Onderhoud: Musikant Schalk van der Merwe oor die Republiek van Zoid Afrika

  • 0
schalk_van_der_merwe

Schalk van der Merwe (foto: Anelia Loubser)

Die talentvolle Schalk van der Merwe is minister van baskitaarspel in die kykNET-progam Republiek van Zoid Afrika. Hy praat vanuit die kabinet met Naomi Meyer.

Hallo Schalk, jy is een van die musikante in kykNET se Republiek van Zoid Afrika - hoe lank werk jy al saam met Karen Zoid?

Haai. Ek speel al vir vyf jaar baskitaar in Karen se band.

Ek het 'n voëltjie hoor fluit jy speel nie sommer net baskitaar in 'n band nie, maar het ook onlangs jou doktorstesis ingedien. Kan jy iets van jou navorsing vertel, sonder om bevindinge of vertroulike dinge te verklap?

Wel, tegnies gesproke is my tesis nog nie klaar nie – dis by my promotors vir hulle finale terugvoer. Ek hou duim vas ...

Die navorsing gaan oor populêre Afrikaanse musiek vanaf die heel eerste opnames in 1900 tot nou. Maar eintlik meer oor die manifestasie van politiek in Afrikaanse musiek as oor genre.

evita_karen_steve

Evita Bezuidenhout, Karen Zoid en Steve Hofmeyr (foto: Anelia Loubser)

Dit moet fassinerend wees om 'n vlieg teen 'n muur te wees in daardie soms plofbare gesprekke in Zoid se republiek – nou die aand s'n met Steve Hofmeyr en Evita Bezuidenhout byvoorbeeld! Sien ons wat die program kyk, als, of is daar dinge wat agter die skerms gebeur wat jy dalk nie als mag verklap nie?

Die show word amper heeltemal live geskiet – what you see is pretty much how it happened. Ek dink Karen het die episode baie goed hanteer wat die ratio “pret” en ernstig betref. Dis ‘n kuns wat jy nie vir iemand kan leer nie.

Julle musikante speel 'n wye verskeidenheid musiek, afhangende van die mense met wie Karen praat. Hoe werk dit om die program aanmekaar te sit, uit 'n musikale oogpunt?

Melissa van der Spuy is ons musiekregisseur en sy het al die musiek vooruit beplan. Ons het een repetisie gehad voor die tyd en daarna sou ons inkom, die musiek deurgaan – insluitende “walk-ons” vir die gaste, advertensiebreke, ens, en ook dan repeteer met die musikale gas om die liedjie reg te kry vir uitvoering.

Watter episodes of enige ander iets van die reeks is iets wat jy onthou of wat jou bybly – of dit nou lekker of sleg is, iets wat werk of iets wat nie werk nie?

Ek wil niks verklap van wat kom nie, maar van my hoogtepunte was om saam met van die ouer kunstenaars te speel. Daar’s 'n paar emosionele oomblikke wat kom! Nog iets is die ongelooflike positiwiteit wat die heeltyd op stel geheers het. Die span is ‘n klomp heavy cool mense wat presiés weet wat hulle doen. Al was die ure lank, was dit nooit ‘n pyn om daar te wees nie.

Hierdie was ‘n absolute fees om deel van te wees. TV is maar ‘n langdurige affêre, maar dit was ‘n voorreg gewees – die legendariese gaste (bly kyk, mense, daar is legendes op pad) saam met wie ek die geleentheid gekry het om te speel was ‘n hoogtepunt.

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top