Onderhoud: NB Akademie se kortkursusse vir vryskutwerkers

  • 0
nellekedejager_youtube650

Nèlleke de Jager (foto: YouTube)

Nèlleke de Jager vertel vir Naomi Meyer van NB Akademie en die kortkursusse wat vryskutwerkers help oplei.

Ek lees met belangstelling van die NB Akademie en die kortkursusse wat julle aanbied. Maar wat is die NB Akademie?

Dit is ’n nuwe projek wat ons geloods het met die doelwit om ’n nuwe generasie vryskutwerkers vir die boekebedryf op te lei. Die projek het twee bene: tekskursusse en opleiding vir ontwerpers. Dit is losweg geskoei op Faber & Faber se Faber Academy.

Vyf van die kortkursusse wat julle gedurende September en Oktober aanbied, is op teksversorgers gemik. Wil jy iets meer hieromtrent vertel, asseblief?

Graag. Twee van die kursusse is gemik op niefiksie (resepte en narratiewe niefiksie), ene op fiksie, nog ene op proeflees, en dan ’n algemene kursus oor hoe om ’n e-boek te kontroleer. Lg kursus word wel in Engels aangebied, al behels die vaardighede van so ’n taak dié van ’n proefleser (oftewel 'n control freak :)).

Ek vertel in meer besonderhede oor een van die kursusse, wat ’n aanduiding van die praktiese inslag van al die kursusse gee: Ons proefleeskursus word byvoorbeeld deur ’n ervare vryskutter, Riëtte Botma, aangebied. Sy spandeer twee derdes van die kursus aan twee onlangs-gepubliseerde tekste – een fiksie en een niefiksie. Met ander woorde, die kursus is baie, baie prakties, en deelnemers sal letterlik aan die hand van Riëtte se veranderinge kan sien wat die pligte van ’n proefleser behels.

Drie van die kursusse handel oor grafika, ontwerp en verpakking van 'n boek. Is ek reg? Of kan jy dalk beter verduidelik?

Ja, en dié drie kursusse is veral uitsonderlik. Die boekontwerpkursus word deur twee van ons beste ontwerpers in die land aangebied, nl Nazli Jacobs en Wouter Reinders. Ek is nie seker of daar ’n soortgelyke kursus elders in die land aangebied word nie. Die fokus is juis op boekontwerp, en nie ontwerp in die algemeen nie. Ek werk al jare en jare saam met Nazli en daar is maar ’n hand vol boekontwerpers wat so ervare is soos sy. Dit is ’n kursus wat ontwerpers nie kan misloop nie.

Die omslagontwerpkursus word deur nog ’n ervare boekvryskutter aangebied, nl Hanneke du Toit. Sy het destyds die herverpakking van die liefdesverhaalomslae by Tafelberg hanteer, en was ook verantwoordelik vir omslae soos dié vir Dis ek, Anna en die onlangse nuwe uitgawes van Saartjie en Trompie. Sy ken van werk met uitgewers, en hoe om hul vae omskrywings in betowerende omslae te omskep.

Die e-boekontwerpkursus word ook deur Wouter Reinders aangebied – hy is ’n deskundige op die gebied van e-boeke, veral waar dit te doene het met moeilike uitlegkwessies soos grafika en ander ? tabelle.

Waarom bied julle hierdie kursusse aan – en vir wie?

As uitgewers vind ons ons toenemend afhanklik van goeie teksversorgers wat as vryskutters werk. Die dae is lankal verby dat redakteurs stil op kantoor sit en self proeflees of redigeer. Deesdae maak ons van vryskutters gebruik, wat natuurlik verseker dat meer as een of selfs twee paar oë aan ’n teks werk. Die teendeel is natuurlik ook waar: dat jou geliefkoosde persklaarmaker of proefleser nie altyd beskikbaar is nie, en hoe lei jy oornag ’n nuwe proefleser op wat jou huisstyl en voorkeure en afkere so goed ken soos jou gevestigde mense?

Dieselfde geld natuurlik die uitleg van ’n boek. Ek weet van baie min uitgewerye wat nog ontwerpers aanstel. Die meeste goeie tipograwe wat ek ken, werk almal vir hulself.

Die kursus is gerig op ervare vryskutters, maar veral ook nuwelinge wat graag in die bedryf wil betrokke raak. 

In watter tale word die kursusse aangebied en moet mens klasse kom bywoon, of kan mens op die internet inskryf?

Die ontwerpkursusse en die e-boekkursus (dus hoe om ’n e-boek te kontroleer) word in Engels aangebied. Die ander vier tekskursusse word in Afrikaans aangebied, juis oor ons besef het daar is ’n markaanvraag vir kursusse wat op Afrikaanse teks fokus.

Mense kan inskryf by www.nbakademie.co.za.

Die berigte wat ek hieromtrent gelees het, laat dit klink of mens deur middel van so 'n kursus 'n voet in die deur kan kry by die uitgewersbedryf. Is hier werksmoontlikhede vir vryskutwerkers?

Ja, ja, ja. En nogmaals ja. 

Word hierdie kortkursusse erken as kwalifikasie nadat mens dit voltooi het? Is dit lesings om by te woon, of skryf mens 'n soort toets ook?

Ons hoop om die kursusse later te laat akkrediteer. Dis egter nog toekomsmusiek in hierdie stadium.

Wat kos dit, waar skryf mens in en is daar nog plek in al die kursusse?

R1 800 vir die eendagkursusse, R2 500 vir die tweedagkursusse, behalwe die boekontwerpkursus, wat R3 000 beloop.

Beoog die NB Akademie nog verdere kursusse en opleiding in die afsienbare toekoms en waar sal mense kan vasstel waarvoor hulle kan inskryf?

Hulle kan inskryf op ons nuusbrief: nbakademie@nb.co.za.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top