Henriëtte van Wyk

Henriëtte van Wyk is ’n gebore en getoë Namibiër.

Mense, musiek, Afrikaans en die klink van die woordbyteltjie laat klop haar hart warm.

Sy is ’n afgetrede onderwyseres en geniet daagliks die vrede van die Khomas Hochland. In haar 33-lange loopbaan van onderwyser wees, het sy al enige vak onderrig (gr. 1 tot gr. 12) – net nie houtwerk nie! In 2019 ontvang sy ’n ATKV-Veertjie: Spesiale toekenning vir Uitmuntende bydrae tot onderwys (30 jaar).

Die kreatiwiteit van kinders voed haar siel. “Ek beskou dit as ’n voorreg om die skrywer, redenaar of akteur te help ontsluit.”

Henriëtte is die stigter (2007) van ’n nasionale skoleskryfkompetisie en ontvang in 2016 ’n ATKV-Veertjie: Spesiale toekenning: Stigter Griffel. Sy is steeds betrokke as beoordelaar in digkuns. In dieselfde jaar ontvang sy ’n ATKV-Pluimpie vir die kinderverhaal Vonkel kry ’n nuwe naam. Uit die hoofkarakter, Vonkel, se Lenteland-avonture het daar nog twee verhale beslag gekry, nl  Sterreleeze se stowwerige mantel asook Babbelbouter se gemmerblabs.

Van Wyk is ook sedert 2016 deel van die Windhoek Woordfees bestuurspan.

Sedert 2007 ontvang Van Wyk verskeie ATKV-toekennings vir digkuns. In 2015 ontvang sy ’n ATKV-Veertjie vir haar ongepubliseerde digbundel, Klankbord. Sy gee in 2016 ’n digbundel, Padhaikoes uit Namibië, uit. Van haar gedigte is in 2018 en 2019 in Stemme uit Namibië 1 & 2 opgeneem. In die 2019 Windhoek Woordfees-skryfkompetisie deel sy die tweede plek in digkuns en is van haar nuwer gedigte in Land onder woorde, opgeneem. Land onder woorde is saamgestel deur Chrisna Buike-Muir, deur die Cordis Trust uitgegee en het in 2020 die Orde van die Beiteltjie toekenning ontvang. Die skryfsels van die Windhoek Woordfees-skryfkompetisie 2019 deelnemers verskyn daarin. Einde 2020 gee Van Wyk haar debuutbundel, ’n Bruin blaar tuimel (Minimal Press) uit en ontvang in 2023 ’n ATKV-Veertjie toekenning daarvoor. Sy is ook tydens daardie geleentheid die tweede ontvanger van die Oswald Rall Theart-wisseltrofee vir digkuns.

Joanette van der Merwe skryf in Versindaba, ’n kollektiewe weblog vir die Afrikaanse digkuns, o.a.: “Die haikoes is my gunsteling deel van die bundel en dit is ’n bekragtiging van Van Wyk se sterkste punte as digter: ’n fyn oog vir die natuur en ’n ewe fyn aanvoeling vir taal op die vlak van woorde en klank.”

Van Wyk beskryf haarself as iemand wat lief is vir stilte: “Stilte gee my krag.”

Omgee is hegter as glimgroen slym | Wetenskapfiksiekompetisie

Henriëtte van Wyk Fiksiekompetisies 2023-11-23

"In die pad sit ’n special pave-worshond. Hy is pikswart met lang-lang ore. Almal skree. Ek ook. 'BRAKKENKOL!'"

Top