Onderhoud: Heindrich Wyngaard oor A home for Zephany

  • 2

homeforzephany

Skrywers oor hul nuwe boeke: Heindrich Wyngaard oor A home for Zephany.

  1. Heindrich, jy het pas die storie van Zephany geskryf. Sonder om haar identiteit bekend te maak: wie is sy en waarom haar storie?

Die kort weergawe is dat sy 'n (nou) 18-jarige matriekmeisie van die suidelike voorstede van Kaapstad is, eintlik maar die suidelike deel van die Kaapse Vlakte, wat met haar geboorte uit die kraamsaal by Groote Schuur hospitaal ontvoer is. Haar storie is die soort wat 'n mens in flieks sien: dat sy 18 jaar later "ontdek" word wanneer haar jonger sussie by dieselfde skool as sy begin skoolgaan en die kinders hulle daarop bedag maak dat hulle "tweeling" by die skool is. Nou is daar die hereniging met (vir haar) vreemde biologiese ouers en die skok/trauma van die nuus dat sy nie die kind is van die ma wat haar grootgemaak het nie. Dit is 'n storie wat alle grense oorskry; wat diep binne elke mensehart behoort te tref.

  1. Hoe het jy jou navorsing gedoen?

Ek het my joernalistieke hoed opgesit en al die nuusdekking wat ek in die hande kon kry – koerantberigte, gedruk en aanlyn, asook uit die argiewe, plaaslike en internasionale radio- en TV-onderhoude, sosiale media en webwerwe – byeen gebring en met mekaar vergelyk.

heindrich_wyngaard650

Heindrich Wyngaard (foto verskaf)

  1. Waarom jou belangstelling in die gegewe?

Dit is allereers 'n universele, aangrypende menslike storie. Tweedens het ek nog altyd in ware lewensdramas belang gestel, meer as in fiksie. In die derde instansie, en straks die belangrikste, is daar die versugting om stories van my gemeenskap te vertel. Hiermee bedoel ek stories wat in die bruin gemeenskap hul oorsprong het en alte dikwels onopgeteken bly (wat boeke betref) of opgeteken word deur skrywers wat nie noodwendig die aanvoeling of sensitiwiteit of insae in die maatskaplike vesel van die gemeenskap het nie.

  1. Hoe het jy die teks aangepak?

My "handleiding" was Mike Nicol se Monkey Business (Umuzi) oor die Dewani-moordsaak. Mike het die storie (tot voor Dewani in die hof verskyn het) vertel of geherstruktureer aan die hand van plaaslike en internasionale mediaberigte oor die gebeure. Dit is ook Mike wat my ‘n klomp jare gelede aan sogenaamde nuwe joernalistiek bekend gestel het toe hy my 'n boek oor dié genre as geskenk gegee het. Dit bevat 'n fantastiese versameling artikels, ingelei deur Tom Wolfe, deur skrywers soos Joan Didion, Norman Mailer en Truman Capote, waar die skrywer self ook deel van die storie word. Plaaslik is Mike en Rian Malan by verre die voorlopers in dié skryfstyl, en jammerlik laat weinig tydskrifte en koerante ruimte daarvoor.

  1. Met wie het jy saamgewerk met die neerskryf van die storie?

Ek het dit op my eie gedoen, en was bevoorreg dat Naledi bereid was om dit op sulke kort kennisgewing aan boord te neem. Noudat ek terugkyk op die proses kan ek self nie glo dat ek die boek in omtrent drie, vier maande voltooi het nie: die idee het vroeg in Maart vanjaar by my posgevat en ek wou dit reeds einde April uitkry, betyds vir "Zephany" se 18de verjaardag. Die skryfwerk is toe eers middel-Junie afgehandel.

 

 

 

  • 2

Kommentaar

  • Johannes Comestor

    'n Belangrike vraag word nie gevra en ook nie beantwoord nie: Waarom is die boek in Engels en nie in Afrikaans nie geskryf?

  • Naola de Ruiters

    Knap gedaan, Heinrich. Dis so waar dat daar ware, egte, roerende stories is vanuit ons gemeenskap. Dankie dat jy in die boek verwoord wat Zephany se nageslag sal kan bewaar vir hulle nageslag. Dit is inderdaad 'n meesterstuk . 'n Boek wat mens op reise neem - ware reise van werklikheid en hartseer tesame met meelewing.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top