Omstrede kwessies in voorgeskrewe jeugliteratuur: ’n onderhoud

  • 2

Gesprek van Estelle Kruger met Elize Vos oor haar artikel:

Moraliteit en omstrede kwessies in jeugliteratuur: ’n beskouing oor Onderwêreld deur Fanie Viljoen

Wat is die agtergrond van hierdie studie van jou – maw hoe het jy bewus geraak van die probleem van moraliteit in Afrikaanse jeugliteratuur?

Reeds tydens my onderwysloopbaan het ek van die probleem bewus geword. Belese adolessentelesers het my mening gereeld daaroor getoets, en wanneer ons wel jeugromans van ’n omstrede aard voorgeskryf het, het onderwysers se mening oor die geskiktheid daarvan vir klaskamerdoeleindes dikwels drasties verskil.

Jy het reeds in jou PhD1 blyke getoon dat jy geïnteresseerd is in die leesmotivering en leesbelangstelling van Afrikaanssprekende adolessente. Hoe het hierdie belangstelling ontstaan en ontwikkel?

As onderwyseres was ek in my Afrikaansklasse deeglik bewus van die swak leesvermoë en
-motivering van leerders. Boonop was en is die ontstellende statistiek van die leesvermoë van Suid-Afrikaanse leerders vir my nog altyd kommerwekkend. Ek het daarom nie gehuiwer om in my PhD te fokus op die leesmotivering van Afrikaanssprekende adolessentelesers nie; hoofsaaklik vir bewusmakingsdoeleindes, maar ook om ’n leesmotiveringsprofiel van en ’n leesmotiveringsraamwerk vir Afrikaanssprekende adolessentelesers daar te stel.

Jy meld dat jeugliteratuur – en dan indirek die skrywer – ’n waardevolle bydrae kan lewer in die vorming van ’n moraliteitsbewussyn by adolessente. Kan jy voorbeelde hiervan noem soos wat dit wel in die Afrikaanssprekende samelewing voorkom?

Daar is verskeie jeugromans waarin moraliteitskwessies aangespreek word én op ’n hoopvolle toon afsluit, onder andere:

Skilpoppe deur Barrie Hough (1998) – selfdood en homoseksualiteit

Lien se lankstaanskoene – Derick van der Walt (2008) – egskeiding, enkelouergesinne, alkoholisme

Uit – Fanie Viljoen (2014) – homoseksualiteit

Asem – Jan Vermeulen (2016) – ’n adolessent se haat jeens sy pa

Daar is natuurlik nog heelwat ander Afrikaanse jeugverhale ook.

Is jy bewus van soortgelyke letterkundige studies wat gebaseer is op Afrikaanssprekende lesers se interaksie met en reaksies op jeugverhale?

Daar is wel al letterkundige studies hieroor onderneem, byvoorbeeld Wiggill (2004) se François Bloemhof se Slinger-slinger: ’n leserkundige evaluering met verwysing na Afrikaanssprekende tieners. Ek is egter van mening dat dit nog ’n braak studieterrein is en dat meer letterkundige sulke studies noodsaaklik is.

Kan jy asseblief die term “omstrede kwessies” in 25 woorde aan ’n belangstellende onderwyser verduidelik?

’n Omstrede kwessie is ’n saak waaroor ’n morele waardeoordeel (wat emotief, konflikterend, persoonlik en subjektief van aard kan wees) uitgespreek word.

Dit is duidelik in jou studie dat letterkunde (soos ook die media) ’n belangrike rol speel in die ontwikkeling van adolessente se moraliteit. As jy die hoof van ’n skool was en nie die angsteorie2 mbt omstrede kwessies onderskryf nie, hoe sou jy onderwysers se keuse van literêre tekste begelei om tog ook katarsis3 in letterkundestudies te kan bewerkstellig?

Ek sou beslis ’n voorstander wees daarvan om jeugromans van ’n omstrede aard, maar met ’n hoopvolle einde, voor te skryf. Ek glo dat leerders deur die lees van sulke jeugromans afsluiting (katarsis) kan vind van hulle eie probleme of ten minste vaardighede kan aanleer om soortgelyke probleme te kan hanteer. Ek sou in die keuse van hierdie jeugromans natuurlik leerderdiversiteit, menseregte en uiters sensitiewe kwessies, soos onderskryf deur wêreldwye sensuurwette, in ag neem.

In jou artikel kom dit duidelik na vore dat Engelse jeugverhaalskrywers bewustelik omstrede kwessies kies en uitbeeld wat ’n redelik ware weerspieëling van die wêreld van hulle lesers is. Is jy bewus van enige ander Afrikaanssprekende jeugverhaalskrywers behalwe Fanie Viljoen wat uitdruklik meld hoe hulle hieroor voel en dink en skryf

Ja, daar is heelwat van ons Afrikaanse skrywers wat in onderhoude te kenne gee hoe hulle te werk gaan met die skryfproses en die uitbeelding van die werklikheid, onder andere Marita van der Vyver, Derick van der Walt, François Bloemhof, Jan Vermeulen en Carin Krahtz (om maar net enkeles te noem).

Geluk met jou uitstekende ontleding van die omstrede kwessies in Onderwêreld in jou artikel – dit kan sekerlik onderwysers deeglik toerus, veral in die lig daarvan dat hierdie teks ’n voorgeskrewe jeugverhaal is. Is daar ook ander jeugverhale in Afrikaans met omstrede kwessies wat so volledig ontleed is?

Ja, daar is deeglike ontledings van Slinger-Slinger (François Bloemhof), Skilpoppe (Barrie Hough), Vaselinetjie (Anoeschka von Meck), Lien se lankstaanskoene (Derick van der Walt) en Uit (Fanie Viljoen).

Jy het onlangs ’n besoek aan Nederland gebring waartydens jy die inhoud van hierdie studie van jou bekend gemaak het. Wie was die gehoor? Hoe was die ontvangs daarvan? Is hierdie teks ook in Nederlands vertaal?

Die gehoor was hoofsaaklik taaldosente en -studente van ’n Christelik-gefundeerde universiteit in Nederland. Alhoewel daar by die betrokke universiteit steeds effens weggeskram word van verhaalinhoude van ’n omstrede aard as voorgeskrewe werke, is die inhoud van hierdie studie uiters positief ontvang. Onderwêreld is nog nie in Nederlands vertaal nie, maar ek is van mening dat dit ’n wegholsukses sou wees indien die vertaling kon realiseer.

Deel van jou werk by Noordwes-Universiteit as senior lektor is om toekomstige onderwysers te bemagtig om Afrikaanse prosa en poësie te onderrig. Wat is jou studente se reaksie op hierdie (of ander) omstrede jeugletterkundige teks(te)?

Wanneer die eerstejaaronderwysstudente by ons in die klas instap, het hulle nie noodwendig ’n breë leesverwysingsraamwerk van jeugverhale nie. Hulle word gaandeweg blootgestel aan nuwe Afrikaanse jeugromans, en hulle word ingelig oor die leesbehoeftes en -voorkeure van adolessente, asook oor die norme vir voorgeskrewe werke. Hulle belangstelling word sodanig geprikkel dat hulle uiteindelik selfgerig begin lees. Uiteindelik beskik hierdie studente aan die einde van hulle studies oor die vermoë om ’n jeugroman krities te kan ontleed.

Kan jy vir ons ’n paar praktiese idees op LitNet laai om belangstellende onderwysers te help toerus om Onderwêreld in die VOO-fase te onderrig?

  • Die onderwysers kan begin deur resensies oor hierdie jeugroman in die klas voor te lees.
  • Die verhaal móét sonder enige onderbreking van ander aktiwiteite met die leerders in die klas gelees word.
  • Hierdie leestyd in die klas is belangrik om voorspellings en vooruitskouings van verhaalgebeure met die leerders te bespreek. Die onderwysers moet in gedagte hou dat die persoonlike en eerlike interpretasie en kommentaar van die leerders in ag geneem moet word.
  • Die leerders moet die jeugverhaal verstaan en daarom sou ek voorstel dat hulle ’n leesdossier open wanneer die verhaal in die klas gelees word. Hulle maak aantekeninge oor al die verhaalaspekte soos die lees vorder en beeld van die verhaalaspekte (byvoorbeeld karakters en ruimte) met behulp van prente uit.
  • Leerders kan ’n kort opsomming van elke hoofstuk skryf. Skep praatgeleenthede in die klas om die kreatiewe denke van die leerders rakende hierdie roman te stimuleer; hierdie praatgeleenthede kan verdere skryfgeleenthede stimuleer.
  • ’n Naweekuitstappie na die Drakensberge en Clarens, natuurlik indien fondse dit toelaat, sal die werklikheidsgetroue uitbeelding van die ruimte vir die leerders ook ’n werklikheid maak.

Ekstra leesstof oor hierdie roman:

  • Klasgids Hoërskool, Januarie 2016 – Jana Luther van HAT het ’n Afrikaanse lys saamgestel van al die Engelse kuberterme in hierdie jeugroman.
  • Klasgids Hoërskool, April 2017 – Alet Mihálik: Onderwêreld in die klaskamer.
  • Onderwysersgids oor Onderwêreld wat gratis van die internet afgelaai kan word (hierdie gids is deur Fanie Viljoen en Alet Mihálik saamgestel en hou rekening met die KABV-voorskrifte).

Waardevolle artikels om te lees:

  • Anker, J. 2011. Fanie Viljoen se Onderwêreld as voorbeeld van die gesag- en magstryd in die jeugroman. LitNet Akademies, 8(3):1–20.
  • Vos, J.E. 2017. Voldoen Onderwêreld deur Fanie Viljoen aan die norme vir voorgeskrewe werke vir graad 12-Afrikaans Huistaal-leerders? LitNet Akademies, 14(1):259–80.
  • Besoek akkerkaans.co.za: Ons vakgroep (Afrikaans vir Onderwys, Fakulteit Opvoedkunde, Noordwes-Universiteit) het op 20 Mei 2016 ’n skrywersdag gereël; Fanie Viljoen en Betsie van der Westhuizen, die twee gassprekers, het oor Onderwêreld gesels.

Wat het jy persoonlik geleer in hierdie proses van navorsing en publikasie van jou bevindinge?

Ten spyte van die resepsie-estetikabenadering wat op die adolessenteleser se interaksie en reaksie op die verhaalinhoud fokus, vervul die onderwyser steeds ’n uiters belangrike rol as bemiddelaar om in die klaskamer meningsverskille van leerders ten opsigte van omstrede kwessies te medieer.

Is daar enige nuwe navorsingsmoontlikhede op jou horison?

Ja, definitief. Tydens my besoek aan Nederland kon ek en my Nederlandse kollega ’n tema vir moontlike toekomstige samewerking identifiseer: “’n Vergelykende studie tussen die moraliteit van Nederlandse en Afrikaanse jeugliteratuur vanaf 1960 tot nou”. Voorts is ek ’n lid van ’n navorsingsprojek oor “Multimodal multiliteracies in support of selfdirected learning”, waar ek beplan om op visuele geletterdheid te fokus en maniere te probeer vind om leerders selfgerig te laat lees (my beplande artikels sal wel in Afrikaans wees). Daar is ook ’n nuwe Afrikaanse jeugroman wat my geweldig boei en ek sou graag iets daaroor wou skryf. Al hierdie projekte fokus hoofsaaklik op die leesmotivering van Afrikaanse adolessentelesers.

Eindnotas

1 Vos, JE. 2014. ’n Leesmotiveringsprofiel van en ’n -raamwerk vir Afrikaanssprekende adolessentelesers. Ongepubliseerde PhD-proefskrif, Noordwes-Universiteit.

2 Ondersteuners van die angsteorie is van mening dat vreedsame en afgryslike beelde so vervleg in stories voorkom dat die leser uiteindelik nie meer tussen reg en verkeerd kan onderskei nie. Jeugverhale met aanvegbare inhoude moet dus liewer gesensor (of verbien) word.

3 Ondersteuners van die katarsisteorie meen dat adolessente dmv omstrede kwessies in hulle leesstof kan sien watter (en waardeur) probleme veroorsaak word en dat hulle in die letterkundige tekste oplossings vir en die afsluiting van hulle eie probleme kan vind.

  • 2

Kommentaar

  • Solet Scheeres

    Dankie vir 'n interessante skrywe. Van watter universiteit in Nederland word hier gepraat? Waar ek skoolhou word leerlinge aangemoedig om alles te lees wat voorkom: ook vertaalde literatuur, wat so ongeveer alle tale op aarde insluit. Dit sluit boeke in van skrywers soos Kevin Brooks wat nie ’n gelukkige einde het nie. Dit sal interessant wees om te weet wat jy van die tipe stories dink (tov leesplesier vs terapeuties). In die laaste twee jaar op hoërskool moet leerlinge, in die meeste skole in Nederland, volwasse lektuur in Nederlands lees en word jeugromans net in Engels en 'n derde taal Frans/Duits gelees. Dink jy dat leerlinge minder “gehelp” word deur volwasse romans as jeugromans en ek dink dan bv hier aan volwasse romans soos Joe Speedboat van Tommie Wierenga en die boeke van Arthur Japin wat graag gelees word. Verder wonder ek ook of Nederlandse kinders uit die Christelike hoek meer of minder moreel is as die res van die land waar geloof nie meer ‘n aspek is nie en in welke mate die eise wat in swaar Protestante gebiede aan kinders se leesmateriaal gestel word hierin 'n rol speel. Sukses met jou verdere ondersoek. Ek hoop die vervolg is ook op LitNet te lees.

  • Moet die doelstelling nie wees om leeslus aan te wakker eerder as dat "leerders deur die lees van sulke jeugromans afsluiting (katarsis) kan vind van hulle eie probleme of ten minste vaardighede kan aanleer om soortgelyke probleme te kan hanteer" nie? Hoeveel van die probleme wat karakters in Afrikaanse jeugboeke ondervind is eintlik reëel? En dié wat is - egskeiding, gay-heid, kanker, swangerskap, liggaamlike en geestelike mishandeling ens ens - hoe kan 'n boekkarakter help om dit te oorkom? Ek verwys na, byvoorbeeld, Lien se Lankstaanskoene - hoe realisties is dit? Onderwêreld, weer, gee in geheel geen oplossing nie, die stomme leser wat betrokke raak in so 'n kuberkrakersituasie (hoogs onwaarskynlik) moet maar sien en kom klaar. Miskien moet mens daarna kyk dat Harry Potter en die Vampire-reekse miljoene kinders aan die lees gekry het - klinkklare bewys dat die jeug sy eie mening het oor wat hulle wil hê. Ek sou vermoed dat Deon Meyer en Wilbur Smith hoër op die ranglys is as, met permissie, die onwaarskynlike melodrama waaruit baie van ons huidige boeke vir tieners bestaan.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top