Onderhoud: Coenie de Villiers oor 'n Ander wêreld

  • 1

Coenie de Villiers sien mense en plekke raak. Hy gesels met Naomi Meyer oor hoe hy kykers saam met hom na al hierdie ander waarnemingswêrelde neem. Onderaan die onderhoud verskyn foto's van Coenie de Villiers, Deon Meyer, Etienne van Heerden, duiweboer Gert Willemse en die asemrowende landskap van die Karoo.

Hallo Coenie, jy was welbekend op Kwêla se groen bank, maar Sondagaand neem jy kykers weer na 'n ander wêreld met die reeks waarby jy nou al 'n paar episodes lank betrokke is. Vertel ons asseblief van die naam van die reeks, en wat dit beteken.

Die reeks is reeds so vier weke aan die gang, en ons is regtig gelukkig met die reaksie van kykers. Ek is ’n groot aanhanger van dokumentêre programme en het die reeks aan kykNET voorgestel. Hulle het ingestem, en ons het ’n jaar gelede aan die dertien episodes begin skiet. Dis onderwerpe wat so effe aweregs is, maar wat my interesseer. Ons vang vis saam met die oorblywende handlynvissers van die Weskus, ry langafstand saam met trokdrywers, bly saam met boemelaars en bergies, bring nagte saam met noodwerkers deur – daar is ’n swetterjoel onderwerpe.

Hier is nog sommige van die wêrelde wat ons besoek:

• Spierbouers en hokvegters wys wat 'n mens met jou spiere kán vermag.

• Die Kaapse gemeenskap berei voor vir die Kaapse Klopse en sing soos net hulle dit kan doen.

• Fopdossers maak hulle harte en huise oop om lig te werp op die skemerwereld waar die manne, wel, ‘n bietjie ánders is.

• Digters en skrywers kap kwarts en half-edelgesteentes uit die rots om aan die lewe te bly.

• Sommige broodwinners verrig daagliks doodsveragtende werk om hul kos te verdien.

Op ’n manier wys ons dus ’n “ander” wêreld aan kykers; daardie mense, plekke en dinge wat mense nie altyd raaksien of noodwendig van wil weet nie.

Hoe verken mens in 'n kort rukkie iemand se wêreld op 'n televisieskerm?

Jy kry die beste produksiespan moontlik, druk die begroting dat hy kreun (want hy is klein!), werk so vinnig as wat jy kan, hoop die mense vertrou jou genoeg om met hulle te kan praat, skiet so effektief moontlik wat tyd betref, probeer die beste kamerawerk en regie doen, en dan … wel, dan bid jy en hou jou asem op!

In die vierde episode verken jy 'n deel van die wêreld waarvan ons uit jou musiek weet dat dit vir jou kosbaar is - die Karoo. Wil jy dalk iets van Sondagaand se episode vertel?

Dit was vir my een van die mees spesiale episodes. Ek is oneindig lief vir die Karoo en het ’n piepklein huisie in die Klein Karoo. Ek is bekommerd oor skaliegasontginning, en wou terselfdertyd sommer net aan kykers wys hoe mooi en spesiaal die Karoo werklik is. Die ideale mondstukke om dit te doen, was twee skrywers wat met die woord kan werk, wat in en uit die Karoo skryf, en wie se skryfwerk van wêreldgehalte is – Deon Meyer en Etienne van Heerden was bereid om my deur húlle Karoo te laat reis, en ek kon nie vir beter reisgenote gevra het nie. Ons skiet met Etienne bo-op Toorberg op sy ou familieplaas, besoek die dorpie waar Mario Salviati sy beslag vind, en loer ook oor sy skouer na die nuwe roman wat aanstons verskyn. Saam met Deon kyk ons na sy wonderlike fotografie, en hoor onder meer waarom Trompie vir hom belangrik is.

Die "Toorwoorde"-episode van 'n Ander wêreld word op Sondagaand 10 Mei 2015 op kykNET (DStv-kanaal 144) uitgesaai.

Besoek hierdie webwerf vir nog inligting oor die program.

  • 1

Kommentaar

  • Elsche Dippenaar

    Ek het elke episode van 'n Ander wêreld saam beleef en verstom gestaan hoe vreemde en anderste wêrelde in deernis ontsluit word. Coenie se opregte deernis met mense het gemaak dat elke episode ons aangeraak het. Ons saam laat lag en huil het.
    Ek wil baie graag kontak maak met sy kameraman. Ons wil 'n video laat maak en is verstom deur die kunstige aanvoeling van die kamerawerk - ook van die "Vat die Rap"-program. Waar kan ons die persoon se inligting kry?

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top