Onderhoud: Die McGregor Gedigtefees | The McGregor Poetry Festival 2015

  • 1

mcgregorfees15.400

Die McGregor Gedigtefees 2015 vind 27 tot 30 Augustus plaas. Marinda Oosthuizen, een van die organiseerders, vertel vir Naomi Meyer van hierdie fees, waar talle swaargewigte te sien sal wees.

Hallo Marinda, vertel asseblief vir ons lesers van die McGregor Gedigtefees.

Vanjaar vind die derde McGregor Gedigtefees plaas, van 27 tot 30 Augustus. Billy Kennedy se passie vir poësie was die inspirasie om in 2013 saam met ‘n groepie vriende wat in sy passie deel ‘n fees aan te bied. McGregor Gedigtefees fokus hoofsaaklik op poësie en is nie 'n breë literêre fees nie.

Op hierdie stadium is dit ‘n tweetalige fees – Afrikaans en Engels – en daar word gehoop om dit met genoeg belangstelling in die toekoms ook in van die ander landstale aan te bied. Met die gedigtekompetisie wat vanjaar geloods is, kan inskrywings in Engels, Afrikaans of Xhosa wees.

Khadija-Tracey-Heeger-verskaf

Khadija Tracey Heeger (foto verskaf)

Ons program sluit onder andere in Antjie Krog, Petra Müller, Adam Small, Ian McCallum, John Maytham, Douglas Reid Skinner, Diana Ferrus, Philip de Vos, Gert Vlok Nel, Koos van der Merwe, Patricia Schonstein, Lara Kirsten, en vele meer. Hierdie jaar word daar vir die eerste keer ‘n feeslesing aangebied: “Die naam van die digter in Breyten Breytenbach se poësie” Louise Viljoen van die Universiteit Stellenbosch. Wat hierdie fees ook besonders maak, is dat ons nie net gevestigde digters nie, maar ook opkomende digters geleentheid bied om deel te neem.

Die oopmikrofoonsessies is ‘n platform en geleentheid vir opkomende digters om hul werk voor te lees en bekend te stel.

Ons is behoorlik oorval deur belangstelling om aan die fees deel te neem en dit het tot gevolg gehad dat ons vanjaar ook randaanbiedings het, wat al om die uur gaan plaasvind.

Lokale is binne loopafstand van mekaar. Maak gerus gebruik van die Noddy Hop-on-Hop-off-pendeldiens.

Koos-van-der-Merwe-by-Karin-Amm

Koos van der Merwe (foto: Karin Amm)

Dis groot name, dié! Wat is die gedagte agter die fees?

Billy Kennedy se droom met die fees is om erkenning te gee aan digters en hul werk te vereer; om poësie op ‘n informele intieme wyse aan die publiek bekend te stel; sy passie met ander liefhebbers van poësie te deel en hulle te ontmoet; maar veral om hierdie kunsvorm te bevorder. Met die mentorskapprogram “Growing Poets” word potensiële talent wat nie altyd die geleentheid het nie, geïdentifiseer en in hierdie program opgeneem, opgelei, toegerus en ‘n geleentheid gebied om ‘n eie bundel te publiseer.

Waar is McGregor? Hoe kom mens daar?

McGregor is ‘n historiese klein dorpie tussen die Rviersonderendberge en die Langeberge ongeveer 20 km vanaf Robertson en met die N1 slegs twee ure se ry vanaf Kaapstad.

Mavis-Vermaak-Photo-by--Laurissa-Vergottini

Mavis Vermaak (foto: Laurissa Vergottini)

Hoe lyk die program – is daar net digters aan die woord, of nog ander dinge om te doen?

Benewens die digters se voorlesings word daar Vrydagoggend ‘n gratis program vir skole aangebied deur onder andere Antjie Krog, en ‘n InZynch-poësie-sessie.

Donderdagaand 27 Augustus: ‘n ete aan tafel met "C Louis Leipoldt" by Thebaldi’s Restaurant

Vrydagaand: Leonard Cohen in Afrikaans deur Koos vd Merwe

Saterdagaand: Koos du Plessis "Herinneringe van Gister" deur Forest aangebied by die NG Kerk McGregor

Saterdagmiddag en Sondaoggend: Gert Vlok Nel-gedigte en -songs - Die lewe se laaste refrein.

Filmvertonings sluit in Othello en Bob Dylan, Don’t look back.

Poëtiese wandeling – Caritas Garden.

Plaaslike blaasorkesparade.

Kom geniet uitstaande restaurante se spyskaarte, plaaslike wyne, kuierplekke waar tot laat spontaan verse gemaak word. Besoek kunsgalerye, stoepkuiers by koffiewinkels en vele meer. Bespreek jou etes by restaurante.

Gaan loer na die volledige hoofprogram en randprogram, asook na inligting by www.mcgregorpoetryfestival.co.za.

Antjie-Krog

Antjie Krog (foto: NB-Uitgewers)

Waar koop mens kaartjies en kan mens net opdaag en by die deure waag om te koop?

Kaartjies is beskikbaar by enige Computicket/Shoprite/Checkers-loket of aanlyn, by die feeskantoor (023 625 1871), of by die deure.

Om teleurstelling te voorkom, bespreek vroegtydig, omdat die venues intiem is en ‘n beperkte aantal sitplekke het.

 

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top