.
So, wie is deesdae jou grootste mark en op watter tipe gehoor spits jy jou toe?
Ek maak nie musiek vir markte nie. Ek ontleed nie eens my eie sogenaamde mark nie. Ek spits my toe op my werk en bid al die pad konsertsaal toe dat die kinders en ma’s en pa’s en oumas en oupas daar sal opdaag en dit sal geniet.
Van kinders gepraat, sang is maar net een van jou vele talente. Jy het jou vermaaklikheidsloopbaan as akteur in Sonkring begin en in sepies soos Binnelanders en 7de Laan gespeel, al ʼn kinderboek geskryf, en daar is ook ʼn roman uit jou pen op pad. Watter een van al hier kunstevorme wat jy beoefen, geniet jy die meeste en wat wil jy die graagste doen?
Die genot van hierdie verskillende uitdrukkingsvorme is soos die genot van alle dinge: indien die genot gebonde is aan geografie, omstandigheid, vorm of enige ander gedaante as jou eie kern, is dit ʼn brose valsheid. Die genot lê nie daar buite nie, dit lê hier, binne. Ek kom so af en toe op die vreemdste tye en plekke vinnig in aanraking daarmee en spits my daarop toe om dit meer gereeld te beleef.
Met jou sterk uitspraak die anderdag oor Afrikaans en jou steun aan Solidariteit vir “gebiedsgebonde selfstandigheid” wonder party mense of die verkleurmannetjie nie dalk ook sy oog op die politiek het soos Steve Hofmeyr nie. Het jy sulke planne en wat dink jy van die land se politiek?
Nee, verskoon my Jean, maar dis nie waar wat jy daar sê nie. Ek het nie my steun aan Solidariteit vir “gebiedsgebonde selfstandigheid” gegee nie, om die eenvoudige rede dat Solidariteit nie “gebiedsgebonde selfstandigheid” voorgestel het nie. Die aanhalingstekens wat jy daar sit is jou eie, of iemand anders as Solidariteit s’n, daarvan is ek seker. Jy moet dit asseblief verder gaan navors.
Jy mik dus ook nie politiek toe nie?
Ek het beslis nie my oog op die politiek nie. My heerlike werk is die illusie van die fantasie en nie, soos in die geval met politiek, die illusie van die werklikheid nie. Verder gaan ek in my hoedanigheid as skeppende en uitvoerende kunstenaar nie graag gebukkend onder die kruis van perke nie – ʼn kruis wat inherent tot die politiek behoort.
Jou sukses as sanger en kunstenaar is uniek in die sin dat jy geen tersiêre opleiding in drama of sang gehad het nie en tog groot hoogtes bereik het. Hoe het jy dit reggekry en waaraan het jy jou groot sukses te danke?
ʼn Vinnige kykie na die hoogste hoogtes van die ligtemusiekbedryf sal onthul dat tersiêre opleiding in die meeste gevalle ʼn hindernis is. ʼn Goeie dosis musikale onnoselheid is nuttig en tesame met ʼn dosis algemene onnoselheid waarborg dit vir jou heelwat meer. Ek voel hieruit dus hoegenaamd nie gevlei deur my sukses nie, al is dit betreklik middelmatig, omdat dit afbreuk doen aan my gesonde selfbeeld wat in die lig van die voorafgaande stelling dalk geskoei is op ʼn oorskatting van my eie vermoëns.
Onlangs was jy ook in die nuus as een van verskeie bekendes, onder andere Amalia Uys, Nadia Valvekens en Reynardt Hugo, wie se kaalfoto’s in Maart se uitgawe van Marie Claire die oë laat rek het as deel van ’n veldtog teen verkragting. Dit was nogal omstrede. Party mense het dit moeilik gevind om ʼn veldtog teen verkragting met kaalfoto’s te rym. Wat het jou laat besluit om deel te wees daarvan en was dit geslaagd?
Geslaagdheid in hierdie verband verg dalk ʼn statistiese bepaling waarvan ek die syfers nie het nie, en in teenstelling met my mening oor die gevoel teenoor Afrikaans, nie oor voldoende selfervaring beskik nie. Maar ek glo dat dit bewusmaking van hierdie euwel gestimuleer het en dit is alreeds ʼn klein stukkie wenpaal. Ek vind dit ʼn mooi gebaar om jouself weerloos te maak vir die bewusmakingsveldtog van die weerloses. Dis soos om vir ʼn tyd lank in ʼn sinkhuisie in Tembisa te gaan bly ten einde die wêreld van die armes beter te verstaan. Jy weet jy gaan weer terug na jou gegoede bestaan (of dat jy jou klere byvoorbeeld weer gaan aantrek), maar vir daardie oomblik maak jy kennis met ʼn stukkie van daardie wêreld. Dis vir my eerlik, ʼn deugsame benadering.
Pla dit jou enigsins om omstrede te wees?
Mwua ... ek verkies om dit nie te wees nie, maar ek kan my dit nie veroorloof om dit gespaar te bly deur óf te lieg óf te swyg oor wat vir my belangrik is nie.
Jy het vanjaar die eerste keer in tien jaar nie by die KKNK optree nie. Van jou ondersteuners het jou “geluk gewens” met dié “besluit” om die KKNK te “boikot”. Maar wat het regtig daar gebeur en is daar enige suur druiwe tussen jou en die KKNK?
Ek het die KKNK beslis nie geboikot nie en het dit ook destyds duidelik gemaak. Hulle het my produksie nie goedgekeur vir die fees nie, dis waarom ek nie daar was nie, en daaroor was ek duidelik. Ek dink die verwarring het ontstaan omdat ek my misnoeë met hulle sensordrang, wat toevallig gedurende presies dieselfde tyd op die lappe gekom het, uitgespreek het.
Van Boo! tot kaalbasmodel en vegter vir Afrikaans. Wat is volgende, dalk ʼn gospel-CD?
Ek het dit al gedoen. Die titel daarvan is Herleef en dit is my mees hard-rockende album. Dit laat Boo! soos One Direction klink.
Dankie vir ʼn oop en reguit gesprek, Chris. Ten slotte, wat doen Chris Chameleon die graagste wanneer hy nie met mense se emosies smous, opstaan vir Afrikaans, skryf of hoog en laag sing nie?
Ek verlustig my in die liefde van my geliefdes, die ervaring van die natuur en die inwin van kennis.
Oorspronklike fotobron: chrischameleon.com











Kommentaar
Chris, jy druk jouself wonderlik in Afrikaans uit! Ek het nog nooit op enige iets wat ek aanlyn gelees het kommentaar gelewer nie maar jy het my Donderdagoggend opgekikker en my weereens laat besef dat mens jouself in Afrikaans kan uitdruk soos seker in geen ander taal nie.
Dit is vir my 'n riem onder die hart om sulke mooi Afrikaans te lees. Die onderhoud het baie diepte en stem 'n mens tot nadenke. Dit maak emosies wakker wat 'n mens dwing om te reageer. In Chris se eie woorde - hy gaan dit nie lees nie. Hierdie kommunikasie is eensydig. Daar is nog iets om oor te skryf en filosofeer. Miskien gaan dié houding die kommentaar BAIE min maak of die gonsery onder die kommentators gaan dit dalk laat ontaard in iets heeltemal anders.
As gebore Afrikaner dink ek deesdae - hoe belangrik is dit? Ek kan onthou dat ek so bykans 45 jaar gelede as matriekdogter aan tafel gesit en het ek die familie erg ontstig deur te sê indien Suid-Afrika (dan)iewers wil kom, moet ons saamstaan en begin om 'n universele taal te praat anders is daar altyd 'n gehanna -hanna oor waarheen ons regtig op pad is.
Kom emosionele volwassenheid nie daarby uit dat ons mekaar verstaan en dat 'n mens behoorlik kan kommunikeer nie? Ek sê eerlik - vir my is Afrikaans 'n groot heerlikheid maar nie die alfa en omega nie.
Neem nou maar net ' n paar voorbeelde van staatsdepartemente. Daar heers omtrent oral 'n Babelse verwarring want daar is NOOIT aandag gegee aan emosionele volwassenheid of opvoeding om mekaar te dien in 'n universele taal.
Ek dink die taal was en is Engels.
Nou wil ons almal ons reënboogregte oral afdwing- ek kan maar net na 'n polisiestasie gaan en 'n paar verklarings lees en my slap lag. Maar wanneer 'n mens ernstig daarna kyk, lyk dit vir my of ons in die laaste stuiptrekkings is van 'n BAIE groter tragedie.
Die onderhoud is manjifiek - regte vrae en wonderlik om die antwoorde te lees ... en vermaaklik (sonder om Chris in `n boksie te wil druk).
Dit is absoluut verfrissend! "... aanstoot gegee is nie aanstoot gegee indien daar nie aanstoot geneem is nie" - dis die beste verweer teen aanstoot wat ek nog gelees het. Dankie vir `n puik onderhoud - mag Chris nog baie dekades op die Afrikaanse toneel wees.