Onder die koelteboom

  • 0

Jitsvinger (foto: verskaf)

Regstreeks vanuit die kloue van die mees dreigende situasie van die mensdom skryf ek vir jou.

Die wêreld het tot stilstand gekom, want die koronavirus aka COVID-19 is nou in full swing. Die abstrakte ekonomiese sisteem is besig om homself te vreet met ontelbare besighede wat een na die ander platval soos die eggo van ons oorsprong in die wind murmur, terwyl stoeigevegte oor toiletpapier in Australië losbreek en grootmaatkopers die grocery aisles stootskraap voor die einde van ons bestaan aanbreek.

Die bewustelose reserwes bruis nou tot bo, soos Godzilla innie movies wat almal tot inkeer forseer. Die kaal kol wat beskawing in die bos gelaat het, groei nou weer terug.

Jy moenit glo, want onse president Cyril Ramaphosa se aankondiging van ’n nasionale ramp het ’n elmbooggroet-demonstrasie ingesluit wat socially ingestel moet word in plaas van die gesofistikeerde handdrukke wat ons beskawing definieer. Alle lugverkeer en vervoer op die grond, sowel as op see, het drasties verminder of is gestaak. Skole, colleges, universiteite en werklokale is leeg. Almal is joint in solidariteit deur middel van sosiale afstand. Ja, ons is almal innit tesame.

Moeder Natuur het net ’n bietjie Jeyes Fluid in die drain afgegooi om ontslae te raak van die vullis en wys die rooikaart op kapitalisme se spel. Dis mos hoogtyd dat die watermassas, die osoonlaag en ander ekologiese organismes ’n bietjie asem kan skep. Ongelukkig kom dit tot groot nadeel van talle infected familielede en vriende van naby en ver. Italië het volgens die Wêreldgesondheidsorganisasie (WHO) ’n rekord van meer as 475 sterftes in een dag bereik. Die hoof van WHO, Tedros Ghebreyesus, het laat weet: Om die epidemie te onderdruk en te beheer, moet lande isoleer, toets, behandel en opspoor.

Ek wil nie net oor die virus se impak op ons gesondheid rammel nie, maar wil ’n bietjie lig werp op die nagevolge oppie grond met betrekking tot die kunste, want, yassis, die ontsettende toename in angs en paniek onder die mensdom is beide kommerwekkend en taamlik teleurstellend. Aan die ander kan vannie coin verhoog uitgeslape handelaars die prys van handreinigingsmiddels, terwyl lugdienste bankrotskap verklaar.

Nietemin, ’n sterk dosis optimisme het nog niemand kwaad gedoen nie. Hoe, vra jy? Deur middel van die getroue ou lewensmaat: musiek, die medisyne vir elkeen wat tans in isolasie/kwarantyn verkeer. Jy kan jou indink na hoe baie musiekvideo’s en playlists daagliks gekyk en geluister word. Dit help mos die gesonde verstand, ewewig en algemene gevoel van welstand. Onskatbaar!

So, nou, hierdie musiek is vir jou plesier en vermaaklikheidsdoeleindes deur iemand geskep en maak ’n groot persentasie van sy/haar inkomste as kunstenaar en musikant uit. Op die oomblik is daar geen regte strukture om hulle te beskerm teen die moontlike verlammende swaarkry en teenspoed nie. Groot feeste het een na die ander die kansellasiewysie gespeel. Eetplekke wat later as sesuur in die aand oop bly, kan nou nie meer alkohol verkoop nie. Dit beteken dat minder mense gaan uitsien na ’n geselligheid sonder ’n vonkel in hulle se goblets.

Daar is ’n enorme sisteem van mense wie se lewensbestaan afhanklik is van hierdie feeste: aspirantmusikante, klankingeneurs, DJ’s, platemaatskappy-eienaars, toerbestuurders, sessiespelers, geleentheidspersoneel, platemaatskappye en meer. Daar is absoluut geen gebeurlikheidsplanne of reserwes vir hierdie minderheid in ’n noodgeval soos dit wat ons tans beleef nie. Party musikante probeer aanpas deur in die gemak van hulle eie huis musiekklasse via live streaming aan te bied in ’n poging tot alternatiewe inkomste. Die Nasionale Kunstefees wat jaarliks in Grahamstad plaasvind het ook hierdie konsepte op hul agenda in hul verbintenis tot die kunste. Vanaf 25 Junie tot 5 Julie gaan die fees 100% viral wees vir die eerste keer in die geskiedenis van die fees.

In die aangesig van hierdie ernstige aanwending van die Wet op Rampbestuur is daar min wat die vlag laat wapper vir die onafhanklike musikant en uitvoerende kunstenaar. TUMSA (Trade Union for Musicians of South Africa) het ’n dik drie-maand-rampverligtingspakket vir voltydse kunstenaars aan die government voorgestel en vra dat die unieke kwesbaarheid van hul kliënte ernstig opgeneem word deur onder andere SAMRO (South African Music Rights Organisation) met hulle koffers van miljoene in ongedokumenteerde reserwes en ’n gesonde uittreeannuïteitsfonds, wat tans op ’n waarde van R250 miljoen staan, en SAMPRA (South African Music Performance Rights Association) met hul soliede record label, wie se grootste kliënte multinasionale maatskappye soos Sony, Universal en Warner insluit. Hierdie gesamentlike verligtingsvennootskap sal die volgende entiteite insluit: (i) die staat (Departement van Handel en Nywerheid en Departement van Kuns en Kultuur); (ii) die groot uitsaaiers (SABC, MultiChoice, Primedia, Kagiso Trust, ens); en (iii) versamelingsverenigings (SAMRO – Undoc & SRAF Reserwes/ SAMPRA – Undoc; IMPRA). Die oggend van 20 Maart hierdie jaar het TUMSA se nasionale sekretaris, Gabriel (Gabi) Le Roux, ’n oproep van minister Nathi Mthethwa gekry om aan hom te bevestig dat hy die voorstel ontvang het en dat dit deur sy department oorweeg word.

My bedankinge gaan uit na alle platforms wat die boodskap van opkomende optredes deur kunstenaars wat gebruik maak van live streaming oordra. Dis broodnodig en hou die wiele aan die rol, sit brood op die tafel en versprei die frekwensie na huishoudings wat daarby gaan baat tydens hierdie COVID-19-krisis. Sterre soos Grace Carter, wie se aanhangers steeds haar geleenthede wou bywoon ten spyte van die gevare van infeksie, moes haar shows kanselleer ter wille van hul veiligheid. ’n Wyse besluit. As ons besig is om te verdrink, kom ons probeer om mekaar se koppe bo water te hou.

Die hoof van Counterflows, ’n eksperimentele musiekfees, Alasdair Campbell, het vir The Guardian laat weet dat hy sit met vlugte ter waarde van £10 000 waarvoor hy terugbetaling probeer kry. Hy kon gelukkig alle kunstenaars se kansellasiefooie betaal danksy Glasgow se openbare fonds, Creative Scotland.

Ten slotte, die Leviathan van ons era is op ons en daar’s nie ’n manier om om dit te kom nie, net deur dit. Ons rol is om daarmee te deal. Ons is vir generasies lank in lewensomstandighede geplaas waarvoor ons nie geskep is nie. Dit was altyd die uitdaging.

So, waar is ons menslike heerlikheid? Dis tyd vir grootskaalse herprioritisering. Die beste deskundiges sou saamstem die plek om te wees is in die oomblik waarin jy is.

Salutasie!

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top