Omgee is hegter as glimgroen slym | Wetenskapfiksiekompetisie

  • 0

CJ Langenhoven het in 1923 Loeloeraai geskryf. Die eerste wetenskapfiksieroman in Afrikaans het dus ’n eeu gelede verskyn. Op 12 Augustus 2023 is die 150ste herdenking van CJ Langenhoven se geboortedag gevier. Om hierdie dubbele herdenking te vier, daag LitNet en die Langenhoven Gedenkfonds alle skrywers uit om ’n wetenskapfiksiekortverhaal voor te lê vir publikasie. Hier is meer inligting.

***

Die karradio vang skielik sein op. Die kinders se gejil vries lettergrepig vas. Helder en duidelik is die nuusleser se stem:

“Ter afsluiting van die nuus – weer die hooftrekke:

Die gemeenskap van die Stampriet-akwifer is in opstand teenoor die moontlike myn van uraan in die omgewing. En, meneer Barend Kruger, bekende boerbokteler in die Gochas-distrik, is seker hy het vreemde vlieënde voorwerpe op sy plaas gesien.”

My mondhoeke krul vanself boontoe. Ek was ook van daardie mense wat VVV’s as bog beskou het, maar deesdae ...

Ek vang Liam se blou oë in die truspieëltjie. Ons knipoog vir mekaar en glimlag. Die pad vanaf Grootfontein lê al agt uur agter die blad en dit is amper skemer. Sy blonde hare staan deurmekaar nes myne.

“Ons sal maar vir julle moet water saamgee skool toe en nie meer van Ma se karringmelkbeskuit nie. Net vir ingeval daar uraanbesoedeling in julle water beland.”

“Carel, hóór jy wat jy sê!” Ek sien eintlik hoe klingel Sonja se kleintongetjie van ontsteltenis. “Al hierdie stories oor uraanmyne naby Stampriet maak my al lankal bekommerd. As dit regtig gaan gebeur dat uraan daar ontgin gaan word, is al Namibië se ondergrondse waterbronne in die moeilikheid.” Oepsie, ek het Vroutjie behoorlik die harnas in!

“Daar is nog te min navorsing gedoen om vir seker te kan sê dat die suide en die noorde se ondergrondse waterbronne nie met mekaar verbind is nie,” stoom Sonja voort. “En in elk geval gaan dit ’n dódelike impak hê nie net op die onmiddellike omgewing se waterbronne nie, maar ook op die landbou. Menselewens – álles wat lewe – gaan verwoes word.” My liefste Sonja-ster se wange gloei bloedrooi. “Bedaar, bedaar, Sonja-lief. Dit sal nie gebeur nie,” probeer ek die onverwagse vlam van my flou grappie blus. Maar toe spring ’n ander vlam uit die agterste gestoeltes op!

“En moes Pa nou van skool gepraat het! My maag pyn nou sommer. Ek hóór eintlik hoe preek ou Tabernakel: ‘Ag, julle graad 7’s, julle is so pragtig geskape. Waarom nou julle mooi gesiggies besmeer met lipstiffie en maskara? Toe, toe, toe! Koshuis toe! Gaan was af, julle lyk soos Jesebel-dienaars!’” Sy slaan haar lang maskarawimpers boontoe en gluur dan na Liam wat haar wittand uitlag. Hy verander vinnig die onderwerp.

“Die liewe ou Brakkenkol! Ek wonder wat vang hy aan en wanneer sal ons hom weer sien.” Hy kyk met oë vol streke na LinMari. “Seker eers as die skole klaar begin het.”

“Sies, jy’s ’n barbaar!” LinMari trek die haarrekkie uit, kam met haar vingers deur haar hare en maak weer ’n wilde perdestert. “Kom, Kayla, jy lyk soos ’n warrelwind op steroïde!” Kayla kry ’n blonde fonteintjie bo-op haar kop. “Kayla ith nou mooi!” lispel ons ougat kleuter.

“Ja, wie sou nou kon dink die vakansie gaan so vinnig vlieg,” Sonja draai skuins sodat sy die kinders in die oë kan kyk. “En dat Brakkenkol nie sou saam terugkom nie. Maar ons is mos nou al gewoond daaraan, of hoe? Dan is hy by ons; dan is hy iewers. Maar hy kom altyd terug en dit nogal in ’n warrelwind.” Ek wil sommer lag toe Sonja skielik Amerikaans begin praat: “U moet net goed verstaan meneer en mevrou Malherbe – so min mense as moontlik mag van Agent 6 weet. Ons weet dat hy die regte besluite sal neem. Moenie bekommerd wees as hy partykeer wegraak nie. Hy is net besig om sy werk te doen.” Sy klink nes Grysbaard, die spreekvoerder van Galaxy 6 – volgens húlle, ’n navorsingstasie in Amerika. Hulle het ons besoek kort nadat ons agtergekom het Brakkenkol, die weeshond, lýk maar net soos ’n gewone hond. Ons lag en voel weer soos ’n gesin wat vakansie hou.

Die afdraai na Stampriet toe flits verby. Ek kan nie wag om by die huis te kom nie – om tussen die lappieskombers van lusernlande teen die donker kronkel van die Visrivier en die kanale te loop nie. Sonja sit haar hand op my knie. Nog steeds ná 15 jaar van getroud wees, voel ek my hart klop vinniger. Sy lyk nog steeds soos die mikrobiologie-student wat ek in Stellenbosch ontmoet het. Skraal met blou oë en blonde hare. Net nóg mooier!

“Kyk, ’n donkiekar!” roep Liam. My oë is vir ’n oomblik nie op die teerpad nie en toe dit terugswaai, is dit te laat. In die pad sit ’n special pave-worshond. Hy is pikswart met lang-lang ore. Almal skree. Ek ook. “BRAKKENKOL!”

Die slag laat voel my naar. Die kinders huil. Die briekmerke trek donker strepe op die pad. Liam is eerste by die ingedoke bondeltjie. Hy tel hom op. Gewoonlik is daar ’n bruin vlekkie tussen Brakkenkol se oë en nóg so ’n vlekkie op die punt van sy stert. Aan die bokant van elke been is dieselfde bruin vlekke. Maar nou skyn al ses vlekke glimgroen. Helderder as ooit! Teen die tyd dat ons almal rondom Brakkenkol buk, skyn daar ses groenglimmende, boontoe bewegende golftonnels rondom die hond en verdwyn in die lug. Brakkenkol gee nie ’n blaf of ’n tjank nie.

Skielik begin die lug rondom ons te bewe. Ons sien die ligte gelyktydig. “Oh my word,” fluister LinMari. Die ligte vorm dieselfde patroon as die kolle op Brakkenkol se lyf. Ek moet tussen my vingers deur na die skerp ligte kyk. Stadig sak die ligte af grond toe. Daar roer nie eens een grashalm nie! Dit lyk nes die ruimtetuig van twee jaar gelede. Dit het die vorm van ’n reghoek met twee plat driehoekige vlerke. Ons sit verstom. Die ruimtetuig tiep skielik na links. ’n Klomp kleiner liggies gly by die linkerkantse hoeklig uit. Dit lyk soos ’n pyp van liggies. Die pyp vloei al nader na ons toe.

Dan begin Brakkenkol se lang ore flap-flap nes ’n helikopterskroef. Hy styg stadig van Liam se skoot af op. Geruisloos suig die liggiespyp hom na binne. Vaag registreer ek die toeklik van iets soos ’n motordeur.

“Pa?” Ek beduie Liam moet stilbly.

Dit lyk of die ruimtetuig knikgroet. En toe’s hulle weg – Brakkenkol en die ruimtetuig – in ’n oogknip!

“PA!” Ek skrik vir die rou angs in sy stem. “Pa, ek sien nie vir Ma nie!” My brein skok leeg. Ons hardloop rond nes ’n omgekrapte rooimiernes. Roepend. Soekend. “Sonja-a-a-a-a-a! Ma-a-a-a-a-a! Mamma-a-a-a-a-a! Sonste-e-e-e-e-er!” Maar eintlik ken ons almal reeds die antwoord. Ons staan in ’n verlepte kring teen mekaar aangebondel. “Kinders,” my stem is hees. Die kinders hang swaar aan my lyf. “Kom ons gaan kar toe.” Ons klim in en toe sien ek dit – ’n silwer flitsie op die paneelbord. Ek druk die aan-knoppie en ’n heliogram verskyn. Dis Sonja en sy lyk so werklik dat Kayla begin lag en “Mamma!” roep. Maar dis Grysbaard wat skielik begin praat. Al wat hy sê is: “Ons navorsing het verrassend na vore gebring dat mevrou Malherbe eintlik ’n briljante mikrobioloog is. Die veronderstelling was nie, meneer Malherbe, dat jy vir Agent 6 moes raakry nie, maar as jy hulle áltwee weer sien, sal ons weet ons navorsing toon die waarheid.” Hy bly vir ’n rukkie stil. “Andersins – ’n oog vir ’n oog en ’n tand vir ’n tand.” As die kinders nie by my was nie, het ek in trane uitgebars. Die heliogram verdwyn toe ek weer die knoppie druk. “Mamma! Ek thoek vir Mamma!” begin huil Kayla droewig.

Die laaste 15 minute na ons Hardap-huis is ’n marteling. Ek probeer my bes om die kinders te troos. “Onthou, Brakkenkol is eintlik Agent 6. Ek is seker die ruimtetuig is vol wetenskaplikes wat presies weet wat om met Brakkenkol te doen.” Die kinders snik so dat my oë ook nat word. Ek stop by die hek van ons Hardap-plot en ons wag dat dit oopgaan. “E-e-n-n,” verduidelik ek. “Het julle gesien daar is niks bloed nie. Nè, Liam? Het jý enige bloed gesien?” Ons oë vang mekaar weer blou in blou. Ek sien genadiglik hoe die lig daarin begin gloei. “Verder, Mamma is die slimste mikrobioloog wat ek ken. Sy sál saam met die ander dokters vir Brakkenkol kan help en ons sál hulle weer sien!” Die laaste sê ek eintlik meer vir myself.

“Pa is reg. Mamma is die slimste ma wat ek ken en Brakkenkol is ’n vegter! Nes ons Malherbes. Liam, Kayla, kom dat ons vir Pa help en vir mekaar. Geen alien gaan my onderkry nie! Hulle sal nog agterkom – omgee is sterker as glimgroen slym!”

 

“Die aarde draai en draai al hoe meer nes ’n afgetjipte ghoen,” prewelsing ek Amanda Strydom se lied. Ek weet nie of dit Maandag of Oukersaand is nie. Galaxy 646 wentel geruisloos om die aarde. Die kajuit is klinies skoon. Brakkenkol sweef ontspanne in ’n glaskoepel. Dr Yeva Romanov (die kinders het haar Blondie gedoop en sy lyk nogal baie soos LinMari) het ná hul tydlopende witjasmarathon met hom “diepe rus sonder die teenwoordigheid van swaartekrag” aanbeveel. Dink aan die duiwel! Yeva staan meteens in die opening van die deur wat klankloos oopgeskuif het. “Gaan jy nóú vir ’n slag met my oor my gesin praat? Hoe gaan dit met my kinders? En met Carel?” Ag, die liewe Carel – hy’s ’n regte marshmallow al is sy lyf sterk en groot. Yeva antwoord my glad nie en vra saaklik: “Enige waarnemings?”

 

Dêmmit! Ek vertrou nie my stem nie en skud my kop effens heen en weer. Yeva plaas haar hand op my skouer. Eindelik ’n bietjie omgee! Haar oë is warmer as haar hand. “Prof Taylor kom strenger voor as wat hy is, Sonja.”

Gmhf! Gaan vertel dit vir die keiser van Planeet Nege!

“Onthou, hy is aan die stuur van heelwat projekte en dra baie verantwoordelikheid. En jy sal dit dalk nie glo nie, maar hy is baie erg oor julle Malherbes.” Al haar h’s klink soos g’s. Ek kan my net indink hoe die twee oudstes daaroor sal giggel.

Yeva beweeg na Brakkenkol. “Jy weet, omdat Agent 6 so dikwels teen geweldige spoed moet beweeg, het ek sy DNS so verander dat hy gemaklik verskeie soorte impak kan oorleef. Die effek van die motorongeluk was dus baie minder as wat dit waarskynlik geklink het.”

OK, dit verklaar waarom hy nog leef.

Sy verduidelik die presiese proses en ek verstom my aan die vooruitgang van biotegnologie sedert ek laas in ’n laboratorium gestaan het. “Waarvoor ek wel bang is, is dat die stamp bepaalde breinselle sou beskadig wat in epilepsie kan manifesteer. Dan is sy loopbaan as ’n spesiale agent van Galaxy 6 daarmee heen en sal ons hom moet ...” Ek voel hoe my wange begin rooi word. Yeva bly stil en swaai haar arms in die lug. “Ek het nie die vaagste idee waarom hy raakgery is nie. Dis net nie wat met Agent 6 kán gebeur nie!”

Die deur skuif weer oop en prof Taylor stap binne. “Dr Romanov; dr Malherbe,” groet hy ons. Streng professioneel nes die wit laboratoriumjas wat hy aanhet. Agter hom glip nog ’n witjas verby na Brakkenkol toe. Wao! Dis lanklaas dat iemand my op my akademiese titel aangespreek het. My ore tuit en my brein flikker. “Dis tyd vir ’n gesprek. Jy het sekerlik baie vrae. Kom julle altwee saam met my.”

Die volgende kajuit vanuit die kort, blink gang kan seker ’n kantoor genoem word. Ook hier in ’n suisende stilte is alle knoppies en liggies en paneelborde vingerafdrukvry en skoon. Prof Taylor beduie dat ons moet sit. Die silwer kelkstoele sluit ferm om ons lywe.

“Ek kon nie help om jou ontsteltenis oor Agent 6 te hoor nie, dr Romanov. Kom ons begin by jou vraag. In die data wat ons van Agent 6 onttrek het, blyk dit dat ’n stilstaande, massiewe, industriële drilboor die pad ’n entjie verder versper het. ’n Botsing met die Malherbes se voertuig was onvermydelik. Agent 6 het doelbewus in die pad gaan sit om die gesin van ’n gewisse dood te red.” Ek en Yeva reageer presies dieselfde. Ons snak na asem en by my loop die trane sommer. “Dit, dr Romanov, is waarom daar niks meer as respek tussen mede-agente moet wees nie.” Verbeel ek my of lê daar betugtiging in sy stem? My trane droog sommer op. Waar is hierdie mense se omgee? Koelblou oë draai nou na my toe. “Ons Hardap-besproeiingskemaprojek is feitlik afgehandel en dit is sekerlik die rede waarom Agent 6 bereid was om sy lewe vir julle te waag. Dr Malherbe, is jy bereid om jou lewe vir hóm te waag?” So ’n ... so ’n KROEK! Nee vir omgee, maar ja vir emosionele afpersing!

Die professor hou my stip dop. “Sou Agent 6 sterf, het jy in elk geval nie ’n keuse om by ons aan te bly nie. Dis die enigste manier om jou gesin te dwing om nie bepaalde kennis uit te lap nie. Hulle is reeds daaroor ingelig.” My oë rek verontwaardig. My stem is kouer as sy oë. “Ons Malherbes het integriteit, prof Taylor. Niemand hoef ons te dwing om die regte ding te doen nie.” Ek wil nog ’n paar dinge kwytraak, maar hoor eintlik hoe Carel sou sê: “Bedaar, my liefste Sonja-ster. Gee die man kans om klaar te praat.” Ek pers letterlik my lippe toe.

“Dit is juis daardie kwaliteit wat die bestuur laat besluit het om jou te nader om deel te word van ons volgende projek – Stampriet-akwifer.” Hy stoot ’n stapeltjie koerantberigte op die tafeltjie nader na my toe. Die hoofopskrifte skree sensasioneel:

MINISTER SE OMSTREDE JA

MAMMON versus OMKOM

REUK VAN VERRAAD

ARSEEN – HOE OBSEEN

“Hierdie kwessie is nie aan my onbekend nie, Professor. Trouens, ons het daaroor gesels net voordat Brr … e … ons op pad huis toe was.” Ek wou nie stotter nie, deksels!

“Briljant! Ek aanvaar dus dat jy ons sal help!” Vir ’n stonde van ’n sekonde flikker die professor se oë glimgroen. Ek maak asof ek dit nie sien nie, maar my hart mis ’n polsslag. Liam sê al lankal al die stories van ’n navorsingstasie in Amerika is alien-bog! En as die professor onlangs met ons by die huis in Afrikaans kon praat, begin ek nou twyfel aan Yeva se Russiese aksent ... “Professor, aangesien ons nou besig is om vrae te beantwoord en ek deel van die span is,” sy gesig raak behoedsaam, “wat is die projek waaraan Agent 6 op Hardap gewerk het?”

Die professor lyk dadelik ontspanne. “Wel, julle het self ondervinding van die gemors wat die riete in die skema veroorsaak: Die Visrivier word toegegroei, die rivierbedding verhoog, kanale word vernietig, so ook die mikrobiologiese en ekologiese siklusse en dan ook die verhoogde vrees vir ’n verwoestende riviervloed tydens goeie reënseisoene. Die span het met data wat Agent 6 so getrou ingewin het, ontdek dat dit alles maar net ’n deeltjie van ’n sabotasieprojek is om die hele skema en omgewing uiteindelik te vernietig. En die krisis sowel as die oplossing lê in plaagbeheer vir mielies.” Hy noem die naam van ’n bekende gifstof wat ook ons op die plot gebruik. ’n Liggie aan iets soortgelyks as ’n polshorlosie aan sy arm begin dringend flikker. “Yeva was die hoofbrein en die oplosser van daardie vraagstuk. Sy kan jou verder inlig. Verskoon my, dames, ons praat nou-nou weer.” Die kajuitdeur sluit hom uit.

Ek kyk met geboë wenkbroue na Yeva. “Die gifstof teen mielieruspers werk soos ’n groeihormoon op die riete. Met die invoeg van sekere selle in die DNS van die mieliepitte vind daar nou ’n chemiese verandering binne die gifstof plaas sodra dit op die mielies gespuit word. Dit veroorsaak dat die gifstof nie meer die riete oordadig laat groei nie. Inteendeel, die wortelstokke vrot heeltemal weg en so ook die digte rietegroeisels. Die afsluiting van die projek behels baie eenvoudig dat daar vertroue geskep moet word dat almal die plaagbeheerder sal begin gebruik en dis waar jy as mikrobioloog en jou man as boer ons tot hulp kan wees. Jou man is tog ook ’n beheerraadslid van die koöperasie, nè?” Ek knik my kop. “Sien, so kan ons, en jý, vryelik toegang tot die koöperasie kry om onder die dekmantel van kwaliteitbestuur alle mieliepitvariante geneties te manipuleer totdat die skema weer produktief kan funksioneer.”

“Maar Yeva, waarom sal wie ’n hele gemeenskap wil vernietig?”

“Daar is baie redes. Ekonomiese jaloesie, politieke strewe na mag en beheer, anneksasie en, weet jy,” sy huiwer effens, “daar is steeds despote soekend na plek vir kolonialisering.” Yeva kry ’n vreemde uitdrukking op haar gesig. Kan dit vrees wees?

My oog vang weer die professor toe die skuifdeur hom terugspoeg. “Dr Romanov; dr Malherbe,” groet hy ons. Dit voel na déjà vu. “Alles uitgeklaar? Nog enige ander vrae?”

“Ja, asseblief, Professor. Hoekom wentel ons rondom die aarde en is ons nie by jul navorsingstasie in Amerika nie?”

Hy antwoord dadelik. “Dis net baie makliker om hiervandaan by al die projekte uit te kom. ’n Mens hoef nie te sukkel met paspoorte by grense nie. En dis vinniger.” Hy druk iewers tussen al die knoppies op sy polshorlosie. Ek voel ’n effense bewing en toe sit ek in verstomming – ons is op die grasperk van die rugbystadion by Kalahari-Oos, die privaatskool op Stampriet waar die oudste twee skoolgaan! Is dit sy Plan B tot afpersing? Maar in ’n flits van ’n sekonde skiet ons weer die ruimte in.

Prof Taylor staan op. Sy glimlag is so vaag soos ’n donkermaan. “Tyd vir party om te gaan rus en vir ander om te gaan werk. Dr Malherbe, die alarm in jou kajuit sal ’n aanduiding wees wanneer jy weer kan kom aanmeld. Dan begin ons ernstig fokus op Projek Stampriet-akwifer.”

 

Die lig skyn op rye en rye silindriese buise. Dr Romanov haal een af en glimlag. Sy lees saggies in Russies – “zabóta”. Dit beteken omgee.

 

Ek kan dit nie glo nie toe die alarm skielik ’n melodieuse wysie in my ore speel. Ek meld aan in die kantoor. Die professor se glimlag lyk na allesbehalwe ’n donkermaan. “Dr Malherbe,” groet hy vriendelik. “Jy is absoluut stiptelik. Uitstekend.” Verbeel ek my of flikker sy oë tog effens warmer as gister?

“Gedurende die tyd waarin jy gerus het, het agent ...” Die professor bly vir ’n oomblik stil. Dis ’n eerste – die professor val oor sy woorde! Die professor maak keel skoon en gaan voort, “... het die agente heelwat inligting vir die ondergrondse waterbronne-navorsing bymekaar gemaak. Maar voordat julle daarmee begin, het ek tog ook ’n bietjie goeie nuus.” Die skuifdeur glip oop en Brakkenkol glip stertswaaiend binne! “Brakkenkol, Ounooi se honne!” Ek is sonder om te dink op my knieë en druk die worshond styf teen my vas. “Jy weet jy mag my nie lek nie,” lag ek toe hy probeer.

“Agent 6!” beveel prof Taylor en Brakkenkol reageer dadelik. Hy gaan sit gehoorsaam langs die professor. Ek kyk na Yeva. Sy glimlag van oor tot oor, maar waag dit nie om op te staan nie. Gmhf! Niks meer as respek vir mede-agente nie, eggo dit in my kop.

“Ek dink jy sal spesifiek hierin belangstel, dr Malherbe. Agent 6!” Brakkenkol staan op en gaan staan tussen ons. Hy draai sy kop boontoe. Hy lig sy lang ore op. Hy knip sy oë. Die heliogram hang duidelik in die lug. Ek weet nie of ek moet lag of huil nie. My hart is nie meer binne-in my nie – dit klop in Liam se slaapkamer.

 

“Los my!” Ek slaan wild en woes en die monster rol sy slymerige, swart tong op. “Mamma, hardloop!” Ek voel hoe die monster nou aan my arm pluk. “Liam,” praat Marco, die koshuisprefek, in my ore. “Jy het weer ’n nagmerrie. Word wakker, jong. Of pyn jou maag? Jy maak die vreeslikste geluide.”

Ek sit verleë regop. My kamermaats loer agter Marco se lyf verby. “Dankie, Marco. Nee, sorrie man. Ek stres net ’n bietjie oor die Wiskundetoets vandag.” Dis swaar om nie alles uit te blaker nie, maar wat word dan van Ma!

“As jy sukkel met wat ook al, kan jy enige tyd by my ’n draai kom maak. Nè. Ek sien jy is die afgelope week nie jouself nie. Ek help graag.” Marco stap uit om die graad 1’s te gaan wakker maak.

“Hei, bra, miskien moet jou ma vir jou ystermedisyne kry.” Wit-it se lang wit wimpers knip regtig bekommerd. “Dit het vir my gehelp as ek stres en nagmerries kry.”

“Uhm. Ja-a-a-a-a,” belowe ek vaag. “Daai etensklok lui nou-nou. Kom, ons moet spring anders is ons laat!”

Die oggend loop sy gang totdat ons voor die klas aantree. By juffrou Andrea staan ’n nuwe leerling. Mmmmmmm. Sal ’n goeie slot wees. Hy’t beslis nie ystertekort nie!

“Kinders, dit is Nic Kruger. Hy kom van Gochas af. Teen pouse moet hy voel soos ’n Kalahari-Ooster, nè!”

Pouse draf ons af rugbystadion toe. Die stadion is op ’n redelike afstand van die res van die skool- en koshuisgeboue af. Ons seunskoshuis is die naaste aan die stadion. “Lekker-r-r-r!” skree Ploegskaar toe Nic die bal skepskop en dit tussen die pale stuur. Ons draf daarheen en gaan staan verstom. “Sien julle dit ook?” Nic se wysvinger bewe. Tussen die kwart- en die middellyn staan daar ses kringe welige gras omtrent die lengte van jou knie af ondertoe. Lowergroen! “Genugtig, dudes! Die gras kon tog nie oor die naweek so gegroei het nie. En ook nie in dié patroon nie.”

DOEF-DOEF-DOEF-DOEF! hardloop my hartklop soos die koeëls van ’n outomatiese masjiengeweer. Ek herken die patroon in die gras. Dit is dieselfde patroon as die liggies op die ruimtetuig en die vlekke op Brakkenkol se lyf! Ek gaan sit, want my bene voel sonder bene. Dis Nic se gestotter wat die pype in my bene terugstoot. “My pa! Hy’t dit al gesien. My pa! Nou gaan die mense hom glo!” My kop kliek – Nic Kruger. Barend Kruger, boerbokteler van Gochas!

Ons maak ’n kring rondom Nic. “Op ons plaas is lusernlanderye vir die melkbeeste. Een aand net so voor skemer sien my pa iets op die horison. Dit was baie vinnig en baie blink, maar hy’t gedink dit was net ’n kar wat die son weerkaats het. Tot die volgende oggend. Toe hy gaan voer sny het, sien hy op ses plekke is die lusern baie hoër as die res. En dit het buite die groeityd potblou geblom.”

“WAO!” Dis Ploegskaar. “Dudes, sê nou maar dit was ’n UFO!”

“Dis wat my pa gesê het, maar die mense lag vir hom.” Op daardie oomblik begin spuit die spreiers van die besproeiingstelsel. Ons koes, skree en hardloop onder die druppels uit. Ek luister fyn na wat almal praat in ons terugstap skool toe. Jip! Niemand praat meer van die ses kolle en UFO’s nie. Net van Nic se skepskop. Dit is hoe Galaxy 6 se mense te werk gaan – die spat van water laat die wat nie van vreemde goed mag weet nie, alles daarvan vergeet. Maar ek weet, ek weet daar in die koshuis wag vir my een of ander verrassing. En dat daardie ses kolle gras op die rugbyveld nie meer daar sal wees nie. Dit was vir mý oë bedoel. Ek kan nie wag dat die laaste klok van skool lui nie.

Met die ooptrek van my bedkassielaai sien ek die swart horlosie. “Ek’s nou weer hier. As Marco Prefek my soek, ek’s gou toilet toe.”

Ek druk die knoppie onderkant die driehoek. Die heliogram skyn lewensgetrou. My hand swaai dwarsdeur Ma en my hart pluk ’n halwe noot. “As jy my sien, weet ek Brakkenkol was daar. Ek werk lekker hier. Ek lief julle almal.”

Dis wat Ma nie sê nie wat maak dat ek en LinMari nie kan ophou smile nie. Sý sal vir Pa bel.

 

Ek sidder dat die koerant eintlik bewe. In my lewe het ek nie so iets verwag nie. My flou grappie aan die begin van die nuwe skooltermyn was toe nie so vergesog nie:

KORRUPSIE UIT DIE HEL

Die Stampriet-akwifer is geteiken as fase 2 van ’n sabotasieprojek om die hele Namibië te verwoes. Man, muis en ekonomie moes vergaan sodat ’n nuwe bevolking (dit is geklassifiseerde inligting) hul intrek in Namibië kon neem. Die vergiftiging van die Stampriet-akwifer via in situ leach-mynbou sou uiteindelik ’n dodelike uitwerking in alle ondergrondse water tot gevolg hê. Fase 1 was die vernietiging van die Hardap-besproeiingskema.

Al die pionne op die skaakbord om Namibië te laat vergaan, is in skaakmat gestel deur ingryping van ondersoeke deur organisasies soos Die Wêreldwye Organisasie vir Wetenskaplike en Industriële Navorsing (WOWIN), asook bydraes deur wetenskaplikes van Botswana, Brittanje en Duitsland.

En bla-bla-bla. Ek kan nie verder lees nie. My vingers hardloop reeds oor die knoppies van die slimfoon. Ah! Skoolhoof. Die nommer lui. “Meneer van Schalkwyk! Dis Carel Malherbe hier. Goeiemiddag.”

Ag, dankie tog. Die skool gaan onmiddellik vir ’n 10-dae-vakansie sluit. “Meneer Myburgh, die onophoudelike telefoonoproepe maak my mal! Jy kan die kinders dadelik kom haal.”

 

En ons praat. En ons wonder. En ons bespiegel. En ons onthou. “Pa.” Ek vang Liam se blou oë in die truspieëltjie. Dit blink opgewonde. “Almal weet nou. En die skool is toe. Dink Pa ook ...”

“Liam, ek weet net ek het net nou ’n dwarrelwind gesien.” Toe is dit van voor af ’n geklets en ’n gegiggel.

Ek ry verby die stoor waar die trekkers en implemente in rye staan en stop by die agterdeur. Deure swaai oop en klap toe en ’n geraas by die agterdeur gebeur gelyktydig.

Die agterdeur SKIET oop. ’n Tollende, rollende, swart bal WOER-R-R-R tot voor my en die kinders en gaan staan stil op vier pote. LinMari gee niemand ’n verdere kans nie. Sy raap Brakkenkol op en hy gee haar ’n lang pienktonglek. Die ander twee val bo-oor mekaar om ook deel te word en dis net Brakkenkol voor en Brakkenkol agter. “Sonja! Sonja-ster!” Die geraas breek op en alles raak tjoepstil. Nou weet ek hoekom sulke oomblikke in movies in slow motion gebeur – die impak is net te groots vir die aardsheid van snellende sekondes.

Daar verskyn sy in die raamwerk van die agterdeur – die anker van ons gesin en die sleutel van my geluk. “My ou marshmallow,” fluister sy lief en knabbel aan my oor. My hart mis ’n klopslag en toe is die hele kaboedel op ons twee. Ons tuimel laggend grond toe.

Brakkenkol kom sit in my skoot.

Ons kyk na sy naels. Dit lyk nes ’n hond se naels.

Ons kyk agter sy ore. Alles lyk nes ’n hond moet lyk.

Ons lig sy stert op. Dit lyk nes onder ’n hond se stert.

Ons kielie hom oor sy hele lyf. Hy geniet dit nes ’n hond dit moet geniet.

Ons lag toe sy beentjie begin skop. Nes ’n hond skop as sy pens gekielie word.

Brakkenkol is wat hy is – ’n brak vol kolle.

Maar ons weet ook – binne daai brakkelyf is nog baie wat ons nie ken nie.

Kayla kry vir Brakkenkol aan sy voorpote beet. “Kayla, wag nou man,” mor LinMari. Kayla begin met Brakkenkol te dans. “Wat?” Dis weer Lin-Mari. “Dis mý lied daai!” Kayla sing uit volle bors:

“Hy ithie wat jy dinkie!
Hy ithie wat jy thienie!
Hy ithie thommer the hontie!
Hy’the oe-la-la,
unnercover,
anner land the THUPERBRAK!”

Oor háár sal ons ’n emmer water moet uitgooi!

Lees die ander inskrywings hier:

LitNet en die Langenhoven Gedenkfonds soek jou wetenskapfiksieverhaal!

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top