Rentia Bartlett-Möhl, 'n redakteur by Protea Boekhuis, vertel vir Naomi Meyer van Protea se kinderboekillustrasiekompetisie. Wenillustrasies van verlede jaar se kompetisie is verskaf en tussendeur die onderhoudsvrae en -antwoorde geplaas.
Rentia, ek hoor van ’n opwindende geleentheid vir kinderboekillustreerders wat Protea aanbied. Sal jy asseblief vir ons lesers hiervan vertel?
By Protea Boekhuis is ons op soek na buitengewone opkomende illustreerders en organiseer hierdie jaar, saam met drie internasionale uitgewers, ’n internasionale kinderboekillustrasiekompetisie. ’n Groep professionele beoordelaars – uit Suid-Afrika onder andere Karlien de Villiers en Diek Grobler – sal die vyf beste inskrywings in elke betrokke land kies. Hierdie kompetisie is werklikwaar ’n uitstekende geleentheid om internasionale blootstelling te kry. Die werk van die twintig wenkunstenaars sal deel wees van ’n reisende tentoonstelling wat onder andere in The Hive in Worcester (in die VK), die Sjanghai Openbare Biblioteek (China), die Bilderbuchmuseum in Troisdorf (Duitsland), die Centrale Bibliotheek in Rotterdam (Nederland) en die Galery Universiteit Stellenbosch (GUS) vertoon gaan word. Die finale keuse van wenillustrasies gaan ook in ’n internasionale katalogus gepubliseer word en voorgestel word aan die bekendste internasionale kinderboekuitgewers by die Bologna-kinderboekebeurs in 2016. Die kompetisie is dus ’n baie opwindende geleentheid vir illustreerders en kunstenaars en moet beslis nie misgeloop word nie.
Is hierdie kompetisie oop vir almal wat al ooit hulle hand aan kinderboekillustrasies gewaag het? Of moet slegs mense inskryf wat ’n formele grafiesekunste-kwalifikasie het?
Ja, enigiemand kan inskryf. Die kompetisie is veral gemik op kunstenaars en illustreerders wat nog nooit voorheen ’n boek gepubliseer het nie, maar selfs diegene wat het, word nie uitgesluit nie.
Protea gee die pragtigste kinderboeke uit en heelwat hiervan is vertaal en die illustrasies dus ook deur internasionale kunstenaars behartig. Waarom hierdie kompetisie loods as daar dan reeds soveel mooi kinderboeke bestaan en nog heelwat is om van te kies (wat vertaal kan word)?
Protea publiseer inderdaad baie mooi kinderboeke. Die meeste hiervan is oorsese produksies wat in eerste instansie elders gepubliseer is. Ons koop gewoonlik die vertaal- en publikasieregte van hierdie boeke, laat dit vertaal en gee dit vir ’n plaaslike mark in Afrikaans en/of Engels uit. Op dié manier kry Suid-Afrikaners toegang tot van die beste kinderboeke wat internasionaal gepubliseer word. Hierdie kompetisie is egter ’n manier om die teenoorgestelde te doen: ons wil naamlik Suid-Afrikaanse illustreerders en kunstenaars aan ’n internasionale mark voorstel. Die kinderboekbedryf is beslis ’n internasionale bedryf met boeke wat in verskeie tale regoor die wêreld vertaal word. Vir illustreerders om naam te maak, is dit vandag noodsaaklik om internasionale blootstelling te kry. Ons wil met hierdie kompetisie aan ’n internasionale gehoor wys watter talent daar by ons plaaslik skuil.
Kom ons sê iemand wil deelneem. Moet gedrukte voorleggings gepos word, of kan ’n e-pos ook deug? Wat is die formate waarbinne voorleggings oorweeg sal word?
Voorleggings word elektronies gedoen. Belangstellendes moet vir ons drie van hulle mees uitstaande, onderskeidende illustrasies stuur. Die drie illustrasies moet saam ’n storie vertel (dit kan ’n bestaande storie wees of ’n eie storie) en mag nie voorheen-gepubliseerde illustrasies wees nie. Voor die einde van 1 Junie 2015 moet illustrasies en bygaande teks by www.wwpbic.com opgelaai word. As die eerste digitale keuring geslaag word, sal ons die illustreerder vra om drukstukke te stuur.
Ek hoor dis nie die eerste keer dat hierdie kompetisie aangebied word nie en dat goeie dinge verlede jaar se wenkunstenaars te beurt geval het. Wie was hulle en wat het die deelname (en wen van die kompetisie) toe vir hulle beteken?
Dit is die eerste keer dat die kompetisie in Suid-Afrika aangebied word. Verlede jaar is dit die eerste keer in Nederland en in die Verenigde Koninkryk aangebied. Die wenillustrasies van verlede jaar se kompetisie kan hier gesien word: http://www.wwpbic.com/wwpbic.com/index.php/en/winners-2014. Verlede jaar se wenners het elkeen ’n internasionale boekkontrak losgeslaan en is besig om ’n eerste kinderboek te publiseer wat in verskillende tale vertaal gaan word.


Kommentaar
Ek stel belang om in te skryf. Meer besonderhede asb. Willem du Plessis
Hallo Willem, wie teken vir jou?
Wanneer is die volgende kompetiesie (2017)?