Encountering apartheid’s ghosts – from Krugersdorp to Constitution Hill
Leon Wessels
Uitgewers: Naledi
ISBN: 9781928518358
In sy jongste boek, Encountering apartheid’s ghosts – from Krugersdorp to Constitution Hill, grawe die oud NP-politikus Leon Wessels weer van die ou apartheidspoke op. Byna 30 jaar na die afskaffing van apartheid kyk hy terugskouend daarna en verduidelik waarom hierdie spoke steeds nie tot rus kom nie.
Wessels se jongste boek word beskryf as die kroniek van ’n apartheidspolitikus wat sy konserwatiewe agtergrond ontgroei het en ’n revolusionêre woordvoerder vir verandering geword het wat die ongeregtighede van die verlede vierkantig in die oë kyk.
In ’n openhartige gesprek met Jean Oosthuizen vertel Wessels waarom hy en ander verligtes soos hy vir so lank in die Nasionale Party se apartheidsbanke gesit het en nie vroeër wou erken apartheid is ’n misdaad teen die mensdom nie. Hy praat ook oor die tweeslagtige rol wat die NG Kerk soms tydens apartheid gespeel het en bespiegel oor die toekoms van die ANC.
Wat het jou laat besluit om weer oor die apartheidspoke te skryf? Het ons nie al genoeg daarvan gehad nie, en is daar nog iets nuut daaroor om te sê?
Dit was vir my belangrik om die stories wat ek in my vorige twee boeke in Afrikaans geskryf het, toeganklik vir alle Suid-Afrikaners te maak. Dit het my geleentheid gebied om ou stories met nuwe invalshoeke te skryf. Tyd het ook oor daardie ou stories geloop. Hulle kon dus vars aangebied word.
Geskiedenis is nie soos voetspore in die sand wat deur die wind doodgewaai word nie. Die ou stories word veredel en nuwe perspektiewe word geopen.
Jou boek het midde in die grendeltyd verskyn wat vir die boekbedryf ’n baie slegte tyd is. Aanvanklik kon die gedrukte weergawe glad nie verskyn nie en slegs die elektroniese weergawe was beskikbaar. Intussen kan die gedrukte weergawe darem nou ook bestel word, maar daar is steeds geen boekbekendstellings nie. Hoe raak dit die verspreiding van die boek en die bewusmakingsveldtog daarvan?
COVID-19 het alles verander. Verspreiding en bewusmaking is beslis ’n uitdaging, maar ook ’n avontuur. Die grendeltyd en die nuwe bemarkingstegnieke het my baie van Suid-Afrikaners en my vriende se leespatrone geleer: Wie lees e-boeke, wie is totaal onmagtig om boeke per SMS te bestel wat by jou huis afgelewer word, en wie wil die boek op ’n winkelrak sien.
Dit moet vir jou sowel as die uitgewer baie frustrerend wees om geen boekbekendstellings te kan hou nie. Daar is ook nie kunstefeeste in die nabye vooruitsig waar dit blootstelling kan kry nie. Hoe hanteer julle dit?
Die afwesigheid van oog-tot-oog-kontak tydens boekbekendstellings en kunstefeeste is ’n gemis. Ek en die bemarkingspan voel-voel maar ons pad om die boek in die kuberruim, op enige moontlike platform, onder die aandag van potensiële lesers te bring.
Baie jongmense vra vandag hoe dit moontlik is dat apartheid so lank staande kon bly. Wat sê dit van die Afrikaners se kollektiewe moraliteit dat hulle apartheid so lank aanhou regverdig het totdat daar byna geen ander keuse was as om daarvan afstand te doen nie?
Die verskrikking van die Afrikanergeskiedenis (Anglo-Boereoorlog met die gepaardgaande verskroeide-aarde-beleid en konsentrasiekampe) was (en is nog steeds) in die psige van die Afrikaner ingeprent. Die vrees vir swart oorheersing en die vrees vir die Rooi Beer (Sowjetunie) wat oor ons sou loop, het tot ons kortsigtigheid bygedra. Dit het lank geneem het voordat ek met oortuiging aan die werk kon spring om te help om apartheid af te takel.
Daar is nie net apartheidspoke nie. Daar is ook ANC-spoke wat onder die oppervlak begrawe lê. Moet mens nie ook dáárdie spoke oproep nie, en wie se taak is dit?
Spoke laat hulle nie inkerker nie. Die ANC se aanhoudingskampe en halssnoermoorde hang steeds in die lug. Dit is almal wat oor die besonderhede beskik se taak. Die ANC sal ook hand in eie boesem moet steek. Kort-kort vlam die debat op, maar word weer gesmoor. Dit sal bly opvlam.
Dit is altyd maklik om terugskouend na die geskiedenis te kyk, maar wat sou jy anders gedoen het as jy terugskouend na jou eie loopbaan kyk? Waarom het verligte Afrikanerpolitici soos jy so lank aan die Nasionale Party se kant op die parlement se groen banke gesit? Hoekom het julle jul nie eerder verset teen wat almal vandag weet ’n misdaad teen die mensdom was nie?
Die middeltagtigs was verspeelde geleenthede. Ek dink nie ek het in daardie era slim genoeg geboks nie. Om teen PW Botha te boks moes jou voetwerk vinnig wees, anders kon jy maklik harpuis ruik.
My eie ontwaking het teen ’n slakkepas geskied (Jonathan Jansen noem my ’n “gradualis”). Ek het lank geneem om eers die onwerkbaarheid, daarna die brutaliteit en uiteindelik die immoraliteit te verstaan van dit waarmee die Nasionale Party (ons) besig was. Ek moes worstel met die idee om saam met “terroriste” rondom ’n tafel te sit en gesels oor ’n gedeelde toekoms. Ek moes ook die vrees oorkom om deur Afrikaners geëkskommunikeer te word. Om Saul Dubow se woorde oor my te parafraseer: Dit maak my nie ’n held nie, gee my ook nie vrypas om te moraliseer nie; dit bied my bloot net die geleentheid om te vertel wat ek nie geweet het nie tot ek beter geweet het.
Teen die einde van die NP se bewind is daar verskeie waarborge aan die blanke kiesers beloof waarvan baie tydens die onderhandelingsproses gesneuwel het. Is dit nie billik om te vra of julle nie die kiesers verkul het nie?
Enige onderhandelings is dinamies – jy praat immers nie met jouself nie. Ou posisies is dikwels nie haalbaar nie. Indien jy nie daarmee tred hou nie, bou jy ’n valse werklikheid. Is dit billik om te argumenteer dat Hendrik Verwoerd die kiesers verkul het deur hulle te vertel dat swart stedelinge in 1978 sal terugkeer na die tuislande? Hy was so suksesvol met die verkondiging van die fiksie dat daar nou nog mense is wat die storie aanhang, selfs glo dit kan met ’n paar verstellings herleef.
Herman Giliomee skryf in sy boek Die laaste Afrikanerleiers breedvoerig oor sy indrukke van die onderhandelingsproses en meen julle kon beter gevaar het. Het hy nie ’n punt beet nie?
Dit is alombekend dat Giliomee sy gunstelinggespreksgenote in die Nasionale Party gehad het. Hulle het telkens die onderspit in die binnekringdebatte gedelf. Ten spyte hiervan het nie een van hulle ’n opstand met haalbare alternatiewe planne gelei nie. Giliomee se fassinering met die idee van ’n wit referendum voor die demokratiese verkiesing in 1994 was eenvoudig nie praktiese politiek gewees nie.
Op ’n ironiese manier was beide die HNP van Jaap Marais en die PFP van destyds reg toe hulle voorspel het dat daar uiteindelik ’n swart meerderheidsregering sou kom as die NP aanhou hervorm. Die NP het dit deurgaans ontken. Waarom kon die NP dit nooit insien nie, of het hulle doelbewus vir die kiesers ’n rat voor die oë gedraai?
Die stryd met die HNP was ’n bitter een oor veral sogenaamde kleinapartheid en met die PFP oor grootapartheid. Ek kon die verspottighede van “kleinapartheid” (wie doen sport teen wie, wie sit langs wie in restaurante en openbare geleenthede) insien, maar die idee van ’n Nelson Mandela as staatshoof was toe nog ondenkbaar. Na baie wroeging het ek besef dat ons landgenote nooit afstand sou doen van hul Suid-Afrikaanse burgerskap nie.
In jou boek verwys jy na die Broederbond en die NG Kerk wat albei ’n groot rol gespeel het in die Nasionale Party se denke en beleid. Die Broederbond bestaan vandag feitlik net op papier, maar baie Afrikaanse mense is steeds lidmate van die NG Kerk, wat eintlik maar ’n wit klub is as ons eerlik wil wees. Hoe sien jy die rol van die kerk in 2020 en het die kerk nog hoegenaamd enige aanspraak op moraliteit of ‘n profetiese stem?
Ek het in 1984 kennis gemaak met die NG Kerk se hovaardigheid en dubbelslagtigheid toe ’n parlementêre gekose komitee moes oorweeg of die Ontugwet en die Wet op Gemengde Huwelike verbeter kan word deur die kwetsende aspekte uit die kwetswette te verwyder sonder om afstand te doen van die grondliggende oogmerke van die wette.
Die amptelike NG Kerk-afvaardiging het gevra vir die behoud van die wette (hulle het nie tydens hul voorlegging gedebatteer nie, maar probeer om te intimideer); die nie-amptelike NG Kerk-standpunt was dat die wette geskrap moet word. Die nie-amptelike standpunt het in NP-geledere gewen. Die tweeslagtigheid woed steeds voort wanneer gepraat word oor kerkhereniging en selfdegeslagverbintenisse.
Om in ’n hofstryd, saam met ander, die NG Kerk oor selfdegeslagverbintenisse tot orde te roep het my geen plesier verskaf nie. Dit was egter die enigste manier om die hardnekkige houdings van kerkleiers te stuit. Die NG Kerk loop dieselfde pad as die Nasionale Party van ouds: Eenheid is belangriker as om prinsipiële sake op die spits te dryf. Die NP en die NG Kerk is belangrike hoofstukke in geskiedenisboeke, maar slegs voetnotas in kontemporêre geskiedenis.
Jy het die skeuring in die Nasionale Party in 1982 eerstehands beleef en gee toe dit was noodsaaklik. Sonder die skeuring sou die NP nie regtig kon hervorm nie. Die ANC is vandag ideologies net so verdeeld soos die NP van destyds. Hoe lank kan hierdie brose eenheid nog staande bly en hoe lyk die ANC se toekoms as jy ’n voorspelling moet waag?
Die ANC is gedoem tot skeuring. Mense soos Tito Mboweni het reeds vertel hoe bevrydend dit is om onafhanklik te dink en nie onder die juk van Stalinistiese dissipline te staan nie.
Jy was ’n ondersteuner van Barend du Plessis toe PW Botha in 1989 as NP-leier bedank het. Barend het met enkele stemme teen FW verloor. Hoe dink jy sou dinge verloop het as Barend president geword het pleks van FW?
Barend was ’n strategiese denker en knap organiseerder met ’n oog vir besonderhede. Onder sy leierskap sou daar ’n ander dinamika in NP-geledere gewees het: Hy sou Pik Botha nader getrek het en nie vir Magnus Malan vervreem het nie. Die uiteindelike uitkoms sou egter nie veel verskil het nie.
De Klerk het die land van apartheid bevry net soos wat Michail Gorbatsjof sy land van ’n ou orde bevry het. In die nuwe orde het De Klerk egter sy rug op die regering van nasionale eenheid gedraai en nie veel van ’n rol gespeel nie.
FW het groot waagmoed aan die dag gelê. Daarvoor sal hy altyd onthou word. Hy het die onwerkbaarheid van die ou bedeling verstaan. Hy het egter nooit die onmenslikheid daarvan in die oë gekyk nie.
Waarom kon hy dit nie regkry om ’n betekenisvolle rol in die nuwe Suid-Afrika te speel nie?
Hy het te veel intellektuele terugvalposisies gehad. Jy is volledig in demokratiese Suid-Afrika of jy is daaruit. Daar was net te veel juridiese kwalifikasies in sy benadering.
Sommige mense sê die NP se onderhandelaars by Kodesa was ’n liggewigspan vergeleke met die ANC s’n. Verligte senior ministers soos Pik Botha en Gerrit Viljoen (wie se gesondheid ongelukkig nie meer baie goed was nie) was nie regtig deel van die onderhandelings nie. Was die NP se onderhandelaars regtig opgewasse vir die taak en het julle julself nie oorskat nie?
Die Amerikaanse diplomaat Chet Crocker het jare later teenoor my opgemerk: “Julle het minder opsies gehad as wat ons gedink het.” In so ’n drukketelsituasie word jou keuses bepaal deur jou opsies. In die ses jaar (amper sewe jaar) wat die onderhandelings geduur het, van Nelson Mandela se vrylating (Februarie 1990) tot die ondertekening van die Grondwet (Desember 1996) was daar baie rolspelers in NP-geledere, bygestaan deur senior staatsamptenare en uiters bekwame tegniese adviseurs. Die kabinet (voor 1994) en later die NP-strukture het afgeteken op al die grondwetlike posisies. Daar was hewige interne stryd. Dat FW daardie groep, met hul uiteenlopende verwagtinge, bymekaar kon hou, is ’n pluimpie vir hom.
Baie van die aanvanklike hardekwas posisies is deur die onvermydelikheid van demokrasie in ’n regstaat getemper. Die grootste teleurstelling is natuurlik dat FW weggestap het van die Regering van Nasionale Eenheid. Dit het ’n verdoemende kettingreaksie gehad: Staatsamptenare uit die ou bedeling was sonder politieke verteenwoordiging in die uitvoerende gesag en enige geleentheid om nuwe konvensies te ontwikkel is verbeur.
Sal die spoke van apartheid ooit tot rus kom? Suid-Afrikaners leef vandag steeds in twee wêrelde, naamlik wit en bevoorreg in een wêreld en swart en histories benadeel in ’n ander wêreld. Hoe bou mens ’n brug tussen hierdie twee wêrelde as die kloof tussen hulle so wyd is?
Apartheidspoke sal hulle nie laat begrawe nie. Ons praat dan nou nog oor die Anglo- Boereoorlog en ons lees vandag nog gereeld stories van daardie konflik in die dagblaaie. Dit is belangrik om ’n bewussyn van die verlede te hê maar nie toe te laat dat dit jou pootjie wanneer jy uitreik na die toekoms nie. Die kloof is wyd, maar dit is ons roeping om daaraan te werk. Daar is vir almal, hoe beskeie ook al, ’n geleentheid om brûe te bou.
Jy het nou die dag op Facebook gevra wat sou gebeur het as die NP die verkiesing in 1948 verloor het. Daar was interessante en selfs vreemde reaksies op jou vraag. Het jy dalk ’n kort antwoord as jy ’n raaiskoot moet waag?
Ek was verbaas oor die bitsigheid wanneer generaal Smuts se tekortkominge beredeneer word. Internasionaal sou sy Verenigde Party geen hond haaraf kon gemaak het nie. Smuts se ervaring van die na-oorlogse Verenigde Volke-Organisasie (nou die Verenigde Nasies) se afwysende houding teenoor Suid-Afrika se rassevraagstukke is goed gedokumenteer. Die ou Sappe (ook Smuts) was vasgevang in die web van rassevooroordele. In die laat vyftigerjare was daar dalk ’n geleentheid om met Albert Luthuli n verstandhouding te bereik. Ek twyfel of die kieserspubliek toe al almal in Suid-Afrika as gelyke burgers sou aanvaar het; dit kon egter gehelp het om hardvogtige houdings te versag en stereotipes af te takel.
Hoe lyk Suid-Afrika en die land se politiek oor 10 jaar as jy eerlik in jou kristalbal moet kyk? Die ANC kon duidelik nie sy belofte van ’n beter Suid-Afrika vir almal nakom nie. Armoede, korrupsie, werkloosheid, gebrek aan dienslewering is aan die orde van die dag. COVID-19 maak dinge nog moeiliker as wat dit reeds is. Moet ons nie maar aanvaar ons is nie veel beter af as die res van Afrika en daarby aanpas nie?
Suid-Afrikaners moet hul meerderwaardigheid oor Afrika eenkant toe vee. Daar is genoeg rede om realisties-optimisties te wees. COVID-19 bring groot stremming, maar bied ook geleentheid om nuut te dink en te doen. Dit vra waagmoedige leierskap.
Die ANC sal in die na-COVID-19 era uitmekaar spat. Die ou struggle-verlede sal hulle nie bymekaar kan hou nie. Toekomsverwagtinge by jongmense sal swaarder weeg as die romantisering oor die verlede. Wie dan die botoon gaan voer – die radikale elemente in ons samelewing of die groep wat oor die ou (en nuwe) politieke verdelings hande vat – is ’n ope vraag.
Moet blankes vir altyd skuldig voel oor die verlede, en wat moet hulle doen om deel te wees van die toekoms?
Ek dra nie skuldgevoelens oor die verlede nie. Dit is die pad waarlangs ek gekom het; daaraan kan ek niks doen nie. My gesindheid nou kan ek beheer: Skuif paternalisme eenkant toe en rol moue op. Reik uit na ander.
- Encountering apartheid’s ghosts kan aanlyn hier by Naledi bestel word.
Kommentaar
Vir 'n breër perspektief, lees gerus ook die resensie deur Leon Lemmer: Leon Wessels oor hoe om ‘n verloopte Afrikaner te word by http://praag.co.za/?p=47187
Dankie, Jean. Dit is 'n goeie onderhoud. Mens moet soms diep in die verlede delf om in die toekoms te kan sien.
Groot waardering vir Leon Wessels se eerlikheid en wysheid. En dankbaar dat Naledi in 'n rateltaai tyd vir uitgewers dit gewaag het met hierdie boek.
Interessant hoe Wessels ( en Jean) se koppe werk.
Ek sou graag die antwoorde van 'n senior ANC-lid wou hoor op dieselfde vrae.
Ek skat die verskille sal hemelsbreed wees.
Ons het hier te make met twee opponerende groepe, die een met universele moraliteit en die geskiedenis aan hul kant en die ander 'n gediskrediteerde, rassistiese bestel wat Naas die Nazis as een van die mees gehate vorms van regering ooit sal bly voortleef in geskiedenisboeke.
Dat die kerk, en meer spesifiek die NGK kop-in-mus was met die ras gedrewe leiers, sal 'n ewige verdoemenis wees. Die, NGK is inderdaad, soos Oosthuizen dit stel, 'n wit klub wat irrelevant en vinnig aan die verdwyn is.Daar is steeds ander 'wit klubs' en instellings wat hul bestaansreg te danke het aan witmense wat steeds dink in terme van 'eie sake' en sukkel om aan te pas by 'n nie-rassige, inklusiewe SA.
Die omsukkelde ANC is besig om voor ons oë te verander.
Die interne prosesse sal uiteindelik lei tot iets anders.Wat dit sal wees, weet niemand nie.Maar dit sal nie vanuit donker hoekies deur 'n minderheid bepaal word nie, maar sal uiteindelik die gevolg wees van 'n demokratiese proses.Dat baie storm -en-drang daarmee gepaard sal gaan, is gewis.
Ek het respek vir Wessels, net jammer dat hy nie die insig en vasberadenheid van 'n Bram Fischer of 'n Beyers Naude gehad het om reeds vroeër sy teenkanting teen die Nasionaliste te verkondig het nie.
Uitstekende onderhoud Jean met die regte vrae om die die ware Leon Wessels te leer ken.
Charl Adams se reaksie op die onderhoud laat my onwillekeurig dink aan ‘n aanhaling uit George Orwell se 1984:
“Every record has been destroyed or falsified, every book rewritten, every picture has been repainted, every statue and street building has been renamed, every date has been altered. And the process is continuing day by day and minute by minute. History has stopped. Nothing exists except an endless present in which the Party is always right.”
Leon Wessels wat nou so wroeg en belei het eers heerlik saam met die NP geloop en toe die skrif aan die muur kom loop hy maar saam met die nuwe stroom, so hartseer en skuldig.
Mnr. Wessels bewys jou berou skenk jou bates aan die benadeeldes dan sal ek jou glo.
Daar is eenvoudig te veel binnekring ooms wat omgevlie het en verder vreet.
Groete
Boetman
Dankie Jean!
Alles waar maar Wessels en Meyer het geen kredietwaardigheid nie. Wynand Malan het in '80's ook geweet dit was verkeerd en geloop... Hulle het na hulself gekyk en gebly en seker 'n goeie aftree-geskenk gekry. Hy weet nie werklik wat die ervaring van die gewone man op die grond is nie - afgesonder gewees in die NP dampkring en deel van die besluitnemers groep gewees wat nie die militêre of bedryfsielkundiges gebruik het in die onderhandeling proses nie - as gevolg van hulle meerwaardigheid. Dit is 'n geval van waardes, houding en gedrag nie gelyn was met die uitkoms nie asook die mense wat in 1992 JA gestem het nie!
Om Afrikaners met Nazi's te vergelyk is mos maar een van Adams se stokperdjies.
Ek weet nie meer so mooi nie. In 1968 het Johan van der Vywer, ons Privaatreglektor by die PU vir CHO, gepraat oor fundamentele menseregte, en dit was duidelik dat hy niemand op grond van kleur uitgeskakel het nie. In dieselfde jaar het Evert, 'n teologiestudent, toe nog in sy eerste jaar (soos ek en Leon) gevra hoe ons apartheid met die Bybel versoen, met verwysing na Jakobus 2, verse 1 tot 9.
Die skille het daar van my oë afgeval. Ek kan nie verstaan hoe dit professionele politici en die NG Kerk so lank geneem het om die lig te sien nie.
1994 was te laat. Twintig tot dertig jaar te laat, soos Leon nou erken. En kyk waar sit ons nou. Nou moet ons as individue betaal vir die kollektiewe sonde.
Chris, dis kuddementaliteit. Die meeste mense volg die trop want jy wil nie uitstaan of 'anders' wees nie.Ook is dit gerieflik en veilig.
Ons moet almal ons hoofde sak en bely dat ons medepligtig was. En hiervoor sal ek skaam bly tot my dood. Ek wil Jeanne Goosen se ikoniese opskrif verbuig en sê, 'Die meeste van ons was só'
Ja, 'n mens kan nou groot filsofiese redenasies aanbied en bybelversies aanhaal, aan die einde van die dag het dit oor die gatsak gegaan, die lekker aftrede by die see huisie, die Merc, die aansien in die binnekring. Dit is hoekom ons so lank gevat het om van die skille oor die oë ontslae te raak.
Daarom as Mnr Wessels en kie vir die witmense oor hulle skuld wil preek, bewys jou diepe hartseer deur 'n stukkie skin in the game te plaas.
Boetman
In Amerika is daar 326 "Indian Resevations" vir 567 erkende stamme. Sal die geagte skrywer so goed wees om te verduidelik wat die verskil tussen die Apartheid tuislande en die 'resevations' is en hoe elkeen tot stand gekom het.
Dit sal ook goed wees as skrywer sal aandui hoeveel oorspronklike inwoners daar in elke land was met die tot standkoming van die tuislande en resevate en hoeveel daar tans is.
Dit behoort 'n goeie prentjie te skep van watter land se beleid die mees onderdrukkend was.
Leon Oosthuizen verneem oa by Leon Wessels hoekom hy so lank op die parlement se groen banke gesit het “sonder enige verset” teen apartheid. Sou dit nie verfrissend en selfs uniek gewees het nie as hy reguit geantwoord het dat hy nie sy “sitplek” en sy opwaartse pad na ’n ministerskap in gedrang wou bring nie. Maar daarteenoor vertel hy eers hoe lank dit hom geneem het om die “onwerkbaarheid” van apartheid te begryp en daarna om die beurt nog tyd om eers die “brutaliteit” en nog later ook die “immoraliteit” van die beleid te “verstaan”. Ons leer egter in advokaat Chris Marnewick se kommentaar op die Wessels-onderhoud dat hy en Wessels was studente tydgenote op PU vir CHO waartydens hulle in 1968 kennis gemaak het met hul regsdosent Johan van der Vywer wie by hulle geen twyfel oor sy afkeur in kleurskeidslyne gelaat het nie. Marnewick verwys ook na hulle kennismaking met ’n mede-student wat gevra het “hoe ons apartheid met die Bybel versoen”. Hy verklaar dat dis toe in daardie tyd dat die “skille” oor apartheid van sy oë “afgeval” het. Hy voeg by dat hy nie kan verstaan hoe politici en die NG Kerk so lank geneem het om die lig te sien nie; synde ’n vraag wat hy pertinent direk aan Wessels kon gerig het. Op grondvlak praktyk is die massas apartheid aanhangers basies deur hul leiers op die groen banke en elders herdersloos oor die dringende noodsaaklikheid van ’n wegbeweeg van apartheid gelaat. Helaas, daardie les moes toe eers finaal na sowat twee dekades ten duurste voorafgegaan en betaal word deur die trotseer van internasionale sanksies, dreigende nasionale bankrotskap en bloedige opstande en lewensverlies.
“Ek het lank geneem om eers die onwerkbaarheid, daarna die brutaliteit en uiteindelik die immoraliteit te verstaan van dit waarmee die Nasionale Party (ons) besig was ... Ek moes ook die vrees oorkom om deur Afrikaners geëkskommunikeer te word ... Dit bied my bloot net die geleentheid om te vertel wat ek nie geweet het nie tot ek beter geweet het.”
Daardie is interessante opmerkings!
Wat het mnr. Wessels voor hy geweet het, nie geweet nie? Is daar (vir hom) ’n verskil tussen “weet” en “verstaan”?
Ek het oor dekades ’n hipotese: Die enigste Afrikaanses wat deur Afrikaners “geëkskommunikeer” is, was dié wat lank en diep in die netwerk van nasionalistiese stutorganisasies gewerk het.
Ek raai ook dat dit steeds ’n groot deel van mense soos mnr. Wessels se probleem is dat hulle nie tussen “Afrikaner” en “Afrikaner Nasionalis” kan en wil onderskei nie. Dus die nonsens oor “die psige van die Afrikaner”. Let op die bepalende en veralgemenende “die”.