On Chesil Beach: ’n filmresensie

  • 0

On Chesil Beach

Draaiboek: Ian McEwan

Regie: Dominic Cooke

Spelers: Saoirse Ronan, Billy Howle, Emily Watson, Samuel West, Anne-Marie Duff

Awkward – ’n woord wat lyk en klink soos wat dit beteken, en ongeveer die perfekte opsomming is vir hierdie filmverhaal. “Pynlik onbeholpe” sou die naaste Afrikaanse beskrywing wees.

Dit speel af in die Engelse somer van 1962 en is op die oog af ’n eenvoudige boy-meets-girl-storie: op die dag dat hy die nuus ontvang dat hy sy graad behaal het, ontmoet Edward (Billy Howle) vir Florence (Saoirse Ronan), ’n violis wat ook pas afgestudeer het. Hulle verskil soveel soos hul onderskeie musieksmaak – jazz en klassieke musiek – maar hulle raak verlief. Dan is daar ook nog die berugte Britse klasseverskil tussen hulle: sy pa is ’n onderwyser, hare ’n ryk nyweraar.

Hulle besluit om te trou, en die filmvertelling begin by die seehotel ná die seremonie, met die wittebrood en al die seksuele verwagting wat daarmee saamgaan. Dié uiters ongemaklike toneel word afgewissel met terugflitse wat stadig maar seker ’n geheim oor Florence verklap, hoewel net as vlugtige suggestie. Al twee karakters is heeltemal uit hul diepte, en die afloop is pynlik en vernederend.

Die film beweeg stadig en het my tot amper in die helfte nog laat wonder of dit die moeite werd is. Daarby het gebreke in die draaiboek gepla: inligting wat weggelaat is, of wat nie in verband gebring is nie. Soos Florence se boot-uitstappie as tiener saam met haar pa – ek het nie die novelle deur Ian McEwan gelees nie en het heeltyd gewonder of dit by dieselfde Chesil Beach plaasgevind het. Dalk lê die probleem daarby dat McEwan as draaiboekskrywer te naby aan sy eie teks was om die oningeligte kyker in ag te neem. Die film moet immers as onafhanklike kunswerk kan staan, sonder die hulp van die boek.       

As daar een ding is wat hierdie fliek ’n mens kan leer, is dit dat die Seksuele Rewolusie op meer as een vlak vooruitgang gebring het!

Sterre:

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top