Onder die brûe van die elektroniese media

  • 1

Foto: Pixabay

Ons kom hulle elke dag op die internet teë: op sosiale-media-platforms, in nuuswebwerwe se kommentaarkolomme en in geselskamers. Dat hulle die oorsaak van heelwat frustrasie en ontsteltenis is, is ’n feit – tog doen min mense moeite om die aard en gedrag van ’n internettrol te verstaan.

Die oorspronklike term trol is ’n sambreelterm vir verskeie tipes lelike, mensagtige wesens uit die Nordiese volksdigkuns en tradisionele sprokieswêreld wat op hulle beurt weer hul wortels in die Oudnordiese mitologie het. Trolle het onder brûe of in grotte gewoon. In figuurlike taal verwys trol na ’n persoon wat onbeskof of onmanierlik teenoor andere optree. ’n Internettrol, soos ons dit vandag ken, sinspeel op daardie soort karakter; dit is ’n internetgebruiker wat figuurlik onder die brûe en in die grotte van die elektroniese media woon en ander mense verpes met hulle verbale teistering.

Aanlyn trolle toon ooreenkomste met die speelgrondboelies wat mens op skool raakloop; hulle is mense wat met opset argumente of gevegte ontketen op die sosiale media en op digitale platforms. Trolle se sêgoed is, in die reël, onsensitief, kwetsend of aanstootlik. Só sal ’n trol hom byvoorbeeld, beskerm deur die anonimiteit van die internet, skuldig maak aan rassistiese, seksistiese of homofobiese aanmerkings. Trolle floreer op negatiewe aandag en put ’n genot daaruit om konflik op sosiale front te saai.

Trollery verskil van kuberboeliegedrag en -teistering in die opsig dat trolgedrag nie gerig is op een persoon nie, maar op groepe, wat aandag gee aan die trol. En trolle is oral – van anonieme aanlyn platforms tot kommentaarkolomme soos YouTube, aktuele webwerwe, en dan natuurlik Twitter, wat die opsie bied om anoniem te twiet. En op Facebook weer kan ’n persoon na hartelus vals profiele skep en feitlik ongesensureerd sy trollery uitleef.

Wat natuurlik die volgende vraag laat ontstaan: Wat is die eienskappe van ’n trol?

  • Die trol maak van-die-merk-af-aanmerkings om die lesersgevolg te frustreer.
  • ’n Trol ignoreer enige vorm van bewyse, koue feite of skakels wat op bewese navorsing rondom die onderwerp onder bespreking dui.
  • Die trol praat in ’n neerhalende stemtoon, byvoorbeeld: “Luister ou vriend, beesblaas, my pel.”
  • Die trol plaas prente, memes of gifs wat glad nie verband hou met die onderwerp nie – en speel dan niksvermoedend.
  • ’n Trol word selde kwaad; raak selde geprovokeer. Dis ’n trol se “werk” om ander mense die harnas in te jaag.

’n Vraag wat dikwels gevra word, is: Hoe hanteer mens ’n trol? Die uitdrukking “Do not feed the troll” is hier van toepassing. Onthou, die hoofoogmerk van ’n trol is om konflik op ’n openbare forum te begin of dit aan te hits. Moet dus nie ’n trol sy sin hierin gee nie; vermy enige interaksie of bespreking. Tweedens, moet geen verdagte lêers, skakels of aanhangsels op Facebook of per e-pos oopmaak nie – jy mag dalk net in ’n strik trap en ’n virus op jou rekenaar of slimfoon installeer. En, in tandem met laasgenoemde: Sorg dat jy die jongste antivirusprogramme op jou rekenaar of slimfoon installeer. Vervolgens: Indien jy ’n blog of ’n webblad bestuur, sorg dat jy dit duidelik onder jou reëls stipuleer dat trollery nie geduld sal word nie. Indien jy trolle raakloop in die kommentaarkolom, sorg dat jy hulle aan die nodige moderators rapporteer sodat hulle geblok kan word. Wees voorts versigtig watse persoonlike inligting jy op sosiale media deel; daar mag trolle wees wat die inligting sal gebruik om jou mee af te pers, aan te val, of te verneder in ’n virtuele openbare ruimte.    

Tog gebeur dit soms dat mens ’n trol nie bloot kan ignoreer nie, en is die selfbestuur van jou sosiale-media-rekening of persoonlike blog nodig, soos om ’n trol tereg te wys op sy skeefgetrekte sienings – jy is dit aan jouself en jou virtuele vriende verskuldig. ’n Ander manier is om die virtuele gehoor self aan te spreek en die vermeende trol uit te wys as ’n trol. En … as jy werklik in gesprek wil tree met ’n trol, dan is humor ’n reddingsboei: só kan jy hom vriendelik bedank vir sy unieke (!) bydrae wat die lesers tot nuwe insigte bring. Ná alles is trolle steeds mense, nie robotte nie.

Kenners beskik oor ’n legio klassifikasiesisteme van die verskillende soorte trolle; sommiges is kompleks, tog ressorteer die meeste trolle onder die volgende sambreeltipes:

Die taal-Nazi is die trol wat misnoegd deur sy monokel loer en die kommentare fynkam vir taal- en spelfoute. Dié trol probeer kommentators diskrediteer op grond van hulle “swak” spelling.

Die skreeuende trol se kommentare gil in hoofletters (sy Caps Lock-toets is altyd aan) – wat boekdele spreek van sy gebrek aan internetetiket.

Die haatdraende trol is die gevaarlikste en onsmaaklikste van al die trolle: Om te verneder en seer te maak is sy enigste agenda.

Die manteldraaier is daardie trol wat bevrediging daaruit put om jou woorde uit konteks te ruk, te verdraai, en teen jou te gebruik. 

Die prediker: By hom kan enigiets wat jy sê, potensieel ontaard in ’n teologiese debat, selfs al plaas jy (heel onskuldig) ’n foto van jou brekfis op instagram.

Die tjankbalie vertolk enige kommentare as ’n moontlike persoonlike aanval. Hierdie trol is só teergevoelig, hy neem sommer namens ander internetgebruikers aanstoot en neul alewig oor verbeelde boeliegedrag.

Die alwetende trol weet altyd beter as ander en hou ad infinitum aan stry met sy kenmerkende domastrante mentaliteit.

Die politieke kommentators is volop. Hulle kom oa in die gedaante van pro- en anti-Trump-lawaaimakers, en ter plaatse is hulle is pynlik polities korrek óf verregs. Baie van hierdie trolle het vasgehaak by die Ja- of Nee-stem van 1992.

Die snob en/of pseudo-intellektueel: Dit is die trol wat graag spog met sy herkoms, kwalifikasies, gemeenskapsbydraes of uitgebreide kennis van ’n onderwerp. Hierdie trol is lief om sy verhewe woordeskat ten toon te stel, en sy pedantiese kommentare wemel van die skakels, navorsing en feite.

Die pretbederwer is die moedswillige trol wat ’n lighartige gesprekslyn kom bederf met ’n krom vinger of teregwysing. Wanneer mense byvoorbeeld oor hulle gunstelinggebak gesels, sal so ’n trol almal knaend daaraan herinner dat suiker eintlik gif vir jou liggaam is.

Die vriendskaplike trol is daardie persoon wat met duistere motiewe “vriende” is met jou. Só ’n trol maak hom onder meer skuldig aan snitch tagging – met ander woorde hy merk jou in ’n plasing om jou te verneder of te kwets. Deur jou te merk, vestig hy die aandag daarop dat die plasing óór jou en nie vír jou is nie. Ongelukkig sorg hierdie trol vir baie fomo (fear of missing out) onder jou virtuele vriende.

Die eksistensialistiese trol is daardie skepsel wat floreer op verdoemende profesieë, byvoorbeeld dat God nie bestaan nie, dat die hele wêreld kort voor lank besmet gaan wees met die koronavirus, dat die einde van alles aangebreek het, ens.

Wat ’n mens dan seker onwillekeurig laat wonder: Hoe lyk die alledaagse profiel van ’n trol?

Volgens kenners is die meeste trolle manlik, met hoë vlakke van antisosiale neigings en gepaardgaande laer vlakke van empatie en gevoelens van skuld. ’n Interessante bevinding is egter die rol wat eensaamheid in trollery speel. Eensaamheid en isolasie kan by sommige persone lei tot ’n aggressiewe selfgeldendheid (veilig verskans agter ’n digitale masker). Verdere oorsake van trolgedrag sluit narsisme en elkedagsadisme in.

Die hoë voorkoms van trolle kan waarskynlik dui op die toksiese aard van openbare debat in die geheel. Met die koms van die internet – en die demokratisering van kommentaarplatforms – kan enige Jan Rap op ’n seepkis klim en ’n mening lug. Die anonimiteit van die internet reserveer identiteite: bleeksiele, lafaards of skobbejakke, wat vroeër nooit ’n woord sou gerep het nie, neem nou vurig standpunt in. Die berugte keyboard warriors. En om ’n geskikte gehoor te vind is nie moeilik nie.

Die virtuele wêreld is bloot ’n spieëlbeeld van ’n ongesonde samelewing waarin spontane sosiale stratifikasie met sy magdom trolle, ten goede of ten kwade, uitdrukking vind.  

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top