Ons moes vooraf ons verhale stuur. Ons sou dan by die skryfskool gehelp word om – onder Hans (vir wie ek altyd Prof Hans genoem het) se leiding – daaraan te skaaf.
Die jaar was 1995, die plek Paternoster aan die Weskus, en ons was daar as deel van die Tweede Swart Afrikaanse Skrywersimposium. Ons was opgewonde om ’n paar dae saam met vername gevestigde skrywers – orraait, meestal wit, maar ook bruin en ook swart – te kon deurbring.
In gesprekke kon ons na hul ervaring en hul wysheid luister, hulle en die letterkundiges, en saam met hulle die weg vorentoe, ’n anderhalfjaar duskant 27 April 1994, bepaal.
Ons was die “nuwe stemme” waarna Elsa Joubert verwys in Reisiger, die tweede volume van haar outobiografie. Ek was ’n joernalistiekstudent; ander deelnemers was op die drumpel daarvan om hul regmatige plek as deel van die breër Afrikaanse skrywerswêreld in te neem. Hulle name was toe nog minder bekend: name soos Kirby van der Merwe, Ingrid Jones en Diana Ferrus; nou het hulle nie eens meer bekendstelling nodig nie.
En net die ander dag skryf nóg ’n deelnemer aan daardie skryfskool, Willem Fransman (jnr), via WhatsApp dat hy hoop als is oukei en dat hy met die kyk na ’n TV-onderhoud met my (na aanleiding van ’n RSG-dokumentêr wat ek oor die Zephany Nurse-verhaal vir RSG vervaardig het) “stilletjies [...] vir myself gesê [het]: ‘Daar het wragtag iets goeds uit Paternoster gekom.’”
Dit het Willem verder laat dink aan die moontlikheid daarvan dat ’n radiodokumentêr moontlik oor daardie historiese werkswinkel – ’n kernaspek van daardie historiese Paternoster-skrywersbyeenkoms – saamgestel kan word. Willem se gedagte is dat die dokumentêr sal fokus op “die invloed van daai 11 handuitgesoekte beginnerskrywers, veral op Afrikaans”. Die eeufeesherdenking volgende jaar van Afrikaans se status as ’n amptelike taal, aanvanklik toegestaan in 1925 en toe in 1994 herbevestig, sou die ideale geleentheid daarvoor wees, motiveer Willem verder.
Wanneer hy die name lys, tref die krag van sy voorstel behoorlik: Kirby van der Merwe, ontvanger van ’n hele aantal skrywerstoekennings in die onlangse verlede; digter Diana Ferrus, wat vandag kan spog met ’n eredoktorsgraad van die Universiteit Stellenbosch; Willem self, wat sy naam gemaak het as die eerste wenner van die RSG Sanlam-radiodramakompetisie; Ingrid Jones (toe nog Geldenhuys) wat nou gevestig is in die tydskrifbedryf en ook al haar verskyning as TV-aanbieder gemaak het; en ander soos die ontslape Cape Flats-skrywerpionier Lennie Koza.
Natuurlik hoef die huldiging nie noodwendig ’n radiodokumentêr te wees nie, maar gewis regverdig dit ’n onthougeleentheid – in die besonder om erkenning te gee aan Hans wat aan die stuur van sake gestaan het. Saam met hom was onder andere Robert Young, destyds hoof van drama by RSG (toe nog Afrikaans Stereo). Hulle het ons ore laat spits, wenkbroue laat lig en ons oë laat rek deur ons te wys op hoe jy taal en die sensoriese inspan om aan kortverhale krag te gee.
Ons verhale is in April 1996 in die vaktydskrif Literator van (nou) Noordwes-Universiteit gepubliseer, met Hans as redakteur. My eie verhaal “Sien, hoor, praat: geen kwaad” was ’n diep persoonlike een oor ’n bakleiery op ’n Saterdagaand nadat die ma ’n bord kos in die pa se gesig gegooi het en hy haar omgestoot het dat haar kop teen die rand van die tafel kap.
’n Aanhaling:
Die volgende oggend was my ma se gesig lelik opgeswel en het sy besluit om in die kooi te bly. Ek het buite in die Sondagsonnetjie met my rooi brandweerwaentjie met die een stukkende wiel gespeel. My suster, Leona Susanna, het rys op die stoof gesit, die kombuis uitgevee en die splinters van gisteraand se pierinkie opgetel. My pa was nog nie by die huis nie.
Sowat die jaar ná ons vuurdoop as gepubliseerde skrywers, het ons groep, asook ’n klompie ander minder bekende skrywers, die voorreg gehad om verhale te kon bydra vir ’n “nuwe stemme”-kortverhaalbundel, Die stukke wat ons sny: Twintig nuwe Afrikaanse verhale. Dit is uitgegee deur Kwela Boeke, wat onder Annari van der Merwe se leiding baanbrekerswerk in die Afrikaanse uitgewersbedryf gedoen het, met Hein Willemse as samesteller. Die bundel is beskryf as ’n “interessante proesel van die verskeidenheid skryfwerk wat deur nuwer swart Afrikaanse skrywers gelewer word”.
En dit was ons, tóé.
Nou is dit by die drie dekades later en soveel van ons skryfmentors van destyds het ons reeds ontval. Hans is die mees onlangse, en voor hom onder andere Abraham H de Vries. Afsonderlike rolle het hulle spesifiek in my eie ontwikkeling as ’n skrywer gespeel – die een as die aanbieder van ’n eerste skryfskool wat ek bygewoon het, iets waaraan ek hom kon herinner toe ons mekaar laas by die Etienne van Heerden Veldsoirée einde September vanjaar in Nxuba gesien het; die ander my Afrikaans-dosent gedurende my joernalistiekstudies, maar verenig in die skryflesse wat ek by hulle geleer het.
Skryf in eenvoudige taal sodat al jou lesers jou kan verstaan (Hans), en by “Dok” Braam die volgende: “Wys eerder as vertel [Tolstoi se “show, don’t tell”] en laat staan die ‘mooiskrywery’.”
Tot vandag toe probeer ek die raad volg, in rubrieke, meningsartikels, kreatiewe skryfwerk, selfs in radio- en TV-aanbiedingtekste, en die grootste hiervan is die eenvoud van my taal, die Afrikaans van die stille meerderheid aan wie die Paternoster-generasie skrywers ’n stem wou gee, aangepor deur Hans van Potchefstroom.

