Om te doen met ’n miljoen

  • 12

Foto: falco op Pixabay

Met die eerste oogopslag lyk dit baie asof mense in die algemeen, maar miljoenêrs in die besonder, gek is oor Stellenbosch. Amper so gek soos ’n kleuterkind oor ’n fluit of soos ’n werfbobbejaan oor ’n boerpampoen.

As ’n mens hier praat van miljoenêrs, dan verwys dit nie na die “garden variety”-miljoenêrs wat die dorp vol lê nie. Daardie soort is al twee oulap die bos op die oewers en suid van die Eersterivier en sommige van hulle begin nou al, uit pure geldnood, self winde sluk net om hulle munisipale rekeninge te kan betaal. Nee, mens praat van die knopkop-rietbulle met ernstige pitte in die bank. Die soort pitte wat ons ander arme drommels laat kwyl en lus maak om gate te skop in die JSE se geglasuurde vensters.

In hierdie uitgelese geselskap is daar, breedweg gesproke, twee soorte superrykes: dié wat Afrikaans kan praat en dié wat hulle taaluitinge óf in ’n soort Godfather-Italiano alla puttanesca, óf in ’n Russies alla (Putin)esca liewer as ’n Russies alla (Pushkin)esca lewer.

Mens dink onwillekeurig aan oudinwoners soos die Skotse Italianer MacChiavelli wat sy naam verkort het na net Chiavelli sodat hy sy sluikhandel in olie meer kredietwaardig kon maak deur die modder waardeur sy oeroupa Niccolo die familienaam gesleep het, in die mou te hou.

Of aan die Oekraïense dwelmhardebaarde wat Langstraat in die Kaap omskep het in ’n soort opelugbordeel met langbeenblondines op stoepkatels wat probeer het om terselfdertyd ook sommer ’n eksotiese huweliksmark vir Ystergordyn-erotika ’n hupstoot te gee. En Kaapstad is tog maar net ’n stootjie weg van Stellenbosch.

Natuurlik ook aan Vito Palazzolo, wat kom anker gooi het in die Franschhoekvallei net sodat hy sy liefde vir wynmaak kon uitleef as aanvulling tot die harde werk wat vereis word om ons valuta aan die wasmiddelbehandeling te onderwerp of om Peet de Pontes te help om Oupa Qozo se bewind in die Ciskei te onderskraag. Hy was ’n soort baster-Nasionale Party-regering-beskermling en beter bekend as die Gupta van 1990.

So waarop berus die elektiewe affiniteit tussen Stellenbosch en groot geld dan nou eintlik? As mens begin rondvra, dan duik ’n hele boel antwoorde op.

Die meeste van die sigbare miljoenêrs op die dorp is oud-Maties. Die Afrikaanse mense wat hulle beywer vir die herwinning van ’n soort kwynende Boere-ubuntu neig daartoe om die verskynsel te verstaan as ’n hunkering by miljoenêrs om terug te keer na die warm boesem van die geestelike moeder wat hulle gevoed het toe hulle nog as studente, jonk, energiek en vol betowering gepomp was en voordat hulle die slagoffers geword het van die yskoue materialisme wat hulle verswelg op die weg na rykdom. Met ’n grypie Freudiaanse versiering daarby is hierdie perspektief geneig om die miljoenêr-inwoning te beoordeel as ’n versugting om terug te keer na die baarmoeder. “Dan kom ons weer jou worsies eet” en “Doll dear speel op jou bekfluitjie” snot-sing die halfdosyn miljoenêrs wat net Wilgenhof-koshuis op sy eie tot dusver produseer het. Met trane in hulle oë.

Stellenbosch huisves ’n universiteitsgemeenskap vol instellings en elite-kaders wat verlore seuns kan toevou in gemeenskapskombersies en “soul food” uit hulle ruim kombuise op die tafel kan sit. Vir ’n hert uit dorre streke is hier beste diens uit die hoofkwartier vir geestelike leiding, die Kweekskool, beskikbaar. Drama en toneel? Die Adam Small-teater. Bach, Beethoven of Mozart op ’n Vrydagaand? Die Konservatorium vir musiek. ’n Eksklusiewe rondetjie gholf saam met Ernie of David Frost? ’n Gholfbaan met agtien putjies en met ’n uitsig wat strek tot by die Drakenstein. ’n Rugbytoets binne loopafstand vanaf een van jou baie huise? Coetzenburg wag op jou. En as sokker jou ding is: Stellies is nou in die eerste liga en boonop besit een uit jou eie geledere nou die hele klub.

Wil die pappa met die baie pitte weet wat in die universiteitspolitiek aangaan? Hy hoef eintlik nie te vra nie, want daar is op Stellenbosch net twee soorte Afrikaanssprekende miljoenêrs: dié wat op die universiteitsraad dien of gedien het en dié wat nog op die raad gaan dien. Tertium non datur. Hy ken al die antwoorde op die vraag voordat hy dit vra. Want hy kan drink by die spruit waaruit die antwoorde kom en is deel van die watersuiweringsproses voor dit vir openbare verbruik gebotteleer word. Miskien is hy volgende aan die beurt om as kanselier van die universiteit ingesweer te word.

........
Stellenbosch is ’n plek waar geld tuis kan voel. Daar is natuurlik ook ’n duisternis ander verklarings vir die affiniteit waarvan hier ter sprake is.
........

Stellenbosch is ’n plek waar geld tuis kan voel.

Daar is natuurlik ook ’n duisternis ander verklarings vir die affiniteit waarvan hier ter sprake is.

Vir “Oulap se rooi”-Malema is die antwoord voor die hand liggend. In sy wêreldbeeld vorm kapitalisme die kriminele uterus wat die vrugwater berg waarin miljoenêrs uitgebroei word, en daarom is die werpsel wat dit baar, van meet af aan ’n koor giftige paddas. Stellenbosch met sy diepgeplante Hollandse koloniale wortels sien hy as ’n toevlugsoord en rowerskuiling vir Boeremiljoenêrs wat soos ’n mafia saamkoek in ’n tevergeefse poging om aan die onvermydelike bevrydende hand van die stryders vir geregtigheid te ontsnap. Dit is ’n soort “donker donker middernag, nader kruip die Zoeloemag”- en “in die skadu van die berge, bosbeskut aan alle kant, staan ’n eensaam hartbeeshuisie”-storie – al pryk die hartbeeshuisie in die vorm van ’n paleiswoning in Stellenbosch en het die miljoenêr al klaar ’n paar Zoeloes in sy mag.

Ander, miskien kenmerkend akademiese beskou, word bedien met meer abstrakte souse om die verklaringsdis meer diepsinnig te maak. So vind ’n mens byvoorbeeld Darwinisties begronde soorte dryfvere wat aan biologiese oorlewingstrategieë toegeskryf word wanneer daar gepraat word oor die kwessie wat hier ter sprake is. Miljoenêrs word dan voorgehou as Alfa-ape wat hulle die genepoel op selfsugtige wyse wil toe-eien as ’n dam waarin net hulle kan swem, en as hulle sou slaag, die oorlewingskanse van die hele stam kan verbeter deur die minderbedeelde mededingers die loef af te steek. Stellenbosch, gesien as ’n metaforiese telingsruimte, is klein genoeg om die Afrikaanse Alfa-aap se libido dominandi op ’n opvallende wyse in die openbaar ten toon te stel en geleenthede te skep om al sy voortreflike eienskappe in sy doen en late gestalte te gee.

Hier gaan dit dus vir die miljoenêr nie meer oor net geldmaak nie. Hy wil eerder aan sy primêre verwysingsgroep (die inboorlinge van Stellenbosch) demonstreer dat hy beter bedeeld is met die gene wat verbeeldingryke verstellings aan die wêreld moontlik maak, innoverende gedrag beloon, altruïstiese strategieë in werking stel om die gehalte van die stam te verbeter en die krepeerders uit eie geledere op dié manier op te hef. Omtrent al die Stellenbosse miljoenêrs besit byvoorbeeld wynplase en restaurants in ’n wêreld waarin dit bekend is dat ’n mens ’n klein fortuin uit die wynboerdery of ’n deftige eetplek kan maak alleenlik as jy met ’n groot fortuin wegspring.

Roer ’n bietjie Calvinisme in die Darwinistiese sop in, dan kom jy vinnig uit by Weber se gevolgtrekking dat die miljoenêr se kapitalistiese versamelingslus spruit uit ’n amper maniese ywer om die Opperwese te oortuig dat, ten spyte van predestinasie, al sy harde werk net gerig is op die verheerliking van Gods Koninkryk en dat God dus op grond hiervan miskien die toegangsvereistes tot die hemel, by wyse van uitsondering, vir hom kan verslap. Sy selfsugtige, werkgekke gene moet nie net hier in die biologies gebonde aardse ’n beter kans op voortplanting gegun word nie. Hulle moet ook in geestelike vorm ’n beter kans gegun word om die hiernamaals te besaad. Arbeit macht frei.

........
Roer ’n bietjie Calvinisme in die Darwinistiese sop in, dan kom jy vinnig uit by Weber se gevolgtrekking dat die miljoenêr se kapitalistiese versamelingslus spruit uit ’n amper maniese ywer om die Opperwese te oortuig dat, ten spyte van predestinasie, al sy harde werk net gerig is op die verheerliking van Gods Koninkryk en dat God dus op grond hiervan miskien die toegangsvereistes tot die hemel, by wyse van uitsondering, vir hom kan verslap.
.......

Adam Smith se “onsigbare hand” begelei jou selfsugtige handelinge daartoe om ’n kosmos te skep wat tot voordeel van almal strek. Geestelike vooruitbeplanning is ’n kapitalistiese deug. Ten einde ’n versamelingsywer aan te wakker bied die teologiese kweekskool dus net so ’n goeie opleiding aan as die handelsfakulteit.

Goed en wel, sê die kritici van hierdie beslis rooskleurige voorstelling.

Uit so ’n Darwinistiese hoek beskou, kan die miljoenêr se dryfvere, op dieselfde vertrekpunte, behandel word as nie veel beter as ’n klomp seuns op ’n skoolterrein wat spog oor die grootte van die hangsels tussen hulle bene nie. ’n “Myne is tog groter as joune”-wedstryd. “Myne is so groot die ding het ’n hart en longe van sy eie,” spog die een. “Daai is niks,” kom die teenwerpsel. “As ek myne by die porselein droog skud, klink dit soos ’n bulldog wat pap vreet” ... ens ens. So iets gaan nou wel nie oor geldmaak nie, maar waaroor dit werklik gaan, maak dit nou nie eintlik meer navolgenswaardig nie.

Veral nie vir beskouinge wat die ontledingstaak met feministiese vertolkingstoerusting aanpak nie. Sommige van hulle (moenie skrik nie) gebruik sommer Occam se skeermes om die saak te besleg. Dit is ’n vereenvoudigde betoog wat daarop neerkom dat mansmense basies net twee soorte dryfvere het: seks en kos. So as hy nie ’n ereksie het nie, maak vir hom ’n toebroodjie. Miljoenêr of te not.

Vir die feministe wat met die helm gebore is en daarom miskien toegerus is met die soort X-straal-visie wat die patriargale wortels van die meeste van ons sosiale ellendes met die blote oog kan peil, sal toebroodjies nie veel hond haaraf maak nie. Hoe meer miljoenêrs op die oppervlak van ’n sosiale formasie waargeneem word, hoe meer word die patriargale afsettings wat oor tyd in die dieper sedimentêre voue van ’n plek (soos Stellenbosch) neergelê is, aan die kaak gestel. Soos Siener van Rensburg kan hulle met ’n waterwyserwiggelstok bepaal hoekom hier so baie patriargale fossielwaterdrinkplekke vir miljoenêrs op Stellenbosch is. Sien mens perdemis, kan die hings wat runnik, nooit ver wees nie.

Hoe dit ook al sy, Stellenbosch het blykbaar nog nie sy bekoring vir miljoenêrs uit alle oorde verloor nie. Chiavelli en Palazzolo is nou wel nie meer met ons nie, maar die ontluikende netwerke wat ons regeringsverliefdheid op Brics toelaat om opgerig te word, laat nuwe soorte voëls uit die Brics-gebied toe om in ons wynlande te kom nes skop.

’n Oekraïense historikus (by name Igor Torbakov) wat onlangs ’n sabbatstermyn by Stias geniet het en mettertyd deel geword het van die kring van spotters wat van tyd tot tyd op Julien’s se stoep vergader om die wêreld se probleme te ontleed, bring dit onder ons aandag dat ’n welbekende oligarg wat uit die konstellasie van Oekraïense en Russiese mafioso spruit, hom nou hier by ons in die Wynland kom vestig het. Natuurlik net om die gehalte van ons wynprodukte op sy plaas te verhoog en om ons te oortuig van die onoortreflike eienskappe van die borscht wat in sy Kerkstraat-restaurant bedien word.

........
Ons eie staatskapers en ons eie Wolwe van Dorpstraat kan net nie kers vashou by hierdie Brics-bulle nie. Hulle steel nie bietjies-bietjies nie. Hulle steel groot. Maar ons het darem al so ’n voorsmakie gehad met die Gupta-broers se kaperjolle.
........

Nou moet mens weet dat ’n Sowjet-oligarg die produk is van ’n proses waardeur die materiële bates wat in die Sowjetunie in die staat gekonsentreer was, ontbondel word deur stropingspraktyke wat jou deursnee-kapitaalstroper in die Weste laat lyk soos ’n koster wat die kerk se kollekteborde plunder. Ons eie staatskapers en ons eie Wolwe van Dorpstraat kan net nie kers vashou by hierdie Brics-bulle nie. Hulle steel nie bietjies-bietjies nie. Hulle steel groot. Maar ons het darem al so ’n voorsmakie gehad met die Gupta-broers se kaperjolle.

En nou, danksy Stellenbosch se magiese aantrekkingskrag, het ons uiteindelik ons eie bloubloed-oligarg in ons midde. Uitgevat in die standaardtoerusting van die tipiese Stellenbosse swaargewigmiljoenêr. ’n Wynplaas en ’n restaurant.

Igor het vir my sy naam gegee, en as ek hom dalk raakloop met my omswerwinge in die middedorp, sal ek hom sommer trompop vra hoekom dit so is dat Stellenbosch so onweerstaanbaar is vir miljoenêrs.

Miskien weet hy.

Lees ook:

Siedaar! Die vy

Was it appropriate to honour Bram Fischer with a doctorate from Stellenbosch University?

Slabbert: Man on a mission. A biography deur Albert Grundlingh: ’n resensie

  • 12

Kommentaar

  • Wat 'n fantastiese skrywe! Stellenbosch bly maar 'n vreemde dorp met vele binnekring(e), eksklusief en ongenaakbaar teenoor die "randfigure". Ek wou voorspel dat dit een van die dorpe is met die grootste donga tussen die welstandsvlakke van die sg. "haves" en "have-nots".

  • Miskien wil miljoenêrs in Stellenbosch bly omdat dit 'n mooi dorp is, goeie restaurante het, groot genoeg is -- maar nie te groot nie -- en ook naby genoeg is aan Kaapstad en die lughawe? En as jy kinders het is daar goeie skole. Alles baie prakties.

  • Breyten Breytenbach

    Goed om te hoor die hefs floreer in Sjymbos en die hefnots kuier maar sjaam al is dit ook net vir die kans om darem ook op 'n ander ou te mag pis. My gat se deksel was nog altyd hoe pragmaties die buk-Afferkaners kan wees, die fyn kuns van retoriese verontwaardiging waartoe hulle dit ontwikkel het! Dit sit darem nie in enige establishment se broek - al is dit miskien op die enkels - om so oornag te kan oorskakel van John Vorster na Bram Fischer wizout missing a goosestep nie (ekskuus vir my gebrekkige Glôbiesj) - en dan sommer nog inklusief ok. G'n wonder die Russiese oliegarg voel hom so tuis daar nie. Dagsê, Jannie!
    Oubôbjaan Buitetjank

  • Erwin Schwella

    Jannie Gagiano op sy meesterlike polemiese beste. Soos toe hy in die Schumann Fakulteitsraad, nadat Sampie Terreblanche weer eens en by herhaling beswaar gemaak het dat die MBA graad Meesters in ekonomiese- en bestuurswetenskappe maak van voorgraadse jokkels en tokkels wat moes “spot” of hulle bunny hops of “star jumps” in die her-eksamen sou kry en in die tokkelgevalle Hebreeus by verstek (nie) bemeester het nie. En toe die gagionisme pleeg deur te vra of Hebreeus dan nie 'n uitnemende en toepaslike voorstudie en voorspel wat sukses voorspel vir die sakewêreld nie?

    Geen wonder ook dat toe Ingo Capraro oor die harde en luide debat tussen die huismaats in Louwstraat berig gedoen het nie waar daar meningsverskil was oor die toekenning van 'n eredoktoraat op die nuwe politieke korrekte wyse aan die SAKP-boerseun Bram Fischer die kop van die berig in die Eikestadnuus was: Jannie en Annie en die Dooie Rooie. Annie se beswaar was blykbaar net oor die eerste posisie in die kop van Jannie.

    En Jannie het ook die tydsdimensie verbeter deur die mens se verblyf op die ondermaanse te skeduleer van die langerige cradle to grave na van ereksie tot resurreksie.

  • Hans Richardt

    Jannie Gagiano, miljoenêr is nie veel werd nie. Dink itv 1 BMW 6 reeks of Golf GTI, dis al klaar meer as 'n miljoen rand. Jy moet ten minste biljoenêr of multi-miljoenêr wees om in "sonkring" te pas daar insig van Pappegaai-berg vanaf jou voorstoep langs die swembad.

  • Chris Erasmus

    Dit was nou 'n lekkerleesbrief. Ek bly nie naby Skelmbos nie. Was 'n paar keer al daar. Mooi plek. Het vriend wat daar naby met wynbome boer. Ek gaan in die bresse tree vir die inwoners/bywoners en aanhangers van die plek. Hou dit so. Ek woon aan die Ooskus van die land. Hier is 'n ander spesie van die menslike skepping/ras. Die gonswoord is "Forren passport", dit is of Ingels of Ierse passaporty. Hier is ook 'n snobisme wat my natuurlik noop om moedswillig te raak. Alhoewel ek in die kusprovinsie gebore en groot gemaak is, word ek met kritiese glure bejeën, want ek praat nie die Queen (King) se Ingels nie. Maar soos dit seker met die Skelmbossers is, sodra die vernis afdop, slaat die menswees deur. Jy kan grond koop, maar agtergrond kan jy wragtag nie koop nie.

  • Piet van Rooyen

    Jan Kasno - jy behoort 'n Eredoktorsgraad by die Skellembos te ontvang vir die geslepe woord!

  • Piet van Rooyen

    Ek sien daar is sommer baie kommentare op die Vuisboek, ongelukkig by 'n Ander Jannie aangehaak:

    Erika Lamprecht
    Ai, ek is so doodgewoon soos kan kom en woon nou al vir meer as 30jaar in Stellenbosch. 3 kinders hier groot gemaak en elke dorp is wat jy daarvan maak. Die mense wat gepla is deur ryk en aansien, dit is gewoonlik jou eie probleem en jy sou minderwaardig of jaloers gevoel het in enige ander dorp ook. Alle dorpe het verskillende mense. Ons het ons kinders groot gemaak met die mantra van wees altyd net jouself. Mooiste dorp met lieflike mense en goeie skole.

    Theodore Rossouw
    Bygesê; ek hou nie besonder baie van Stellenbosch nie. Ek het 'n tipe romantiese haat gevoel teenoor die dorp. Nie sy mense nie, maar die soort eksklusiwiteit van die dorp. Dis pragtig en skoon ja, maar daar draai veel duiwels rond. Ekself het daar groot geword en skool gegaan. As jou pa nie 'n professor was of jou oom 'n doktor, of as jy nie in 'n hemelhoë huis in welstand gewoon het nie, behoort jy eenvoudig nie. Diversiteit bestaan daar ook maar net in teorie. 'n Mens word nie aan 'n groot verskeidenheid van mens en kultuur blootgestel nie. Dis gewoon nie die werklikheid van hoe meeste mense in ons land leef nie. Armoede bestaan skynbaar nie. Mense wat nie in erkende kringe beweeg nie word geëtiketteer as randfigure. My raad is: word groot daar, studeer daar as jy wil, maar verlaat die dorp so gou jy kan (jy kan altyd weer terugkeer). Blootstelling en ondervinding aan en van 'n diversiteit van mense, welstand, kultuur, oortuiging en leefwyses gaan jy slegs buite die dorp vind. Ek voel dat daar 'n algemene afwesigheid aan begrip en deernis vir "die ander" heers... Maar goed. Beskou Stellenbosch met oop oë, nie net die prag en praal op die oppervlak nie.

    Hennie De Ruyter
    My gunstelingding in Stellenbosch is om die hoë piek suid van die sportvelde op te stap en 'n kilometer bokant die dorp net te staan en kyk na die see, die dorp, die plase en die wolke.

    Malene Breytenbach
    Wel, almal het verskillende ervarings van Stellenbosch. Goed en sleg. Ek en Willie is dankbaar dat ons van Pretoria af hierheen getrek het, na 'n plek waar daar skoonheid en meesal beskaafde mense is. Waar die universiteit ons soveel gebied het. Waar ons kind veilig kon grootword. Die rykes pla my nie en ek wil nie kompeteer nie. Ons is dankbaar dat ons hier beland het ná jare elders.

    Ragie Coetzee Burger
    Dis nie moeilik om sommer baie van Stellenbosch te hou nie! (En as jy al daar gebly het en die plek goed in jou hart ingekruip het,sê jy sommer 'Stellembos'!!)

    Benita Geldenhuys Hartman
    Ek het nog nooit daardie begeerte gehad nie. My spasie en grootse ruimte in die laeveld van Limpopo is bekostigbaar en hier woon baie goeie mense wat daagliks vriendelik met mekaar omgaan in hul daaglikse oorlewingspogings.

    Annelie DeWet
    Ek kan lank meer nie deur die area ry sonder om mislik te voel nie. Can't stop the feeling, dit moet al die geeste wees wat daar rondsweef. Die mooi berge is nie meer kokaïne genoeg nie en so gaan die lewe.

    Nico Nico
    Stellenbosch 'n sprokies skilderagtige plek

    Marguerite Gotthard-Jacobs
    Net n wonderlike beeldskone setting! 💜👌👏

    Jan Oosthuizen
    Elke tweede p..pol in S A is deesdae n miljoener, hy moet net n huis op sy naam het, al is dit op skuld. Rand is niks werd nie. 🤭

    Annetjie Labuschagne
    Mooiste mooi dis hoekom. Gaan kyk biekie.

    Franklin Adams
    Welkom in Skelmbos. Capital of Racism and Corruption. Aaaahh

    Candice Christians
    Dis die mooiste plekkie, maar as rykmense jou pla is dit nie die dorpie om in te woon nie, verder is alles dood normaal en almal gaan aan met hullle lewens.

    Henriette Ferreira
    Jou sinne is hopeloos te lank .

    Loret Lundall
    Marissa van der Walt Roeline Lundall

    Machteld Van Der Merwe
    Dis so waar glo my

    Lanette Carstens
    Baie, baie mooi

  • David Willers

    Sy styl herrinner aan die van DylanThomas, net in Afrikaans. Vreeslik geniet. Dankie, Jannie.

  • Chris Erasmus

    Ek lees Franklin Adams se kommentaar. Ek wil graag daarop reageer. As mens met die maan gepla is, pla die maan jou. As jy met rassisme gepla is, pla ander rasse jou. Ek is al so gatvol dat, wanneer daar 'n bekgeveg is, is die laaste strooi rassisme. Die rassismeprobleem sal ophou as mense ophou praat daaroor. (Morgan Freeman se woorde) Want in my dag des lewens en nog honderde jare na my sal die "probleem" van rassisme nie opgelos word nie. Dit is asof mense gemoedsbekakkings daaroor het. Kry 'n lewe en gaan aan.

  • George Redelinghuys

    Dankie vir nog 'n skitterende stukkie satire uit die pen van Jannie Gagiano (vermoedelik Afrikaanse moeder en Italiaanse pa). Ek kon net nie verstaan hoe daar agter elk klip en bos op Stellenbosch 'n genuine miljoener kon skuil, totdat ek my herinner aan die feit dat 'n miljoenêr in Suid-Afrika by definisie 'n persoon is met 'n miljoen Rand, en wanneer hierdie tres terrible feit in ag geneem word, word dit ook skielik duidelik hoe daar soveel miljoenêrs kan wees.

    In 1967, met my eerste reis na Europa, het ek 5 Switserse Franke in valuta ontvang vir 1 Suid-Afrikaanse Rand. Die Rand was koning in daardie dae, sterker as die Britse pond, en het vir jou 1.4 VSA dollars in die sak gebring. Vandag moet jy 20 Rand opdok vir 1 Switserse Frank. The wiskunde van die saak slaan jou skoon dronk.

    In 1967 was die lewensstandaard van lanke Suid-Afrikaners dieselde as dié in Kalifornieë. Vandag, weens die degredasie van die Rand, is Suid-Afrika se blankes seker van die armste wit mense op die planeet, uitsluitend dele van Suid-Amerika. Dit gesê is die kloof tussen ryk en arm die grootste in Suid-Afrika, ná Indië.

    Hopelik sal die wit miljoenêrs van Stellenbosch nog hulle bestaan in die toekoms kan geniet, maar hulle sal baie moet afskaal. Die top reeks van Mercedes kos al meer as 'n miljoen.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top